Die Boer vier sy 15de verjaarsdag

  • 0

Fotobron: Canva

En so vier die Boer restaurant-teater in Durbanville sy 15de verjaarsdag in grendeltyd.

Op Maandag 20 April sou Dan Patlansky die 15 jaar saam met ons op die verhoog kom vier het, wat ons uiteraard nie kon doen nie. Maar ’n Boer maak ’n plan: Ons het besluit om steeds makietie te hou deur die hele dag lank verrassings op ons Facebook-blad en ander sosialemediaplatforms te plaas, met die hoop en die wete dat daar ’n post-COVID-19-tyd sal wees waarin ons weer kliënte en kunstenaars by die Boer sal kan verwelkom en die magic van teater ons weer sal kan wegvoer.

Op 1 September 2004 ontmoet Jurgen Human en Margit Meyer-Rödenbeck mekaar op ’n “blind date” oor middagete, wat toe in aandete verander, en laataand is die gesels nog nie op nie en deel van die groot gesels is Jurgen se lewensdroom om ’n restaurant-teater te open … en so begin ’n groot avontuur om ’n wêreldklas venue in die noordelike voorstede te skep.

Sewe maande later, op 20 April 2015, open die Boer restaurant-teater na vele nagte se debat oor interieur (waarin Gerrit Snyman ook ’n groot aandeel het), spyskaarte, kunstenaars, die naam van die venue, ens. Op die oggend van 20 April lyk die Boer nog soos ’n bouperseel, maar daardie aand open Valiant Swart die Boer restaurant-teater voor ’n volgepakte gehoor. Sedertdien het van die land se top kunstenaars al hier opgetree, onder andere Sandra Prinsloo, Trix Pienaar, Karen Zoid, Francois van Coke, Arno Carstens, Marc Lottering, Pieter-Dirk Uys, Amanda Strydom, Marion Holm, Emo Adams, Stef Bos, Tarryn Lamb, Koos Kombuis en aKING. Gedurende die afgelope 15 jaar het die kunstenaars soos familie geraak en vir baie van hulle het die Boer ’n teater-tuiste geword.

Hoe kry twee mense dit reg om hierdie teater-tuiste vir ons land se topkunstenaars te skep? Jurgen is ’n elektriese ingenieur met baie jare se ondervinding in die plaaslike en internasionale uitsaaibedryf en Margit het verskeie dramagrade agter haar naam en is ’n bekende in die Suid-Afrikaanse teaterwêreld. Saam het hulle toe baie vaardighede, maar geen kennis van restaurantwese nie. Gelukkig is nie Jurgen of Margit bang vir werk of vir iets wat hulle nie ken nie en het hulle met mag en mening die gasvryheidsbedryf aangedurf. “Ons het ’n plek probeer skep waar ons self graag sou wou kuier. Ons hou van lekker eet, goeie wyn en geselskap, en musiek en teater in ’n intieme ruimte,” sê Jurgen Human. Margit voeg by: “Mense voel gemaklik in die Boer met Persiese matte onder jou voete en ’n negosiewinkel bo jou kop. En natuurlik het Jurg doodseker gemaak dat die Boer se akoestiek baie goed is en die klank ’n ervaring is.”

Die Boer restaurant-teater sou egter nie vir 15 jaar (ons knyp onsself steeds, restaurant-teaters sukkel om so lank te oorleef) sy deure kon oophou sonder die vindingrykheid van sy personeel, ongelooflike ondersteuning van kunstenaars en bowenal ons kliënte wat oor en oor terugkom vir nog ’n aand van gesellige vermaak en kuier nie.

’n Groot deel van die Boer se sukses is te danke ons kos, onder leiding van sjef Jean Louis Geldenhuys, wat al vir 14 jaar die kombuis met militêre presisie bestuur. Jean Louis en sy span (twee lede van ons kombuispersoneel, Londwabo en Boniswa, is al van dag een af deel van die Boer) weet hoe om kwaliteit smaaklike kos bekostigbaar te hou.

KOMPETISIE!

Die Boer restaurant-teater het op Maandag 20 April sy 15de bestaansjaar gevier. Ons sou julle vreeslik graag met ’n heerlike bord kos uit sjef Jean Louis Geldenhuys se kombuis wou verwelkom en met ’n topkunstenaar op ons verhoog wou vermaak, maar soos almal anders, sit ons agter slot en grendel. Dit gaan ons egter nie keer om makietie te hou nie. Ons versoek ons wonderlike kliënte om vir ons gelukwensings op jul selfone te neem en op die Boer restaurant-teater se Facebook-blad te plaas. As jy ’n oulike foto van een van jou aande by die Boer het, plaas dit asb. Die persoon wat die mees kreatiewe gelukwensing plaas, wen ’n ete en ’n vertoning vir vier mense by die Boer sodra ons weer ons deure mag oopmaak.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top