Die beginsels van die kurrikulum- en assesseringsbeleidsverklaring (KABV) – en hoe dit in alle vakke moet neerslag vind

  • 2

Foto van Michael le Cordeur: Izak de Vries

Alvorens jy begin om die kurrikulum te bespreek en te fynkam vir beginsels en doelwitte en hoe dit in die klas sal uitspeel, is dit belangrik dat elke onderwyser hom of haarself vergewis van die groter prentjie. Met ander woorde: hoekom is daar ’n nuwe kurrikulum? Waarom was die vorige kurrikulum nie meer goed genoeg nie?

Die antwoorde op hierdie vrae sal nie net jou onderrig aan die hand van die nuwe kurrikulum rig nie, dit sal jou ook help om daardie kritiese vrae van leerders te beantwoord. Dis nog iets waarvoor onderwysers hul moet begin staal: die jeug van vandag is meer krities as ’n geslag gelede. Hulle bevraagteken alles en onderwysers moet gereedmaak hiervoor.

In daardie opsig kan dit byvoorbeeld nie ontken word nie, dat die geskiedenis wat tot dusver in skole gepredik is, problematies is. Dit was meestal geskryf vanuit ’n Christelik-Nasionalistiese perspektief waar groot klem op die Afrikaner en sy prestasies geplaas is. Dit moes verander, veral na 1994 toe die eerste demokratiese regering aan bewind gekom het. Die nuwe kurrikulum moes daardie demokrasie ondersteun en versterk. Gevolglik is groter klem geplaas om kwessies soos gelykheid, menseregte en inklusiwiteit ten einde ’n nuwe nasie te bou wat sou inpas binne die raamwerk van ’n demokrasie.

Die nuwe geslag moet juis so opgevoed word sodat hulle bestaande lewensbeskouings krities kan beoordeel ten einde vir hulself te kan besluit. Dit is trouens een van die beginsels van die nuwe kurrikulum wat sedert 2012 gevolg word. Dalk is dit nodig om vir ’n wyle net weer stil te staan by die beginsels en doelwitte van die KABV-kurrikulum[1] (in Engels bekend as CAPS).

Die KABV-kurrikulum

In die aanhef tot die kurrikulum word dit duidelik gestel die KABV “vorm die grondslag van wat beskou kan word as die vaardighede, kennis, en waardes wat noodsaaklik is om te leer. Dit sal verseker dat leerders kennis en vaardighede verwerf en toepas op maniere wat betekenisvol is vir hulle lewens”.

Opsommend is die doelwitte wat in die beleidsdokument uitgespel word, “om leerders, ongeag hul sosio-ekonomiese agtergrond, ras, geslag, fisiese of intellektuele vermoë, toe te rus met die kennis, vaardighede en waardes wat nodig is vir selfvervulling en betekenisvolle deelname in die samelewing as burgers van 'n vrye land; om toegang tot hoër onderwys te verkry; om die oorgang van leerders vanaf onderwys-instellings na die werkplek te fasiliteer en om aan werkgewers 'n voldoende profiel van 'n leerder se vermoëns te verskaf”.

Die KABV is voorts gebaseer op die volgende beginsels: Sosiale transformasie, kritiese leer, hoë kennis en hoë vaardighede, menseregte, inklusiwiteit, omgewings- en sosiale geregtigheid, sensitief vir kwessies van diversiteit.

Sonder om aanspraak te maak op volledigheid, gaan ek in hierdie artikel probeer om net sommige van hierdie beginsels aan te raak. Dis belangrik om te onthou dat bogenoemde beginsels in ALLE vakke tot hul reg moet kom. Die huidige debat oor geskiedenis wat ’n verligte vak sal word sodat sekere kwessies van menseregte aangespreek kan word, is na my mening nie ’n goeie argument nie juis omdat menseregte in elke vak aan bod moet kom.

Menseregte

Kom ons neem uit die staanspoor die tema van Nelson Mandela, die vryheidsvegter wat geveg het vir die vryheid van sy mense, en sy rol binne die ANC. Terwyl baie mense verwag dat hierdie tema in ’n vak soos Geskiedenis aangebied sal word, word die moontlikheid dat dit ook in ander vakke aandag kan kry, dikwels misgekyk. In ’n vak soos Afrikaans – my vakgebied – is ’n leesstuk van 1 000 woorde oor die lewe van meneer Mandela ’n ideale hulpbron om die vaardighede van ’n begripstoets te onderrig. ’n Les wat gebaseer is op die lewe van Madiba sal veral nuttig wees rondom meneer Mandela se verjaarsdag op 18 Julie, of Vryheidsdag op 27 April, toe hy tot die eerste demokraties-verkose president verkies is. Sodoende laat die onderwyser ook reg geskied aan die KABV-beginsel van menseregte.

Dieselfde tema kan ook in Lewensoriëntering aangepak word. Hierdie keer behoort die klem te val op die vaardighede wat nodig is vir goeie leierskap, iets wat elke onderwysstudent behoort te ken of minstens aan te leer. Vrae soos: Waarom was meneer Mandela so ’n goeie leier? Watter vaardighede het hom in staat gestel om effektief te lei en waarom was hy as leier ’n geloofwaardige figuur teenoor ander leiers wat minder doeltreffend was, is van die temas wat onder die vaandel van menseregte in Lewensoriëntering (LO) aangespreek kan word.

Omgewingsbewustheid

Die formele onderwys moet die uitdaging aanvaar om omgewingsopvoeding te onderrig. Ons leef in ’n wêreld waar die natuurlike hulpbronne soos water, die skoon see, ons bome en woude, ons Groot Vyf en ons minerale rykdom toenemend onder druk kom. Leerders moet van vroeg af bewus gemaak word van hierdie uitdagings. Alle onderwysers van alle skoolvakke moet ingevolge die KABV aangemoedig word om leerders meer met die onmiddellike omgewing in kontak te bring.

In al die jare van klas gee (eers op hoërskool en later op universiteit) het ek gevind dat die multi-dissiplinêre benadering die mees geskikte vir plaaslike omstandighede is. Dit beteken dat die verantwoordelikheid om ons leerlinge meer omgewingsbewus te maak, nie net op die skouers van een onderwyser rus nie. Dit is wel formeel deel van Lewensoriëntering, maar die beginsel kan (en moet) in alle vakke aangespreek word.

Diegene wat al in my klasse gesit het, weet hoe lief ek vir die gedig “Vroegherfs” van NP van Wyk Louw is. In al die jare van formele klas gee het ek die gedig in die eerste week van Maart met die studente behandel. Ek gee nie om wat die kurrikulum sê nie: die gedig sal op geen ander tyd van die jaar soveel sin maak as om dit in die vroeë herfs van die Boland aan te bied nie. Ek het al meermale op pad klas toe ’n handvol “goue akkerblare” en ’n verbruinde wingerdtak afgepluk en dit saamgeneem klas toe.

Enigiets anders, sal net nie dieselfde effek hê nie. Op ’n stadium het ek ’n blinde student in my klas gehad. Dwarsdeur die les het ek haar met die “goue akkerblare” en ’n verbruinde wingerdtak laat speel. Sy het agterna opgemerk dat sy nog nooit die eerste twee versreëls van die gedig so goed begryp het nie. Nie net het dit by haar ’n permanente liefde vir die akkerboom gekweek nie, maar dit gee nuwe begrip aan die volgende versreëls:

Die jaar word ryp in goue akkerblare,
in wingerd wat verbruin, en witter lug

Diegene wat Kuns as vak het, kan die gedig in die Afrikaans-klas komplimenteer met sketse, foto’s en kunswerke in herfskleure van wingerde en akkerbome. Die poësieles kan verder aangevul word, met ’n mondelinge gesprek oor:

Sou Stellenbosch vandag die Eikestad geheet het as dit nie was vir ’n paar visioenêre mense wat 100 jaar gelede die akkerbome hier geplant het nie?

Die les kan verder aangevul word met Boomplantdag, ’n spreker wat jeugdiges wys op die ontbossing van die vastelande wat lei tot die vergroting van woestyngebiede en die impak daarvan op die natuur.

Die afgelope droogte in die Wes-Kaap behoort genoeg motivering te wees om leerders bewus te maak dat jy natuurlike hulpbronne soos water moet bespaar. Laat leerders opstelle hieroor skryf, debatte voer oor hoe die stadsraad met beter voorstelle vir waterbesparing vorendag kan kom en publiseer die artikels in die plaaslike nuusblad of selfs die skoolkoerant as deel van kreatiewe skryfwerk.

Ander vakke kan lustig meedoen: In die wiskundeklas kan leerders bereken hoe lank dit ’n dam van 100 miljoen kubieke liter neem om vol te raak as daar gemiddeld 50 mm reën per maand val en die inwoners gebruik 500 miljoen liter per dag. Hulle kan ook uitwerk hoeveel meer moet inwoners spaar om Dag Zero te vermy.

In die Aardrykskundeklas moet die onderwyser leerders wys waar al die opgaardamme is, wat die stand van die damme is, en watter riviere die damme voed. Hulle kan vasstel wat die geografiese redes is waarom die dam daar gebou is (hoeveelheid reënval of sneeuval, riviere, ens).

Wat van ’n kompetisie vir die beste plakkaat om water te bespaar?

Die moontlikhede is legio.

Sodoende kan onderwysers verseker dat die nodige kennis, vaardighede en positiewe houdings sal lei tot betrokkenheid en ’n groener omgewing. Onthou ook dat kinders kyk of luister eerder na 'n storie as na 'n “les”. Baie “omgewingslesse” kan in die vorm van 'n storie tuisgebring word.

Omgewingsopvoeding is 'n funksie van gesonde onderwys en gevolglik is dit die verantwoordelikheid van elke onderwyser.

Sosiale transformasie

Die KABV is ontwerp om jongmense bewus te maak van ons verdeelde verlede en hoe belangrike mense hard gewerk het om ’n demokratiese bestel te verseker. Dit sluit mense in soos Nelson Mandela en Govan Mbeki van die ANC, maar ook leiers van die vorige regering wat bereid was om die Rubikon oor te steek: mense soos FW de Klerk en Pik Botha. Hierdie geskiedenis is een van die beginsels waarop die hele kurrikulum geskoei is en kan in verskeie vakke onderrig word.

Uiteraard sal Geskiedenis hier ’n belangrike rol speel om aan leerders ons land se volledige geskiedenis te leer. Daarteenoor kan die vak Lewensoriëntering die lesse wat uit die geskiedenis geleer word, vir jongmense aanleer sodat hulle nie dieselfde foute herhaal nie.

In die Aardrykskundeklas behoort die onderwyser die leerder te wys op historiese plekke soos mnr Mandela se geboorteplek, Robbeneiland en die geskiedenis agter die eiland as ’n plek van gevangenis, waar presies is die plaas Rivonia geleë asook waar die vorige tuislande van swartmense geleë was wat na 1994 tot niet gemaak is.

In die Afrikaansklas is die moontlikhede ontelbaar, onder andere in die gedigte van Adam Small. In sy gedig “Die Here het gaskommel” skryf die digter:

die Here het gaskommel
en die dice het verkeerd geval vi' ons
daai's maar al

so lat hulle ma' sê skollie pêllie
nevermind
daar's mos kinners van Gam en daar's kinners van Kain

In die gedig sinspeel die digter op ons verdeelde verlede en die onderskeid wat gemaak is tussen die verskillende kinders (mense) van Suid-Afrika.

Die tema apartheid word baie treffend in Small se drama Goree bespreek. Die drama beskryf die verset van 'n jong bruinman wat 'n tuisgemaakte bom in 'n supermark plant waarin 'n vrou en 'n dogtertjie "van so ses, sewe" die slagoffers is. Hierdie daad is volgens die bruin man 'n daad van verset teen 'n regering wat hom en sy familie male sonder tal verneder het. Maar in die oë van die vorige regering het hy moord gepleeg en daarvoor moet hy tronk toe. Dit is stof vir baie goeie debatvoering in die mondelingklas en onderwerpe vir menige kreatiewe, redenerende opstel.

Kwessies van diversiteit

Die laaste beginsel wat ek in hierdie artikel aanraak, is diversiteit, wat kwessies insluit soos armoede, ongelykheid, ras, geslag, taal, ouderdom, gestremdhede en ons inheemse kennissisteem. Omdat ruimte beperk is, bepaal ek my hier meestal tot my vak, Afrikaans.

Anoeschka von Meck se Vaselinetjie voer lesers terug na die wêreld van die weeshuis. Die roman raak verskeie kwessies van diversiteit aan waarmee die moderne kind en veral die weeskind moet tred hou. Dit sluit in ras: sy is ’n wit meisie wat by ’n bruin oupa en ouma grootword en dan deur die welsyn weggevat word omdat apartheid dit in die ou dae verbied het. Die ongelykheid onder apartheid word effektief weerspieël as die meisie in die weeshuis gekonfronteer word met kwessies soos taal: “Jy praat soos ’n bruin mens.”

In die roman Philida deur André P Brink val die fokus op ’n slaaf op die plaas Zandvliet, en dit speel af in die tydperk voor en tydens die vrystelling van slawe aan die Kaap. Die geskiedenisonderwyser kan sy klas ’n kwartaal lank besig hou met die geskiedenis van die slawe en die Wet op aparte ontwikkeling.

Daarteenoor sal die Afrikaansonderwyser leerders kan wys op die invloed wat die slawe op die ontwikkeling van Afrikaans gehad het, wat nog ’n beginsel naamlik taal aanspreek.

Die vertelling begin in 1832, as Philida van Zandvliet Stellenbosch toe loop om ’n klag by die slawebeskermer in te dien teen Frans Brink, seun van die plaaseienaar, saam met wie sy kinders gehad het en wat toe nie sy belofte om haar vry te koop, nagekom het nie.

Dis ’n kragtige herinnering aan die verdeelde verlede waaruit ons kom en die Lewensoriënteringonderwyser wat sy sout werd is, sal leerders begelei dat die foute van die verlede nie herhaal moet word nie.

In Adam Small se drama Krismis vir Map Jacobs kom veral armoede onder die bruin mense onder die loep, asook die gedwonge verskuiwing van bruin en swart mense uit gebiede soos onder andere Distrik Ses ná die instelling van die groepsgebiedewet. Die breër ruimte wat in Map Jacobs bespreek word, is die Kaapse Vlakte; ’n uitgestrekte, sanderige gebied ver van die Kaapse middestad en sy geriewe, wat die mense dwing om baie kostes aan te gaan om by hul werk en skole uit te kom. Dit lei tot grootskaalse armoede.

Ook hierin sal die vak Geskiedenis diep kan delf en die leerders kan in Aardrykskunde navorsing doen oor watter ander gebiede behalwe Distrik Ses so geraak is. Die drama raak nog ’n beginsel van die KABV aan, naamlik om sensitief te wees vir vroueregte en vroue-mishandeling.

In Bettina Wyngaard se roman Slaafs word nog ’n baie belangrike beginsel aangeraak: om sensitief vir mense se seksuele oriëntasie te wees. Eers moet die leser gewoond raak daaraan die baasspeurder van hierdie speurverhaal ’n vrou is, en dan moet hulle boonop die kwessie verwerk dat die baasspeurder in ’n verhouding is met ’n ander vrou wat boonop die pastoor van die gemeente is.

Die uitdaging aan die Lewensoriëntering- en die Afrikaansonderwyser is om leerders so te begelei dat hulle sal verstaan dat baie mense veilig en beskermd voel binne ’n gay-verhouding en dat dit die rede is waarom ons Grondwet nie teen sulke paartjies diskrimineer nie. Dit is deel van die veranderde wêreld waarin die jeug van vandag opgroei.

Ek sou nog talle ander beginsels van die KABV-kurrikulum kon bekyk, maar dit behoort nou reeds duidelik te wees dat die beginsels nie net beperk is tot die inhoud van een spesifieke vak nie. Die multidissiplinêre benadering beteken dat onderwysers ook op verskeie temas kan saamwerk sodat die leerder nie verwar word met verskillende perspektiewe van verskillende onderwysers nie.

Dit verg slegs goeie beplanning en ’n goeie skoolhoof wat die kurrikulum oopkop en kreatief benader sonder dat hy aan hom laat voorskryf deur eksamens en toetse. Per slot van rekening behoort ons die kurrikulum aan leerders te onderrig en hulle nie net af te rig vir toetse en eksamens nie. Dit sal die leerervaring vir leerders soveel meer interessant maak!

  • Michael le Cordeur is die hoof van die Departement Kurrikulumstudie in die Fakulteit Opvoedkunde aan die Universiteit Stellenbosch

[1] KABV = Kurrikulum- en assesseringsbeleidsverklaring

https://www.litnet.co.za/category/menings/skoleseminaar/

  • 2

Kommentaar

  • Pol Vigoureux

    De jeugd moet, volgens mijn ondervinding, eerst bewust worden van een evensdoel. Gelukkig zijn is toch de eerste vereiste. Kan iemand gelukkig zijn wanneer zijn omgeving, broers,zusters, vrienden, collega's, buren ongelukkig zijn. Er moet samenwerking zijn. Arbeiders moeten goede prestaties leveren. De werkgever mag van zijn personeel niet eisen wat hij zelf niet zou willen doen en zijn personeel behandelen zoals hij zelf zoe willen behandeld worden. Deze visie zou het doel moeten zijn van elk individu. Respect voor de medemens in plaats van ieder voor zich zelf alles willen tot nadeel van de andere.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top