Die inspirerende onnie agter Kakamas se tienertoneelprestasies

  • 14

Barnie Mans van Hoërskool Martin Oosthuizen in Kakamas

Baie goeie dinge kom uit Kakamas. Die “groot geraas” van die Augrabies-waterval naby dié Noord-Kaapse dorp weerklink in die opslae wat landwyd gemaak word deur Hoërskool Martin Oosthuizen se dramaleerders. Dié tienertoneelgroep het onlangs, vir die tweede jaar in ’n ry, die wenproduksie by Kaapstad se Hoërskool Dramafees, deur Kunstekaap en die Suidoosterfees aangebied, gelewer.

Vanjaar het Hoërskool Martin Oosthuizen die prys vir beste produksie ontvang vir hul toneelstuk Skaakmat, en verlede jaar vir Neer daal die reën. Die inspirerende onderwyser agter dié prestasies is Barnie Mans.

Barnie is ’n boorling van Kakamas. Hy het op die dorp skoolgegaan, en sy ma, in lewe ’n nooi van Springbok, was op haar dag Huishoudkunde-juffrou by Hoërskool Martin Oosthuizen. Dis ook hier waar sy Barnie se pa leer ken het. “Dit is die tipiese kleindorpiescenario van die jong juffrou wat met ’n boer van die omgewing trou en dan die res van haar lewe hier bly,” verduidelik Barnie.

Hoërskool Martin Oosthuizen, Kakamas se oase van uitnemendheid

Vandag gee Barnie Rekenaartoepassingstegnologie en Skeppende Kunste by sy alma mater. “En soos dit enige goeie onderwyser betaam, is daar ook ’n Lewensoriëntering-periode of twee op my rooster.” Hy is ook een van twee departementshoofde by Martin Oosthuizen, wat aan hom ’n lading administrasie in skoolbestuur besorg. “Ek probeer om een maal elke twee jaar ’n groot kultuuraktiwiteit aan te pak waaraan die hele skool deelneem. So het ons al revues, musicals, ‘stadium spectaculars’, kunstefeeste, ’n plekspesifieke spookstorie op ’n plaas 20 km buite die dorp, en verskeie dans- en talentkompetisies die lig laat sien.”

Martin Oosthuizen is ’n akademiese en landbouskool. Drama word dus nie as vak aangebied nie. Soos alle onderwysers jou sal vertel, strek opvoeders se take wyd en ver, en almal word op die sportveld ingespan. Barnie is dus ook ’n “kranige” atletiekafsitter en hy geniet dit sommer baie om atlete by byeenkomste met ’n knal te laat wegspring.

Die dramabloed vloei van kindsbeen af deur Barnie se are. Toe hy ’n leerling was, het sy ma drama as buitemuurse aktiwiteit aangebied, en onder haar regisseurshand het die gogga gebyt. In matriek was Barnie sterk op pad om Regte by Maties se gaan swot, totdat sy pa hom een aand, nadat hy met ’n prys van die soveelste dramakompetisie af teruggekom het, vra: “Wie flous ons? Jy moet mos gaan drama swot?”

’n Jong Barnie saam met sy ouers, Barnie en Anita

Barnie se pa het wel ’n belangrike voorwaarde gehad: “Máár dan gaan doen jy iets by wat kos op die tafel kan sit.” In 1999 het Barnie as dramastudent op Stellenbosch “ingeklok”, en drie jaar later het hy by die Opvoedkunde-fakulteit ingeval vir sy nagraadse onderwysdiploma. “Dit was vir my toe so lekker dat ek daar en dan besluit ek wil ’n BEd Hons in onderwysbestuur aanpak.”

In daardie tyd is Barnie se pa skielik oorlede, en toe hy sy oë uitvee, is hy terug op Kakamas in ’n onderwyspos by Martin Oosthuizen. Barnie kon toe ’n hand bysit met die boerdery waarmee sy ma agtergelaat is. “Ons het ’n relatiewe groot boerdery-opset gehad met wingerde, rosyntjies, wyn en lusern, en ook ’n veeplaas in die Boesmanland.”

Die tekste van Skaakmat en Neer daal die reën, waarmee Barnie se dramagroep die afgelope twee jaar by die Hoërskool Dramafees koning gekraai het, is geskryf of verwerk deur Barnie en twee boesemvriende, Alae Hanekom en Jaco Visser. “Ons al drie kom al van voor skool af saam. Alae het ook ’n dramagraad en Jaco is ’n joernalis. Hulle kry opdragte van my af, soms op baie kort kennisgewing, en hulle moet altyd maar tevrede wees met ’n ‘dankie’ vir betaling. Ons skryf dikwels saam.”

Barnie en medeskrywer Alae Hanekom by die Namakwaland Toneelfees se prysuitdeling

Skaakmat, wat handel oor die impak van oorlog op die samelewing, het ontstaan op die dag toe Oekraïne deur Rusland ingeval is. Barnie het ’n aanhaling aan Alae gestuur: “War does not determine who is right, only who is left,” met die versoek: “Ons moet vanjaar ’n stuk oor oorlog doen.” Twee maande later het sy vir Barnie ’n teks in die hand gedruk en gesê: “Ek weet nie wat jy hiermee gaan maak nie, maar ek is nou klaar.” In die stuk word skaak as metafoor vir die oorlogspel ontgin. “Die teks fokus nie net op konflik tussen nasies nie, maar ook op die alledaagse oorloë wat ons as gewone mense voer – tussen man en vrou, godsdiensgroepe, rasse, klasse, ensovoorts.

Skaakmat is ’n klein produksie,” vertel Barnie. “Daar is net twee akteurs en twee mense in die tegniese span. Die jong akteurs in die stuk, Zander Oberholster (graad 10) en Danelle Jacobs (graad 11), is tipiese Kakamas-kinders. Hul prestasies strek wyd.

“Zander het laasjaar vir die eerste keer tienertoneel begin doen, en hy het sommer met die intrap twee beste akteur-toekennings verower. Vanjaar het hy nog twee beste akteur-pryse ingepalm, en hy spog met drie ander benoemings.” Tydens die nasionale KKNK Dramawebkompetisie het Zander ook ’n spesiale beoordelaarsprys ontvang. Barnie beskryf dié talentvolle leerder as “’n tipiese plattelandse seun – altyd in ’n PT-broek en veldskoene.” Zander neem ook landbouvakke, speel rugby vir die skool se 0/17A-span, en blink uit in atletiek.

Plaasjapies in die wonderwêreld van teater tydens Kunstekaap en die Suidoosterfees se Hoërskool Dramafees

Danelle, “’n volbloed kultuurdier”, is in 2021 en 2022 aangewys as kategoriewenner tydens die KKNK se Dramawebkompetisie. Sy is ook ’n finalis in die finale ronde van die ATKV-Digitoneelkompetisie en gaan in Oktober op VIA se program, Gekies vir die kollig, sake uitspook om die nasionale titel. Danelle is ’n kranige skrywer en was onder die top-10 digters van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns se jaarlikse POORT-kompetisie. Sy het in 2022 ook twee toekennings as beste aktrise ontvang.

Met die Hoërskool Dramafees in Kaapstad se Kunstekaap word die geselskap se vernuf in ’n professionele teateromgewing behoorlik getoets. Dit is uiteraard ’n verrykende ervaring vir die jong produksiespan, maar hulle moet uithaal en wys om met stadskole mee te ding. Barnie vertel dat die lede van Skaakmat se tegniese span, Louise Hanekom (graad 9) en Juan Scheepers (graad 10), wonderwerke vermag het onder uitdagende omstandighede. “Ons skool het ongelukkig geen van die beligting- en klankfasiliteite waarmee ons by die kompetisies werk nie. Hulle moet baie keer binne ’n uur die toerustingtegnologie aanleer, bemeester en programmeer. Louise en Juan het Job se geduld en hulle bly altyd kalm en rustig.”

Barnie se tienertoneelgroepe neem al sedert 1996 landwyd aan kompetisies deel. In dié tyd het verskeie gesogte toekennings in Hoërskool Martin Oosthuizen se trofeekas beland. Baie van die leerders het, benewens die gewone kompetisiepryse, rolle in professionele produksies losgeslaan, wat wye blootstelling meegebring het. Benewens die prestasies by die Hoërskool Dramafees in Kaapstad, het Skaakmat vanjaar met benoemings en pryse in elke moontlike kategorie weggestap by die Fraserburg Logan Toneelfees, ATKV-Tienertoneel (Vrystaatstreek) in Bloemfontein, en die Namakwaland Toneelfees op Springbok.

Barnie saam met Jacques Crafford, ’n oud-dramaleerder, op die atletiekbaan waar albei afsitters was

Die geheim van sukses vir Barnie se tienertoneelgroep is harde werk. “Ons oefen meestal vakansies en Sondae, en laat in die aande ná die dag se aktiwiteite. Dit is belangrik dat die span inkoop in mens se idee en hulle moet glo in mekaar en in die produk.” En mens moenie wegskram van nuwe uitdagings, style en tegnieke nie. “Probeer om altyd te vernuwe! Jy leer die meeste wanneer jy kyk na teaterproduksies en veral na ander skole se stukke!”

Vir onderwysers wat ’n eie dramagroep in ’n skool van die grond af wil kry, het Barnie dié raad: “Begin klein en eenvoudig. Doen eers iets waarmee jy gemaklik is. Moenie oorweldig voel oor wat en hoe ander groepe dinge doen nie. En luister na jou leerders. Hulle het baie keer baie beter idees as jy.”

Die gemeenskap van Kakamas en Hoërskool Martin Oosthuizen se ondersteuning maak al die verskil. “Die skool het ’n ongelooflike sterk kultuurgeskiedenis,” sê Barnie. “In 2020 was dit 100 jaar oud, en as mens na die argiewe kyk, is dit opvallend hoe die skool in ’n eeu moeite gedoen het met kultuuraktiwiteite.” Waar ook al in die land Barnie se toneelgroepe optree, daar is die oud-Kakamiete teenwoordig om te ondersteun. “Tydens ons Artscape-optrede was daar nie minder nie as 22 oud-akteurs en Kakamas-inwoners wat kom kyk het hoe ons speel – tuisskare-voordeel in die Kaap!”

Wanneer Martin Oosthuizen konsert hou, is die vertonings uitverkoop. En almal neem deel. “Met 240 leerders is ons ’n klein skool, so almal moet alles doen, of daar is niks. My beste akteurs en aktrises is rugbyspelende landbouseuns, die kaptein van die hokkiespan, die dux-leerder … So, almal wat wil en kan, word ingespan.”

Barnie voor in die klas

Barnie sê hy geniet die onderwys terdeë. “Ek dink ek is maar ’n baie gemiddelde onderwyser, maar ek geniet die jong mense ongelooflik. Dit is regtig vir my lekker om hulle te sien ontwikkel en om ’n pad saam met hulle te stap.

“Die onderwysstelsel neem die onderwyser al meer weg van die leerder en onderrig, en daar word probeer om die sisteem met allerhande side shows te verbeter. Die koms van tegnologie en die gebruik daarvan in die klas het ook vir my ’n hele nuwe wêreld oopgemaak. Ek is mal daaroor om nuwe tegnologie te verken.

“Onderwys is nie ’n loopbaankeuse wat jy maak as jy nie weet wat jy wil doen nie – dit is ’n roeping. As dit nie jou passie is nie, bly weg!”

 

  • Alle foto’s vir hierdie artikel is deur Barnie Mans verskaf.
  • 14

Kommentaar

  • Ai Barnie, ons is so trots op jou. As deel van HMO se oud-onderwyserskorps is ons trots en dankbaar dat jy die fakkel aangevat het en met passie dra. Doen so voort. Hier ver van die Groot Rivier bly ons op hoogte van julle prestasies en is ons heelhartig deel van die juigkommando.

  • Ansie Coetzee

    As oud-tienertoneelregisseuse van 22 jaar onthou ek dié skool se puik werk op die planke.

    Veels geluk, Barnie, en jou oulike talentvolle en toegewyde leerlinge. Sonder jou inspirasie sou al die sterskietery nie kon gebeur nie.

  • Liza Esterhuizen

    Baie geluk met al die pretasies. HMO is voorwaar die klein skool met die groot hart. Ek is baie trots op my alma mater.

  • As die onderwys vol Barnie's was, het die plattelandse skole gedy en nie so geveg teen die groot skole wat hulle talentvolle kinders weglok nie, het ouers bly glo in die waarde van plattelandse skole, het veel meer jongmense die lewe ingegaan met die integriteit van die platteland diep in hul menswees ingeweef. Aan Barnie se kant van die draad sal die gras altyd groener wees. Jy is 'n inspirasie vir elkeen wie se pad met joune kruis!

  • Johan Esterhuizen

    Dit was een groot vreugde om van jou welverdiende sukses te lees, Barnie. Talent, toewyding en deernis - 'n wenresep!

  • Monica Hammes

    Dis 'n heerlike inspirerende storie!

    Julle kan gerus ook oorweeg om deel te neem aan die jaarlikse Shakespeare-skoletoneelfees. Ek het onlangs een van die aande in Kaapstad bygewoon - 'n geleentheid vol "magic". Een van die skole by daardie geleentheid was die Hoërskool Swartland. Daar moet beslis ook so 'n superonderwyser wees wat soveel geesdrif kon opwek by leerders vir wie Engels ook maar 'n derde taal is.

  • As oudleerling van die HMO, haal ek my hoed vir julle af. Watter inspirasie is dit nie om te sien waartoe 'n klein skool in staat is nie.

  • Mev. Mans het ook Wetenskap aangebied by Hoërskool Kakamas. Sy was regtig 'n briljante onderwyseres en het my baie inspireer. Sy was een van die beste onderwysers. Dankie, Barnie, dat jy haar inspirasie, aanmoediging en motivering laat voortleef!!!

  • Elsa van der Walt

    As oud-onderwyseres is dit die mooiste onderwysstorie wat ek in 'n lang tyd gehoor het! Dankie, Barnie en ouers!!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top