Die eerste Toyota US Woordfees-teaterskryflaboratorium – ’n onderhoud

  • 1

Remona Voges het met Cornelia Faasen van NATi  oor die Toyota US Woordfees se heel eerste teaterskryflaboratorium – wat vanjaar aangebied word – gesels. 

Fotobron: Pixabay

Hoe is die idee vir die toneelskryflaboratorium gebore? 

Die idee is gebore uit die idee dat daar nou in dié tyd geleentheid is vir skrywers om kreatief te wees en tydens die periode van inperking geleentheid te kry om (teen ’n klein vergoeding) aan hul tekste te skaaf. Dit is natuurlik onder die leiding van uiters bekwame mentors en met die moontlikheid daarvan dat die teks ontwikkel sal word tot ’n volwaardige produksie by die Woordfees.

Die idee het gekom uit gesprekke met die verskillende feeste oor watter behoeftes van die kunstenaarsgemeenskap nou aangespreek moet word. Dit is ’n baie moeilike besluit om te neem om te bepaal watter projekte geskik is vir ’n aanlyn formaat. En Saartjie Botha van die Woordfees (gegewe die gesoute teaterskrywer wat sy self is) het onmiddellik met die idee vorendag gekom dat daar ’n behoefte is vir ’n laboratorium wat aanlyn kan geskied. Mense sê maklik dat dit nou ’n ideale tyd is vir kunstenaars om te skep en kreatief te wees, maar kunstenaars is afhanklik van kreatiewe impulse en terugvoer en mentorskap en die uitruil van idees met medekunstenaars, en baie mense kla hulle voel verlam in dié tyd. Ook omdat teater ’n onmiddellike, direkte ervaring is, en nie alle teatermakers wil met die aanlyn formaat rondspeel nie. Daarom het die Woordfees-mense juis gedink dit is die ideale projek vir ’n virtuele gemeenskap van skrywers en mentors.

Is die toneelskryflaboratorium gerig op nuwe stemme of kan gevestigde skrywers ook aansoek doen?

Enigiemand kan aansoek doen – van nuwe stemme tot gevestigde skrywers. Dit is wel belangrik dat dit skrywers moet wees wat (soos die aansoekvorms aandui) glo teater kan sosiale en politieke impak hê en wat toneelstukke skryf wat ons leefwêreld uitdaag en verruim.

Hoeveel skrywers word gekies om deel te neem? Sal skrywers finansiële steun ontvang of hoe werk dit?

Die aantal skrywers wat gekies word, sal afhang van die kwaliteit van die aansoeke. Skrywers sal finansiële steun ontvang in die vorm van ’n kontanttoekenning wat hulle in staat moet stel om op die skryfwerk te fokus.

Wat is jul visie en missie met dié projek?

Teaterskrywers kry dikwels geld net indien ’n teks suksesvol aanvaar word by ’n fees en opgevoer word – dit is selde iets waaruit iemand ’n lewe kan maak. Die idee is hier om skrywers te ondersteun terwyl hulle aan hulle idees en tekste skaaf – die projek is ’n impetus vir skrywers wat nou (soos die res van die wêreld) tuis sit en wroeg oor wat om volgende te doen. Soos voorheen genoem, voel baie kunstenaars in die teater verlam deur die huidige omstandighede en ons hoop van harte die projek sal vir mense moed gee om aan die gang te kom. En dit is verskriklik belangrik vir teatermense om met ons medekunstenaars in aanraking te wees en te bly om skeppend te kan wees. Die hoop is dus dat die projek ’n tipe stimuluspakket vir almal betrokke sal wees. Ons teatermense is maar tropdiere – ons is verknog aan mekaar, en om idees uit te kan ruil (selfs al is dit in virtuele formaat), is ’n geskenk vir ons. NATi is by ’n aantal skryfprojekte betrokke in die bedryf en ons ag elkeen as ontsettend waardevol, omdat ons juis ons skrywers as onontbeerlik ag tot ons bedryf. En ons is verskriklik opgewonde oor Woordfees se planne met die projek – dit gaan die hele bedryf ’n broodnodige hupstoot gee in dié tyd.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top