Die Groenkloof-Rabies – Vyf reise deur Johan Krige: ’n lesersindruk

  • 0

Die Groenkloof-Rabies – Vyf reise
Johan Krige

Uitgewer: Grafixit van Tegnopark, Stellenbosch
ISBN: 9780620776462

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.

“Hulle is nie bloot reisigers nie; hulle is reisigers wat alles wat hulle teëkom, dokumenteer” (159).

Die Groenkloof-Rabies (2017) is ’n historiese samevatting van dokumente wat die verhaal van die skrywer, Johan Krige, se voorsate uitlê. Die boek is in vyf reise verdeel wat die verhaal van die Rabies en hoe hulle na Suid-Afrika toe gekom het, uiteensit.

Die verhaal begin in Leipzig, Duitsland, in 1695 met die geboorte van Christiaan Rabè – ’n meulenaar se seun wat later in sy lewe as ’n soldaat van die VOC na Suid-Afrika reis en in die jaar 1723 in Kaapstad aan wal gaan. Reise twee tot vier fokus op Christiaan Rabè se nageslag en hoe hulle verder noord reis om ’n nuwe bestaan as vee- of gewasboere te maak. Hierdie deel van die geskiedenis vorm hoofsaaklik deel van die Voortrekkers se geskiedenis. Dit word vergesel van datums en historiese dokumente oor die Slag van Bloedrivier, die groeiende mag van die Britse kolonialiste en die Anglo-Boereoorlog.

Daar word egter ook gefokus op die mense, natuur, verkillende kulture en toerusting wat tydens die 1700’s tot 1886 gesien kon word. Voorbeelde hiervan is hoe die ossewaens gelyk het, hoe die Voortrekkers daarmee tot in die berge kon reis, en die voorsorg wat hulle moes tref met die afdraandes. Daar word verder inligting verskaf oor die diere- en plantelewe en verskillende inheemse Afrika-groepe soos die Khoi-Khoi, die Boesmans en die Koranna wat hulle op hul reise teëgekom het. Daar word ook gefokus op die Voortrekkers se kultuur en verskynsels soos kinderspeletjies en tradisionele Duitse of Nederlandse liedjies.

Die historiese samevatting sluit af met reis vyf wat bestaan uit die uiteensetting van die laaste Rabès (teen hierdie tyd bekend as die Rabies). Hierdie laaste Rabies staan bekend as die Groenkloof-Rabies, omdat hulle ’n familieplaas in die Vrystaat met die naam Groenkloof gehad het. Die titel van Krige se boek verwys dus na hulle, wat hierdie gesin die kern van sy historiese samevatting maak. Die kern van die boek fokus dalk hoofsaaklik op hierdie gesin van tien (’n moeder en haar nege kinders) omdat die meerderheid briewe, historiese dokumente en voorwerpe deur hierdie gesin bewaar is. Krige word ook uit hierdie gesin gebore as die kleinkind van Meks Rabie, die oudste dogter van die nege kinders.

Hierdie laaste hoofstuk, oor reis vyf, maak die grootste beslag van die boek uit. Die hoofstuk is opgedeel in subhoofstukke. Elke subhoofstuk fokus op die lewensverhaal van een van die tien Rabies. Die lewens van die laaste Rabies strek hoofsaaklik vanaf ’n tydperk voor die Anglo-Boereoorlog tot ná die oorlog. Elke een se lewensverhaal vertel hoe hulle grootgeword het, waar hulle op skool was, wat hulle tydens die oorlog gedoen het en wat na die oorlog met hulle gebeur het.

Uit die briewe wat die gesinslede in hierdie tydperk vir mekaar geskryf het, is dit maklik om te volg wat met elke familielid gebeur het. Die seuns, en selfs party van die dogters, het op hulle eie manier aan die oorlog deelgeneem. Die meerderheid van hulle is op een of ander tyd gevange geneem en na ’n kamp gestuur. Ma Hester en twee van haar dogters het waargeneem hoe hulle plaashuis afgebrand word en van ma Hester se seuns is selfs oorsee verplaas na gevangeniskampe.

Die boek word vanuit die perspektief van ’n derdepersoonsverteller weergegee, wat in elke reis hoofsaaklik op een familielid fokus met uitsondering van reis vyf. Alhoewel die boek in formele Afrikaans geskryf is, word die historiese gegewens met ’n informele storietrant vertel. Dit skep die gevoel van ’n storie wat deur jou oupa of grootouers vertel word. Die eerste vier reise bestaan uit enkele historiese dokumente wat die skrywer tot sy beskikking gehad het. Krige moes ook baie persoonlike navorsing oor verskillende plekke, kulture en gebeurtenisse gaan doen het om ’n idee te kry van hoe dit moontlik kon gewees het en hoe sy voorsate moontlik kon gevoel het. Die skryf van reis vyf het egter makliker verloop, omdat daar baie historiese dokumente soos briewe, skoolrekords, oorlogrekords, koerantartikels en boeke deur hierdie Groenkloof-Rabies bewaar en agtergelaat is. Krige kon hierdie dokumente lees en so ’n gevoel kry van hoe dit moontlik in daardie tyd kon gewees het, wat elke persoon moontlik kon voel, droom of gedink het.

Johan Krige wou ’n boek skryf waarin hy die versameling van sy familie kon bewaar. Die kern lê egter nie in die historiese datums of feite nie, maar in die verhaal van die mense. Volgens hom skuil daar ’n persoon agter elke foto, brief, skets en boek wat deur sy familie agtergelaat is – ’n persoon wat werklik geleef het. Sy fokus is om hierdie mense in sy boek vas te vang, hulle karakter, gevoelens en ervarings, in ’n poging om te probeer verstaan waardeur hulle moes gegaan het en te begryp hoe ver sy erfenis strek. Daarom is daar ’n element van fiksie in die boek soos wat Krige die historiese gegewens aan mekaar vasweef.

Johan Krige se versameling is besonder aangenaam om te lees. Die geskiedenis van die Voortrekkers, die Slag van Bloedrivier en die Anglo-Boereoorlog fokus gewoonlik op kernfigure tydens hierdie gebeurtenisse. Krige se boek is ’n uitbeelding van hoe dit moontlik vir ander alledaagse mense kon gewees het. Dit is ’n pragtige versameling wat bydra tot die bewaring van beide geskiedkundige gebeurtenisse en kultuurelemente. Dit laat ’n mens wonder oor jou eie erfenis en die bewaring daarvan.

Die versameling van die Groenkloof-Rabies kan by Johan Krige se gastehuis, Caledon Villa, in Stellenbosch besigtig word.

Inligting oor die bekendstelling van die boek kan by die volgende skakel gekry word: http://www.stellenboschwriters.com/krige-rabies.pdf.

Inligting oor die skrywer kan by die volgende skakel gevind word: http://www.stellenboschwriters.com/krigej.html.

Soos daar reeds gesê is, word daar historiese feite oor plekke en gebeurtenisse verskaf.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top