Die Jakes Gerwel Stigting en Passa Porta internasionale letterkundehuis in Brussel-residensie: ’n onderhoud met Charl-Pierre Naudé

  • 0

Charl-Pierre Naudé se foto: Alet Pretorius

Die Jakes Gerwel Stigting (JGS) en Passa Porta, ’n internasionale letterkundehuis in Brussel, sien daarna uit om twee Belgiese en vier Suid-Afrikaanse skrywers te verwelkom by hul twee weke lange Brussel tot Karoo-residensie by Paulet Huis in KwaNojoli in die Oos-Kaap.

Die Belge Nele Van den Broeck en Gerda Dendooven en Suid-Afrikaners Sibuyiselo Sbuja Dywili, Shireen Mall, Charl-Pierre Naudé en Ayanda Xaba sal die residensie bywoon. Hierdie residensie vorm deel van professor Jakes Gerwel se nalatenskap – hy het in 1979 sy doktorsgraad in letterkunde en filosofie (magna cum laude) aan die Vrije Universiteit Brussel verwerf. Sy lewenslange liefde vir die Vlaamse letterkunde het posgevat gedurende sy tyd daar.

Charl-Pierre Naudé praat met Naomi Meyer oor hierdie residensie wat hy meemaak. 

Charl-Pierre, jy is bekend as skrywer, filosoof en digter. Waarom het jy vir hierdie residensie by Paulethuis aansoek gedoen?

Naomi, dit is aan nuwe prosa wat ek tans beoog om aan te werk. Die uitgewer van my Engelse roman wat eersdaags sal verskyn, The equality of shadows (Pan MacMillan), het my aangeraai om aansoek te doen, toe doen ek dit. (Hierdie roman is ’n Engelse vertaling van my roman Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey.)

Ek was lanklaas op ’n residensie en het vergeet hoe heilsaam dit kan wees vir skryfwerk. In die eerste plek neem jy prikkels in wat nie uit jou gewone omgewing kom nie, so jou waarnemingsapparaat is op “gereedheidsgrondslag”. Dit is al reeds ’n goeie ding. Verslete prikkels se nuutheid, gewoon deur in ander strate rond te loop, word herstel. Somerset-Oos is ’n Oos-Kaapse dorp. Dit is een van die vormendste streke van Suid-Afrika ten opsigte van ons moderne geskiedenis. ’n Bepaalde misterie omklee die wêreld hier, ’n “binnensmondsheid”, ’n historiese gemompel, ’n helderoordagse slaaplopendheid, iets wat jy dink jy van geweet het, maar eintlik net halfpad van gehoor het.

Die versletewording van die platteland tref mens nogal soos ’n vuishou in die maag hier. Interessant genoeg is die voormalige township heel goed onderhou; dit is nuut en vooruitstrewend vergeleke met die historiese dorp waarin Paulethuis, die residensie, geleë is. Dit vertel jou al baie. Afrikaans en isiXhosa is die voertale hier.

..........
Die versletewording van die platteland tref mens nogal soos ’n vuishou in die maag hier. Interessant genoeg is die voormalige township heel goed onderhou; dit is nuut en vooruitstrewend vergeleke met die historiese dorp waarin Paulethuis, die residensie, geleë is. Dit vertel jou al baie. Afrikaans en isiXhosa is die voertale hier.
.............

En tog is daar pragtige ou huise hier en tussenin ook die onverwagte nuwe juweel. Wat trek enige iemand hiernatoe? Waarskynlik is dit nog ’n knooppunt vir die distrik se boerderye? Ek weet nie.

In elk geval, om jou vraag meer op die man af te beantwoord: Ek het aansoek gedoen om hier ’n tydjie deur te bring omdat die Oos-Kaap, wat natuurlik meer as een “plek” is, vir my op persoonlike vlak sowel as op politieke vlak ’n onmisbare skakel verteenwoordig.

Ek is hier saam met wonderlike kollegas: Vlaminge, een isiXhosa-skrywer, ’n fenomenale jong man waarvan kennis geneem behoort te word en baie gasvrye personeel – Gilbert, die kok en laatnagse waarsêer; Siena en Charmaine, twee wonderlike, sanerende en mooie vroumense wat na ons omsien en die groot tuin. Daar is die parkiete in ’n voëlhok. So my pa is ook hier rond op die werf (vir my). Want hy het kokketiele (soortgelyke voëlsoort) aangehou toe ek nog kind was.  Dit was sy stokperdjie.

Wil jy dalk iets vertel van jou skryfwerk waarmee jy besig is – of, as jy nie spesifiek iets hieromtrent wil verklap nie, iets deel van jou belangstellings en skryfwerk in die algemeen?

Met graagte. Dankie dat jy so belangstellend vra, Naomi. Dit is op hierdie stadium nog maar moeilik vir my om te praat oor die twee projekte waarmee ek besig is. Wat op hande is. Dit is twee romans. Een in Afrikaans en een in Engels. Ek skryf die een in Engels, want dit was bedoel as filmteks, maar sal beter deug as roman. Ek kon nie die titel in Afrikaans bedink kry nie, toe besluit ek, basta, ek skryf dan nou maar die ding in Engels. Ek het met die vertaling van Dirkie ook baie nader aan Engels gekom. En ek geniet dit om in die taal te werk. En tog lyk dit of dit die Afrikaanse roman is wat die meeste by my spook. Die werkstitel is Die argivaris van Nooitgedacht. Dit is weer eens ’n vreemde vis in die water. Ek boer net met vreemde visse, so lyk dit my.

Ek is nog op die punt waar ek my notaboeke deurwerk en minder belangrike notas van meer belangrike notas skei. En waar onverwagte skakels tussen die notas oopgaan. Ophelder, soort van. Soos bedlampies wat skielik in die nag aangaan nadat beurtkrag verbygegaan het.

.............
Ek is nog op die punt waar ek my notaboeke deurwerk en minder belangrike notas van meer belangrike notas skei. En waar onverwagte skakels tussen die notas oopgaan. Ophelder, soort van. Soos bedlampies wat skielik in die nag aangaan nadat beurtkrag verbygegaan het.
...............

Daar is seldsame karakters in my nuwe boek, soos die ou heer Brugge Steltsma. ’n Soort historikus van onbelangrike dinge wat gebeur het. Hy skryf onbelangrike dinge neer. Dit is sy forte. Hoe onbelangriker, hoe beter. Hy is daardie soort kenner. ’n Baie onderskatte soort weter. Ek hou baie van hom.

Wat hoop jy om met hierdie residensie te bereik? En wat is die aspekte wat jou die meeste aanstaan: inspirasie, tyd om te skryf, om met die ander skrywers te gesels, of enigiets anders?

Al drie daardie aspekte is belangrik. Inspirasie is iets wat mens vir jouself skep, soos Rainer Maria Rilke dit gestel het, dit volg op toewyding, jy kan nie op inspirasie staat maak om vir jou toewyding te gee nie. Dit sal wees soos om op die nagereg te vertrou om jou te help om jou maaltyd te geniet. Doesn’t work like that.

.............
Inspirasie is iets wat mens vir jouself skep, soos Rainer Maria Rilke dit gestel het, dit volg op toewyding, jy kan nie op inspirasie staat maak om vir jou toewyding te gee nie. Dit sal wees soos om op die nagereg te vertrou om jou te help om jou maaltyd te geniet. Doesn’t work like that.
................

Die geselsies met ander skrywers, ook met Theo, die direkteur, wat natuurlik ook ’n skrywer is, is interessant; met Gerda en Nele, S’bu, Ayanda, Shireen, dit gee mens ’n blik op die gedeelde agtergrondslandskappe waarmee skrywers werk, landskappe wat hulle aan ons opdring. Dan weet jy: Hierdie dinge het ’n manier om met meer as een skrywer te wil gesels. En dan is daar die dinge wat uniek is aan elke skrywer.

Tyd om te skryf is ’n totale gawe. Dankie Somerset-Oos, dankie Paulethuis, dankie wyle prof Jakes Gerwel en die Stigting en almal hier. Daar roep die parkiete alweer. Skuus, moet gaan. Dankie vir die geselsie!

Lees ook:

Brussel tot Karoo-skrywersresidensie: ’n onderhoud met Vlaamse skrywer Nele Van den Broeck

The Jakes Gerwel Foundation and Passa Porta international house of literature in Brussels residency: an interview with Sibuyiselo Sbuja Dywili

The Jakes Gerwel Foundation and Passa Porta international house of literature in Brussels residency: an interview with Ayanda Xaba

The Jakes Gerwel Foundation and Passa Porta international house of literature in Brussels residency: an interview with Shireen Mall

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top