Is skrywers se outeursregte in gedrang?

  • 4

Op Sondag, 23 April 2017, is Wêreld-boeke- en kopieregdag gevier. Hierdie UNESCO-inisiatief is gemik op die viering en bevordering van lees en die outeursregstelsel wat die uitgewersbedryf onderlê. Dit is nie toevallig dat dié twee dinge saam gevier word nie. Sinvolle outeursregwetgewing, en die effektiewe toepassing daarvan, is van sentrale belang vir die gesonde funksionering van die uitgewersbedryf, ’n bedryf wat toegespits is op die maak van boeke en die kweek van ’n sterk leeskultuur. Tog haal outeursreg tipies nie die slagspreuke of hutsmerke wat met die viering van dié dag gepaardgaan nie. Hierdie jaar was nie anders nie. Met groot veranderinge aan Suid-Afrika se Wet op Outeursreg in die pyplyn, is dit egter hierdie keer veral die moeite werd om ook by die belang van outeursreg in die boekebedryf stil te staan. Wat hier volg, is ’n kykie na die basiese beweegrede vir outeursreg, die stand van sake wat outeursreg betref en die uitdagings wat dit in die gesig staar.

Dit word allerweë aanvaar dat ’n basiese doelstelling van outeursregwetgewing is om kreatiwiteit en innovasie te bevorder en om sodoende die skepping van toekomstige werke tot almal se uiteindelike voordeel aan te moedig.

Dit word allerweë aanvaar dat ’n basiese doelstelling van outeursregwetgewing is om kreatiwiteit en innovasie te bevorder en om sodoende die skepping van toekomstige werke tot almal se uiteindelike voordeel aan te moedig. Outeursregbeskerming, en die eksklusiewe regte wat daarmee gepaardgaan, is ’n manier om die outeur van ’n werk te beloon vir die aanwending of besteding van sy of haar talente, tyd en inspanning om werke te skep, en gevolglik as aansporing te dien vir die outeur self om aan te hou skep, en vir ander om ook so te maak.  

Indien ’n letterkundige werk (aangesien ons met Boekedag te doen het) voldoen aan die basiese vereistes wat in die Wet op Outeursreg uiteengesit word, verkry dit outomaties outeursregbeskerming. Geen registrasie of ander formaliteite is nodig nie. Die bekende ©-teken dien eintlik net as boekstawing van die stand van sake en is nie ’n formele vereiste nie.

Ingevolge die wet is daar twee substantiewe vereistes vir die bestaan van outeursreg in ’n bepaalde werk: die werk moet oorspronklik wees en dit moet tot materiële vorm herlei wees. In die Suid-Afrikaanse reg word die sogenaamde “sweat of the brow”-benadering ten opsigte van die begrip “oorspronklikheid gevolg”. Hiervolgens word daar nie soseer ’n kwalitatiewe waarde-oordeel gevel oor die inhoud van ’n werk nie, dit hoef byvoorbeeld nie vernuwend, verdienstelik of andersins “goed” te wees nie. Die werk sal geag word oorspronklik te wees indien die outeur genoeg vaardighede en moeite aangewend het om die werk te skep. Onder die Suid-Afrikaanse reg is daar byvoorbeeld outeursreg in ’n databasis wat geen nuwe inligting bevat nie, maar tog baie tyd en inspanning verg om die data byeen te bring en vas te lê.

Outeursreg beskerm byvoorbeeld nie idees nie, maar slegs die spesifieke materiële uitdrukking van die idee. Sodoende word voorkom dat iemand ’n monopolie ten opsigte van ’n breë idee of konsep verkry – dit sal ander se kreatiwiteit onredelik aan bande lê, en outeursreg poog juis om kreatiwiteit te bevorder.

Die idee dat ’n balans die stelsel van outeursreg onderlê, word algemeen aanvaar. Die balans wat gehandhaaf word, is tussen die belange van die outeur en die belange van die gemeenskap. Hierdie balans is tot ’n groot mate inherent aan die outeursregstelsel. Outeursreg geld byvoorbeeld slegs vir ’n vasgestelde termyn, waarna dit verval en die werk die openbare domein betree en vrylik gebruik mag word. In aansluiting hierby sal nie sommer enige skepping kwalifiseer vir outeursregbeskerming nie. Outeursreg beskerm byvoorbeeld nie idees nie, maar slegs die spesifieke materiële uitdrukking van die idee. Sodoende word voorkom dat iemand ’n monopolie ten opsigte van ’n breë idee of konsep verkry – dit sal ander se kreatiwiteit onredelik aan bande lê, en outeursreg poog juis om kreatiwiteit te bevorder.

Outeursreg ken aan die eienaars daarvan ’n bondel eksklusiewe regte toe en stel hul sodoende in staat om met hul werk te woeker, en ander te verbied om daardie regte sonder hul toestemming uit te oefen. Dit is wederregtelik om ongemagtigde kopieë, reproduksies of aanpassings van ’n werk te maak en om daardie skendende kopieë dan te versprei of te koop aan te bied kan tot sivielregtelike én strafregtelike aanspreeklikheid lei.

Die span by SAFACT (Southern African Federation Against Copyright Theft) sal kan getuig dat die minagting van outeursreg ’n groot probleem op sosiale media is. Ongemagtigde reproduksies van outeursregwerke en die verspreiding van daardie roofkopieë geskied soomloos, onmiddellik en die oortreders het ’n wye trefwydte.

Minstens een webblad en twee Facebook-groepe is onlangs in opdrag van NB-Uitgewers deur SAFACT ondersoek vir onwettige handel in e-boeke en ander outeursregwerke. Verskeie boekuitgewerye en filmvervaardigers se produkte is ter sprake. Die webblad verkoop oënskynlik e-boeke en films  spotgoedkoop terwyl die Facebook-groepe gemik is op die uitruil van gratis e-boeke.  SAFACT se ondersoekvernuf, gebruik van goeie sagteware en noue samewerking met die SAPD sorg egter daarvoor dat oortreders op hul hoede moet wees.  

Vir baie lesers is hierdie tipe optrede ’n skreiende skande. Lede van die gewilde Facebook-groep Lekkerlees Boekrak spreek hul byvoorbeeld gereeld teen die verspreiding van gratis e-boeke uit. In hierdie virtuele leeskring, met oor die 6 800 lede, word outeursregskendings nie geduld nie. Dit is ’n aanduiding van die regsgevoel van die lesersgemeenskap: dit is bloot nie billik om ’n produk waaraan skrywers (en uitgewers) hard en lank gewerk het sonder toestemming en sonder vergoeding te versprei nie.    

Suid-Afrika se voorste outeursregkenner, professor Owen Dean, bestempel die outeur as die hoeksteen van die outeursreg. As ’n algemene vertrekpunt setel outeursreg altyd in, of dit is afkomstig van, die individuele outeur wat verantwoordelik is vir die skepping van die outeursreg-werk. (Hoofuitsonderings op die reël is waar die werk in die loop van indiensneming geskep word – die  werkgewer is dan die eienaar – of waar ’n portret of ’n foto in opdrag van ’n ander party gedoen word. In daardie geval is die opdraggewer die outeursregeienaar.) Om hierdie rede is dit belangrik om die skrywersperspektief te betrek by gesprekke wat met outeursreg in die boekebedryf te make het. PEN Afrikaans, ’n plaaslike tak van die internasionale skrywersvereniging, het in Augustus verlede jaar hul stem laat hoor oor kommerwekkende aspekte van die beoogde wysigings aan die Wet op Outeursreg wat in ’n wetsontwerp vervat is wat in Augustus 2015 die eerste keer gepubliseer is.

Skrywers en uitgewers behoort hierdie verwikkelinge met arendsoë dop te hou, aangesien dit verreikende gevolge vir die boekewêreld kan inhou.

Die eerste weergawe van die wetsontwerp in 2015 het wyd kritiek ontlok en, ná ’n lang stilte waartydens die stand van sake oor die hersiene wetsontwerp duister was, is die nuwe weergawe van dié wetsontwerp onlangs gepubliseer. Skrywers en uitgewers behoort hierdie verwikkelinge met arendsoë dop te hou, aangesien dit verreikende gevolge vir die boekewêreld kan inhou.

Van die mees opspraakwekkende aspekte van dié wetsontwerp is die instel van bykomende uitsonderings van, en beperkings op die eksklusiewe regte van die outeursreghouer. Oor die algemeen is uitsonderings en beperkings ’n wesenlike kenmerk van die outeursregstelsel, wat nogmaals skakel met die balans tussen die belange van die outeur en die belange van die gemeenskap. Artikel 12 van die Wet op Outeursreg bevat die sogenaamde “fair dealing exceptions” vir letterkundige en musiekwerke; ’n geslote lys van uitsonderings waarin die toestemming van die outeursreghouer nie verkry hoef te word om ’n outeursregwerk te reproduseer nie, mits die omvang van die gebruik billik is. Die begrip “billikheid” word nie in die wet omskryf nie, en is tipies die deurslaggewende vraag om te bepaal of optrede ’n outeursregskending is of toegelaat kan word onder die billike gebruik-bepalings in die Wet. Daar is nie vaste reëls hieroor nie en elke geval moet op sy eie feite beoordeel word.

Die wetsontwerp voeg sogenaamde “fair use” en “fair dealing” vir ’n verskeidenheid doeleindes, insluitend onderrig, tot die Suid-Afrikaanse outeursreg toe. Ingevolge hierdie uitsonderings mag reproduksies en/of aanpassings van outeursregwerke gemaak word sonder toestemming van, of vergoeding aan, die outeursreghouer.

Die wetsontwerp voeg sogenaamde “fair use” en “fair dealing” vir ’n verskeidenheid doeleindes, insluitend onderrig, tot die Suid-Afrikaanse outeursreg toe. Ingevolge hierdie uitsonderings mag reproduksies en/of aanpassings van outeursregwerke gemaak word sonder toestemming van, of vergoeding aan, die outeursreghouer. Skrywers wat hul brood en botter verdien uit werke wat vir die skole- of universiteitsmark voorgeskryf word, kan ’n aansienlike afname in inkomste verwag indien hierdie wysigings aanvaar word. Akademiese en opvoedkundige uitgewerye, asook algemene uitgewerye wat letterkunde publiseer wat in klaskamers onderrig word, sal ook ’n knou hierdeur toegedien word. Die presiese aard van dié knou is onduidelik, want alhoewel ’n tender in 2015 geadverteer is vir ’n onafhanklike analise van die ekonomiese impak van hierdie wysigings, is dit nie toegeken nie. 

Dit is inderdaad so dat die Wet op Outeursreg kan doen met hersiening. Dit is immers Wet nommer 98 van die jaar 1978, en alhoewel dit sedertdien van tyd tot tyd aangepas is, is dit in baie opsigte verouderd en ver verwyderd van die wêreld wat ons deesdae ken. Daar is dus rede om dankbaar te wees vir die opdatering van hierdie belangrike stuk wetgewing. ’n Mens kan net hoop dat dit gedoen sal word met die nodige sorg en in behoorlike oorleg met industrieë wat op outeursreg staatmaak.

Alhoewel dit tipies nie die kollig kry tydens die viering van Wêreld-boekedag nie, is outeursreg in ’n groot mate die spil waarom die boekebedryf draai. Rainer Just, die president van die Internasionale Federasie van Reproduksieregte Organisasies (IFRRO) waarvan DALRO lid is, stel dit goed wanneer hy sê: “Copyright is what enables the creator to make a living and a nation to develop a viable publishing industry.” Dit is iets wat saam met boeke gevier behoort te word, en veranderinge daaraan behoort met groot omsigtigheid aangepak te word.

 

Bronne

Dean, O.H. 1987. Handbook of South African Copyright Law. Juta.

Steward, Ben. 2016. WIPO Diary, Day 5: standing on the heads of giants? Aanlyn: https://www.internationalpublishers.org/news/blog/entry/wipo-diary-day-5-standing-on-the-heads-of-giants-1

 

  • 4

Kommentaar

  • "Billikheid, "Fair Use" && - so wyd soos die Heer se genade. Word daar ag geslaan op die feit dat sommige mense se bestaan afhang van hul skeppingsvermoë, dat kunstenaars dikwels krepeer van ellende, dat dit by uitsondering moontlik is om 'n lewe uit kuns te maak, dat die Suid-Afrikaanse mark bitter klein is? Soos gewoonlik in SA word die wetgewing eenogig ideologies gedryf deur onverkose, pater(mater?)nalistiese, rasbeheptes ge-"inform" met 'n eng sosialisme/marxisme wat nooit in die openbare oog verskyn nie. Daar is te veel *regsmisleerdes* wat wette skryf en te min werklike wetenskaplike insigte. Byvoorbeeld: Wat is die gemiddelde inkomste van Suid-Afrikaanse skrywers? Hoeveel Suid-Afrikaanse publikasies van 'n tegniese aard (dis nou anders as kookboeke) sien die lig? Wat is uitgewers se inkomste uit Suid-Afrikaanse publikasies? Wat gaan die wetgewing aan kommunikasie in Suid-Afrika doen? Weet iemand, of is die oefening weereens 'n skoot in die duister?

  • Ek het advies nodig oor die hantering van outeursreg van 'n verhaal wat vir 'n animasiefilm gebruik word.
    Op watter stadium ontvang die skrywer vergoeding vir die gebruik van die verhaal?
    Kan enigiemand my asb raad gee in die verband?
    Dankie.

    • Vergoeding word gereël deur die bepalings van die kontrak tussen die outeur en die ander persoon aan wie 'n lisensie gegee of kopiereg oorgedra word. Dis nie deel van die Kopieregwet nie.

      Die Wet bepaal egter dat waar daar nie 'n geskrewe kontrak tussen die partye bestaan nie, dan verkry die ander party bloot 'n nie-eksklusiewe lisensie en kan dit te eniger tyd beëindig word.

  • Daar's eintlik niks verkeerd met die huidige wet nie; net omdat die oorspronklike teks uit 1978 dateer, word maklik vergeet dat dit verskeie male opgedateer is om nuwe soorte werke te akkommodeer, soos rekenaarprogramme. Ook, daar is deur die howe beslis dat werke wat op rekenaars geskep word en bestaan (elektroniese formaat) voldoen aan die vereiste dat die werk in stoflike vorm moet wees ten einde beskerming te geniet (ook oa 1992- en 1997-wysigings). Die enkele groot probleem met die huidige wet is dat dit 'n goeie kennis van die konsepte van kopiereg vereis om dit te kan verstaan.

    Terloops, kopiereg in literêre werke is tegnies vir 'n onbepaalbare tydperk waar die outeur bekend is en nie vir 'n vasgestelde termyn soos die artikel vermeld nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top