Dit is Facebook se algoritmes wat die advertensie onder my aandag gebring het – in drie tale: ’n Uitnodiging vir bydraes vir die 3de Kaaps-simposium. Die deel wat in formele Afrikaans (Standaardafrikaans of die nuwe “algemene Afrikaans”) aangebied word, lees maklik: “Ons verwelkom graag akademiese aanbiedings (plakkate, artikels, paneelbesprekings), kreatiewe werk en optredes.”
Ook die Engelse vertaling vloei: “We invite academic presentations (posters, papers, panel discussions) and creative works and performances.” Maar dan, tussen die Engels en die Afrikaans, word die uitnodiging in die Facebook-plasing herhaal in ’n hedendaagse Kaaps: “Ôs welcome graag academic presentations (posters, âtiekels, panel discussions), creative work en performances.” Wat op dees aarde?! vra ek in onbedekte verontwaardiging op WhatsApp aan gespreksgenote: Is dit wat Kaaps is (of geword het)? En wat sou die vader van Kaaps, digter-filosoof Adam Small (1936–2016), hiervan gemaak het?
Dit plaas die kollig op ’n kwessie waaroor nie alte dikwels gepraat word nie. Ek verwys na die verskillende maniere waarop gebruikers van Kaaps – akademies en kreatief – die taalmedium besig. Hierdie leser het lank reeds tot die slotsom gekom dat vrye wil bestaan: Doen soos jy goeddink, en geen taalpolisie kan jou van ’n taaloortreding aankla nie. Let byvoorbeeld op die uiteenlopende wyse waarop twee rubriekskrywers in Rapport in Kaaps skryf. Hoeveel van die koerant se lesers kan kop of stert uitmaak van wat geskryf word – en hoeveel kon kop of stert uitmaak van die wyse waarop ’n nuwe generasie Kaaps-digters in die onlangse verlede elkeen ’n eie stel skryf- en spelreëls toepas?
Die letterkundige Hein Willemse het middel-Junie vanjaar in sy gereelde Netwerk24-rubriek onder meer gereageer op die “pseudo-fonetiese vormgewing of oogdialek wat skrywers van Kaaps gebruik om spraak na te boots”. Wat jy in die genoemde advertensie kry, sou ek sê, is inderwaarheid ’n herhaling van die Engelse weergawe – behalwe dalk twee “pseudo-fonetiese” woorde (“Ôs” en “âtiekels”) saam met die formele “graag” uit Standaardafrikaans. Maar wat ’n deurmekaarspul: “Ôs welcome graag academic presentations [...]”
Willemse moet dit nie teen my hou dat ek hom hier buite konteks aanhaal nie, maar ek meen sy woorde is in my eie konteks ewe gepas. “Wat oënskynlik as dialekverskille aangedui word, mag bloot oppervlakkige vertoon wees,” skryf hy, “wat nie werklik neerkom op dialektiese verskille nie en eerder hindernisse in die leesproses is.”
Waaroor Willemse dit eintlik in sy rubriek had, was ’n ander advertensie – hierdie een ’n “call vi aansoeke” deur Rhodes-universiteit (“call” = Engels; “vi” = Kaaps; “aansoeke” = Afrikaans) vir voornemende studente om in te skryf vir hul MA in kreatiewe skryfwerk. Die “course” is in 2011 “established” en het reeds “oorie 160 graduates opgelewer”, herhaal ek agter Willemse aan. Jy moenie verwar raak nie: Dis nóg Afrikaans nóg Engels waarin hier gekommunikeer word. “Dis ’n stuk aktivisme,” is Willemse se (polities korrekte?) poging om sin te maak daarvan. Die vertrekpunt sou wees: “Skryf soos jy praat.” In ’n vergelyking wat nie noodwendig akkuraat is nie, herinner dit Willemse “aan die aksies van die Patriotskrywers aan die einde van die 19de eeu, wat meegewerk het om Nederlands tot Afrikaans te omvorm”.
Nooit gesien nie, sê ek daarop. Nóg Willemse: “Onderliggend aan die oproep is die spanning tussen ortodoksie en die status quo enersyds, en rebellie en nie-konformisme andersyds.” Maar as dit werklik vandag die bedoeling van Kaaps-skrywers is, is hulle ’n hele generasie (sestig jaar!) te laat, want Small se baanbrekersbundel in Kaaps, Kitaar My Kruis, het reeds in 1962 verskyn.
’n Mens sien nie dat daar veel aandag in die populêre media aan die hedendaagse “Kaaps-rebellie” gegee word nie. Wat moet daarin gelees word? Dat daar nie veel omgegee word daaroor nie? Of is dit omdat die debat oor Kaaps ’n sensitiewe een is? Dit is tog makliker (veiliger, minder riskant, meer aanvaarbaar) om jou teen Standaardafrikaans uit te laat – selfs al word die gebruik van hierdie term nou vanuit Afrikaanse geledere self deur die “allehoegste” Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns uitgerangeer. Maar onthou nou ook dat in hierdie tydvak waarin ons, ons bevind – en hiervan is Willemse en die Taalkommissie albei terdeë bewus – word jy gedurig deur die kringtelevisies van kanselleerkultuur dopgehou.
Waarheen is Kaaps egter op pad as jy kan maak en breek nes jy wil as jy besluit om die taal in te span in ’n bundel gedigte, roman, akademiese artikel of tesis ter voltooiing van ’n meestersgraad of PhD? Watter handleiding word deur eksaminators gebruik om die merkwerk te doen, of hang dit maar af wie die merkwerk doen?
En wat, vra ek nogmaals, sou Small hiervan gesê het? Dit sou hom vermoedelik verbly het dat Kaaps nou ook die vlak van hoëronderwys betree het ten spyte van die gestrompel met spelling; dit sou hom aan die ander kant gepynig het dat kinders op skool steeds nie toegelaat word om hulself vir ’n slaagpunt in Kaaps uit te druk nie.
*
In die voorwoord van die 1973-herdruk van Kitaar My Kruis, ’n dekade sedert die eerste verskyning daarvan, doen Small reeds sy allerbes, soos hy ook in die jare daarna gedoen het, om Kaaps as taalmedium erken te kry. Dit was ongetwyfeld ’n literêre suksesverhaal in die hoogty van Standaardafrikaans se oorheersing van wat (skaamteloos-subjektief) as “kwaliteit letterkunde” beskou is.
Small skryf in 1973, dit is vyf dekades gelede, Kaaps is nie “wat sekere Engelse mense in Suid-Afrika Capey [...] noem nie”. Ook is Kaaps nie “wat sekere Afrikaanse mense Gamat-taal noem nie”. Sonder aarseling stel hy dan die saak vir die aanvaarding van Kaaps as ’n volwaardige taal: “In die sin dat dit die volle lot en noodlot van die mense wat dit praat, dra.” Hul eerste skreeu is in dié taal, motiveer hy sy standpunt, ook al hul lewenstransaksies; einde ten laas, hul doodsroggel. Dit sluit goed aan by die argumente van James Baldwin in sy 1979-opstel “If Black English isn’t a language, then tell me, what is?”.
Small wou onder andere gehore by voorlesings van sy werk, resensente in die media, asook enigiemand wat enigsins nog daaroor gewonder het, attent hierop maak: “Kaaps is nie ’n grappigheid of snaaksigheid nie, maar ’n taal.”
Satire – soms deur party kritici as “godslasterlik” afgemaak – is terselfdertyd doelgerig en effektief deur Small ingespan om in Kaaps “die volle lot en noodlot” uit te beeld van die mense wat dié taal praat. Die indruk waarmee ’n Kaaps-leser egter deesdae gelaat word, is dat satire deur die plofklanke van Afrikaanse vloektaal vervang word om andersheid aan te stippel.
Wat die herdruk van Kitaar in 1973 betref, het Small met sinvolle rede besluit om te hou by die oorspronklike. “Ek sou eers aan die spelling torring,” vertel hy die leser, maar verduidelik dat hy “oplaas daarteen besluit [het] omdat ek gedink het dit sal vir die student van my werk interessant wees om my ‘fonetiek’ van ’n dekade gelede te vergelyk met dié wat ek nou skryf wanneer ek nog Kaaps skryf”.
Neem ons ’n sprong van ’n klompie jare vorentoe, na die middel-negentigerjare, tree daar ’n stilte van meer as ’n dekade by Small in: Geen openbare optredes of uitsprake, geen nuwe publikasies. Ook geen werklike taalontwikkeling in die Kaaps-sfeer nie. Wanneer Small se stilte teen 2013 deur die bundel Klawerjas (Tafelberg) verbreek word, lei hy dit met die volgende paragraaf in: “Hierdie poësie – met my soort rym, en ook vrye verse – stuur weg van platvloersheid, dog is terselfdertyd bestem vir gewoon-intelligente mense en wil nie ’n vertoon van geleerdheid en obskure hoogdrawendheid wees nie.”
En verder verwonder hy hom aan die “taalkenners” (sy aanhalingstekens) wat alles “in verseëlde houertjies wil pak”. Hier verwys hy na reëls oor “waar en wanneer daar gekoppelteken moet word, hoofletters moet wees, bokas-onderkas geskryf moet word en dies meer”. Die slotgedagte: “Taalgebruik, en natuurlik die poësie, buig net nie voor hierdie simplistiese taalbeskouing nie.”
In die afdeling “My woorde kom weer” verwys hy na hoedat hy “lank stil” was, “maar nou, / waarlik, / kom die woorde weer”. Saam daarmee hoor hy ’n stem “wat my vra: Adam, / wat het van jou Kaaps geword? Hierdie / nuwe verse klink só anders”. Die vermaarde digter dink hieroor na en antwoord dan: “My Kaaps is goeie geskiedenis – / die stemme, soos ek dit verbeeld het, van die / stemloses [...]”
En ook gaan hy voort: “My Kaaps leef voort in die musiek van / hierdie nuwe verse, die paring van en speel / met binne- en buiteryme. Só bly die / Krismisbands en -kore, van tye her en nou, / in hierdie nuwe werk se landskap sing, / sing, sing en stap.”
Net soos toe die eerste uitgawe van Kitaar verskyn het, wat sewe herdrukke beleef het en nog ’n keer in 2018 deur Protea Boekhuis uitgegee is, hoor ’n mens die klanke van die “Krismisbands en -kore”. Gepas word die openingsgedig in die bundel ook “Kô, lat ons sing” genoem:
Vrinne
lat ons die Bybel oepeslaan
en lat ons daaryt lies –
o Allehoegste Gies
lat hierie woorde na onse harte gaan! –
yt die twiere boek van Mosas
yt die Exoras
yt die viere hoefstuk die ee’ste en die twiere verse –
o God
maak vi’ ons lig moet hierie woorde soes moet kerse! –
Nou, sewe jaar ná Small se kers doodgeblaas is, herinner die advertensie oor die 3de Kaaps-simposium, wat vir Augustus volgende jaar geskeduleer is, ons daaraan dat Small reeds in “tye her” die grondslag vir spelling in Kaaps gelê het. Wat nou met Kaaps gedoen word, vermoedelik om Small en ander vroeëre Kaaps-skrywers (Peter Snyders, Marius Titus) te kanselleer, is wat Willemse (weer eens in sy eie konteks) die “bewuste etnifisering van Kaaps” noem. Small, Snyders en Titus het dit primêr as ’n platform gebruik vir “die stemme [...] van die stemloses”.
In die proses van die “bewuste etnifisering van Kaaps”, ontkom die taalmedium aan die stereotipiese bedoelings van diegene wat in Small se era na Kaaps as “Capey” en “Gamat-taal” verwys het. Die pedagogie van sogenaamde platvloersheid word bevorder deur die [na my mening] koddigheid van hedendaagse Kaaps-spelwyses en -skryfstyle, en in die afwesigheid van nuutskeppinge in die taal, word “eerder hindernisse in die leesproses” geskep. Dit laat die dice vi’ Kaaps verkeerd val.
Kô, lat ons hie’oo wietie.
Lees ook:
Persverklaring: 3de Kaaps Simposium | 3re Kaaps Simposium | 3rd Kaaps Symposium
Kommentaar
Raak gevat! Ek dink nie net dit is koddig nie, maar inderdaad 'n terugwaartse stap wat nie help om beter geskiedenis te skryf of beter letters under te skep nie! Heelaas ... ons praat nie almal so nie, al wil sommige dit so laat lyk!
Mense sal mekaar nooit volkome vind nie. Die klomp wat nie van gestandariseerde Afrikaans hou nie, sal oor elke kleinigheid kibbel, ja, selfs oor die woord 'standaard'. Standaardengels word natuurlik nie aan dieselfde verwyte onderwerp as gestandariseerde Afrikaans nie. Maar ook, diegene wat nie van Kaaps en ander variteite hou nie, sal hulleself ook weer altyd meerderwaardig ag en as selfaangestelde taalpolisie intree (en ook met klomp ander agendas).
Maar daar is seker ook baie onnodige en jammerlike misverstande. Daar is nie enige formele reëls ten opsigte van Kaaps nie. Hoe bepeins mens 'n konsep konstruktief en sinvol, indien daar geen duidelike konsensus bestaan oor die presiese betekenis daarvan nie?
Daar moenie beperkinge wees op kreatiewe skryfkuns nie. Markkragte dikteer reeds dikwels te veel wie gepubliseer en gelees word en wie nie, spesifiek ten opsigte van gevestigde uitgewers. Sporadies word daar selfs ook akademiese navorsing gedoen in variëteite van Afrikaans. Vir volgehoue navorsing moet 'n gestandariseerde weergawe van 'n taal egter eventueel uitkristaliseer. En vir taal om relevant te bly, moet die taal self voortdurend ontwikkel en nooit stagneer nie.
Vir gestandariseerde Afrikaans se vyande sal die spoed waarteen dit gebeur nooit vinnig genoeg wees nie. Die invloed van Engels sal dus bly groei. Dit is onafwendbaar. Dit is 'n oefening in futiliteit om vir kreatiewe skrywers te probeer dikteer hoe hulle registers moet uitsien. Trouens, dit doen skade.
Nathan Trantraal se gebruik van Kaaps wissel ook heelwat - soms pas hy die Afrikaanse spelling aan, soms nie. Maar die Engelse spelling bly altyd die 'standaard'-weergawe, selfs al kan jy in jou gedagte hoor hoe dit anders uitgespreek sal word. Sien onder meer https://www.litnet.co.za/nathan-trantraal-1983/ waar die volgende voorkom: In die onderhoud met Marais het Nathan hom die gramskap van ’n hele klompie mense op die hals gehaal toe hy gesê het dat hy dit teen Adam Small en Peter Snyders het dat hulle van Kaaps ’n "joke-taal" gemaak het.
"Hulle het gedink dis ’n taal waarin jy sing en dans, ’n f****n coon-taal. So, as jy ’n boek skryf in Kaaps voel dit jy moet van voor af begin skryf om mense te convince dis iets ernstig."