Die Boer – by die huis: restaurant-teater open digitale platform

  • 3

Schalk Joubert en Koos Kombuis op die verhoog (Foto: verskaf)

Die Boer restaurant-teater in Durbanville wil net vir hierdie koronavirus, in die woorde van ons goeie vriend Wicus van der Merwe, sê: “Loop ja, jou ma.” Ons gaan nie terugsit en kyk hoe ons teater motbolle en spinnerakke vergaar nie. Ons het ’n verhoog en ons gaan hom gebruik!

Op Donderdag 11 Junie stel die Boer restaurant-teater sy eerste vertoning op hul splinternuwe digitale platform, Die Boer – by die huis, bekend. Ja, jy kan in jou pantoffels op jou gemaklike La-Z-Boy voor die TV, by die werk op jou slimfoon of saam met jou gesin voor die kaggel inskakel by Die Boer– by die huis.

Ons skop af met een van Suid-Afrika se legendes, Koos Kombuis, en die bedrewe baskitaarspeler, Schalk Joubert, se show Koos in kwarantyn. Hierdie produksie is buite-egtelik tydens die inperking gebore en is spesiaal vir die Boer saamgestel. Dié twee vriende was so opgewonde om uit die huis te kom en weer saam musiek te maak dat ons hulle beswaarlik kon bedwing. Die gesels begin sommer daar voor die kroegtoonbank, kitare word uitgehaal en hulle beland mettertyd darem op die verhoog ook. Grendeltyd het vir Koos geïnspireer om ’n nuwe lied of twee te skryf en hy het boonop begin om mondfluitjie te speel! In sy woorde: “Nou nie so goed soos Bob Dylan nie, maar amper.”

Nou hoe gemaak om te deel in hierdie unieke konsert? Kaartjies vir Koos in kwarantyn kos R100 en is vanaf Vrydag 29 Mei by Webtickets beskikbaar. Vanaf Donderdag 11 Junie om 18:00 kan jy vir 5 dae aaneen na die konsert kyk, soveel as wat jy wil! Soos Koos sê: “Hier is nou waarde vir geld … Jy kan ’n aand saam met my spandeer in die gemak van jou eie huis sonder om geld uit te gee op petrol!”

Dankie aan Van Loveren-wynplaas vir hul ondersteuning met dié digitale produksie.

Van nou af kan teatergangers uitsien na vertonings met ’n eiesoortige Boer-geur. Op 18 Junie word Backstage met Marion bekendgestel. Kykers kan ook uitsien na optredes deur kunstenaars soos Sandra Prinsloo, Valiant Swart en Gian Groen, Dowwe Dolla en Wicus van der Merwe en nog vele meer.

Wees op die uitkyk vir meer inligting oor Die Boer – by die huis-vertonings in die media, op ons sosiale media en ons webtuiste.

  • 3

Kommentaar

  • Ons wil graag die produksie van Spertyd bywoon. Dis geadverteer in ons plaaslike koerantjie vir 3-8 November. Geen tyd is gegee nie. Ek het die telefoon nommer gebel en net 'n antwoord funksie gekry. Ek is bang ons gaan dit mis! Stuur asb. vir my besonderhede, ons is heeltemal onbekend met die Boer en vreemd in die Kaap.
    Baie dankie,
    Annemarie

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top