Die kerk met die verkeerde baas deur Gerhard Mahne: ’n lesersindruk

  • 18

...
Die boek nooi die leser om saam te kom dink oor hierdie dinge wat plaaslik maar ook wêreldwyd in kerke aan die gebeur is, en dan te besluit waar hy/sy staan.
...

Titel: Die kerk met die verkeerde baas
Skrywer: Gerhard Mahne
ISBN: 9781991245229
Uitgewer: Groep 7-selfpublikasie

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.

As jy op hoogte wil kom van die vernietigende invloed van die tydsgees en kulture wat gedurig verander op kerke, is hierdie boek ’n moet-lees. Dit is geskryf vir die man op straat, die gewone lidmaat in enige kerk. Die boek is in eenvoudige taal. Moeilike teologiese begrippe word telkens in die teks verstaanbaar vertaal en verduidelik en afkortings word aan die begin uitgeskryf. Voor elkeen van die ses hoofstukke word ’n kort opsomming gegee wat ’n aanduiding gee waaroor die res van die hoofstuk handel. Al handel die inhoud oor ernstige kwessies en diepliggende probleme in die kerk, is die skryfstyl gemaklik en kan dit vlot gelees word. Almal dink nie eenders nie – die boek gaan daarom ook oor meningsverskille wat die afgelope paar dekades kop uitgesteek het, soos die maagdelike geboorte van Christus en sy opstanding, die persoonlike aard van die duiwel, saamwoon voor die huwelik en selfdegeslagverhoudings. Hiervoor word daar na sinodebesluite gekyk, maar daar word ook ruim gebruik gemaak van lesersbriewe in koerante en tydskrifartikels.

Die voorbladskets wys ’n bal wat ’n kerk laat kantel, met lidmate wat by die voordeur uitval. Teologiese liberalisme is soos ’n balanseerbal wat die kerk laat kantel. Sommige lidmate val uit hierdie gekantelde kerk uit en ander volhard in sonde. Die kerk staan op ’n oopgeslane Bybel. Van die belangrikste kwessies in die boek gaan oor Skrifgesag en Skrifinterpretasie.

Die titel Die kerk met die verkeerde baas en die vraagteken daarnaas het sy oorsprong by die vraag oor wie die kerk se baas is. In die Rooms-Katolieke kerk is dit die Pous. Hy en sy kardinale (tans 203) regeer die kerk. Teen hierdie vorm van kerkreg was die Hervormers gekant en is Gereformeerde kerke steeds gekant: Ons het een Leidsman (Baas) – Christus Jesus wat via die Skrif alleen oor Sy Kerk regeer.

Die verskillende hoofstukke het temas wat onder andere handel oor ruim denke uit ’n Bybelse oogpunt; onsekerheid as uitkoms van ruim huisdenke sonder grense; die ver pad wat ruim denke sonder grense al gekom het; dat kerke bloot mooi gedagtes op papier kan hê soos ’n visie en missie of geloofsverklaring of wie die hoof van die kerk is; en die voortdurende veranderende kultuur van die Algemene Sinode. Die spanningslyn van die boek neem toe tot by die laaste hoofstuk, wat handel oor moontlike uittrede uit verband met die Algemene Sinode en die pad vorentoe. Die kwessies is uiters relevant en het betrekking op baie van die onlangse gebeure in die NG Kerk – maar dit het ook betrekking op ander kerke in Suid-Afrika en dwarsoor die wêreld.

Die skrywer rig in sy voorwoord ’n uitnodiging aan lesers om saam te kyk na die onsekerhede van kerkmense. Hierdie uitnodiging is ook gerig op spesifieke persone en hulle menings vorm ’n laaste bylae-afdeling van die boek.

Die boek nooi die leser om saam te kom dink oor hierdie dinge wat plaaslik maar ook wêreldwyd in kerke aan die gebeur is, en dan te besluit waar hy/sy staan. Daar word gekyk na onsekerhede by mense as gevolg van ruim denke sonder grense. Daar word ook gewys op belydenisse op papier en hoedat dit in die praktyk toegepas word. Verder word stilgestaan by kultuur en mense se aanpassing by kulturele veranderings. Laastens word voorstelle oorweeg om te kyk hoe die kerk te midde van onsekerheid en verdeeldheid staande kan bly.

Die skrywer, Gerhard Mahne, bedank aan die einde almal wat saam dink: “Dit is nie ’n klompie leraars of ’n groep kerkleiers wat ’n wankelende kerk weer op vaste fondamente van die Skrif sal laat staan nie. Dit is die kerk se gewone lidmate soos jy wat die boek lees, wat dit in jou omgewing sal doen.”

 

Lees ook:

  • 18

Kommentaar

  • Barend van der Merwe

    Volgens die bladsy waar die boek te koop aangebied word op die uitgewer se webblad, is die boek "geskryf aan jou wat steeds die kernwaarhede van die Bybel as die lig op jou pad wil hê."

    By implikasie is ek dus nie die direkte teikenmark nie. Hoewel ek nogal van van die Bybelse verhale hou, kon ek nog nooit verstaan wat presies hierdie 'kernwaarhede' van die Bybel is nie. Erger, ek dink die kerk doen ontsaglike skade deur van die Bybel iets te maak wat dit gladnie is nie. Ek bedoel daarmee deur die Bybel te verhef tot 'n boek wat amper as't ware uit die hemele geval het. Soos wat die sogenaamde 'wet' trouens volgens bewering presies mee gebeur het. Die Bybel is ook nie deur Christene geskryf nie en dit is nie 'n boek oor die Christendom nie. Dit word wel so geïnterpreteer deur die kerk. Dit is ook 'n pre-wetenskaplike boek. Wat een van die Bybel se grootste 'probleme' is vir die moderne mens. 'n Boek vol mites en volksverhale. Digkuns. En ander soorte letterkunde. Dit is beslis nie 'n 'normatiewe' boek vir mense van die 21ste eeu nie. En bo alles is die kerk se interpretasie van die Bybel verwarrend. Gelowiges kan oor bitter min saamstem, en verskil onder mekaar oor menige 'kernwaarhede'.

    Dan praat ons nog nie eens oor die feit dat die kerke eintlik maar net plekke is van magspeletjies nie. Dit is hoekom mense al minder en minder belangstel in die kerk.

  • Dr. Christelle Koegelenberg-Bekker

    Beste Gerhard
    Julle boek is tevergeefs, soos skelms, by die hek van Goudini uitgedeel. Sinodegangers is gewaarsku en dit sal waarskynlik in snippermandjies land.

  • Barend van der Merwe

    Interessant hoe maklik die woord "sonde" gebruik word sonder enige konsensus oor wat presies dié ou koddige woordjie presies beteken en behels.

    Hoop darem nie die boek word werklik in die snippermandjie gegooi soos wat doktor waarsku nie. Gee dit eerder vir my!

  • Henrietta Klaasing

    Baie dankie Christelle vir hierdie inligting. Ek spreek graag namens myself en Anton Knoetze van Koinonia-sinode ons dankbaarheid uit dat ons boek so "gevaarlik" geag sou word dat Wes-Kaapse sinodegangers daarteen "gewaarsku" moes word. Intussen het ons baie positiewe terugvoer ontvang. Vriendelike groete en seēnwense.

  • John M Murray

    Mnr Barend, dit is 'n kernwaarheid dat ongelowige mense die waarheid onderdruk dat daar 'n God is wat eendag rekenskap gaan eis van elke woord, daad en gedagte van elke mens. En as mens wil weet wat sonde is, moet hy net die Bybel bestudeer. So is die regstelsel "toevallig" gebaseer op die Tien Gebooie. Die boekie gaan juis daaroor dat die Algemene Sinode tot bokant die gesag van die Skrif verhef is, sodat mense eintlik God se plek inneem. My wens is dat die liberales ook 'n boekie sal skryf oor presies wat hulle glo, want al wat ek weet is wat hulle nie meer glo nie. Wat van die Bybel by hulle oorbly, is maar min. Dit skryf ek as volgeling van die Here Jesus wat waarlik uit die dood opgestaan het sodat ons eendag by Hom kan wees.

  • Barend van der Merwe

    Dankie vir jou antwoord, John. Jy klink na 'n welberedeneerde mens. Hoewel ek nie met jou saamstem nie. Ongelowiges, ja, wat sal ek nou sê, behalwe miskien dat, as jy die atties in sektes sou moes indeel, dan sal "ons" die georganiseerde godsdienste goed kan match in terme van die verdeeldheid onder "ons" (daar is nie regtig iets soos "ons" nie, net ons, die mensdom). Ateïste kan net so lekker onder mekaar stry soos gelowiges. Dit het ek nou al male sonder tal gesien op hierdie ongelowige journey waarop ek nou al baie jare is.

    So terloops, ek dink nie aan myself as "liberaal" nie. Hoewel ek seker so mag oorkom en voorkom vir sommige. My idees is maar baie matig, voel ek.

    Ek stem nie saam dat die tien gebooie die basis vorm van die moderne regstelsel nie. Die tien gebooie klink baie edel, maar dit is misleidend. Dit was byvoorbeeld slegs op die Israeliete van toepassing. Wat beteken niks daarvan het gegeld vir die slawe nie. Of buurvolke en enige ander nie-Israeliet.

    Dis vandag nog ONMOONTLIK vir my om te weet wat is sonde en wat nie. Elke gemeenskap of staat onderhandel maar hulle eie norme. En die Bybel bied absoluut geen basis vir ons norme van vandag nie. Tensy jy slawe wil aanhou en patriargie beoefen. Ek kan ook nie agter die kap van die byl kom deur na gelowiges te kyk of te luister nie. Jarelange observasie en menige "seisoen van luister" het my in volslae ongeloof laat verval. En sedert ek die hasepad uit die kerk gekies het, het die twis en onmin onder gelowiges nou nie juis opgeklaar nie, inteendeel. Die Kairos-groepie het intussen so met een been buite die huis gaan staan. Hulle weier om te aanvaar dat die liefde tussen twee manne of twee vroue van die Here ook iets mooi en heilig kan wees.

    En ek verneem baie gelowiges wonder ook nogal baie oor die dood. Wat gebeur na die dood? Die biologie gee goeie antwoorde, die teologie: 'n wye spektrum van dagdromery.

  • John M Murray

    Dankie Barend. Sou graag via email kommunikeer maar hulle laat nie adresse toe nie. Vir my is dit nogal moeilik om te verstaan dat jy nie uit die Bybel kan sien wat reg en verkeerd is nie. Wat buite God se wil is en wat nie. Het jy al ooit tot God gebid en gevra dat as Hy is wie Hy se dat Hy is, Hy vir jou sekere dinge kan openbaar deur die Woord soos oor wat sonde is. Almal kry 'n uitnodiging daartoe in die boek van Jakobus en 'n belofte dat Hy wysheid gee aan die wat vra. Dit is tog 'n klein ding om te doen en vat nie baie tyd nie. God sal antwoord op Sy manier en tyd. Seëngroete.

  • Barend van der Merwe

    Hoe sal e-pos nou enige verskil maak? Wat kan per e-pos gesê word waaroor nie hier gesels kan word nie? Die hele rede hoekom dié ou boekie geskryf was, is omdat die Gereformeerde kerke absoluut geen konsensus meer het oor hulle eie godsdiens nie. Of oor wat in hulle Bybels geskryf staan nie. Des te meer kan ek ook geensins insien hoe en hoekom die Bybel normatief moet inwerk op die samelewing nie. Die letterkunde van pre-wetenskaplike samelewings is nie etiekhandboeke vir 2023 nie. Aanvanklik was dit egter 'n hele spektakel om te aanskou hoe die een sinode die vorige sinode se besluite omgooi. Hoe die strydende groepe na albei kante toe roem op die leiding van die "Heilige Gees". Kan jy nou meer! En toe is dit nog boonop howe toe want die Heilige Gees het ook einde ten laaste toe nou nie klarigheid gegee nie en 'n regsgeleerde moes uiteindelik bemiddel. Deesdae het die hele voortslepende saga al grootliks vermaaklikheidswaarde verloor. Die koerante berig nie eens meer veel oor die sinodesittings nie. Mense stel gewoon net nie meer belang nie. Al waaroor die faaight nou maar nog gaan, is daai 100 miljoen rand bates van die Algemene Sinode (is dit nog 100 miljoen?). Dié ou geldjies is al wat dié huwelik eintlik maar nog aan die gang hou. Want naasteliefde is daar nou nie juis veel van nie.

    En soos ek verstaan is die Kairos netwerk maar so 10 % van die 500 000 of wat lidmate wat nog oor is. Vir meeste lidmate is godsdiens in elk geval maar net 'n kulturele ritueel. Iets wat maar Sondae gedoen word, eeu na eeu. So die klompie wat nog vasskop en weier om die moderne wetenskap te aanvaar, wat ons leer dat homoseksuele mense heeltemal normaal is, is maar net een uit tien van wat nog oor is van die kerk. Dis selfs minder as wat ek gedink het. En tog weier die 10 % en hulle dink hulle sal hulle idees eendag weer op die ander 90 % kan afdwing. Met boeke en beswaarskrifte en beswaarde briewe aan die Burger en die Kerkbode.

  • Henrietta Klaasing

    Dagsê Barend. Vir iemand wat nie meer in NGK-verband staan nie, is jy verbasend goed ingelig oor alles rakende ons kerk. Dit maak my bly. Oor die "tien persent" waaroor jy skryf: doen 'n bietjie navorsing oor "ten percent tipping point" (terloops dis méér as dit en groei steeds soos mense bewus raak van ons KS). Maar lees veral wat die Bybel sê oor "getalle". Gideon se verhaal net 'n enkele voorbeeld in die OT. Maar lees veral die begin van die kerk in Handelinge: Jesus het begin met 12 apostels (en later Paulus) - 'n hele beweging het begin na die vervolging en verstrooiing van die eerste gelowiges. So ook die vervolging en verstrooiing in die tyd van die Hervormers... die "beweging" duur tot vandag toe voort. God se wiskunde werk op 'n ander vlak en in 'n ander dimensie. Hoe dan anders? Hy is die Skepper van wiskunde. Die mens is net 'n na-aper.

  • Bernhard Ficker

    Ja Barend, jy is goed ingelig. Maar nie heeltemal goed genoeg nie. Daardie 10% is van die gemeentes. Daar is nog 'n groot getal dolerende lidmate wat lid is van nie-dolerende gemeentes, want hulle is in die minderheid in die gemeente. Maar dit maak nie saak nie. Dit is slegs die Heilige Gees wat jou verstand kan verlig om te kan glo. Pasop maar dat jy nie so gebreinspoel word deur liberalisme en ongeloof dat jy jou hart so verhard dat jy die onvergeefbare sonde teen die Heilige Gees pleeg nie.

  • Dis mos wat ek ook sê: bly weg van geloof; daar is te veel dolerendes. Wêreldwyd is daar seker nou al vyftigduisend kerkdenominasies en elke dolerende en nie-dolerende glo sy goitjie is die ware jakob.

  • Barend van der Merwe

    Siende dat Jesus geen Christen was nie, maar Joods, en ook geen graad by Maties, Tukkies of Kovsies had, sou die arme Jesus nooit op 'n NG kerk se kansel toegelaat gewees het nie.

  • Bernhard Ficker

    Ja, maar as hy Queer of queer was, dan sou hy outomaties toegelaat wees, soos die afgelope Wes-Kaap NG-kerksinode bevestig het met hul ondersteuning van die queer beweging en die aanvaarding van die gendergeregtigheidtaakspan se aanbevelings op bladsy 69 van die agenda.

  • Barend van der Merwe

    Ek het grootgeworre daar op die walle van die Vaalrivier by 'n klein ou dorpie met die naam Christiana. Christiana het twee NG kerke wat so kilometer of wat van mekaar af gebou is. Tussen die tweetjies staan die Doppers. Daar mag geen vrou op die kansel klim nie. By die Doppers nou. Alle pogings om die twee NG-gemeentetjies te laat verenig het oor die jare gefaal. Die Heilige Gees het dit seker verhoed. Soos ek verstaan is die een gemeente met die ouer leraar deesdae aan 't doleer en die een met die jonger leraar, die doleer skynbaar nie. Gits, in my jare het die kerke oor die Belhar-belydenis gestry. En dan is daar ook al die ander kerke. Die APK's wat nie swart lidmate het nie. Die grootdopers soos die AGS wat klomp lidmate van die drie susters afrokkel jaar na jaar, veral op klein dorpies soos daai. Die jollie vollies waar jy kan hande oplig en amen hallelujah as jy wil. Kerke wat Saterdae kerk want jy weet, "dis wat die Bybel EINTLIK sê".

    Elkeen kry ander "kernwaarhede" uit dieselfde bybel. En een kan nie met die ander saamleef op aarde nie. Maar gelukkig sal dies wat die korrekte teologiese konsepte geken en aanvaar het, mos eendag geskei word van al die "sondaars", laasgenoemde wat dan vir braaihout ingespan gaan word nadat die pearly gates in hulle aangesigte toeslaan.

    Maar dis eers eeeeendag.

  • Ek is stomgeslaan oor die versplintering (verbrokkeling) in tienduisende groeperinge agv bitterlike verskille oor wat die "kernwaarhede" nou eintlik is en dit onder leiding van dieselfde Woord en Gees. En nog meer, die verwoestende uiwerking van die verskille in hulle toepassing oor die eeue tot vandag toe.

  • Barend van der Merwe

    Op 'n stadium het ek toe mos voluit met die grootdopers ingemeng. Wat kan ek sê? Mens is jonk en gullible en jy dink jy doen die regte ding. Nooit as te nimmer sal ek vergeet hoe die grootdopers die NG Kerk sleg gemaak en swart gesmeer het nie. Wanneer die NG Kerk erediens hou, is ek vertel, dan word daar net 'n klein stukkie uit god se woord gelees. Vir die grootste deel van die diens maak die dominee op sy eie insigte staat. Al die leuens van Satan wat hy by die sekulêre, wêreldse universiteit geleer het, word so in die Here se huis ingesleep. Die Calvynisme, kan ek by terugskoue nou sien, was soos 'n dwelm vir myself en so baie ander. 'n Opium wat die storms stilmaak. Jy los dit nie sommer nie. Daai vaste wete dat jou tye in gods hand is; dat jy reeds met jou geboorte in god se verbond is, soos die doopformulier jou herinner, en daar sal bly ook. Nou ja, die kleindopers was self nou nie juis vleiend teenoor die grootdopers nie. Die AGS was as 'n sekte beskryf deur die NG Kerk se sinodestukke. Johan Heyns en een van sy oud-studente, ene dominee Isak Burger, het toe eendag by ’n koek en tee toe besluit so kan dinge ook nou nie langer aangaan nie, en die AGS is toe opgradeer van sekte na Christelik. Maar soos dit vandag nog gaan in die NG Kerk, het die Algemene Sinode se besluite nou nie juis teen 'n reuse tempo deurgesyfer na die gemeentes daai jare nie. Inteendeel, die AGS het 'n sekte gebly vir baie lidmate. In 'n ironiese wending het menige NG-lidmaat later jare juis vreeslik teenoor die AGS vermurwe. Die grootdopers maak ten minste nie asof die ou duiwel nie bestaan nie. En 'n huwelik daar is nog een man en een vrou. Soos dit hoort. So is dominee Isak Burger se boeke toe met ywer gelees.

    Maar die bybel was en bly nog altyd 'n probleem vir die kerke. Watter regdenkende mens kan nog enigsins op die bybel en slegs die bybel staatmaak? Inteendeel, die idees in die bybel is primitiewe, voor-wetenskaplike gemeenskappe se polities-religieuse geskrifte, en sal nooit daarin kan slaag om vir mense van die 21ste eeu te kan help, sonder om verwarring en chaos te saai nie. Apartheid het veral ook bygedra daartoe dat baie mense maar al meer versigtig geword het vir redenasies met teksverse uit die bybel. Heel duidelik egter nie die skrywer van hierdie boekie, nie maar nou ja. Feit is mens kan amper enige bisarre ding met teksverse uit die bybel beredeneer. Onder meer die goed wat in hierdie boek geskryf staan. Daar word sulke mooi broodjies van god gebak in hierdie boek. In die voorwoord van die boek word daar soveel klem geplaas op 'kyk saam', 'ontdek saam', 'dink saam'. Dan trek dit weg met die voorstelling van die sogenaamde historiese 'ruim denke' van die kerk. Hoe god kwansuis reg van die begin af die god van alle mense was. Hoeveel voorbeelde word egter geïgnoreer waar god volksmoorde verorden en alles uitwis, vroue, kinders, diere, die lot? Maak dit sin? Dit maak sin ja, as jy die bybel sien vir wat dit is – antieke Israel se nasionalisties teologiese geskrifte.

    Maar nou ja, wanneer 'n mens oor jou ongeloof gekonfronteer word en daaroor begin redeneer en jou standpunt probeer verdedig, en ek beveel dit eintlik glad nie aan om jouself te probeer verduidelik nie, maar wanneer jy in jou dwaasheid oor godsdiens redeneer, dan is die kitsoplossing wat telkemale weer spoedig iewers sal opduik: GAAN LEES JOU BYBEL.

    Dit is dan die teken dat jy as oningelig, ongeletterd en swak opgevoed beskou word.

    En tog skets die bybel ook hoe die antieke Israeliete in verskillende botsende groepe en sektes verdeel was. En daar was nogal groot teologiese verskille tussen groepe soos die Sadduseërs, Fariseërs, Samaritane en Essereniërs. Om nie te praat van hoe Jesus se dissipels onder mekaar verskil het nie. In daai jare het die bybel nog nie eens bestaan nie. Ten minste nie in die vorm wat dit vandag is nie. Die warm debatte van daardie jare was besnydenis, jou eetplan vir elke dag en veral ook Jesus se wederkoms. Mens kan dit skaars indink vandag. Al drie die sake is vandag non-issues vir die kerk, maar daai jare was dit die sake waaroor beswaarde ooms en tantes briewe vir hulle weergawes van Kerkbode en die Burger sou kon skryf - sou hulle maar net kon skryf! Ongelukkig was die gemiddelde mens ongeletterd. Vandag is amper almal geletterd, maar dit help maar min as jy oortuig is dat die boek wat jy lees uit die ruimte uit neergebons het op planeet aarde. Maar omdat mense in die tyd van Jesus nie Christene was nie, maar messiaanse Jode, en omdat die messiaskonsep so sentraal gestaan het in hulle verstaan van Jesus, was Jesus se wederkoms wat so lank neem 'n geweldige issue. Anders as wat dit vandag vir moderne Christene, net 'n terloopse sakie is. Maar moenie 'n fout maak nie, oor die jare het Christene (ek gebruik die woord Christen maar so los en vas, al is dit totaal en al onduidelik wie presies nou die 'Christene' is en wie nie, mens kan niks wys word uit hulle onderlinge twiste en miskenninge van mekaar se godsdienste en Christenskap nie), oor die jare het gelowiges nie gehuiwer om op massiewe skaal spek te skiet nie. Amerikaanse evangeliste het so byvoorbeeld Jesus se wederkoms op niks later as 1988 gedateer nie, gebaseer op die feit dat daar in die evangelies geskrywe staan dat daar nie meer as een geslag sal verloop na die hervestiging van Israel nie. En die het mos in 1948 gebeur. Maar ook 1988 het gekom en gegaan. Die evangeliste kon ten minste goeie winste maak uit hulle boeke.

    Maar nou ja, dit is seker maar net nog voorbeelde van klein ou glipsies wat gemaak was met die bybel onder die arm. Nes apartheid. Die probleem lê mos altoos nooit by die ‘volmaakte’ Skrif nie, en slegs by die ‘sondige’ mens. Of wat praat ek nou alles?

    Mens wonder hoe Jesus sou voel oor onderdompeling versus besprinkeling. Ek was self nooit 'gedoop' nie, en is slegs deur die NG sprinkelmasjien as baba.

  • Hans Richardt

    Ek dink dat wat aan "kerke" as organisasies in geboue toegedig word, is soms 'n verkeerde interpretasie van die "Pauline doktrine", geskryf volgens eie interpretasie van 'n bekeerde Paulus.
    Ek dink dat die meeste "bekeerdes" deesdae die eenvoud van Jesus, die jood, se lewe verkeerd interpreteer. Bv "voete was en hoof salf" was in tyd van Jesus gebruik as verwysing na seks. Ek laat dit daar, vir nou. Maria-Magdalena het ook Jesus se "voete gewas en sy hoof gesalf". Daar is vele misinterpretasies dmv eie interpretasies in kerke.
    Verder word Johannes die Doper se onderdompeling verkeerdelik geïnterpreteer as "groot doop"! In joodse tradisie moes mans hul in lopende water onderdompel om hul fisies te reinig om die Jerusalem tempel te kon ingaan, as deel van korum van diens deur priester tydens feeste. Dieselfde word nog steeds maandeliks van vroue verwag na menstruasie.

  • Mens moet submerge met die doop. Anners word dit nie in die jimmel genote as 'n doop nie. Calvyn en sy meelopers kan maar sê wat hulle wil. Jy kan nie so wil sprinkel-sprinkel deur die lewe gaan nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top