Die halwe huis, ’n onderhoud met Ricardo Arendse

  • 0

Marlo Minnaar in Die halwe huis (Foto: Hans van der Veen | SOF)

...
Vir my lê die hoop in wat ná die vertoning gebeur, wanneer jy by jou huis sit en dink aan Bumper of oor ’n drankie met vriende gesels oor die temas.
...

Die halwe huis, geskryf deur Ricardo Arendse, speel op 29 April en 1 Mei by die Suidoosterfees.

In dié eenmanstuk neem Bumper Jansen jou op reis deur sy kinderjare op Oudtshoorn en die Kaapse Vlakte en sy grootmensdae in Johannesburg. Bumper besin oor onderwerpe soos liefde, verwerping en die wêreld se verwagtinge.

*

Ricardo. Geluk, Die halwe huis nog ’n eerste, nie waar nie? Is ek reg dat jy nog nie tevore vir die verhoog geskryf het nie?

Ja, jy is reg, Die halwe huis is my eerste verhoogstuk. Daar was al vroeëre pogings, maar ek het altyd moed verloor.

Jy het al draaiboeke geskryf. Losing Lerato was die grote, maar dan was daar ook Baby Mamas en Love and kwaito. Hoe verskil dit van die teater?

Teaterstukke is meer dialooggedrewe, so die storie word meestal oorgedra deur middel van woorde. Draaiboeke vir TV en film laat meer ruimte om te wys. Wys, moenie vertel nie. Lokaliteit, of die verandering en rol daarvan, is ook iets wat mens makliker deur middel van die kamera kan wys en nie so maklik as dit kom by teater nie.

En jy dig ook. Jou naam is bekend op LitNet vir ’n hele aantal gedigte. Terwyl Huisgenoot weer van jou kortverhale publiseer. Wanneer en hoe het jy begin skryf? 

Dis een van die moeilike vrae wat ek altyd kry en ek weet nie eintlik hoe om dit te beantwoord nie. Ek was nog altyd baie lief vir lees. Dit het nuwe wêrelde met interessante karakters vir my oopgemaak. My pa was ook ’n baie goeie storieverteller en ek dink dit is die ure se geluister na hoe hy stories inmekaar weef wat my so beïndruk het dat ek dieselfde op papier wou doen.

Kom ons keer terug na die stuk. Die halwe huis is ’n mooi titel. Ek verneem jou seun het hierdie titel aan jou toevertrou? Wil jy meer vertel?

Ja, my jongste seun – ek het twee: Liam is die oudste en Ross die jongste – het eendag voor my huurhuis in Brixton, wat semi-detached is, gestaan en gesê dat die huis ’n halwe huis is. Hy was reg op soveel levels.

Bumper, jou hoofkarakter, is fiktief. Is daar ook pa-en-seun-dinge in die stuk?

Ja, daar is pa-en-seun-dinge. Ma en seun ook. Een van die issues wat die verhoogstuk probeer aanspreek, is generational curses en hoe ons kan kies om hierdie vloeke stop te sit.

Marlo Minnaar speel Bumper. As ek reg verstaan, het jy van die begin af vir Minnaar in die oog gehad toe jy Bumper geskep het. Hoekom hy?

Miskien moet ek net sê dat ek altyd probeer om nie vir ’n spesifieke akteur te skryf nie – ek glo dat dit die ontwikkeling van die karakter hamstring. Maar Marlo en twee ander akteurs was in my kop toe ek uiteindelik begin skryf. Marlo, omdat hy van Oudtshoorn is, was beter geposition vir die rol.

Die stuk dra ’n ouderdomsbeperking van 16 en jy spreek moeilike goed aan. Maar is daar hoop vir die teatergangers?

Hoop is ons verwagting dat iets goed sal gebeur of dat ’n sekere storie mooi sal eindig. Hoop is belangrik. Baie teatergangers sal miskien na die stuk uitstap en voel dat die teks sonder hoop is, en miskien is hulle reg, maar vir my lê die hoop in wat ná die vertoning gebeur, wanneer jy by jou huis sit en dink aan Bumper of oor ’n drankie met vriende gesels oor die temas. Die hoop lê daar. 

*

Die halwe huis
Ondersteun deur: NATi, LW Hiemstra Trust en Het Jan Marais Nationale Fonds
Vervaardiger: Bossiekop-produksies en KKNK
Met: Marlo Minnaar
Teks: Ricardo Arendse
Regie: Lee-Ann van Rooi
Musiek: Leslie Javan
Taal: Afrikaans
Venue: kykNET Teater
Datum en tyd: 29 April 15:30, 1 Mei 20:30
Tydsduur: 90 min
Prys: R125
Geen o/16 S, G, T

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top