
Die derde Kunste Onbeperk Teksmark het op die derde en vierde September in die Baxter-teater in Kaapstad plaasgevind. Vyftien skrywers se tekste is voorgelê en die projek bied geleentheid vir skrywers, regisseurs en akteurs om saam te werk.
As deel van vanjaar se program was Marthinus Basson in gesprek met Pieter-Dirk Uys oor sy lewe en werk. Uys wat ook vanjaar ’n Hertzogprys van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns ontvang vir drama vir sy Stukke teater, het gehoorlede vermaak met sy komiese vertellings en advies. Hy het byvoorbeeld gepraat oor hoe belangrik dit is om te misluk, want dit leer jou van deursettingsvermoë. Hy gesels oor ’n dosent wat vir hom gesê het dat hy eerder nie in die vermaaklikheidsbedryf moet ingaan nie, want hy sal dit nooit maak nie. Laggend kan hy nou daarop terugkyk, want hy is een van Suid-Afrika se top-vermaaklikheidskunstenaars.
Aan jong skrywers sê hy dat hulle nie te oorgretig moet wees om byvoorbeeld ’n teks wat hulle pas geskryf het vir ander mense te wys en advies te vra nie. ’n Teks kort tyd en dis privaat. Dikwels is die teks ook nie so belangrik nie; wat wel belangrik is, is die storie wat jy wil vertel. Hy glo ook skrywersblok het maar net met die skrywer se ego te doen. Skrywers met groot ego’s het dikwels ’n tekort aan kreatiwiteit. Skrywers moenie bang wees vir oomblikke van stilte nie, want die idees sal kom. Sodra die tyd reg is, sal idees aan jou deur kom klop.
Uys het ook gesê dat teater nooit sal sterf nie. Ons sal sterf, maar ons stories sal bly leef. Hy glo ook dat elke persoon in die wêreld ’n unieke talent het, en dis ons elkeen se plig om te gaan uitvind wat dit is wat ons besit, wat dalk die wêreld rondom ons kan verryk.
Die vyftien skrywers wat deel van vanjaar se Teksmark was, is Ameera Conrad, Veronique Jephtas, Joshua Carstens, Wessel Pretorius, Louis Roux, Herschelle Benjamin, Brent Palmer, Nicola Hanekom, Kanya Viljoen, Temple Hauptfleish, Elsa Tirsa, Caitlin Wiggill, Danie Marais, Amee Lekas en Du Toit Albertze.
’n Paar van die regisseurs wat betrokke was, is Nwabisa Plaatjie, Nico Scheepers, Amy Jephta, Gaerin Haputfleish en Neil Coppen.
Die twee produksies wat deur die Nasionale Afrikaanse Teaterinisiatief (NATi) en Kunste Onbeperk gekies is om verder te ontwikkel, is Amee Lekas se Kôllemin die Blouduif en Wessel Pretorius se Wildeals. Lekas se produksie Die dans van die Watermeid was deel van die eerste teksmark en ook die wenteks wat in 2016 deur NATi en Kunste Onbeperk gekies is om ontwikkel te word. Saartjie Botha, direkteur van die US Woordfees, meen dit is baie moeilik vir ’n skrywer om hul tweede teks te skryf, soos wat Lekas met Kôllemin die Blouduif gedoen het, en boonop kry sy dit reg om ’n storie met eerlike dialoog te skryf en vertel, en dit is prysenswaardig.
Teksmark is ’n goeie inisiatief vir jong en professionele skrywers om mekaar se werk te aanskou, vrae te vra en deel te neem aan diskoerse oor teater en keuses wat in teater gemaak word. Volgende jaar word Teksmark uitgebrei om ook tekste in Xhosa ’n platform te bied om saam met Afrikaanse en Engelse tekste aangebied te word. Lara Foot van die Baxter-teatersentrum en die span van Kunste Onbeperk meen die bedryf is lankal daarvoor gereed.

