Die laksman se dogter: ’n onderhoud met Gerda Taljaard

  • 1

Die laksman se dogter
Gerda Taljaard

Uitgewer: Penguin Random House
ISBN: 9781485903666

Skrywers oor hul nuwe boeke: Gerda Taljaard gesels met Naomi Meyer oor Die laksman se dogter.

Hallo Gerda, geluk met die verskyning van Die laksman se dogter. Die boek bekyk die lewe met ’n unieke en baie besonderse blik. Die titel dui vir my dadelik op ’n ouer-kind-verhouding. En om laksman te wees, is ’n komplekse beroep. Vertel asseblief vir my jou gedagtes oor die titel van die boek? En: bestaan daar ’n vroulike vorm van die beroep van die laksman?

Baie dankie vir die gelukwensing!

Die titel dui inderdaad op ’n ouer-kind-verhouding, spesifiek die verhouding tussen die hoofkarakter Rosaria en haar pa. Haar pa was, as tronkdokter, ’n tipe laksman, want een van sy pligte was om die terdoodveroordeeldes voor die teregstelling te meet en te weeg sodat die korrekte galgtou gebruik kon word, maar hy moes ook ná die tyd die doodsertifikate uitreik en wanneer iemand nie heeltemal dood was nie, moes die pa ’n “genadeskoot” toedien. Oor hierdie dinge bieg hy by sy dogter Rosaria, want sy is sy witbroodjie en vertroueling. Hierna verander hulle verhouding egter, omdat Rosaria die doodstraf (en die hele apartheidstelsel waarvan haar pa deel is) begin bevraagteken.

Die titel verwys ook na die regte laksman, oom Karel de Swardt, en sy gestremde dogter Hestertjie wat oor bonatuurlike gawes beskik en ’n deurslaggewende rol in beide Rosaria en haar dogter Annalisa se lewe speel.

Uiteindelik word Rosaria self ’n soort laksman wanneer sy haar terminaal siek ma uit die lewe help en toe sy oorweeg om haar dwelmverslaafde kind se lewe te neem.

Die vroulike vorm van laksman? Vrouebeul? (Lekker lag ek nou!)

Kan jy die basiese storie van Die laksman se dogter in ’n paar sinne vertel?

Wanneer Rosaria Roux se vervreemde rockmusikant-dogter Annalisa onder raaiselagtige omstandighede sterf, stroom die herinneringe terug na haar. Rosaria onthou Annalisa se geboorte, kindertyd en allesoorheersende dwelmverslawing. Rosaria onthou ook haar eie jeug, hoe sy as kind deur haar twee ouer susters afgeknou is. Sy besef haar aandeel in haar dogter se middelafhanklikheid, sowel as in haar mislukte huwelik. Met die verskyning van haar kleinkind (Annalisa se kind van wie Rosaria nooit geweet het nie), is dit asof Rosaria (as ouma) ’n tweede kans kry op ouerskap én huweliksgeluk.

Daar is al gesê: ’n lyk op die eerste bladsy is ’n goeie tegniek. Maar ook: laat die leser gou omgee vir die een wat dood is. In hierdie boek is daar twee lyke binne die eerste sin of twee – en dis die hoofkarakter se heel naaste bloedfamilie. Begin by Rosaria se dogter, asseblief. Wie was sy?

As aweregse digter-musikant is Rosaria se dogter Annalisa ’n kultusfiguur wat sterf soos sy geleef het – morsig en op die randjie van die afgrond. Nes haar ouers teen die apartheidsregering in opstand gekom het, kom Annalisa deur middel van haar protesverse en -optogte in opstand teen die huidige bestel: die korrupsie, die onderdrukking van armes en minderheidsgroepe.

Dan is daar ook Rosaria se pa. Wil jy van hom vertel?

Hy was, soos reeds gemeld, ’n tronkdokter wat soms die “addisionele plig” van “laksman” vervul het. Hy het gevoel hy is “geroepe” om dit te doen, want net soveel as wat hy in die “weë van die Here” én die wetenskap geglo het, het hy geglo in die weë van die staat. Hy is van mening dat daar groot fout is met ’n samelewing wat die doodstraf afskaf maar aborsie wettig. Watter daad is meer barbaars, vra hy: om ongebore kinders dood te maak of ’n moordenaar te laat lewe? En is dit werklik meer menslik om ’n moordenaar lewenslank op te sluit as om hom tereg te stel?

Wanneer ’n veroordeelde onskuldig gehang word, voel Rosaria se pa dat dit God se wil was en wanneer hy self koelbloedig in sy huis vermoor word, wonder Rosaria of hy ook sou dink dit is God se wil.

Skuld. Dis ’n draad wat deur die verhaal loop, en nie noodwendig ’n goue draad nie. ’n Pikswart, donker draad. Was Rosaria ’n goeie ma? Daar bestaan nie regtig meer ’n beroep soos ’n laksman nie. Was daar al ooit iets soos ’n goeie ma?

Skuld en skulderkenning is beslis ’n deurlopende tema. In die eerste plek voel Rosaria skuldig omdat haar pa haar met sy grootste geheim vertrou het en dan skend sy hierdie vertroue deurdat sy daarna nie meer dieselfde oor hom voel nie – sy sien hom in ’n ander (donkerder) lig. Sy voel ook skuldig oor haar dogter: watter rol het sy as ma in Annalisa se verslawing gespeel? Was sy op ’n manier verantwoordelik daarvoor? Daarom, wanneer haar “swak” ouerskap in die media uitgeblaker word, probeer sy dit nie ontken nie; inteendeel, sy wil hê dat elke besonderheid van haar “sonde” tot op die been oopgevlek word. Sy sê: “Laat ek elke steek daarvan voel, tot ek gelouter word [...] Laat ek deur die vagevuur gesuiwer word.”

Uiteindelik vra ook Annalisa, so op haar eie manier, om verskoning vir wat sy haar ouers aangedoen het.

Of daar al ooit iets was soos ’n goeie ma? Party ma’s is sekerlik beter of slegter as ander, maar die feit bly staan dat elke kind sy/haar ouers vir iets blameer, maak nie saak hoe hard die ouers probeer om alles reg te doen nie. Dis egter menslik om foute te maak, en ’n ma is ook maar net ’n mens.

Die een wat deur ’n laksman doodgemaak word, het nie ’n sê daarin nie. Stem jy saam? Of het die een wat doodgemaak sal word, ’n aandadigheid in die feit dat hy of sy sal sterf?

Die kwessie wat in die roman ontstaan, is: Kan doodgoeie, “normale” mense onder sekere omstandighede tot moord gedryf word? Is dit onder sekere omstandighede geregverdig? Moet sekere misdadigers liewer permanent uit die samelewing verwyder word – nie net deur middel van lewenslange tronkstraf nie, maar deur teregstelling? En wanneer iemand wíl sterf? Byvoorbeeld ’n persoon wat terminaal siek is soos Rosaria se ma, of soos Annalisa wat kyk hoe haar ma haar met ’n oordosis heroïen inspuit en wíl doodgaan. Het ons die reg om oor lewe en dood te besluit? Is dit ooit geregverdig? Daar is geen maklike of regte antwoord hierop nie.

Nog dinge wat taamlik gereeld in die storie opduik: ’n droom. ’n Graad 8-klas. ’n Onverwagse klein kindjie! ’n Spuitnaald. ’n Huis. Dwelms. En die dood. Kies asseblief een of meer van die onderwerpe en brei daarop uit.

Die verhaal begin met ’n huis en eindig met ’n huis – die huis waar Rosaria gebore is en waar haar pa vermoor is. Volgens die Jungiaanse sielkunde simboliseer die huis die mens se psige, veral wanneer daar oor ’n huis gedroom word. Die huis waar Rosaria grootgeword het, word letterlik verpletter deur ’n plataanboom en daarna droom sy herhaaldelik oor hierdie insident elke keer wanneer sy iets traumaties beleef: kort voor haar ma se dood, toe sy haar werk by Wits verloor het, met haar egskeiding, toe haar dogter se dwelmsmous ’n mes teen haar keel gedruk het, en veral toe haar pa vermoor is. Die huis wat veronderstel is om ’n veilige plek van geborgenheid te wees, word ’n slagveld as gevolg van haar susters se afknouery, en later te wyte aan haar dogter se dwelmverslawing. Van daar die klassifisering van Die laksman se dogter as “domestic noir” of ’n psigologiese riller.

En praat met my oor al die voëls in die boek. Stel jy belang in werklike voëls? Want elkeen van die voëls wat jy kies, is gelaai met simboliek (uil, laksman, janfiskaal). (Is dit maar net die aard van voëls, en ons sien dit nie raak nie?)

My wederhelf Rodger is ’n ywerige voëlkyker met elke moontlike voëlboek op sy boekrak. Aanvanklik het ek dié tydverdryf vervelig gevind, maar hy het my uiteindelik aangesteek met sy entoesiasme. Nou raak ek ook opgewonde oor ’n vleiloerie of katlagter se besoek aan ons tuin.

Die voëls in die boek is gewis sterk simbolies. ’n Fiskaallaksman is tegelyk wreed én versorgend. Hulle sal ander voëls se neste plunder en hulle kuikens lewend opvreet, maar aan die ander kant is hulle baie goeie, versorgende ouers. Dit is hierdie teenstrydigheid wat in byna al die karakters in die roman teenwoordig is. Rosaria se pa is tegelyk ’n moordenaar en ’n versorger. Rosaria is beide liefdevol én wreed.

Wanneer Rosaria se ma sterf, vlieg ’n duif uit haar pa se hande en by die venster uit – simbolies van haar siel wat vrygelaat word. Annalisa beskryf haar ma as die “beskermheilige van uile en ander gevleueldes”. Die uil as simbool van wysheid, maar ook van die dood.

Hoekom het jy hierdie boek geskryf? Was daar iets spesifieks wat jou inspireer het, of die sneller vir die verhaal was?

Verslawing en ’n genetiese geneigdheid tot verslawing het my nog altyd gefassineer, waarskynlik omdat ’n hele paar van my familielede al middelafhanklik en/of alkoholiste was. Dalk was die skryf van hierdie roman ’n vorm van skriptoterapie. ’n Vriendin van ons het ook haar storie oor haar dogter se verslawing met my gedeel. Ek wou mense bewus maak van die vernietigende effek van verslawing.

Wat lees jy op die oomblik? Of noem ’n paar gunstelingboeke. En werk jy aan iets anders? Wat is die aard hiervan? Jy is so veelsydig – gedigte, kortverhale, samestelling van bundels, of iets anders?

Op die oomblik lees ek Lorrie Moore en Anne Enright se kortverhale. My geliefkoosde boeke van alle tye is Margaret Atwood se Alias Grace, Ingrid Winterbach se Niggie, Anna M Louw se Vos en Ian McEwan se The kindness of strangers en The cement garden. Die motto vir Die laksman se dogter kom uit laasgenoemde boek.

’n Nuwe roman oor vier susters tydens die 1940’s broei in my kop, maar op hierdie stadium is dit nog net ’n konsep. Dit sal waarskynlik jare neem voor dit op papier verskyn.

Ek verneem pas dat Kelder ’n film gaan wees! Dié boek van jou het in 2012 verskyn – hoe het dit gekom dat daar nou belangstelling is om dit te verfilm? Wat kan jy hiervan verklap?

Toe die boek verskyn het, het ’n paar Tukkiesstudente my gekontak en gevra of hulle ’n verhoogstuk van Kelder kan maak. Ek het my toestemming gegee, maar uiteindelik het niks daarvan gekom nie. Hulle het wel my debuutroman ’n Engel in die hoenderhok tot ’n drama verwerk en dit opgevoer. ’n Jaar of wat later het een van hulle, Emile Hager, my gebel en gevra of die filmregte van Kelder beskikbaar is. Emile is die draaiboekskrywer van Knysna, sowel as ’n akteur daarin. Nog twee jaar het verloop, toe bel Emile my weer en sê hy het aansoek gedoen vir befondsing by die Nasionale Film- en Videostigting en dat dit toegestaan is! Teen Desember sal die draaiboek gereed wees en volgende jaar word dit verfilm.

  • Foto van Gerda Taljaard: Joanne Olivier
  • 1

Kommentaar

  • francois verster

    Sjoe Gerda, geluk met die sukses van jou romans en dat jou werk in ander genres verwerk word. Ek dink enige mens is tot doodslag in staat, nie noodwendig voorbedagte moord nie: dus, 'n baie relevante tema. Weer eens geluk en sterkte.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top