Die Feetjie-Polisiediens deur Leon-Ben Lamprecht: ’n lesersindruk

  • 0

Titel: Die Feetjie-Polisiediens
Skrywer: Leon-Ben Lamprecht
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624094159

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.

Net soos in Wie skrik vir Wortel Wolf (Tafelberg, 2021) het ons ’n op-die-kop-draai van drie tradisionele sprokies:

  • Die saak van die pap en die goue hare (Gouelokkies en die drie bere);
  • die saak van die reus en die boontjierank (Jan en die boontjierank, met ’n verrassingsverskyning deur ’n ander bekende sprokieskarakter);
  • die saak van die gemmerbroodhuisie en die vermiste kinders (Hansie en Grietjie).

Nou, wanneer jy die tradisionele sprokies lees, het jy al ooit gewonder: Is daar nie polisie in feetjieland wat al die misdade wat gedurig plaasvind, probeer bekamp nie? Is daar nie reg en geregtigheid nie? Dink jy nie die doodstraf is dalk te erg in party gevalle, soos dié van Gouelokkies wat opgeëet word net omdat sy, hoogstens, ’n stoel gebreek het nie? En oordeel ons nie dalk te maklik nie? Dalk behoort daar versagtende omstandighede te wees vir die oortreders, soos in die heks in Hansie en Grietjie se geval. As iemand jou huis begin opeet, sal jy dalk ook kwaad word, of hoe?

En dis presies waar die Feetjie-Polisiediens (FPD) inkom, oftewel die feetjieskaptein Fanie “Ferm” Vlerk en sy sersant Saarkie “Sag” Silwer. Vir hierdie dinamiese duo en hul sterk sesde sintuig is daar geen saak wat nie opgelos kan word nie. Hulle sorg ook vir ’n lekker gespottery met misdaadstories wat grootmense veral sal geniet. Kaptein Fanie, byvoorbeeld, is jou tipiese eksentrieke alleenloper met ’n sterk sin vir geregtigheid. Hy sê gereeld “vervlaks”, kam sy snor met dennenaalde en drink liters boomgomkoffie. En net soos in tipiese misdaadstories is die vroulike hoofkarakter sy superslim, sagte teenpool.

Elke ondersoek word tjop-tjop afgehandel, maar dit eindig nie net by booswigte vastrek nie. Kaptein Fanie sorg elke keer dat verhoudings en verliese herstel word. Die skuldiges kry elke keer ’n kans om hul foute reg te maak. In “Die saak van die reus en die boontjierank”, byvoorbeeld, moet die boontjierank deur die skuldige(s) opgeruim word en in Hansie en Grietjie se geval word die eintlike rede vir hul weglopery aangepak.

Hier het ons dus drie kinderstories vol hoop met ingeboude lesse oor geregtigheid, versoening en genade; dinge wat ons samelewing broodnodig het.

En dis nie net die ingeboude lesse wat die boek waarde gee nie. (Ja, natuurlik is dit net lekker stories vir kinders en dis al klaar genoeg!) Die ander belangrike element in hierdie boek is humor wat, weer eens, vir leesgenot sorg, maar andersins belangrik is vir kinders se ontwikkeling. Navorsing wys ons dat die ontwikkeling van humor nou saamwerk met dié van sosiale, kognitiewe, fisiese en taalvaardighede.1 Opbouende humor word ook geassosieer met verhoogde emosionele intelligensie.2 Ja, humor maak jou kinders (emosioneel) slim!

Die Feetjie-Polisiediens is ’n genotvolle (én opbouende) voor- en selfleesboek vir ’n ses- tot nege- … ekskuus, honderd-en-negejarige!

Eindnota’s

1 Mayseless, N. en A.L. Reiss. 2021. The neurodevelopmental basis of humor appreciation: A fNIRS study of young children. PLoS One, 16(12):e0259422.

2 Halfpenny C.C. en L.A. James. 2020. Humor Styles and Empathy in Junior-School Children. Eur J Psychol, 16(1):148–166.

Lees ook:

LitNet loof maandelikse Crito-prys vir lesersindrukke uit

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top