
........
Ons glo dat die prys ’n baanbrekerinisiatief is wat poog om die ryk diversiteit van Afrikaans te bevorder en van dialekte wat dikwels misgekyk word. Ons skep ’n ruimte waarin digters hul uniekheid kan vier.
........
Zalman Davis vertel vir Naomi Meyer van die nuwe prys vir digters, die Diana Ferrus-prys.
Zalman, ek sien daar is ’n nuwe prys vir digters – die Diana Ferrus-prys. Wil jy dalk vir ons lesers nog meer van Diana Ferrus vertel en waarom hierdie prys in die lewe geroep en na haar vernoem is?
Die Diana Ferrus-prys word toegeken vir die beste poësiebydrae, en dis gestig om Afrikaanse streekstale te bevorder – of dan nou die sogenaamde Huisafrikaans. Ons glo dat die prys ’n baanbrekerinisiatief is wat poog om die ryk diversiteit van Afrikaans te bevorder en van dialekte wat dikwels misgekyk word. Ons skep ’n ruimte waarin digters hul uniekheid kan vier. Ons het die prys na Diana Ferrus vernoem omdat sy Afrikaans op verskillende maniere bemagtig, platforms skep om die taal en letterkunde te bevorder (vir mense van alle identiteite, dialekte, ens), en ’n stem vir haar en ander se komvandaan is – dié van slaweherkoms, hoofsaaklik.
Die beoordelaars is self gerekende digters en skrywers. Sal jy dalk kortliks iets van hulle kan vertel?
Anmiray Opperman is die fasiliteerder. Sy is gebore en getoë te midde van die ongenaakbare landskappe van Montagu, en dra die nagalm van haar voorouers se wortels in die Karoo binne-in haar. Sy is ’n betowerende digter en meesleurende uitvoerende kunstenaar, en kan haar onwrikbare passie vir haar mense, die Khoi en San, in elke aspek van haar kuns kanaliseer.
Vanaf ’n jong ouderdom was Anmiray verlief op die ryk tapisserie van haar kultuurerfenis. Haar opvoeding het ’n diep verankerde toewyding tot pleitwerk in haar gesaai, wat haar gedryf het om ’n luide aktivis vir die regte en waardigheid van die Khoi- en San-gemeenskappe te word.
Shirmoney Rhode is ’n beoordelaar. Shirmoney is ’n skrywer en opvoeringsdigter wat op die Kaapse Vlakte in Elsiesrivier grootgeword het en op die ouderdom van 13 begin skryf het. Sy het haar BA, BA Hons (Afrikaans) en NGOS aan die Universiteit van Wes-Kaapland voltooi. Sy skryf oorwegend in Kaapse Afrikaans, die dialek van Afrikaans wat in die Wes-Kaap gepraat word. Sy is passievol daaroor om die stories van mense in haar gemeenskap te vertel en deel graag haar eie geleefde ervarings. Haar debuutbundel, Nomme 20 Delphi Straat, is in 2016 gepubliseer en sy het haar werk op verskillende platforms in Suid-Afrika uitgevoer. Sy gee Afrikaans, en in haar vrye tyd hou sy van stap, lees en kook.

Die beoordelaars vanjaar is Churchil Naudé, Hakkiesdraad Hartman, Ryan Pedro en Shirmoney Rhode. (Foto’s: verskaf)
Ryan Pedro is ook ’n beoordelaar. Ryan is in 1993 gebore en bring sy grootwordjare in Kakamas en op die Weskus deur. Hy woon in Gordonsbaai saam met sy partner, Suzanne, en hulle hond, Onyx. Sy gedigte het in Nuwe Stemme 6 verskyn. pienk ceramic-hondjies is sy debuutbundel.
Churchil Naudé is nog ’n beoordelaar. Met sy briljante digbundel Drol innie drinkwater, en albums, Kroeskop vol geraas en Kroesifaaid, het Churchil hom in die voorste linie van Suid-Afrikaanse woordkuns gevestig en nuwe, opwindende dimensies van Afrikaans ontgin. Hy het al saamgewerk met kunstenaars soos Anton Goosen, David Kramer en Jannie Hanepoot. Hy het as fasiliteerder vir ’n NGO met minderjarige gevangenes in tronke soos Pollsmoor, Hawequa en Brandvlei gewerk. Churchil woon in Mitchells Plain.
Hakkiesdraad Hartman is ook ’n beoordelaar. Hy is ’n hip-hop-kunstenaar, digter, storieverteller en skrywer van George. Sy musiek is opbouend, motiverend en opvoedkundig, en sy optredes laat mense in goeie gees. Hy put inspirasie uit sy inheemse Khoi-wortels en gebruik sy artistieke vermoë om sosiale kwessies aan te spreek. Gemeenskapsverantwoordelikheid speel ’n groot rol in sy lewe en sy verbintenis tot sosiale opheffing word deur sy werk en verskeie vorme van uitdrukking beoefen. Hy het in twee flieks gespeel: Weerwraak en Moordenaars Karoo, en is tans die karakter Dominee Venter in die mees gekykte program op Suid-Afrikaanse TV, Ouma Sarie.
Nou moet ek jou vra oor die digters wat wil inskryf. Moes enige van jou werk gepubliseer gewees het om te mag deelneem? Watter vereistes is daar oor jou ouderdom, jou taalgebruik of taalvariëteit? Mag digters werk instuur wat hulle al op sosiale media of elders geplaas het? Dit lyk vir my julle wil juis Afrikaans bevorder soos wat elkeen dit by die huis praat. Dus: Kan iemand wat sogenaamde Standaardafrikaans of Gestandaardiseerde Afrikaans praat, ook inskryf?
Enigiemand wat in Standaardafrikaans of Gestandaardiseerde Afrikaans skryf, mag hul werk instuur. Dit mag voorheen elders gepubliseer gewees het, maar waarvoor hulle geen vergoeding ontvang het nie. Ons soek juis daardie tipe Afrikaans wat by die huis gepraat word. En dan ook in Nama-Afrikaans, Kaaps en Khoi-Afrikaans. Maar die belangrikste is dat ons daardie soort Afrikaans soek waarmee jy grootgeword het en wat jy tans praat. Rou en eerlik is ook welkom. Enigeen 18 en ouer kan inskryf, van regoor Suid-Afrika en Namibië.
As die werk iewers in ’n bloemlesing verskyn het, moet daar natuurlik melding gemaak word van die publikasie en publikasiedatum en dat hulle toestemming het om die werk weer te kan gebruik.
Is daar spesifieke temas wat julle in gedagte het vir digters wat wil inskryf? Of enige lengtebeperkinge?
Daar is geen temas nie. Inskrywings kan oor enigiets wees. Die maksimum is 24 versreëls.
Waar kan almal wat wil inskryf die inligting kry oor uitleg, datums, en enige verdere inligting waaroor ek nie hier vra nie?
Om dinge te vergemaklik, het ons besluit om ’n elektroniese inskrywingsvorm te skep wat al die reëls en regulasies en dies meer bevat. Voornemende deelnemers kan op hierdie skakel klik: https://www.cognitoforms.com/DianaFerrusprys/DianaFerrusprys2024.

Lees ook:

