Die dao van Daan van der Walt – en die dao van Lodewyk G du Plessis

  • 1

Die dao van Daan van der Walt
Lodewyk G du Plessis
NB-Uitgewers
ISBN: 9780624082521

Die dao van Daan van der Walt is deur Lodewyk G du Plessis geskryf.  Naomi Meyer probeer by hom uitvind wie hy is.

Hallo Lodewyk. Jy is al gevra waarom jy die boek onder 'n skuilnaam geskryf het. Kan jy dalk, sonder om dan jou naam te verklap, vertel wie jy is?

Hallo Naomi, ek gaan ’n paar van my belangstellings met jou deel wat terselfdertyd ’n bietjie agtergrond gee vir my boek Die Dao van Daan van der Walt. Ek stuur ook vir jou ’n paar foto’s wat jy dalk tussenin kan gebruik as ek te lank praat.

Ek is lief vir reis.

Na my aftrede het ek ’n paar jaar in Asië gewoon. Ek sê meer oor dié tyd in my lewe wanneer ek hierna ander van jou vrae antwoord.

Ek is lief vir lees.

Verlede week het ek Lila deur Marilynne Robinson gelees, die laaste in die trilogie oor die predikant John Ames en sy mense. Die ander twee boeke is Gilead en Home.

Oor die jare versamel ’n mens met lees pêrels wat jy met jou saamdra. In Gilead, wat ek lank gelede gelees het, het Robinson my weer laat besef hoe belangrik die eerste paar sinne en bladsye in ’n roman is. Ek gaan keer op keer terug na die eerste vier bladsye van Gilead om te sien hoe briljant en met groot insig in die karakter van John Ames sy die leser inlei in die geheimenisse van haar roman. Daan was natuurlik beïndruk met die ou predikant wat sy storie vir sy jong seuntjie in ’n lang brief neergepen het.

Onlangs het ek Shusako Endo se The samurai gelees. Soos in sy vroeëre boek, Silence, wat ek gedurende die skryf van Daan se storie gelees het, gaan dit oor sendingwerk in Japan vroeg in die 17de eeu. Die Japannese het alle sending in Japan verbied omdat die Christelike boodskap in stryd was met hulle kultuur en hulle het Christene en sendelinge in die see aan kruise vasgemaak sodat hulle stadig met hoogwater, soos die golwe oor hulle spoel, verdrink. (In die Filippyne was dit weer die sendelinge wat Chinese mans wat by mans geslaap het, op brandstapels verbrand het.)

Hoe ouer ek word hoe minder fiksie lees ek. Van my tydgenote vertel my dat dit ook hulle ondervinding is. (In die Maart-uitgawe van Literary Review is daar 47 resensies, waarvan sewe misdaadromans dek en net agt fiksie. Wat sê dit vir ’n mens van die stand van fiksie in die Verenigde Koninkryk! En elders?) In my studeerkamer lê ses boeke waaraan ek tans lees oor mitologie, die Griekse, Romeine en Middeleeuse geskiedenis. Ek lees selfs fiksie stuk-stuk. Elsa Joubert en Cecile Celliers se onlangse boeke was ’n uitsondering. Twee boeke wat ek nie kon neersit nie.

Ek is lief vir kos.

Ek en Daan hou van Boerekos. Pampoenkoekies, souskluitjies en pannekoek. Al drie het kaneel in.

In Kuala Lumpur eet ek beef rendang en assam prawns, tamaryngarnale by Madam Kwan op die sesde verdieping in die dubbeltoringgebou in KLCC. (Tamaryn word ook suurdadels genoem.) In China smaak Chinese kos heeltemal anders as die kos in Suid-Afrika en dis wenslik om uit te vind wát jy eet vóór jy dit eet. Ek hou van hairy crabs. Moet net nooit vra in watter water die krappe geteel word nie. Of dalk moet jy dit reeds vra. Ek het nog nie virgin boy-eiers probeer eet nie.

Ek is lief vir musiek.

Met die uitsondering van die hartseertonele in Die Dao van Daan van der Walt het ek nie na musiek geluister gedurende die skryf van die roman nie. By dié dele het ek soms geluister na Forever young gesing deur Alphaville, Gregorio Allegri se Miserere mei, Parce mihi Domine gespeel deur die saksofoonspeler Jan Garbarek en na die Tibettaanse sangeres Jiangyang Zhuoma (Jamyang Dolma). Een middag het ek in die dorpie in China waar ek tai ji geleer het, in ’n straat by ’n winkel verbygeloop toe ek die stem van dié sangeres hoor. Ek is by die winkel in, hulle het haar naam op ’n stukkie papier geskryf en ’n Chinese vriend het uiteindelik vir my haar CD, Golden Glory, in die hande gekry. Sy is ’n kind uit ’n arm boeregesin. In ’n kroeg waar sy as kelner – en sanger? – gewerk het, is haar sangstem ontdek. Wanneer ek na haar luister, sien ek die uitgestrektheid van die Tibettaanse landskap in my verbeelding. Luister hoe sing Jiangyang Zhuoma “Hulunbuir grassland” en “The night on the grassland is beautiful”.

Agtien maande gelede het ek die twee uitvoerings van die ballet Moon water deur die Cloud Gate-geselskap in die Guangzhou-operahuis in China gesien. Ja, daar was net twee uitvoerings. ’n Onbeskryflike ondervinding. Ek het spesiaal die vier uur lange vlug van Singapoer na Guangzhou toe onderneem om die ballet te gaan kyk. Die eerste aand het ek in die middel van die ouditorium gesit en kon ’n geheelbeeld vorm. Die volgende aand, drie rye van die verhoog af, kon ek die detail waarneem. Moon water is die ballet waaroor Daan skoon liries raak in die roman. ’n Onderhoud met die uittredende Lin Hwai-min, die stigter en direkteur van Cloud Gate-dansteater, gee die leser ’n idee van hoe intensief die voorbereiding van die dansers is. En hoe hulle dans. Lin gee ’n veel beter weergawe daarvan as my poging in die boek.

Die Guangzhou-operahuis waarin ek die ballet gesien het, is deur die Irakse argitek Zaha Hadid ontwerp. (Sy is oorlede ’n paar maande voor my besoek aan die teater.) Google gerus “Guangzhou Opera House” om dié argitektoniese wonderwerk te aanskou.

In Singapoer daardie tyd het ek die voorreg – dit wás ’n voorreg! – gehad om te luister hoe András Schiff Bach se Goldberg-variasies speel …

Kom ons gaan liewer na jou volgende vraag, anders gaan my lofuitinge nie end kry nie. Frederik de Jager onthou dan glad hoe Schiff dieselfde werk jare gelede as jong man in Stellenbosch gespeel het.

Borobudur (foto verskaf deur die skrywer)

Praat met my oor die grense tussen waarheid en fiksie. As dit Daan van der Walt se dao is, is dit ook joune? Waar is die raakpunte, waar sny hierdie swaard aan by jou eie persoonlike lewe?

Soos ek in die Nabetragting agter in die boek sê, is die boek fiksie. Dis nie outobiografies nie. Van die tonele in die boek, veral in China, put uit my eie ondervindings daar, soos uit my antwoorde op jou vorige vraag blyk. Hier is nog ’n voorbeelde: in dié land met sy miljoene der miljoene mense word vlugte dikwels vertraag of, erger nog, gekanselleer soos ek met my eerste besoek daar self ondervind het, en dan is daar ’n stormloop vir ’n ander vlug of kaartjie soos in die boek beskryf. Ek het geen You Mei aan my sy gehad om my in my moedertaal aan te moedig nie. Toe ek begin tai ji leer doen het, is ek volgens die gewoonte daar eenvoudig in ’n klas ingedruk en moes sien en kom klaar. Toe ek dreig om my goed te vat en te loop, is ’n privaat instrukteur soggens aan my toegesê. Die beskrywing van Daan se eerste ete saam met die ander tai ji-studente is ook op my eie ondervinding gebaseer, maar geen gong fu-instrukteur het daardie eerste keer sy hand op my arm gesit en my geleer hoe om die stokkies vas te hou nie, nog minder my met sy stokkies brokkies kos gevoer.

’n Feestelike optog ter ere van die Boeddha (foto verskaf deur die skrywer)

Was daar ’n spesifieke sneller vir die skryf van die verhaal? Wat het dit geïnspireer?

Ongeveer 20 jaar gelede het ek, terwyl ek in my tandarts se spreekkamer gesit het, in ’n tydskrif op ’n brief aan die troostante afgekom waarin ’n wewenaar raad vra. Hy het met ’n gawe weduwee bevriend geraak. Een aand, na hulle gaan uiteet het, het hulle in haar woonstel gaan koffie drink. Hy is badkamer toe en toe hy uitkom, sit sy nakend op die rusbank. Hy wou weet wat is fout met haar. Met dié gegewe het ek my hand aan ’n kortverhaal gewaag wat in ’n laai beland het.

Ek wonder lankal oor getroude mans wat laat in hul huwelike ontdek of erken dat hulle tot ’n man aangetrokke voel en dan skei en by ’n man intrek. Waarom het so ’n man met ’n vrou getrou? In China lees ek ’n berig dat miljoene vroue wat met gay mans getroud is, daar in opstand kom. In dié land móét mans trou en ’n seun verwek. Konfusianisme en hul kultuur skryf dit vir hulle voor, soos die kerk en sosiale druk oor die jare hier by ons, behalwe as jy bereid was om jou lewe seksloos te slyt en as ’n oujongkêrel in die samelewing bekend te staan. Seks, die sondige ding, bly maar die slang tussen die blare. Vader Pedro Velasco in Endo se boek The samurai, waarna ek hier bo verwys, het saans met sy hande aanmekaar vasgebind gaan slaap en was, soos die Heilige Augustinus, sondebesmet na ’n nagtelike saadstorting. Wanneer die mooimaakgoedjies en die skraps onderkleertjies niks help om hul gay mans aan die gang te kry nie, wonder die arme Chinese vrou: wat is dan die fout met my?

Die kortverhaal in die laai het oor die jare gegroei tot die roman wat nou gepubliseer is.

Gebedestokkies (foto verskaf deur die skrywer)

Grepe Groen soos die hemel daarbo, grepe Charlie Oeng, grepe Spertyd, so skryf 'n resensent onlangs oor jou boek. Hoe sou jy dit self beskryf?

Al drie die boeke waarna die resensent verwys, is gepubliseer ná Die Dao van Daan klaar geskryf was. My boek gaan wel oor die problematiek van die ouer wordende mens, die kerk se opvatting en die Bybelse voorskrifte oor homoseksualiteit en ’n oumens se lewe in ’n volksvreemde land soos China. Natuurlik ook oor ander onderwerpe en probleme wat Daan op sy pad teëkom en by Winnie-the-Pooh-of-Tao hulp soek.

Jou boek is dalk die teenoorgestelde van 'n bildungsroman, of hoe? Dis 'n terugblik, dis bestekopname. Of is dit 'n boek oor sterflikheid? Al bogenoemde?

Vir dié strikvraag om die boek in ’n blik te druk met ’n naam-etiket op die deksel, is ek skrikkerig. Die boek het vir seker te doen met Daan se sielkundige, morele en godsdienstige groei in die aangesig van die dood. Die terugblik en bestekopname waarna jy verwys, noop Daan om sy agtergrond, soos die stuk steenkool waaruit die vlamme moet breek, te konfronteer. Die leser moet besluit of ek daarin geslaag het om aan te toon of dié groeiproses dit vir hom moontlik gemaak het om verby vervreemding, verlies en verwerping en die latere verwarring te beweeg in die rigting van nuwe insigte oor die sin van die lewe en die liefde en die dood met ’n gevolglike aanvaarding van wie hy, die man met die vele name, is. Sou dit van Daan gesê kon word dat hy aan die einde van die roman die essensie van sy lewe kon vasvang in paar woorde soos dié van ’n Japannees in sy doodsgedig?

Dit alles klink nou vreeslik ernstig. Daan konfronteer die stuk steenkool darem met ’n eiesinnige sin vir humor. Ek het verneem dat daar lesers is wat die boek so tussen die stukke hartseer deur heel komies vind.

Halongbaai in die eerste strale van die son (foto verskaf deur die skrywer)

Het jy al dikwels in die Ooste gereis? Watter reisbestemmings spreek tot jou?

Nie net gereis nie, ook tydelik daar gewoon. Dié nasies se onderskeie kulture, hul geskiedenis en vertrapping deur die groot Westerse moondhede spreek tot my.

Ek sal vertel hoe dit gekom het dat ek in die Ooste begin reis het. ’n Baie interessante man, Tiziano Terzani (aan die einde van sy lewe bekend as Anam – letterlik “die een sonder ’n naam”) se boek A fortune-teller told me was een van die redes dat my lewe ’n totaal nuwe en wonderlike rigting ingeslaan het. ’n Fortuinverteller het Terzani, Der Spiegel en verskeie Italiaanse koerante en tydskrifte se verteenwoordiger in Hongkong gewaarsku: “Pasop! Jy loop die gevaar om in 1993 te sterf. Moenie vlieg nie. Nie eers een keer nie.” Terzani het die waarskuwing ter harte geneem en daardie jaar te voet, per motor, bus, trein en boot Suidoos-Asië en China deurkruis en diep onder die indruk gekom hoe die Amerikaanse popkultuur die eeue oue Oosterse beskawings so korrupteer dat daar uiteindelik weinig daarvan gaan oorbly. Van sy ondervinding daardie jaar sê Terzani: “I was marked for death, and instead I was reborn.” En ja, Terzani sou waarskynlik op die vliegtuig gewees het wat daardie jaar in dié wêreld verongeluk het.

Na ek die boek gelees het, het ek besluit om vir ’n week in Phuket, aan die weskus van Thailand, te gaan vakansie hou. In plaas daarvan om aan die einde van die week terug te keer Suid-Afrika toe, het ek daarvandaan na Bangkok toe gevlieg en van daar noordwaarts gereis deur Chiangmai en Chiangrai tot by die samevloeiing van die Ruak- en Mekongriviere waar Thailand, Mianmar en Laos aan mekaar grens en die Goue Driehoek vorm, een van die wêreld se grootste opiumproduserende gebiede. Per boot is ek toe met Mekongrivier stroomaf na die suide tot in Luang Prabang, die ou hoofstad van Laos, en van daar na die tempels in Angkor in Kambodja. Op ’n latere vlug tussen Bangkok en Luang Prabang lees ek in die vlugtydskrif van ’n tai ji-skool in China en toe is ek soontoe en het tai ji leer doen. Dit was die begin. Maleisië, Singapoer, Viëtnam, Hongkong, Taiwan, die Filippyne en Indonesië het daarop gevolg.

Bestemmings wat tot my spreek, vra jy? Te veel om op te noem. Wat van die 9de-eeuse Borobudur-Boeddhiste-tempel op die eiland Java naby die stad Jogjakarta in sig van die vuurspuwende berg Merapi? Of Taiwan, waar ek so groot soos ’n mier gevoel het tussen die skrikwekkend hoë berge aan die ooskus? En daar is Halongbaai aan die ooskus van Viëtnam en die berg Huangshan waar die bergtoppe met sonsopkoms in die mis dryf en Chinese die tonele al vir duisende jare skilder. Ek beveel ’n tweede wittebrood vir oudgetroudes aan in die omgewing van die kusdorp El Nido (Die Nes) op die Filippynse eiland Palawan noord van Borneo. My kleinerige hotel het elke oggend ’n boot en bootman aan elke gas beskikbaar gestel om na ’n ander strand op ’n ander eiland te vaar en die dag daar piekniek te hou, vér weg van ander toeriste. Die see en berge is onbeskryflik mooi daar. Google “El Nido Palawan” en kyk self.

In Laos het ek geleer arm mense steel nie. Hulle hoenders slaap snags in die straat onder ’n gevlegte bamboesklok; in Singapoer en Maleisië kyk die inwoners sonder verwyt terug na die voordele wat kolonisasie vir hul lande gebring het; die Viëtnamese haat nie Amerikaners en Franse nie; Chinese werk tot 16 uur per dag, sewe dae per week vir hulleself. Die regering daar help tans arm boere met geld en deskundige raad en die boere kweek orgideë vir medisyne en sampioene wat binne 2 u4ur gereed is vir die mark en teel kakkerlakke om afval te verorber en word ryk.

En ek het gesien hoe oorbevolking en toerisme die mooi plekke op die aarde vernietig.

Hoenders slaap saans in die strate, selfs vegtende hane (foto verskaf deur die skrywer)

Met wie veg Daan van der Walt? Of wat kap hy af met sy mes (ek sien 'n dao is ook 'n swaard met net een snykant)? 

Ek dink hier het ’n misverstand oor die betekenis van Chinese woorde ingeglip. Die karakter (teken) in Chinees vir dao wat “weg” of “pad” beteken, verskil van die karakter vir dao (op ’n ander toonhoogte uitgespreek) wat “mes” beteken. Twee heeltemal verskillende woorde met heeltemal verskillende betekenisse. In die tweede brief aan Magrieta (bl 43) verduidelik Daan die diakritiese tekens wat die toonhoogte aantoon waarop woorde met dieselfde klank maar verskillende betekenisse in Chinees uitgespreek word en in die Nabetragting verduidelik ek die Pinjin-metode om Chinese karakters te translitereer/romaniseer sodat hulle klank in die Romeinse alfabet weergegee kan word.

’n Ryding vir ’n monnik (foto verskaf deur die skrywer)

In jou onderhoud met Frederik de Jager verwys jy na die liefde in al sy gedaantes: vir 'n vrou, vir 'n kind, vir 'n ander man. Watter aspekte van die verskillende gedaantes van die liefde is die mees intense, of die mees komplekse? Dalk kan jy in hierdie antwoord skryf oor die liefde. In watter gedaante ook al.

As ek geweet het wat die liefde is, het ek waarskynlik nie die roman geskryf nie. Wat is die aard van die liefde tussen Gilgamesj en Enkidu, keiser Ai en sy howeling Dong Xian? Om nie eers te praat van die liefde tussen Dawid en Jonatan nie. Ons moet ook onthou dat Daan dit op die eerste bladsy duidelik maak dat hy nie na liefde gesoek het toe hy die Opsitkers-briewe aan die weduwees en geskeide vrou gerig het. Hy het daardie ander dinge wat vir hom so lekker was, soos melktert en koeksisters op ’n Sondagmiddag op sy plaashuis se voorstoep saam met ’n koppie koffie, in gedagte gehad. Het hy dit gekry? Of dalk iets heel anders?

Om nou by jou vraag te kom: Die twee mees intense liefdes in die roman is sekerlik die liefde wat onbeantwoord is aan die een kant en aan die ander kant die geheime liefde, die liefde waaroor nie gepraat of aan uiting gegee mag word nie, dié een wat nie sy naam durf sê nie – en ook die onuitspreeklike hartseer by die verlies van hierdie liefde waarvan niemand weet nie en daar dus niemand is met wie jy jou pyn oor die verlies kan deel nie.

Het jy al vantevore geskryf? Gepubliseer? Indien wel, hoe het dit verskil van hierdie roman wat jy nou aangedurf het, die werk saam met ’n uitgewer?

Ek het nog nooit fiksie gepubliseer nie. Nie onder my eie of ’n skuilnaam nie.

As jy weer sou skryf, sal dit onder jou eie naam wees? En noudat die boek so baie aandag kry: Is jy spyt dat dit nie onder jou eie naam was nie?

As ek weer skryf, sal dit onder dieselfde skuilnaam wees. Ek is glad nie spyt dat die boek nie onder my eie naam geskryf is nie. Kom ons vergeet van die naam van die skrywer en lees die roman en luister na die pragtige opname wat Nic de Jager van drie uittreksels uit die boek gemaak het.

 

 

 

  • 1

Kommentaar

  • Rita Gilfillan

    Ek het die boek vanaf bladsy een geweldig geniet. Gelag, gehuil. Ek raai dat Johan Myburg die skrywer is.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top