Die jeug sê: Afrikaans ja – en ook ons ander tale

  • 0

“Los die politieke gedienstigheid, koester Afrikaans as akademiese taal en skep bewustheid van die waarde van die moedertaal by die sprekers van die ander inheemse tale.” Dit was die standpunt wat studente en leerders tydens die Afrikaanse Taalraad se jeuggesprek by die US Woordfees onomwonde gestel het. “Alle inheemse tale moet mettertyd tot akademiese tale ontwikkel word sodat al Suid-Afrika se kinders die beste geleentheid kan kry om hul volle potensiaal te ontsluit.”

Hierdie oproep kom van bruin en wit Afrikaanse studente – dié wat reeds eerstehands die ontmagtiging van gedwonge Engelsmediumonderrig aan die lyf gevoel het, asook plattelandse leerders wat universiteit toe wil gaan ... as hulle tog maar net in die taal kan leer waarmee hulle grootgeword het, die taal wat hulle die beste beheers.

Studente van die Universiteit van Stellenbosch en omliggende universiteite, asook leerders uit Worcester, het onder leiding van Marius Swart, taalbeplanningskundige van die departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Stellenbosch, hul opinies oor die taaldebat gelug.

Hulle voel uitgesluit van hierdie debat, hoewel die kwessie hulle ten nouste raak. Almal het saamgestem dat Afrikaans as moderne akademiese taal behou moet word - om opvoedkundige redes, maar ook omdat die taal se infrastruktuur ’n waardevolle bate is.

Op die vraag of die Afrikaanse standaardtaal behou moet word, was die antwoord ook ’n duidelike “ja”, maar met die voorbehoud dat dit verruim moet word om die variëteite van Afrikaans te weerspieël; en met dié versoek: “Moet asseblief nie skaam wees vir jou dialek nie”.

Of daar ’n stigma aan Afrikaans kleef en hoe dit afgebreek kan word? Die taak om die negatiewe perspepsies oor ons taal af te breek, lê veral in die hande van jong Afrikaanssprekers wat hulle in die hier en nou bevind, en wat saam met die sprekers van die ander moedertale ’n toekoms moet bou.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top