Die duiwel is los oor godsdiens in die skole

  • 21

Die Stellenbosse sakeman Hans Pietersen, voorsitter van die Organisasie vir Godsdiensonderrig en Demokrasie (Ogod), het ’n kat in die duiwehok losgelaat. Sy organisasie se hofaansoek wat openbare skole wil verbied om net een godsdiens voor te staan het die hele land aan die gons. Hy word onder meer uitgekryt vir “Satan se broer” maar sê hy kry ook groot ondersteuning. Jean Oosthuizen wou by hom weet wat sit agter dit alles en of die aansoek regtig so onskuldig is as wat hy voorgee?

Wat presies behels die hofaansoek? Is dit nie maar net ’n vendetta teen geloof nie?

Ogod verteenwoordig alle ouers wat raadop is met hoe godsdienstige praktyke op hulle kinders afgedwing word en die negatiewe invloed daarvan. My persoonlike geloof het niks met die saak te make nie en daar is geen sprake van ’n vendetta nie. Ek wil bloot toesien dat skole, hulle beheerrade en verbonde organisasies ons wette respekteer.

Tans word leerders byvoorbeeld gedwing om tydens skooltyd aan godsdiensrituele deel te neem en wanneer hulle durf vra om daarvan verskoon te word, word hulle uitgejou en verneder sonder enige ingryping van leerkragte. Leerplanne word verdraai en aangepas om ’n sektariese siening of dogma te bevoordeel en teenkanting word nie geduld nie. Besonderhede van die Ogod-klagtes kan verkry word uit die persverklaring wat beskikbaar is by www.ogod.org.za.

Die hofaansoek is geloods om skole te dwing om alle kinders van enige oortuiging ewe welkom in hulle naaste openbare skole te laat voel en om gepaste kennis vrylik aan kinders beskikbaar te stel. Daar is nie meer plek vir geloofsapartheid in ons openbare skole nie en die hof se uitsprake sal uiteindelik op alle openbare skole van toepassing wees.

Vertel my in een of twee sinne wie Hans Pietersen is en waarom hy so begaan is oor godsdiens in skole.

Ek is ’n ingeligte ouer wat uiters besorg is oor wanpraktyke met ’n goddelike geur in skole en die effek daarvan op veral jong, beïnvloedbare kinders. Skooltyd, wanneer kind en ouer geskei is, word ongelukkig vir verskeie onheilige praktyke uitgebuit, van die werwing van soldaatjies vir Jesus tot die openbare verdoeming van medeskoliere.

Te veel skole het die geleentheid laat verbygaan om by ’n post-1994 nuwe Suid-Afrika aan te sluit. Ons kan onmoontlik nie toekomsleiers in ’n eng skoolomgewing oplei wat kinders kreasionisme leer, Bybelonderrig afdwing en kinders vertel hulle maats gaan hel toe nie. Veral Afrikaanse skole en die instansies wat hulle en hul leerkragte ondersteun, blyk vasgevang te wees in die NP/Broederbond se Calvinistiese CNO-model van die vorige eeu.

Daar is selfs godsdiensgroepe wat leerkragte in opleiding werf om skoliere te bearbei. Dis nie net onwettig nie, maar immoreel.

Verstaan ek reg as ek sê julle poog nie om die beoefening van godsdiens op skole te staak nie, maar slegs om dit op gelyke voet te bring?

Dis heeltemal korrek. Ogod wil inderdaad méér godsdiens in skole sien: ’n groter aantal en wyer versameling verteenwoordigende godsdienste met vrye deelname volgens die kinders en hulle ouers se keuses. Dit vind reeds baie suksesvol by sommige van ons openbare skole plaas. Geen ras, politieke oortuiging of godsdiens mag meer deur ’n skool bevoordeel word nie – daardie dae is lankal verby. Sommige skole en hulle ondersteunende verenigings weier egter om dit te aanvaar. Die howe gaan hulle moet help.

Presies wat bedoel jy met “gelyke voet”?

Dit is nie die staat of sy instellings se taak om die akkuraatheid van ons onderskeie godsdienste te bepaal, die een bo ander te bevoordeel, of teen aanhangers van ander oortuigings te diskrimineer nie. ’n Skool wat dominees nooi, moet imams en swami’s óók nooi en mag geen druk op kinders plaas om na hulle te luister nie.

’n Openbare skool mag hom nie as ’n Christen-, Moslem- of Hindoeskool beskryf nie – skole móét godsdiensneutraal wees. Net so min mag ’n skool besluit wat in die leerplan hoort en wat weens die leerkrag, skoolhoof of beheerliggaam se oortuigings uitgelaat mag word nie.

Enigiemand wat hiervan verskil, is deel van die probleem en behoort van die hof se finale uitslag kennis te neem.

Is jy tevrede met die huidige bepalings van die grondwet rakende godsdiensonderrig of sou jy graag verder wou gaan en godsdiens heeltemal uit skole wil sien verdwyn?

Ek is trots op ons grondwet. Ogod staan juis vir godsdiensTE-onderrig (die oordra van kennis van verskeie godsdienste) en demokrasie (vrywillige deelname). Ek weet nie hoe ek dit duideliker kan stel nie.

Kinders behoort feite van die onderskeie godsdienste te leer sodat hulle hul klasmaats en toekomstige kollegas beter kan verstaan. Deelname aan rituele op skoolgronde moet egter vrywillig en sonder druk geskied, fasiliteite moet vir almal beskikbaar wees en die skoolpersoneel moet dit bewerkstellig. Inleiding in godsdienstige praktyke is, soos die Nasionale Godsdiensbeleid dit onomwonde stel, die voorreg van ouers, kerke, madrassas, Sondagskool en dies meer, en nié die skool se verantwoordelikheid nie. Die skool is gemik op die oordrag van spesialiskennis en kan nie instaan vir al die tekortkominge van ouers nie. Waar die ouers onbevoeg is om hulle eie kinders in geloof te bearbei kan húlle ander reëlings tref – vreemdelinge mag nie skoolgronde gebruik om ander se kinders onnadenkend, ongevraagd en sonder die uitdruklike toestemming van die ouers tot hulle gelowe te oorreed nie.

Om byvoorbeeld van my kinders in graad R te verwag om te bid alvorens hulle die kos mag eet wat hulle ma vir hulle ingepak het, is nié die voorreg van die leerkrag nie. Nog minder is dit haar reg om my kinders te probeer oortuig dat hulle Moslemmaatjies hel toe gaan.

Die Skolewet en nasionale beleid van 2003 lê riglyne neer en bevestig beheerrade se mag om godsdiensbeleid in openbare skole te bepaal, met die vereiste dat godsdiensonderrig en -praktyke in die skole vry en volgens eie keuse moet wees. In watter opsig voldoen beheerrade volgens jou nie aan die riglyne nie?

Ek verskil van jou mening rakende die vryhede van beheerliggame. Godsdiensrituele mag op skoolgronde plaasvind en Ogod verwelkom dit, maar beheerrade het nie die mag om ’n skool se etos aan ’n sektariese oortuiging te koppel, leerkragte toe te laat om kinders na ’n geloof te bekeer of hulle uit te laat oor goddelike verdoeming nie. Hulle is ook nie by magte om ’n skool vir dié of daai god te reserveer of kinders aan te moedig om hulle met ’n voorkeurgeloof te vereenselwig nie. Daarby moet deelname aan rituele vrywillig geskied, sonder enige vorm van druk, buite klastyd.

’n Verdere euwel is die mite wat vele predikers, beheerliggame, skoolpersoneel en oningeligte ouers voorhou dat godsdiens kwansuis nodig is vir goeie morele waardes. Hierdie wanvoorstelling is nie alleen duidelik teenstrydig met wat wêreldwyd waargeneem word nie, maar ook wanneer die ouers, personeel en leerlinge van skole met godsdienstige karakter (bv AG Visser in Heilbron) met sekulêre skole (soos Westerford High in Newlands) vergelyk word. Sulke drogbeelde van Swart en Rooi Gevare, Totale Aanslae en die meerderwaardigheid van gelowiges is ’n valse nalatenskap en nadraai van die ou CNO-indoktrinasie.

Geestelike Weerbaarheid van destyds was toe nooit nodig nie – beter inligting was. Die Boetmangenerasie was oningelig gehou en ons betaal nou die prys daarvoor.

Waarom wend julle julle tot die hof? Sou dit nie beter gewees het om ’n oop proses van beraadslaging met ouers, skole en selfs kerke te voer en gesamentlik ’n versoenende oplossing te probeer vind nie?

Vorige pogings tot beraadslaging en korrespondensie met beheerrade, die onderwysdepartement, Fedsas en andere het, waar dit enigsins beantwoord was, tot weinig gelei. Die geskiedenis van hierdie pogings, korrespondensie ingesluit, is by www.hulle.co.za te siene.

Beheerrade, leerkragte, skoolhoofde en randorganisasies was onverdeeld in hulle gretigheid om die status quo te handhaaf, in Broederbondstyl. Eers nadat regslui betrokke geraak het, het tekens van verootmoediging vorendag gekom. Die werklike helde in hierdie saak is egter die Ogod-regspan wat pro bono optree en die ouers wat bereid is om die saak deur te maak; Ogod is bloot die spilpunt en ek die openbare gesig.

Was julle al in gesprek met kerkleiers, en hoe reageer hulle in die algemeen op julle hofaansoek?

Die meerderheid kerkleiers het hulle lankal reeds by monde van hulle onderskeie organisasies ten gunste van die Nasionale Godsdiensbeleid van 2003 uitgespreek. Daar is natuurlik nog individue, veral charismate en cowboypredikers, wat dit moeilik vind om teen die prikkels te skop en Ogod se aansoek sien as die sluiting van hulle "harvest fields" en die bedreiging van hulle pensioene.

Sommige mense beroep hulle op “demokratiese” beginsels en voer aan dat as die meerderheid ’n Christelike etos by ’n spesifieke skool verkies, moet die minderheid daarby inval. Wat is jou kommentaar?

Daar blyk ’n Babelse verwarring te wees oor wat demokrasie in die konteks van ons Grondwet beteken. As dit "mob rule" was soos jy hier bo beskryf het, sou AfriForum en andere geen voet gehad het om op te staan om minderhede te beskerm nie. Ogod beskerm juis die minderheidsregte van skoliere binne Suid-Afrika teen oorheersing deur die meerderheid. Hoekom die Afribendes nou skielik meerderheidsregte probeer afdwing, gaan my verstand te bowe.

Beheerliggame mag ’n skool se etos of karakter bepaal. Skoliere mag aan godsdiensrituele op skoolgronde deelneem. Dit impliseer egter nié dat die twee vergunnings onnadenkend saamgevoeg mag word om ’n sektariese karakter vir ’n skool op te stel en daardeur andersdenkendes tot tweedeklasleerlinge te verdoem nie. Dit gee veral nie skoolhoofde die reg om ’n ongelowige kind aan te moedig om sy skool te verlaat of haar as satanis uit te kryt nie. Dit gee ook nie die reg aan leerkragte om kinders met die hel te dreig en hul klasmaats daarheen te verdoem, of aan skole om predikers te nooi om kinders te vertel hoe onbetroubaar ateïste kwansuis is nie. Sulke gebruike is algemeen, tog is dit moeilik om bewyse te vind waar enige onderwysinstansie skoolpersoneel afraai om so op te tree.

Jy word deur sommige uitgekryt as "Satan se broer”, maar daar is ook gelowiges wat jou saak simpatiekgesind is. Hoe rym dit?

Dit moet jy vir diesulkes vra. Ek doen wat reg is, namens die verontregtes. Hoe meer mense my uitkryt, hoe duideliker word die nasionale onverdraagsaamheid (oftewel Christelike naasteliefde) en hoe sterker word Ogod se saak.

Maar as daar nie ondersteuning vir Ogod was nie, sou geen ouers na vore gekom of regsplegers hulle dienste aangebied het nie. Ek sou dus nie hierna as "my" saak verwys nie, maar eerder as “ons” saak.

’n Oudleerling van die Hoërskool Linden in Johannesburg oorweeg dit om haar aan die hofaansoek oor godsdiens in skole te onttrek weens mense se reaksie daarop. Hoe raak dit julle voorgenome hofsaak en waarom wil sy haar onttrek?

Ek het nie self met haar hieroor gesels nie, maar sy is, soos vele ander in haar posisie, waarskynlik moeg om veroordeel en as satanis geëtiketteer te word, en is moontlik bang vir hoe die saak haar loopbaan mag skaad. Haar oorweging om te onttrek is ’n verdere aanduiding van hoe "Christelike naasteliefde" sy tol eis. Haar beëdigde verklaring is egter reeds ingedien en bly van toepassing – dit word nie onttrek nie. Hou ook in gedagte dat haar verklaring slegs ’n deel van die saak uitmaak, dat daar vele ander ouers met dieselfde probleme is en dat ons met die oorspronklike verklaring nog net aan die oortjies van die seekoei raak. Voorbeelde van wanpraktyke is volop.

Hoe het die hele ding jou persoonlik en jou besigheid geraak?

My kinders kry soms bietjie druk en ek moes ’n nuwe diensverskaffer aanstel nadat een ’n aanval van geregtigheid beleef het, maar die invloed is gering. Ek en my broer se paaie het wel vyf jaar gelede reeds hieroor geskei nadat hy skaam geword het om met my geassosieer te wees en voorspel het dat ek nêrens met die saak sou kom nie. Maar dis "par for the course" – die groter prentjie en die duisende kinders wat verontreg word, is belangriker.

Behalwe die vervreemding van my ouboet en ’n paar randfigure in my lewe kry ek egter fantastiese ondersteuning en die nuwe vriende en bedryfsgenote is ’n reuse-aanwins in my lewe. Wat veral verblydend is, is die duidelike verandering in mening van Jan Publiek – daar is ’n besliste positiewe skuif in openbare debatte te bespeur. Ek is baie gelukkig met die verloop van sake.

Wanneer sal die hofsaak na verwagting aangehoor word en wie gaan daarvoor betaal?

Die verdedigende regspan het vir uitstel gevra om hulle van die stand van sake te vergewis, waartoe ons ingewillig het. Daarna sal nog ’n kort periode van indiening van dokumentasie volg voordat ’n hofdatum bepaal sal word. Gegewe die hooggeregshof se werkslading en die Desembervakansie wat voorlê, skat ek die saak sal nader aan die middel van 2015 voorkom. Die saak sal hoogs waarskynlik deur die hooggeregshof na die konstitusionele hof verwys word.

Wat koste betref, word Ogod se saak uiters goedgunstiglik deur spreekwoordelike barmhartige Samaritane hanteer. Die skole word deur ’n betaalde regspan van AfriForum verdedig, waartoe die skole gesamentlik R300 000 moet bydra. ’n Tipiese saak wat tot in die konstitusionele hof vorder, beloop ongeveer R500 000.

Hoekom is die interdik slegs teen Christenskole gemik?

Dis toevallig. Ons het onthutste ouers gevra om ons te nader, en die eerste ouerpare se kinders was van skole wat hulleself as Christelik etiketteer. Ogod het tot dusver geen klagtes ontvang rakende openbare skole wat hulleself aan ander gelowe toeëien nie. Onthou egter dat daar in Suid-Afrika sowat vyftig Christene vir elke Moslem is en Hindoes, Boeddhiste en ander gelowe nog minder algemeen is. Dit is daarom te verwagte dat die meerderheid openbare skole met sektariese karakters sogenaamde Christenskole sal wees. Maar die grootste rede waarom die Christendom hier op die voorgrond tree, is waarskynlik die nalatenskap van CNO, waarvan konserwatiewes blykbaar sukkel om afskeid te neem.

Hoe dit ook al sy, die hof se uitspraak sal uiteindelik op alle openbare skole van toepassing wees.

  • 21

Kommentaar

  • Wat 'n swak argument van Hans. Godsdiensbeoefening word deur die Grondwet gewaarborg en deur oorheersende meerderheid ondersteun. Hopelik sal Hans en kie na die uitspraak hulle vendetta staak.

  • Dit is nog die beste samevatting wat ek gelees het oor OGOD se doelstellings. Diegene wat nie die logika daarin kan sien nie is sienende blind. Godsdiensbeoefening mag gewaarborg wees deur die grondwet, maar om teen ander, in die uitoefening daarvan, te diskrimineer, of om hul te benadeel in die proses, is juis teen die doelstellings van die grondwet. Dit is soos rook. Dit is jou grondwetlike reg om te mag rook. Maar daar is sekere plekke waar jy nie mag rook nie. Omdat dit ander benadeel. Daardie plekke is veral publieke plekke. Selfde met godsdiens. Die beoefening van jou godsdiens is jou privaat ding. Gaan beoefen dit by jou huis of by jou plek van aanbidding. Openbare/Publieke skole is nie plekke van aanbidding nie.

  • Avatar
    Hans Pietersen

    Nico, jy het duidelik niks van die artikel gelees nie. Of probeer, maar dit nie verstaan nie. Jy is heeltemal reg dat godsdiensbeoefening deur die Grondwet verskans word, maar dan ALLE godsdienste en SLEGS as deelname vrywillig is. Dit is nie wat tans gebeur nie. 

     
    OGOD sal sy aksies staak wanneer die hofsaak verby is en skole hulle onaanvaarbare praktyke staak.
  • Nico,

    ‘n Paar punte: Eerstens, is jy ten gunste van die "tirannie van die meerderheid"? Snaaks hoe sommige Afrikaners agter die meerderheidsbeginsel se rokspant wegkruip as dit húlle agenda pas, maar as die meerderheidsopinie nié pas nie, dan skree hulle minderheidsregte! Regstellende aksie byvoorbeeld, of taalregte of sportkwotas. Die lys kan lank raak. 
     
    Tweedens, gee vir my één goeie rede hoekom elke skooldag met skriflesing en gebed moet begin? Skool is ‘n plek om te leer en te ontdek. Die huis en die kerk is waar godsdiens beoefen moet word. 
     
    Derdens, hoe lees die skoolhoof in die saalbyeenkoms uit Genesis en in die derde periode leer die kinders oor evolusie in die biologieklas, of oor miljoen-jaar-oue gesteentes in die geografieklas? Godsdiens en opvoedkunde hoort net nie bymekaar nie.
  • Enige idee hoe absurd jy argumenteer? Eers sê jy ek het nie die artikel gelees of verstaan nie, en dan sê jy ek is reg! Julle oefening is futiel en het geen regsgronde nie.

  • Ek stem heeltemal saam met Hans op al die punte, behalwe die idee dat die stand van sake met die "beleid ten opsigte van godsdiens in skole" iets is wat goed werk. Ek dink meeste van hierdie skole in die saak betrokke sal aanspraak maak daarop dat hulle heeltemal binne die perke van die grondwet werk. Hulle het basies "loopholes" waarmee hulle kan wegkom deur te beweer dat alle godsdiensaktiwiteite "vry en vrywillig" geskied en hulle "dwing niemand nie". Dikwels is leerders wat nie godsdienstig is of leerders wat deel is van minderhede juis te bang om uit te praat of op te staan of te vra om verskoon te word en vrees vernedering en uitsondering. Ek dink dat die stemme van minderhede te maklik verlore kan raak met die stand van sake. Waarom die situasie skep dat iemand moet aansoek doen om verskoon te word?

    In my skooldae was dit nie so maklik nie, ek moes maar deelgeneem het aan godsdienspraktyte, toegewings is gemaak vir Jehowa-getuies en "erkende godsdienste", maar wat van my wat soekend was na antwoorde en gekyk het na minder bekende filosofiese strominge soos die Neo-Platonisme, Gnostisisme en die Okkulte - skaars dinge wat meeste ouers eers sou goedkeur weens indoktrinasie en gebrek aan kennis. Om vrystelling te gerky het van godsienstige akwiteite sou ouertoestemming nodig gewees het - ouers sou dink ek beter maar inval by die stroom. Seker dieselfde geld vir mense wat kritiese vrae het oor godsdiens of wat worstel of wat neig tot agnostisisme of ateïsme. Wat presies is die regte van kinders ten opsigte van godsdiens? Hang dit af van wat die ouers ook aankleef?

    Ek was op skool nog na 1994 en godsdienspraktyte en persoonlike opinies van onderwysers was oral. Ek het 'n geskiedenis-onderwyser gehad wat gereeld die klas kon onderbreek om te praat oor die "gevare van Satanisme" of oor sy bekering en sy geloof. Hierdie persoon het selfs in die klas gevra of daar Jehowa getuies of Katolieke was (daar was, maar hulle het stil gebly) en hy het toe gepreek oor die "verassing van ewige hel" wat wag op Katolieke en Jehowa-getuies. Hy het in een toets gevra "Wie is Allah?" en toe ek antwoord "Moslems se naam vir God," het hy my antwoord doodgekrap in rooi en groot geskryf "AFGOD". Een van die voormalige hoofde van die skool waar ek was het dit ook in een openingsbyeenkoms duidelik gemaak dat "kinders van die duisternis" nie welkom was in die skool nie.

    Dan is daar nog die invloed van die Christengodsdiens as dit kom by demonisering van die Okkulte en van minderheids-idees soos Paganisme en Satanisme. Okkulte en Satanisme was van die ernstigste oortredinge direk saa met dwelms en wapens skool toe bring - duidelik 'n Christelike opinie oor die Okkulte en hierdie situasie duur ook voort vandag. Die Gautengse en ander onderwysdepartemente het hulself weer uitgespreek oor die "gevare van Satanimse en die Okkulte" in 2013 en sogenaamde "skadelike godsdienspraktyte". Die invloed van die polisie se ou Okkulte-eenheid (wedergebore Christene in die SAPD) en histeria rondom sogenaamde Satanisme en die Okkulte het voortgegaan. Die sogenaamde "tekens van Satanisme" wat in skole versprei was en word, maak min onderskeid tussen Paganisme of Satanisme of ander praktyte. Enige iemand wat swart aantrek of arbitrêre tekens maak kan uitgekryt word as 'n Satanis. Daar was menigte gevalle waar pastore in veral plattendse en meerderheid swart skole kon gewaarsku het oor die duiwel en selfs duiwel-uitdrywing het plaasgevind - gevaarlike tendense. "Satanisme" soos ek hierna verwys is natuurlik die karikatuur geskep deur sekere Christene, dominees en pastore, om "bang te maak" oor die aktiwiteite van die duiwel. In sekere gevalle kan sekere versteurde jongmense hierdie karikatuur probeer namaak omdat hulle niks weet van ware filosofiese Satanisme nie, verwyssend na die Satanisme van Anton LaVey byvoorbeeld - humanistiese filosofie wat nie glo in "God" of "Duiwel" as letterlike kragte wat aanbid moet word nie.

    My punt na hierdie lang agtergrond? Die skeiding tussen Staat en godsdiens in Suid-Afrika is nog veels te swak. In my opinie is die beleid op godsdiens in skole, soos in die grondwet saamgevat te veel aan die kant van die meerderheid om weg te kom en voort te kan met misbruike terwyl hulle maak asof alles "vry en vrywillig" plaasvind. Ek sal 'n sterker beleid voorstel en 'n harder standpunt teenoor alle godsdienste - hou dit heeltemal apart van opvoeding en los dit as 'n persoonlike saak. Daar kort 'n sterker skeiding tussen Staat en godsdiens en meer neutraliteit van die Staat teenoor godsdiens - selfs dit vind ook nie plaas nie.

  • Die oplossing vir die probleem is heel eenvoudig: skaf religie-onderrig by skole heeltemal af. Almal het te make met die aanbidding van een of ander denkbeeldige god, is skadelik, skep net onenigheid en tweespalt.

  • Groot respek vir hierdie aksie, Hans! En vir die bedaardie manier waarop dit gedoen word. 

  • Geen mens lewe in verskillende waterdigte kompartemente nie.

    Ongeag van watter godsdiens jy beoefen moet die norme en leerstellings wat vervat is in die godsdienstige boeke ongeag of dit  die Bybel of Koran of watter ander ook al jou riglyn in die lewe vorm en ook die grondslag van jou lewensbeskouings wees.

    Dit kan dan ook nie van 'n onderwyser verwag word dat hy alle godsdienste met dieselfde ywer en oorgawe aan leerlinge gaan oordra nie. Ek kan nie verwag dat 'n Moslem met geesdrif en oortuiging moet getuig
    dat Jesus Christus die enigste weg na die lewe in die hiernamaals is.

    Dit is besonder moeilik vir enige persoon om enigiets waarvan hy/sy oortuig is 'n valse grondslag het met dieselfde geesdrif en oortuiging aan te bied as dit regstreeks bots met sy persoonlike oortuigings.

    Daarom was dit nog altyd my mening dat dit die gemeenskap moet wees wat moet bepaal watter godsdiensonderrig voorkeur in die skole moet kry en in watter taal dit moet geskied.Dit sou baie voorbarig van my as ouer wees as ek my kind in 'n gemeenskap plaas wat oorwegend uit Moslem-gelowiges bestaan en dan verwag dat  wanneer sekere godsdienstige praktyke beoefen word daar spesiale reëlings vir my kind getref word in die skool waar ek haar/hom laat opneem het.

    Enige ouer wat sy kind in enige openbare skool inskryf moet tog hom/haar op hoogte bring van die gebruike en gewoontes en godsdienstige grondslag van die gemeenskap asook die voertaal van die skool.

    Die beginsel van die demokrasie is dat die meerderheid ook plek maak vir die minderheid in 'n demokratiese bestel sodat elke minderheid sigself tenvolle kan uitleef, maar dan moet die minderheid nie vir die meerderheid kom voorskryf  hoe daar plek gemaak moet word nie.

  • Hans,
    Ek het die skakel na jou webblad gevolg en dis Engels!  Hierdie hele aksie van jou is weer die tipies liberaal-demokraat (lees: Browniepunte-soeker) se kniebuig in die rigting van die massa (lees: die swart elite waarvan die massa per persoon die afgelope 20 jaar verdubbel het).
    Hier naby my is 'n Moslemskool.  Ek hoor graag by jou wat is hulle reaksie op jou betoog.  Ek vermoed sterk hulle gaan nie hul oproep tot gebed driemaal per dag en ander rituele en praktyke staak omdat jy reken dit word op die leerlinge afgedwing nie.
    Ek hoor ook graag van jou hoe die Joodse skole jou idee gaan implementeer.
    Dirk Rigter
    Hierdie aksie is juis 'n weerspieëling van 'n meerderheidheidsidee, nie noodwendig soseer 'n afwyking of wegbeweeg van godsdiens nie, maar dat ons, veral die Afrikaner, moet 'inpas' en 'saambeweeg' en 'bylê', 'meeloop' en 'saampraat'.  Dat die 'dae verby is' soos jy so lief is om te sê wat natuurlik impliseer die dae van opstaan vir jou eie, vir wat jy as waardevol ag omdat dit ander kamtig affronteer. 
    Terloops, ek sien jy klou steeds verbete van aan die idee dat Christene (en Jode ipso facto) dink almal die aarde is 6000 jaar oud. Kan seker nie anders nie want daarsonder is jou hele betoog in sy peetjie.
    Angus
    Jy bedoel kennelik ten opsigte van hier in die Afrikaanse skole (die paar wat nog oor is), of geld jou aanbeveling ook vir die Islam- en Joodse skole, die ander soort  instansies in Tibet, Indië, Japan en dies meer?
    Trisa
    Gaan sit, maak 'n koppie tee en dink bietjie.
    Groetnis
    Jan Rap

  • Avatar
    Johnnie Johnson

    “Kollegas, ek stem saam dat Ansie baie leierseienskappe het en selfs hoofdogter kan word, maar ek het verneem dat sy en haar ouers nie kerk toe gaan nie.  Dit beteken dat hulle waarskynlik ateïste is en ons sal haar dus moet afhaal van die nominasielys vir leerlingraadslede.”   

     
     “Maar ...”   
     
     “Soos u weet, behartig die leerlingraad op Dinsdae en Donderdae die opening.  Hoe sal dit nou lyk as een van die leerlingraadslede, of nog erger, die hoofdogter sou weier om met skriflesing en gebed te open?”   
     
    Watter waarborg kan enigeen my gee dat ‘n situasie soos hierbo geskets, nooit in enige skool sal ontstaan nie?
  • Beste Jan Rap,

    Godsdiensonderrig moet in alle staatskole in Suid-Afrika verbied word. 'n Privaatskool is 'n ander saak. As Michaelhouse die god van die Bybel aanbid, kerkdienste hou en ouers is tevrede daarmee om hulle kinders soontoe te stuur, het ek vrede daarmee. Joodse en Islam-skole sal privaatskole wees. Indië, Japan en Tibet kan maar opsnork soos hulle wil; hulle sal weldra die vrugte daarvan pluk, of moet ek sê, hulle het al die vrugte daarvan gepluk. 
     
    Groete,
    Angus
  • Christenskap verryk mens se lewe, ateïsme verarm - so eenvoudig.

    "Volgens prof Koos Malan, grondwetkenner verbonde aan die Universiteit van Pretoria, bestaan daar geen regsgronde vir ’n aansoek om godsdiens­beoefening in staatsondersteunde skole te verbied nie.Die feit dat talle skole hulself projekteer as skole met ’n Christelike etos is in beginsel juridies en kan nie bestry word nie."

  • Avatar
    Johnnie Johnson

    Nico,   

    Dit lyk nie of jy die onderhoud weer gaan lees het nie, want jy verstaan nog steeds nie waaroor dit gaan nie.   
    Hierdie ouens het niks teen die Christendom nie en wil jou nie ontkersten nie.  

    As jy voel dat dit vir jou iets beteken gaan heen en leef jou Christenskap voluit.   Moet dit net nie in ander, wat nie met jou saamstem, se kele afdruk nie!   

    Hierdie ouens is ook nie noodwendig ateïste nie.  Ek beskou myself bv as agnosties, want ek glo nie in ‘n persoonlike god nie, maar wel dat daar een of ander Krag of Energie bestaan wat hierdie fantastiese kosmos tot stand gebring het.  Die mens het egter nie die vermoë om enigiets daarvan te begryp nie.     


    FC Boot,   
    Jy skryf: “Dit kan dan ook nie van 'n onderwyser verwag word dat hy alle godsdienste met dieselfde ywer en oorgawe aan leerlinge gaan oordra nie.”   

    Dit is juis die punt!   

    Die onderwyser moet nie sy godsdiensbeskouing op sy leerlinge afdwing nie!   

    As hy voel dat hy dit nou net nie meer kan hou nie, gee hom ‘n Sondagskoolklassie waar hy dit met oorgawe kan doen.
  • Johnnie Johnson

    Jy mis die punt, dit gaan oor die oordrag van kennis oor enige vak, ook godsdiens.

    Dit is die oordag van kennis wat met liefde, ywer en geesdrif moet geskied, anders kan jy netsowel soos my wiskundeonderwyser in matriek, wat ook die eerstespan rugbyafrigter was, sê:" Goed boys, bladsy 20, oefeninge 1-6."

    Dan lui die telefoon en oor die interkom kom die boodskap "Oproep vir Meneer".
    Dit is dan rugbyseisoen en laaste besonderhede moet nog uitgestryk word.

    Dan slimste ou 'neem oor asb' en so gaan die periode verby. As jy nie 'n passie vir iets het nie, moet nooit enige onderrig gee nie ook nie as jy self nie daarin glo nie.

    Dit gaan dus nie oor die onderwyser se persoonlike siening van sake nie maar wel oor dit wat in die leerplan staan wat hy aan die leerlinge moet oorda.

  • Ons is met die kwessie van godsdiensonderrig in skole presies een eeu agter Amerika. In 1912, met die Scope-saak het die hof ten gunste van godsdiensonderrig besluit, en Darwin se evolusieleer verbied as deel van Biologie. Dit het gelei tot die verwaarlosing van die wetenskap, sodat universiteite maar  moes steun op die buiteland. Eers toe die Spoetniks van Rusland oor hul koppe getrek het, het die Amerikaners wakker geskrik en daadwerklik iets gedoen om wetenskapstudie in skole te bevorder.  

     
    Om 'n storie kort te maak, (want byna alles kan gegoogle word), dit het gelei tot die verbanning van Godsdiensonderrrig in skole, omdat dit nie 'n feite-gebaseerde vak is, soos wetenskap en die evolusieleer nie. Hope hofsake het gevolg, want konserwatiewes en ander agterlikes wou hê dat hulle kinders godsdiensonderrig moes ontvang. Kreasioniste het met 'n ander slenter gekom: hulle aanvaar evolusie, maar daar is 'n Intelligente Ontwerper wat dit bewerkstellig het. 
     
    Baie hofsake het gevolg, soms ten gunste van Intelligent Design, as daar meer kreasioniste-getuienis is, en dan weer ten gunste van die verbod daarvan. 
     
    Ek spreek onder korreksie, maar ek meen die laaste saak was die Dover-hofsaak in 2002, toe die regter beslis het dat ID nie 'n feite-gebaseerde vak is nie, en dat dit nie in skole toegelaat moet word nie. 
     
    Net die volgende Sondag preek die dominee en vertel die inwoners van Dover kaalkop die waarheid: hulle moenie skrik as groot rampe Dover binnekort gaan tref nie.
     
    Sover ek weet, wag hulle nog in spanning.
     
  • Avatar
    Johnnie Johnson

    Nee wat FC.  Dit is maar ‘n flou antwoord.   

     
    Gaan kyk weer wat jy sê in jou eerste plasing.  “Ek kan nie verwag dat 'n Moslem met geesdrif en oortuiging moet getuig dat Jesus Christus die enigste weg na die lewe in die hiernamaals is.”   
     
    Maw jy verwag van ‘n onderwyser in ‘n sg “Christenskool” dat hy sy opvatting oor godsdiens “met geesdrif en oortuiging” in al die leerlinge wat voor hom sit se kele sal afdruk.   
     
    Dit is omdat daar wel sulke onderwysers in die stelsel is, dat Hans Pietersen hierdie aksie van stapel gestuur het.
  • Die mensdom stry en baklei duisende jare oor verskillende godsdienste en sal nog stry en baklei tot hulle mekaar uitwis.

    Een van die oorsake van oorloë is breinspoeling oa Godsdiens.

    Godsdiens hoort nie in openbare staatskole waarvoor die belastingbetaler betaal nie, behalwe in Geskiedenisklasse.

    Sondagskole ens is beskikbaar vir gelowiges.

    Mense wie driemaal 'n dag godsdiens wil beoefen kan dit by die huis doen.

    Dit hoort nie by openbare staatskole nie waarvoor die belastingbetaler betaal !

  • As die evolusionêre ontwikkeling van lewe en die mens as agtergrond tot die argument dien, is die antwoord heel eenvoudig.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top