Die KKNK en URUCU bied ’n webinaarreeks aan oor kwessies uit Stam (The tree)

  • 0

Fliekvlooie kon vir ’n beperkte tydperk die bekroonde Afrikaanse rolprent Stam eksklusief op die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) se digitale platforms kyk. Nou is die film op DSTV Box Office beskikbaar. Stam is as die beste Suid-Afrikaanse rolprent by die Durbanse Internasionale Rolprentfees aangewys. 

"Dit is vir beide die KKNK en die rolprentmakers belangrik om gesprekke rondom die kwessies wat die rolprent aanraak te inisieer en daarom bied ons die geleenthede vir gesprekke met die rolprentmakers, akteurs en kenners om verder oor dié onderwerpe te gesels," vertel Hugo Theart, artistieke direkteur van die KKNK.

Die gesprekke wat aanlyn plaasvind, sluit temas in soos: wat ons nie van geslagsgebaseerde geweld sê nie, die trauma van die versorger; en die verhouding tussen verslawing en verbondenheid. Toegang tot en deelname aan hierdie drie gesprekke is gratis. Belangstellendes kan inskakel op die KKNK se webwerf (www.kknk.co.za) waar die gesprekke aangebied sal word.

Woensdag 7 Oktober 2020 om 19:30 – DIE TRAUMA VAN DIE VERSORGER

Moderator: Gideon Lombard

Paneel: Ciska van Straten (vroedvrou en verpleegster), Linzi Thomas (aktivis vir kinderregte), Catherine Brown (doula), Inge Beckman (aktrise) en Lucinda Evans (filantroop)

Hierdie paneelbespreking beklemtoon die traumas waaror ons nie praat nie, wat inherent verbind aan omgee vir ander is. Van mediese praktisyns, wat gereeld aan mense in nood en pyn blootgestel word, tot moeders wat rus en selfversorging benodig. Dalk kan hierdie tipe gesprekke as 'n belangrike uitdrukkingsruimte dien vir diegene wat aan die voorpunt van die stryd vir veiligheid en waardigheid vir almal staan.

Donderdag 8 Oktober 2020 om 19:30 – DIE VERHOUDING TUSSEN VERSLAWING EN VERBONDENHEID

Moderator: Marianne Thamm

Paneel: Louw Venter (skrywer, regisseur en akteur), Gideon Lombard (akteur) en Mapanya Sodoni (berader en afrigter vir jeugverslawing)

Verslawing word dikwels beskou as 'n fisiologiese toestand met 'n sterk fokus op die afhanklikheid van dwelmmiddels. In hierdie bespreking word verslawing as 'n samelewings- en emosionele siekte beskou. Is daar 'n historiese parallel tussen verslawing en die gedwonge skeiding tussen mense? Is betekenisvolle verbinding deel van die rehabilitasieproses?

Maandag 12 Oktober 2020 om 19:30 – WAT ONS NIE VAN GESLAGSGEBASEERDE GEWELD SÊ NIE

Moderator: Marianne Thamm

Paneel: Chiv Gordon (mediese opvoedkundige), Jill Levenberg (aktrise) and Sherman Pharo (akteur)

Suid-Afrika is 'n berugte brandpunt vir geslagsgeweld. Waarom is hierdie probleem so alomteenwoordig? Waarom is ons nie daartoe in staat om hierdie bytende kurwe af te plat nie? Wat is die verhale buite die gruwelverhale en waar swyg ons oor iets waaroor ons eerder moet praat?

Die rolprent, uit die pen en onder regie van Louw Venter en vervaardig deur die span van Inxeba (The Wound) wat in 2017 met vele toekennings bekroon is, word moontlik gemaak met die ondersteuning van M-Net, kykNET, die Suid-Afrikaanse Departement van Handel en Nywerheid (SHN), die Netherlands Film Fund, die Netherlands Film Production Incentive en die Nasionale Rolprent- en Videostigting.

Die rolprent is in Afrikaans en Engels, met Engelse onderskrifte beskikbaar. Sien Stam se lokprent en vind meer inligting oor die rolprent by www.kknk.co.za/stam/.

Die KKNK moontlik gemaak deur die volgehoue ondersteuning van Absa, Media24, die Het Jan Marais Nationale Fonds, die Jannie Mouton-stigting, BASA, die Wes-Kaapse Regering, die Oudtshoorn Munisipaliteit en kykNET.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top