Die muur: Trump se obsessie, demokrasie die prys?

  • 11

Een van Trump se verkiesingsbeloftes was dat hy ’n muur sal bou om al die ongewenstes uit die VSA te hou, en Meksiko sal daarvoor betaal.

Sy ervaring op realiteitstelevisie het hom duidelik onrealistiese verwagtinge gegee. Ongelukkig vir hom het Meksiko ander idees gehad van hoe om hulle geld aan te wend.

Dis nou twee jaar later, en daar is nie een sentimeter verder gebou aan die muur nie. Selfs toe die Republikeinse Party die meerderheid in albei huise van die regering gehad het, kon of wou hulle nie befondsing beskikbaar stel om die muur te bou nie – tot kort voor die verkiesings verlede jaar, toe Trump weer onthou het van die gevaar wat vlugtelinge inhou vir Amerikaanse sekuriteit. Die dag na die verkiesing was als weer vergete.

Mure, ongeag watter materiaal gebruik word om hulle te bou, het nog nooit daarin geslaag om mense buite (of binne) te hou nie. Die Berlynse muur is een sprekende voorbeeld. Die groot muur van Sjina is dalk sigbaar vanuit die buitenste ruim, maar as sekuriteitsmaatreël was dit nie baie effektief nie.

Maar iewers het Trump se obsessie met die muur die grense van redelikheid oorskry. Hy het einde verlede jaar gedreig hy sal die regering sluit as hy nie befondsing vir sy muur kry nie. Hy het. Die gevolg? Daar is steeds nie ’n muur nie, maar meer as 800 000 federale werkers moet nou sonder betaling werk, of hulle werk glad nie. Tronke, polisie, lughawesekuriteit, parke, museums, selfs die mans en vroue wat Trump moet oppas, word nie betaal nie.

Twee weke later, en die stressors wys. Om Trevor Noah aan te haal: “As a result of the government shutdown, Americans are now pooping on the ground in National Parks. Who is the shithole country now?” Spottenderwys gesê dalk, maar net ’n klein blik in hoe maklik anargie kan oorneem.

Die meeste Amerikaanse werkers leef van salaris na salaris, met feitlik geen spaargeld nie. Geen voorsiening vir kos, vir petrol, vir rekeninge wat betaal moet word nie. In die hartjie van die winter gaan baie se elektrisiteit en gas afgesny word. En steeds is daar mense wat Trump ondersteun.

Steeds is daar mense wat glo die muur gaan hulle red. ‘n Bietjie soos die “swart gevaar” waarmee die NP-regering die wit bevolking van Suid-Afrika bang en onder beheer gehou het.

Sommiges voel dat Trump hulle verraai. Een werker by ’n tronk word soos volg aangehaal: “He’s not hurting the people he’s supposed to hurt.” Dus: sy het willens en wetens gestem vir ’n man wat onderneem het om bruin en swart bevolkingsgroepe te onderdruk, om hulle seer te maak en hulle dood te maak. En nou doen hy dit nie. In elk geval nie in groot genoeg getalle om hulle tevrede te hou nie.

G’n wonder, dus, dat swart mans in sulke groot getalle deur wit polisiebeamptes gedood word vir die onsinnigste redes nie. Die KKK het dalk hulle kappies afgehaal, maar die sentimente is duidelik nog springlewendig.

Dit laat my wonder oor Suid-Afrika. Waar is al daai AWB’s, Vlakplaas-manne en Wit Wolwe nou? Almal veilig opgeneem in die reënboognasie, en sing nou “Khumbaya” om die braaivleisvure met hul geliefde swart bure?

Nou dink Trump daaraan om ’n noodtoestand af te kondig. Dalk was dit nog die heeltyd sy doel, en is die muur net die aandagafleier wat hy nodig gehad het. Daarom dat ek met soveel siddering die nuus dopgehou het toe hy aangedring het op lugtyd in die televisienetwerke se prime time slot.

Hy sou óf die einde van die regering se sluiting aankondig, óf hy sou ’n noodtoestand afkondig. Die eerste was onwaarskynlik, omdat hy nie gekry het wat hy wou hê nie. Die tweede? Die tweede sou die formele einde van Amerikaanse demokrasie aankondig. Nie omdat daar nog nooit ’n noodtoestand was nie. Daar was al, en redelik onlangs. Maar ’n nasionale noodtoestand met die verreikende magte wat dit inhou, in die hande van ’n bewese leuenaar en ondersteuner van diktators?

Trump met die magte wat ’n noodtoestand hom gee, sal Hitler soos ’n amateur laat lyk. Beheer oor die pers, beheer oor sosiale media, magte om bankrekenings te vries en besittings af te neem, magte om mense in hegtenis te neem sonder die normale beskermings. Klink bekend, nie waar nie?

Hy het toe nie gisteraand die noodtoestand afgekondig nie, maar soos die swaard van Damokles hang dit oor ons almal. Selfs ons in Suid-Afrika. Die global village het so klein kom word dat ’n sielkundige breuk in die Amerikaanse psige ons ook raak.

In twee jaar het Trump al heelwat gedoen om demokrasie te verswak. Hy’t regters aangestel wat nie die swart toga waardig is nie; hy val konstant die pers aan; hy’t keer op keer bewys dat hy net die lewens van sommige wit kiesers beskerm; hy het sy land se reputasie as leier op menseregtegebied, as leier in wetenskap, as morele leier van die Weste, keer op keer op keer deur die modder gesleep.

Die gevolg? Die Derde Wêreldoorlog, wanneer dit kom, sal Amerika, Rusland en Brasilië teen Frankryk, Duitsland, Kanada en die res van die wêreld wees.

En waar laat dit Suid-Afrika, wanneer sommige van die BRICS-lande ondersteuning aan die irrasionele Amerikaanse wannabe diktator bied?

My grootste en enigste gebed vir 2019 is dat ons nooit hoef uit te vind nie.

 

  • 11

Kommentaar

  • Eensydige kommentaar is gelyk aan geen kommentaar of ‘n totale windeier. Die eerste veronderstelling dat Trump ‘n diktator is is onwaar daarom hou geen argument water nie. Mure was effektief op die grens van SA, in vasalstede en historiese tye en sal beheer uitoefen oor ongewenste immigrante. Simpatie bestaan vir regeringswerkers en die gevolge van ‘n staatskaping is rampspoedig. Die ontkenning van die situasie deur die demokrate maak almal skuldig aan die status quo. Na my mening is dit onbenullige kritiek re verwysings na demokrasie, oorloë wat saamgeflans word tot die grootste hoop onbenullige twak wat lanklaas of ooit op sosiale media verskyn het. Mag dit nooit weer gebeur nie is my hoop en wens vir 2019!

  • Politiese Hygliteratuur gebaseer op 'mindreading' en wat dalk gaan gebeur.
    Trump het toe nie X gedoen nie ('n noodtoestand afgekondig), maar hy wil want hy is ...'n rassis ens.
    En as hy dit sou doen, Hitler! Niemand verander na 70 in Hitler nie, als uw blieft. Maar klieks, nê?
    Om nie eens te praat van die melodrama van die verbeelde WW III nie, asook ander morele geproes oor sogenaamde dood en onderdrukking deur die Trumpers ( met SA verwysings as bykomende virtue-signalling).
    En laastens die 'cringe-worthy' aanname dat die VSA ooit 'n leier op morele gebied was. Ten minste laat Trump die skille van die oë val?
    Om dieselfde halfgebakte histerie wat daagliks oor die waters uitgeryg word ook hier te moet lees, is duidelik 'n teken dat Trump Derangement Syndrome nou werklik global is.
    Doe zo voort, want 'after virtue, only virtue-signalling'. Dit vereis baie moed om Trump aan te val, verseker.
    Maar dit is 'n preek vir 'n ander geleentheid ...

  • Die rede vir die dreigende noodtoestand is natuurlik Robert Swan Mueller III se ondersoek. Kelly Ann Conway sê 4000 potensiële terroriste word jaarliks op die grens gevang. Die waarheid is dat dit een per maand is, dus 12 per jaar. Al die leuens en bohaai om sy eie bas te probeer red. Die grootste faling is die Republikeinse Party wat Trump bly steun ten spyte van alles wat al aan die lig gekom het. Trump is inderdaad 'n los kanon met losse integriteit, maar hy is in die eerste plek Putin se marionet en tweedens probeer hy voorkom dat hy en sy kinders tjoekie toe gaan vir hul verraderlike en korrupte geldsug. Ek glo nie aan gebede nie, maar vertrou Mueller en die Demokrate sal hom die loef afsteek.

  • Gustaf Claassens

    Trump is nou wel die skerpste brein in die oorlogsugtige Amerika nie, ook nie altyd verstaanbaar nie en ja, narsisties is hy verseker. As 'n leier is hy boonop soos 'n vuurpyl waarvan die gelei-stelsel buite werking is; hy kan enige kant toe gaan! Dit gesê, wys die feite dat van Amerika se grootste ekonomiese prestasies op sy horlosie plaasvind en dat nie alles wat gedoen word, bloot sleg is nie.
    Onder leiding van CNN en die media is Trump egter nooit as President aanvaar nie. Inteendeel, sedert die verkiesing word hulle deur haat gedryf en het niks anders geword as anti-Trump kampvegters nie. Dit word bevestig deur die voormalige en eerste vroue Uitvoerende Direkteur van die 'hoog aangeskrewe' New York Times (Jill Abramson) wat haar eie koerant daarvan beskuldig dat hulle hul 'besigheid' bedryf op 'n georkestreerde anti-Trump veldtog. Kort op haar hakke volg NBC se William M Arkin wat bedank het en in 'n afskeidsboodskap aan sy kollegas hulle daarvan beskuldig dat hulle obsessief anti-Trump is en die wêreld weerhou van regte nuusstories en waarhede; 'n bevestiging dat "Fake News" wel springlewendig is. So, daar is verseker twee kante van die munt en indien mens streef na die waarheid behoort al twee kante in berekening gebring te word.
    Amerika se politiek is soos 'n oopgemaakte Pandora-boks. Onenigheid is aan die orde van die dag en al wat die faksies in gemeen het is hul grootheidswaan dat hulle in alles die beste is en beter weet as die res van die wêreld ... 'n pot snert natuurlik. Arkin van NBC is dus reg wanneer hy sê dat televisienetwerke en die gedrukte media daar bloot instrumente van oorlog geword het. Daar het inderdaad 'n rol-omruiling in die tradisionele politiek plaasgevind. Die Demokrate het by die Republikeine oorgeneem as die Oorlogs-Party met Hillary Clinton die groot voorbok gedurende haar termyn in die Regering. Die "Deep State" en instellings soos die CIA en andere (soos voortspruit uit talle voorbeelde in die verlede) het boonop steeds hulle eie agenda ongeag wat 'n verkose President doen of sê. Voorbeeld: Trump wil soldate uit Sirië onttrek maar die Demokrate, gerugsteun deur die "Deep State" ondermyn elke poging wat my bring by die skynheiligheid van die Demokrate en die massamedia. (Ter wille van die rekord; op die meeste terreine is daar tans geen werklike verskille meer in beleid tussen die twee partye nie.)
    Oral word melding gemaak van hoe onmenslik Trump met sy muur/heining is en dat dit indruis teen die grein van wie en wat Amerika is. Alhoewel die muur/heining 'n debat op sy eie is, is die ironie egter dat Barack Obama en Hillary Clinton self daarvoor gestem het tydens hulle 'bewind' en niemand het toe 'n woord gerep nie. Om nou te kenne te gee dit hoort nie meer in vandag se tyd nie, is absurd. Lande kan nie net hul grense oopgooi nie. Dis logies dat chaos aan die orde van die dag sal wees. Regerings se eerste verantwoordelikheid is hulle eie mense. Dis immers hulle wat belasting betaal en mens kan die impak van onwettige immigrante op die Suid-Afrikaanse ekonomie reeds sien en voel ... dit terwyl daar grense is. Dink net aan die gevolge wanneer ons moet sê almal is welkom ...
    So, ons moet waak teen oorvereenvoudigings en nie deur emosies gedryf word bloot omdat jy nie van 'n spesifieke persoon hou nie. Kritiseer wanneer nodig maar gee ook erkenning wanneer dit verdiend is. Natuurlik is Trump as persoon, en in sy manier van optrede, 'n verdelende persoonlikheid. Ook is hy onvoorspelbaar en uiters onsamehangend. Mens sien dit. Hy het egter ook dinge op 'n veelheid terreine verbeter wat nie uit die oog verloor moet word nie ...

  • Het Amerika 'n probleem met onwettige immigrante? Op https://www.statista.com/topics/3454/illegal-immigration-in-the-united-states/ verskyn daar statistieke. Daarvolgens was daar 10.7 miljoen onwettige immigrante in die VSA in 2016 en is 41 456 kinders sonder begeleiding deur grenswagte aangekeer in 2017.
    Indien die statistieke betroubaar is, het 153 miljoen onwettige immigrante sedert 1990 to 2016 die land binnegestroom. Die hoogtepunt was in 2007 tot 12,2 miljoen onwettige immigrante Amerika ingestroom het terwyl George W. Bush president was.
    Dit is meer as 2.8 meer as Suid Afrika se totale bevolking. Dit moet 'n bron van kommer vir enige regering wees en is mi 'n aanduiding van hoe beroerd dit gaan in die lande van hul herkoms. Dit is geen wonder dat die Trump-administrasie probeer om die stroom te stop, want indien almal gewettig word gaan dit verreikende gevolge op alle gebiede vir die gevestigde bevolking van Amerika inhou.
    Die oplossing vir die probleem lê dus mi in die hande van diegene aan bewind in die lande waarvan die immigrante afkomstig is. Of is die maar al te bly om op die manier hul probleme op te los deur mense weens hul beleid te dwing om onwettig die VSA binne te gaan?

  • Suid-Afrikaanse Werklose Arm Erdvark

    Geagte Me Wyngaard,
    Waarom skrywe u nie veel eerder oor die groot getalle onwettige immigrante wat Suid-Afrika binnekom en die impak daarvan op Suid-Afrikaners nie?
    Waarom nie vorendag kom met opbouende kreatiewe voorstelle hoe om hierdie onwettige immigrasie-probleem spoedig, doeltreffend en effektief in Suid-Afrika op te los nie?
    Dit is my beskeie mening dat LitNet hom nie besig moet hou met politieke kommentare nie. Daarvoor is daar alreeds 'n oordosis "kundiges" in die media.
    Groetnis.

  • Staal van Rensburg

    Ek sal graag by die uwe Bettina Wyngaard wil hoor of sy 'n muur om haar huis of kompleks het? Indien wel, is dit om honde en katte van jou erf af te hou? Indien dit nie, is die muur daar vir die mooigyt dan?

    Die uwe Bettina kyk heeltemal te veel CNN en BBC. Ek sal graag wil sien hoeveel plakkers die uwe Bettina in haar tuin laat kamp. Foto's sal baie welkom wees.

  • Hierdie is: Demokrate wat weier om logies te dink EN HUL EIE BURGERS TE BESKERM TEEN KRIMINELE BENDES; MENSESMOKKELARY, DIE SLAWE- EN KINDERHANDEL, EN LEWENSVERNIETIGENDE DWELMS; en NIE die REALITEIT in die gesig kan staar en OPTREE nie in belang van hul eie mense nie - die ergste slagoffers te wete swart en Latyns-Amerikaanse VSA-burgers.

    Die linkse "demokrate" se allesoorheersende haat teenoor Trump is besig om hul ondergang te bewerkstellig, want dit verhoed hulle om LOGIES te dink en in belang op te tree van die Amerikaanse burgers.

    Trump gaan wen, Amerika gaan sy muur/en op NUWE plekke sterk heinings, kry.
    Trump gaan die 2020 presidensiële verkiesing ook wen; want hierdie is die aanloop daarnatoe; asook die Huis weer vat saam met die Senaat. Dus maak die "Demokrate" 'n YSLIKE groot fout.

    Die tafel is gedek - die "Dimms" is besig om 'n selfvervullende profesie te verwerklik, te wete hul ondergang; wat net erger gemaak word deur die verskriklike uitlatings van sosialiste soos AOC en Rashida Tlaib. Dankie.

  • Hans Richardt

    Afrikaanse Russophobia en Trumpphobia is ongevraagde politieke korrektheid.
    Wens ons het president gehad wat onwettige immigrante vasvat.

  • Die kommentaar van die skrywer laat my so bietjie wonder. Wie is die eintlike teiken in die brief, Trump of die muur. Ek gaan my verstout en sê, Trump. Aangesien almal deesdae so rasbehep is gaan ek die stelling waag en sê, die skrywer se rasbeheptheid/vooroordeel-onderrok hang al hoe langer uit. Ek huldig die standpunt dat politici vir die gemors wêreldwyd verantwoordelik gehou moet word. 'n Land moet deur ekonome, ingenieurs, dokters en kundiges bestuur word. Dit help nie jy het 'n minister van finansies wat net 'n M-graad in kreatiewe boekhouding het nie. 'n Sangoma as minister van gesondheid. Minister van polisie 'n bendeleier. Trump is 'n sakeman, 'n suksesvolle een daarby. Hy kyk na bates en laste. Inkomste en uitgawes. Ongeveer 95% van die wêreldbevolking verdien minder as twee Dollar per dag. Dit sluit lande van Afrika, Asië, en Suid-Amerika in. Die lande produseer sowat 80 miljoen nuwe lewens (kinders) per jaar. Almal tjank die VSA en Europa moet miljoene immigrante inneem. Ek wonder vir wat. Wie se verantwoordelikheid is die onbeheerste aantelery? Die vooruitstrewende "westerse" lande? Ek daag die lande uit om hul mense Japan, Rusland of Sjina toe te stuur. Hoekom vlug die mense? Die verskoning is haglike omstandighede, regerings, ens. Vir wie het daardie inwoners gestem? Ons sit met dieselfde probleem. Ons sit op 'n tydbom. Almal kom plak hier. Met 'n belastingsbasis van ongeveer 20% van die bevolking wat die res van die gespuis aan die gang moet hou? Die "honeymoon" gaan op 'n einde moet kom. Ek raai ook soos 'n vorige skrywer aan dat die dame haar oor plaaslike vraagstukke bekommer en los Trump uit. Haal eerder die balk uit jou eie oog as die splinter uit iemand anders sin.

  • Ek dink Trump is 'n geskenk aan die Amerikaners. NOOIT sien mens in die pers (selfs KykNET se plat nuus) hoe elke mens wat salaris verdien op 'n dag net meer op hulle strokie gehad het nie - ook nie dat hy nog nooit 'n salaris gevat het nie. Dit gee hy vir welsynorganisasies. EN, soveel meer. Daar is geen amptelike hoofstroompers in hierdie land wat die regte storie weergee nie. Fox sal ook nooit toegelaat word nie. Hulle skep darem so nou en dan balans. Mens dink die joernaliste hier gaan kyk nooit in diepte wat aangaan nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top