Die groot gevry na die bruin stem

  • 2

Ex Africa semper aliquid novi.

Hierdie jaar, 2019, en hierdie algemene verkiesing beloof om een uitgerekte reeks skermutselings te wees, met al die politieke gepretzelry wat dit impliseer. Vrugbare teelaarde vir satirici. Goedkoop vermaak vir die res van ons.

Die ANC wat komberse en kospakkies uitdeel, dié is nou al standaard. O ja, en KFC. Wanneer hulle by die universiteite kom, moet hulle dalk oorslaan na Burger King en name-tekkies, maar die begroting strek seker nie so ver nie.

Die DA in my tuisdorp het skynbaar besluit om die laaste naweek om vir die verkiesing te registreer te gebruik om hul verkiesingstrategie van ANC-sleg-DA-enigste-alternatief van stapel te stuur toe die burgemeester mense op sosiale media aanmoedig om te registreer sodat hulle van die korrupte ANC-EFF ontslae kan raak. Sommerso sulke algemene stellings. Natuurlik het die ANC reageer met baie spesifieke beweringe van haar eie korrupsie, en beloftes om nog meer te openbaar.

Die res van ons sit nader met popcorn en koeldrank. Dis tog algemeen bekend as jy iets slegs van iemand sê, hulle iets slegs gaan vind om van jou terug te sê. Iewers langs die pad gaan al twee kante hulp kry van mense of groepe wat eintlik glad nie betrokke behoort te wees nie, maar net nie hul neuse uit ander se sake kan hou nie. Die sideshows is soms veel meer entertaining as die hoofshow.

Die maneuvers van die res van die politieke gemeenskap is interessant. Ek het gelag tot ek uitasem was toe ek die eerste keer verneem dat Peter Marais, daai ou politieke verkleurmannetjie, nou sy nuutste tuiste by die Vryheidsfront Plus gevind het. Jimmy Manyi verkondig wyd en syd hy is bereid om met enigeen saam te werk, selfs Solidariteit. Toegegee, Solidariteit is nie ʼn politieke party nie (nog nie), maar hulle kan hul lede waarskynlik beïnvloed om op sekere maniere te stem.

Politics making strange bedfellows, of iets anders?

Die keuses interesseer my om drie redes:

1) Daar is ʼn siniese geloof te bespeur dat kiesers se geheue kort is, en dat hulle blindelings lojaal sal stem op grond van persoonlikhede en nie beleidsoorwegings nie.
2) Daar is ʼn geloof dat die bruin stem die deurslag sal gee, veral in die Kaap.
3) Die DA is ʼn gekweste dier wat maklik van die speelveld verwyder kan word, veral in die Kaap.

Die ANC verloor nie veel slaap oor Peter Marais nie. Hy het dalk ʼn paar stukkies vuil wasgoed oor hulle te was, maar groter skade as wat Zuma en sy netwerk gedoen het, kan daar nie meer wees nie. Marais, aan die ander kant, behoort bekommerd te wees oor wat die ANC oor hom het.

Die VF+ moet besonder desperaat wees om hul politieke toekoms aan syne te heg. Ten beste kan hulle hoop op ʼn paar duisend meer stemme, genoeg om ʼn ekstra plek of twee in die parlement te regverdig. Beheer van die Wes-Kaap? Vreemder dinge het al gebeur, maar ʼn VF+-kandidaat as premier gekies? Nie sommer nie.

Koalisievorming is natuurlik altyd moontlik, en hoe meer LP’s jy het, hoe beter jou bedingingsmag. Dan maak die strategie effens meer sin.

Die VF+ is nog steeds besig met dobbel. Een, hulle wed dat hulle tradisionele kiesersbasis nêrens anders het om heen te gaan nie, selfs al is hulle ontevrede met die rigting wat die party inslaan, en dat hulle lojaal sal bly. Twee, hulle dobbel dat genoeg wit DA-lede ontnugterd is om oor te stap na ʼn meer konserwatiewe party. Drie, hulle glo genoeg bruin mense is kwaad vir die DA en lojaal aan Marais om die nuutste mal sprong saam met hom te maak, al is dit dan nou in die leeu se kuil in. Vier, hulle glo dat ʼn gedeelde taal mense sal saamvoeg wat andersins nie naby mekaar wil kom nie.

Al vier hierdie punte is gegrond op die vaste geloof en vertroue dat kiesers nie eerder laat sal slaap en die dag om die braaivleisvuur sal deurbring eerder as om in lang toue te gaan staan om ʼn stem uit te bring wat hulle dink nie gaan help nie.

Dit sou vir hulle beter gewees het om Patsy de Lille te nader, maar sy’s niemand se marionet nie.

Dis waarskynlik Marais se grootste aantrekking vir die VF+.

  • 2

Kommentaar

  • Patsy de Lille was lank die marionet van die DA. Ook maar lekker tussen partye gespring van die eens radikale PAC tot die DA. Die DA het aan bewind gekom in Kaapstad deur die VF+ wat hulle gehelp het. In politiek is alles moontlik. Solank die VF+ net nie soos die DA in die koalisiebed met die EFF spring nie kan ‘n mens nog vir hul stem. Daar is ‘n paar kundige mense in hul party wat ‘n goeie bydrae in komitees kan maak.

  • 2019.Stemvark@IEC-Stembus.org.za

    Geagte Bettina,

    Vertel asseblief vir ou 2019 Stemvark wat behoort die enkele en enigste drywer te wees wat kiesers behoort te dryf tot die stem vir 'n bepaalde party van eie keuse.

    Kleur? Kultuur? Afstamming? Godsdiens? Korrupsie? Komberse, sambrele en kospakkies? 'n Ideologie? Drie-woorde-slagspreuke? Leierskap? 'n Gemeenskaplike vyand? 'n Gemeenskaplike sondebok? 'n Gedeelde waardestelsel? Die strewe na regverdigheid volgens welke gebooie? Die belange van ALLE Suid-Afrikaners? Die belange van ons almal se nageslagte? Die eie EKKE? Naasteliefde?

    U sien Bettina, die begrip "demokrasie" is eintlik 'n drogbeeld, seker die mees misbruikte woord sedert die Franse Revolusie. "Demokrasie" mag vir u "A" beteken en vir my "B" en vir andere "C, D, E ... Triljoen"

    So, vir die volgende triljoene jare gaan daar oor partye en hul "beleide" gepraat, geskrywe, gepubliseer en baklei word. En het einde is dit niet.

    So, ontspan en sien elke dag die mooie in die lewe raak soos die pragtige sonsopkoms, die besige bytjies, die bewegende miere, die singende voëls en die glimlagte op andere se gesigte. En voel die oggendbries teen die gesig.

    Amen.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top