Die Babalela-storieboek deur Martie Preller: ’n lesersindruk

  • 0

Die Babalela-storieboek
Martie Preller

Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780799384239

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.

Die Babalela-storieboek bevat vier voorheen gepubliseerde Babalela-verhale, naamlik Babalela, Diep, diep in ’n donker bos, Los ons uit! en Ons kan! Die hardebandboek het 136 bladsye en jy verkyk jou aan Andries en Erica Maritz se pragtige illustrasies.

Die lesertjie word in Babalela bekendgestel aan ’n vreemde pers diertjie wat diep, diep in ’n donker bos woon en baie graag slaap. Op ’n dag vang ’n man die Babalela en sit hom in ’n boks en vat hom ver weg van die donker bos. Vreemde mense kyk na die Babalela en wonder wie en wat hy is. Die Babalela raak vies en skree: “Ek is ’n Babalela, los my uit!” Hy vlieg weg en gaan terug na sy geliefde donker bos toe waar hy hoort.

In Diep, diep in ’n donker bos leer die lesertjie vir Knortand en Wrrrumpie ken. Knortand wil haastige Wrrrumpie se pootjies afbyt, want hy word vir alles kwaad en boonop jeuk sy tande. Dié twee baklei alewig met mekaar. Soveel so dat hulle ’n nes Fripperwakkies versteur. Boonop kom Potifant ook nader wat op alles trap omdat hy kyk waar hy trap, maar nie trap waar hy kyk nie. Selfs Meermoskat probeer uitvind wat aangaan dat die bos so in rep en roer is. Wrrrumpie besluit om op ’n avontuur te gaan omdat hy soos die Babalela die wêreld buite die bos wil sien. Die ander diere gaan saam en hulle beland in die stad. Wanneer die Babalela wakker word, besef hy sy bosmaats is weg en dat hy hulle moet gaan soek.

In Los ons uit! wil mense met vangnette en toue die bosdiere kom vang en in bokse sit. Die sirkus sal miljoene rande vir die diere betaal! Dieretuine en museums en ryk mense wil hulle hê. Die diere is vreeslik bang. Wrrrumpie se pootjies het tot geknoop so vinnig het hy getol! Die Babalela moet dadelik aan ’n plan of twee dink om sy maats te red. Die diere werk fluks saam en verdryf die mense uit die bos uit.

In Ons kan! is die heerlike blinkbekbessies wat in die bos groei ryp. Die diere eet tog te lekker aan die blinkbekbessies. Dan hoor hulle iets dreun. Die Babalela gaan stel ondersoek in, maar waarsku die ander diere om nie al die blinkbekbessies op te eet nie. Hulle moet vir hom ook bêre. Die Babalela skrik hom yskoud toe hy ’n reuse stootskraper sien wat die bome omstoot. Hy gaan vertel dadelik die bosdiere van die stootskraper. Die lompe Potifant probeer die stootskraper storm, maar hy val met ’n donderende slag om en kan nie weer regop kom nie. Nou moet die diere plan maak om vir Potifant te red én hulle moet die stootskraper keer. Gaan hulle dit regkry?

Ek het heerlik aan hierdie immergewilde en verbeeldingryke verhale gelees. Die storielyne van die vier verhale is bedrieglik eenvoudig, maar die hope aksie en skitterende dialoog sal enige kinderhart steel. Martie Preller is ’n geliefde en bekroonde skrywer. Maak ’n kinderhartjie bly en skaf Die Babalela-storieboek aan vir sy of haar boekrak.

Martie Preller se Die Babalela-storieboek is by toonaangewende handelaars beskikbaar en kan ook direk by LAPA Uitgewers bestel word by www.lapa.co.za.

Louise Viljoen is ’n vryskutresensent van Jeffreysbaai.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top