Die kerk was nog nooit volmaak nie, en tog …

  • 2

...
Ons mag saamstem, of ons mag verskil. Ons mag dink dit is absurd, soos wat baie dinge van die kerk waarin ek grootgeword het, en waarvan ek steeds ’n lidmaat is, vandag mag blyk te wees, of dalk nie.
...

Loof die Here, Magdaleen Krüger se Sondag-musiekprogram op RSG, bevat dikwels ou en tradisionele kerkliedere, wat my gereeld aan my kinderdae in die kerk laat dink. Psalms, Gesange en Halleluja-liedere. Baie daarvan tydlose melodieë vanoor die wêreld heen.

Sondae was kerkdag met ’n vaste roetine. Ons was in die NG Kerk. My pa was ’n diaken, en later ’n ouderling, en ek sien in my geestesoog hoe hy met sy manelpak en wit das, en met ’n wit oorjas vir die plaaspad se stof, in die motor klim. Dikwels het die noodlot ons getref en het ons agter oom Chrisjan beland. Dan het ons teen 40 km/h tot by die teerpad agter oom Chrisjan gery, want dit was disrespekvol om ’n ouer persoon op ’n grondpad verby te gaan. Oom Chrisjan ten spyt, was ons nooit laat nie!

Ek onthou die ouderlinge en diakens wat in hul ampsdrag uit die konsistorie stap, gelei deur ons dominee met sy statige toga. Die kerkraadslede het almal bly staan totdat die leierouderling of -diaken met ’n kopknik die teken gee sodat almal gelyktydig gaan sit. Ek onthou die swart kleed oor die kerkraadsbanke wanneer ’n dienende ouderling of diaken te sterwe gekom het.

Die liturgie was formeel en tradisioneel. Elke Sondag was ’n replika van die vorige een. Nie ritualisties nie, maar eng. Die voorgeskrewe liturgie is slaafs deur leraars in hul baie kenmerkende “predikantstem” nagevolg. Tydens die bediening van die doop en die nagmaal, en ook tydens begrafnisse, is die voorgeskrewe formulier volledig gelees.

Families het elkeen hul “eie” kerkbank gehad, dieselfde een as die generasies voor hulle. Dikwels sou daar in die motor op pad terug huis toe gevra word: “Ek wonder waar Flip en Dina rondloop. Ek sien hulle was nie vandag in die kerk nie.” Ook oom Sarel, die koster, het ’n vaste sitplek gehad, net soos die gereserveerde en duidelik gemerkte “leraarsbank” vir die predikantsvrou en hul kinders.

Vrouens het hoede gedra, dikwels groot hoede, en ’n moulose rok was nie tipiese kerkdrag nie. Die mans was in pakke geklee, en soms was daar iemand met ’n “sportbaadjie” en ’n das. As kinders het ons ’n baadjie, das en kortbroek gedra, en dienspligtiges het tydens pasnaweke die kerkbank met hul trotse ouers gedeel, pynlik netjies in hul militêre uniform geklee.

Asof soos gister, “hoor” ek my pa en ma se helder, opregte en blymoedige stemme langs my in die kerkbank terwyl daar uit die psalms-en-gesange-boek gesing word, en tannie Martie nie terughou op die orrel nie. By spesiale geleenthede het die kerkkoor gesing. Al was die musiektalent dikwels beperk, was die koor se poging opreg en gewaardeerd. Die orreliste was altyd beide begeleier en dirigent.

Die kwartaallikse Nagmaal was ’n viering: eers ’n voorbereidingsdiens, dan die nagmaaldiens self, wat gewoonlik baie lank geduur het, en die middag om 15:00 die danksegging-en-nabetragting-diens. Die kerk was voller as normaalweg, want almal het hul programme gereël sodat hul tydens Nagmaal teenwoordig kon wees. 

Die Pinksterbidure het vir tien dae aangehou, en ek onthou die lastigheid wanneer twee lidmate gelyktydig met hul hardop gebed begin, en dan weer gelyktydig stop! Ons het angstig gewag dat oom Lewies sy beurt opneem. Sy gebed was nimmereindigend, en het altyd met dieselfde woorde begin: “U is die Alfa en die Omega, die Begin en die Einde, die Blink Môrester.”

Na afloop van die jaarlikse basaar is elke wyk se insameling, of die opbrengs van die “wykstafel”, tydens die erediens aangekondig. Die “konvenor” van die wyk kon nie bekostig om te laat slap lê nie. Elke wyk het ook sy eie wyksbasaar gehad, en my pa het geglo dat elkeen daarvan ons familie se ondersteuning nodig het.

Die kerksaal was ’n gewilde ruimte vir die onthaal na troues. My ma het altyd van die “resepsie” gepraat. Langbroeke vir vroue was taboe, en vonkelwyn was toelaatbaar net vir twee heildronke. Hulle wat van voorneme was om te trou, se voorgenome huwelik is vir drie agtereenvolgende Sondae tydens die erediens afgekondig. Hul “gebooie” het geloop, ingeval iemand ’n beswaar daarteen wou aanteken.

Tydens kerkraadsvergaderings, wat vir ure kon duur, was almal in ampsdrag geklee.

Die herinnering aan die kerk en sy gebruike is diep gewortel. Sondagskool, later Kategese, Kinderkrans, en die KJA vir die jong lidmate. Daar was die Vrouesustersvereniging, met hul opregte poging om te help waar nodig. Die kerkklok wat elke Sondag drie keer gelui word. Die derde gelui was kort, want dit het die begin van die erediens aangedui. Na die derde gelui het oom Sarel as koster sy sitplek ingeneem. Wanneer die kerkklok in die week gelui het, het ons geweet daar vind ’n begrafnis plaas.

Die Kerk was voorskriftelik in terme van wat goed en reg is, en wat nie. Wat sonde is, en wat nie. As kinders is ons teen baie bose praktyke gewaarsku, soos om ’n plaat van agter na voor te speel.

Dit is hoe die kerk, veral op die platteland was. Vandag klink die bogenoemde dalk ondenkbaar, selfs vreemd of absurd. Hoe kon so baie mense vir so lank vasgevang word in so ’n tradisionele en eng roetine? Was daar dan geen ruimte vir vernuwing of kreatiwiteit nie? Was dit hoe “kerk” moes wees? 

Met die voordeel van terugskouing was dit inderdaad baie rigied. So asof dit geforseerd en kunsmatig was. Formaliteit was belangriker as spontaniteit. Plig en gewoonte was belangriker as keuse, so asof alles “ter wille van” was.

Baie dinge van daardie tyd kan vandag gekritiseer of as belaglik uitgebeeld word. Die “kerk” van destyds was beslis nie volmaak nie, en tog was alles nie kunsmatig of tevergeefs nie. Wanneer daar by die roetine, engheid en formaliteit verbygekyk word, was daar talle deugde en waardes wat vormend was, en wat positiewe uitkomste gehad het. Deugde soos getrouheid, diensbaarheid, toewyding, respek, gemeensaamheid, pligsbesef en samewerking is tydloos. Daar was respek, orde en struktuur. Ononderhandelbare elemente van ’n sterk karakter, en ja, ook van ’n sterk geloofslewe.

Vandag is die NG Kerk meestal anders. Kerklike liturgie bestaan amper nie meer nie, en die kerkorrels het stil geword. Ook die kerkkore. Hoe harder die “band” speel, hoe meer wimperend en sagter is die gemeentesang. Die aflê van die Geloofsbelydenis, en die lees van die Tien Gebooie is lankal iets van die verlede. Die kleredrag is informeel, en ’n koppie koffie in die hand voordat die diens begin is deel van die roetine. Almal gesels, want die gewyde atmosfeer is deur ’n gesellige een vervang. Niemand weet meer wie op die kerkraad dien, en selfs of daar nog een is nie. Die tradisionele preke het geleidelik in versterkende en bemoedigende boodskappe verander. Daar is vandag ’n sensitiwiteit vir individuele behoeftes en voorkeure, en die kerk is baie meer akkommoderend. Daar is ’n baie groter bewustheid vir mense in nood. Tog huiwer die kerk soms om standpunt oor kritieke aspekte in te neem. Dalk is dit om niemand aanstoot te gee nie. Dalk omdat daar verskillende interpretasies van die Skrif is.

Kerkwees het verander en veral die kerk se styl en aanslag is vandag grootliks anders as destyds. Mense, hul behoeftes en hul verwagtinge het immers verander. Baie mense hou daarvan, en baie nie. Natuurlik is daar steeds gemeentes waar elemente van die meer tradisionele aanslag nog bestaan.

Maar per slot van rekening, maak dit regtig saak?

Vandag is daar honderde Christelike kerke, elkeen op sy eie missie, en elkeen met sy eie styl en aanslag. Elkeen bied ’n heenkome vir iemand wat juis daar welkom en tuis voel.

Die geslagte voor ons was destyds gemaklik met hoe die kerk gefunksioneer het. Dit was “normaal” vir daardie dae. Tog was daar ook destyds diegene wat stroomop was, net soos vandag. Dalk lê die grootste onvolmaaktheid by ons as kerklidmate. Dalk verstaan ons nie genoegsaam wat die begrip kerk beteken nie.

Onlangs was daar die openbare diskoers oor die Gereformeerde Kerk se besluit oor die rol van vroue as ampsdraers in daardie kerk. Die openbare kommentaar was meestal krities. Kan die Gereformeerde Kerk nie maar net soos enige ander geloofsgroepering oor hul eie sake besluit nie? Ons mag saamstem, of ons mag verskil. Ons mag dink dit is absurd, soos wat baie dinge van die kerk waarin ek grootgeword het, en waarvan ek steeds ’n lidmaat is, vandag mag blyk te wees, of dalk nie. Miskien moet ons maar, wanneer dit by kerksake kom, ons ons by die sake op ons eie lessenaar bepaal. Elke kerk het sy eie twispunte en uitdagings, en dit gaan nooit anders wees nie. Menings, interpretasies en standpunte kom en gaan, want die menslike oordeel was, net soos die kerk, nog nooit volmaak nie. En tog … 

Lees ook:

Moraliteit anderkant familieverband: die opkoms van vroeë Christendom

Die beoefening van Nuwe Testamentiese wetenskap as vakdissipline in Suid-Afrika

’n Teologiese perspektief op die benadering en bydrae tot die kerk se getuienis in die liedjies van die musiekgroep Prophet

  • 2

Kommentaar

  • Hanno Visagie

    Dis vir my duidelik dat die skrywer van kleins af in die NG Kerk was en steeds is, met geen benul van die wesenlike belang van 'n hoofsaaklik letterlike Skrifbeskouing nie.

  • 1. Die historiese Afrikanerkerke word uitgesonder deur woke Afrikaanse akademici, joernaliste, skrywers en kunstenaars. Daarom sal jy vind hierdie akademici sal graag die Gereformeerde kerke as vrouehaters uitkryt, maar nie 'n woord sal hulle rep oor al die ander Engelse en Afrikanistiese kerke waar ook slegs manne op die kansel en die kerkraad mag dien nie. Nee, dit is net die siek, wit Afrikaner wat uitgesonder word. Nie die Katolieke, Metodiste, Anglikane, ZCC, Baptiste, Charismate, AGS ens. ens. nie. Woke werk maar so. Hoe meer jy jouself, jou eie mense, jou geskiedenis haat, afbreek en afsweer hoe meer brownie points wen jy by jou nuwe meesters. Eendag sal die teoloë by die kweekskool ook nog begin om veganisme uit die Bybel uit te beredeneer. Gee net kans.

    2. Ten opsigte van die res van jou artikel. Ek verstaan nie mooi wat presies die punt is wat jy probeer maak nie, maar ek sien nou die dag 'n interessante feit raak wat relevant is tot wat jy skryf. Dit wil voorkom asof daar 'n direkte korrelasie bestaan tussen die ontstaan, ontwikkeling en verspreiding van die internet, en die daling in geloof. In die dekades voordat die internet ontstaan het, die 1970's en 1980's, was lande soos die VSA en Brittanje nog oorwegend gelowig. Nog nooit in die geskiedenis van die mens was daar 'n stuk gereedskap so kragtig soos die internet nie. Wat inligting versprei. Wat vir mense 'n venster gegee het in die wêrelde van ander mense. Mense met ander maniere van dink, doen en glo. Elke paar jaar is dit 'n vreeslike gebiddery vir reën in Suid-Afrika, terwyl daar lande is wat ander gode aanbid en oorvloedige reën kry. Almal kan vandag die kerke se aansprake gaan toets. Kletsbotte het die toegang tot inligting selfs nog meer verspot maklik gemaak. YouTube bied 'n biblioteek van inligting wat die kerk se belydenis op 'n historiese, filosofiese en wetenskaplike basis toets en bevraagteken. Dit alles, tesame met die gejaagde moderne lewe, maak dat mense eerder Sondag gebruik vir inkopies, klere was, vullis weggooi, rus en slaap.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top