My mees intense teaterervaring tot dusver was in 1997 in die Singel van Antwerpen met die nege uur-durende opvoering van Ten Oorlog. Die Vlaamse topskrywer en -dramaturg, Tom Lanoye, het in sy eie meesterlike taal die koningsdramas van Shakespeare herskep tot ’n spetterende vuurwerk waarin die essensie van elke drama ingesluit is: mag, liefde, hoogmoed, verraad en veinsery.
Op Paassondag 2023 by die KKNK was ek weer eens volledig oorrompel deur ’n vertoning van Die fel omstrede kroon in ’n gimsaal van ’n Oudtshoornse skool. Weer uit die pen van Tom Lanoye en losweg gebaseer op Christopher Marlowe se Edward II (1594).
Marthinus Basson het die stuk vertaal, geregisseer en gefinansier. Wie hom ken, weet dat hy ’n eiesinnige en hedendaagse verwerking van die stuk sal skep, maar die opvoering het my vir meer as twee uur op die puntjie van my stoel laat sit. Die taal is prikkelend vir gees en hart en dodelik-konsekwent, die spel is oortuigend-uitspattig, die dekor doeltreffend-minimalisties met die spieëls en skerms wat verskuif word sodat daar letterlik in en agter die skelmstreke van die hofhouding kan gekyk word.

Foto van Gaveston en Edward II (gebruik met erkenning aan en skriftelike toestemming deur Hans van de Veen)
Tom Lanoye het die toneelstuk van ’n titel voorsien, wat meteen ’n samevatting van die verhaal insluit.
Ewe asemhaal:
“Die fel omstrede kroon en die deerniswekkende dood van Koning Edward II & sy gunsteling-Jonker Gaveston onder wiens betowering hy sy rug keer op sy koningin en die kroonprins tot die steeds groeiende woede van die hele adelstand en die grotendeels nog onbegrypende gepeupel.”

Foto van koningin Isabelle en koning Edward II (gebruik met erkenning aan en skriftelike toestemming deur Hans van de Veen)
Danksy Tom Lanoye en Marthinus Basson en sy span uitmuntende akteurs kan die Suid-Afrikaanse publiek nou ervaar hoe eietyds van taal ’n koningsdrama uit die 16e eeu kan klink. Die inhoud is ook brandend-aktueel: Die ryk bevoorregtes wat die eintlike mag agter die skerms uitmaak, manipuleer die gesagsdraers en stuit nie om ’n moord te pleeg om die ontwil van ’n seksuele geaardheid nie. Die toppunt van homofobie word skokkend op die verhoog uitgespeel wanneer Edward II doodgemartel word. Die beul is ook die minnaar.
Die liefde tussen die twee mans is flambojant en self-vernietigend maar ook baie ontroerend en die liefde tussen die koningin en haar man diep-treurig maar ook opreg. ’n Skrille kontras met die galsterige ou bok Mortimer wat nie skrik om die koningin seksueel te intimideer en te verneder nie.
Die kroonprins wat van agter die spieëls almal dophou, is ’n getuie van die vernedering van sy ma en die swakheid van sy pa. Hy besluit om hom en sy ongeskiktheid om koning te wees te wreek deur self ’n verligte despoot te word. Hy verban selfs sy ma wat hy liefhet as seun, maar nie as koning nie. Die laaste woorde van die twaalfjarige gekroonde gee hoendervleis met sy sinspeling op wet en orde en die Derde Ryk.
“Maar geen van my onderdane sal die fout maak om te dink dat ek nie sal heers nie. Want ek sal. Meer gevrees as geliefd. En heeltemal alleen. Heil. Heil myself! Heil Edward! Die Derde van die Naam.”

Foto van Edward II met kroon (gebruik met erkenning aan en skriftelike toestemming deur Hans van de Veen)
Die skitterende pêrels in die kroon is die ses akteurs: Edwin van der Walt as Edward II, Beer Adriaanse as Gaveston en die ligbringer, Rolanda Marais as koningin Isabella, Caleb Payne as kroonprins, André Roothman as die ou koning en ou Mortimer en Wilhelm van der Walt as jong Mortimer. Saam hef hulle mekaar op, daag mekaar uit en is in grootsheid aan mekaar gewaag. Daar is liefde tussen die spelers wat voelbaar is.
Die koppigheid en deursettingsvermoë van spelers en regisseur om in hierdie barre teaterlandskap anno ’23 ’n gedurfde produksie neer te sit, verdien nie slegs applous en encores nie, maar roep die vraag op of dit nie dringend tyd word om ’n nuwe geselskap op te rig waar jong spelers en ou strydrosse in die vak kan eksperimenteer, tyd kry om ’n goeie produksie te maak, om te groei sonder om besorgd te wees oor hulle finansiële veiligheid nie.
Die fel omstrede kroon speel nog in Junie in die Laboratorium van die Adam Small Teater in Stellenbosch en in Julie in die Wynand Mouton Teater in Bloemfontein by die Vryfees.
- Stellenbosch, by die Adam Small-teater in die Laboratorium - 14 tot 24 Junie, 2023
- Bloemfontein by Vryfees in die Wynand Mouton-teater - 11 tot 16 Julie, 2023
Lees ook:

