Die dwingelandy van die staande ovasie

  • 8

Die Nasionale Kunstefees lig binne dae haar gordyn op ’n herdoopte maar kurkdroë Makhanda. In Bloemfontein neem die Vrystaat Kunstefees ’n dag of wat daarna ’n aanvang – ’n tweede inval in ’n polifoniese beurtsang. Dan is dit Innibos en kort voor lank Aardklop.

En soos ’n viertal kommentators dit anderdag op die webblad www.skrop.co.za heel tereg had: Die kalorieë gaan soos mis voor die son verdwyn wanneer teatergangers met ’n verstommende reëlmaat en so te sê volkome sonder oordeel op hul voete kom om byna elke vertoning staande toe te juig.

Al is dit ’n kenmerk van veral die Afrikaans-gerigte feeste, is die Nasionale Kunstefees – die land se oudste en stellig mees gesofistikeerde ene – allermins vry van die dwingelandy van staande apploudisering.

Historici herlei die handeklappery wat oudergewoonte op ’n vertoning volg na Kleisthenes, die hervormer en grondlegger van die Griekse demokrasie wat in die sesde eeu voor Christus geleef het. Daar word vertel dat hy gehoorbetrokkenheid tot ’n burgerlike plig verhef het.

Wat is die demokrasie immers as net enkeles meedoen? Reeds dáár lê tog die saadjie vir die groepsdruk en -dwang wat ons kunstefeeste tans kenmerk.

Onder die antieke Romeine was daar weer ’n boel ander gebruike waardeur gehoorlede ook hul instemming of goedkeuring kon uitdruk. Daaronder het ’n vingerklikkery en die swiep van die togapunte getel.

En in die Victoriaanse era het in Franse teaters die sogenaamde claques ontstaan, betaalde laggers-en-klappers, voorlopers van die geblikte gelag in Amerikaanse sitkoms en in gees nie baie anders as die professionele roubeklaers hier te lande wat ’n mens teëkom in Mike van Graan se verhoogstuk Another one’s bread (2017) nie.

Maar die geskiedenis is ver in die verskiet, en geen teoretisering oor die antieke en inherent demokratiese (of teendemokratiese?) aard van wat in ’n Suid-Afrikaanse teater gebeur as die storie stil word en die ligte opgaan, bied salf vir die ervaring wat ’n mens deurworstel as jy – jou gedagtes oorwegend, malend – die vryheid om ’n oorwoë mening te lig ontneem word. Deur die muur lywe wat rondom, voor en agter jou, soos die spreekwoordelike een man boontoe steier en ’n ondeurdagte oordeel uitblaker.

Hoeveel van ons het immers al grimmig swaartekrag sy ding probeer laat doen en gommig ons baste onder probeer hou – o, die teks! o, die regie! – om soos ’n gehug tussen dawerende wolkekrabbers te voel. Om dan desperaat na asem smagtend traag en teësinnig orent te kom en met styfgevoude arms die petalje rondom ons gade te slaan.

Kokend mor ek: “Vir dié tweeman-struifpoeding met ’n onoortuigende Australiese deus ex machina klap ek nié – die ululering en jubilering ten spyt.”

Om dan tog maar in die skrum boontoe in die voorry te eindig, met die VLV en die hekelklub wat my lendene omarm.

Hoe keer ’n mens immers van die fyndraai van ’n staande ovasie – ovo, ovare, om te juig in Latyn – terug aarde toe? Om dan, aangevuur deur brandstof in die vorm van ’n boereworsbroodjie en ’n Ricoffy, weer van voor af dieselfde te doen.

Maar benewens die dwang en oneerlikheid van dit als het ek my heel teerste broertjie dood aan die kortstondigheid van dit als. Soos ’n stiervegter wat pierewaaiend diepnag se belofte verkondig maar nouliks die agtuurnuus haal, bars die opstaan-oveerders raserig orent – om dan ná ’n beleefde rondetjie liefde die aftog te blaas.

Net so was dit ’n klompie jare terug by Aardklop toe John Kani en Sandra Prinsloo in Saartjie Botha se flink verplasing van Driving Miss Daisy na Bloemfontein die trane van my teatergenoot laat tuimel het. Die sensitiewe storie van ’n wrede tyd wat sý nog goed onthou het – van die vriendskap wat hortend maar helend op dor grond gedy het – het trouens by ’n groot deel van die gehoor gesigwater ontketen.

Was ’n vry en oop reaksie op die stuk die gehoor beskore, sou daar waarskynlik vir eers ’n dralende stilte gewees het, ’n ongemaklike weifeling, dalk sku klappies.

Hande sou gaandeweg mekaar gevind het. ’n Ruising sou dak toe gelig het. Dalk, omdat dit ’n roerende en vir baie ’n emosioneel uitdagende stuk was, sou teatergangers klompies-klompies op hul voete gekom het.

In hul eie tempo en op hul eie manier sou die gehoor só – in ’n dialoog van ontdekking – intelligent hul reaksie kon geformuleer het.

Die onderskeie berke sou stellig gaandeweg in ’n groter rivier inkolk.

Soos in ’n Weense operahuis sou die handegeklap iets tweesprakigs, iets tergends en uiteindelik iets uiters sexy word, waarin gehoorlede die vryheid sou hê om elk tot die geheel by te dra.

En as die verhoogstuk dan wel só stuwend en transformatories is dat gehoorlede hul stempel op die geheel wil afdruk, sal hulle marionettemeester speel – die applous as lokaas gebruik om nóg ’n keer die geliefde verhoogkunstenaar, Mimi, Kiri, Pretty, nader en wéér ’n keer nader te wink.

Om haar in ’n omhelsing op te neem. Om haar – o die gode! – weer te laat gaan. Om swakhartig te kyk of sy steeds minlik bly.

Maar nee, die Suid-Afrikaanse kortstondigheid van ’n staande ovasie is eentalig en monosillabies. Dis nuanseloos en onnadenkend.

“Pappa, ek moet gaan piepie!”

  • 8

Kommentaar

  • Bly iemand noem die ding by sy naam, maar hier is drie opmerkings:
    1) Dalk voel gehoorlede dat ons energiek erkenning moet gee aan kunstenaars en teater/feesbestuurders terwyl daar immers nog iets is om te apploudiseer.
    2) By ’n fees is dit nie noodwendig ’n staande ovasie nie: dis ’n praktiese manier om hande te klap terwyl jy ook moet skarrel om die bussie of die toilet te haal.
    3) Eweneens is dit verblydend dat daar wel skares opdaag wat goeie geld betaal en betower word - mens kan daarmee saamleef.

  • Sekerlik die heerlikste skryfsel in LitNet vanjaar. En om apploudiseer te lees (en te hoor) na matriek is om dit as te ware te dagboekseer.

  • Stuart Hayward

    Uitstekend. Jean Meiring se mentorskap in terme van skryfbevoegdheid het my regsloopbaan by die Johannesburgse balie laat floreer; vir advokate is dit belangrik om 'n indruk te maak op regters deur hul effektiewe skriftelike argumente. In 'n wêreld van WhatsApp en slordige tikfoute word ons deur sulke artikels herinner aan die mag van uitsonderlike skryfwerk. Op 'n persoonlike nota, as tweedetaalspreker en kind van die Karoo, word ek vergoed deur Afrikaanse letterkunde-woordeboek in die hand !

  • Stuart Hayward

    Many thanks from a very rusty Afrikaans writing Englishman. Karoo sheep farmers' sons appear only to speak this beautiful language, the written form is neglected.

  • Griet du Plessis

    Moes my Pharos twee keer oopmaak maar nietemin dit baie geniet. Lekker gekry om "Hande sou gaandeweg mekaar gevind het. ’n Ruising sou dak toe gelig het," te lees.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top