Jy kan jou dit vandag beswaarlik voorstel, maar daar was ’n tyd – lank, lank gelede – toe Afrikaans as ’n taal as “armoedig” bestempel is. Nie net van buite die taalgemeenskap nie, maar ook van binne. NP Van Wyk Louw, een van ons voorste digters en denkers, onthou dit in sy opstel “Los gedagtes oor ons taal”.
“In die vroeë dae toe dit nog verlig kon lyk en nuttig kon wees om met Afrikaans te spot, het die spotters – Afrikaner-hoofregters, Engelse koerantskrywers, Hollandse hooggeleerdes – altyd op die ‘armoede’ van ons taal gewys,” vertel hy. Die taal sou in die aansien van hierdie spotters, al daai jare gelede, kwansuis slegs “’n paar honderd woorde” besit. Dit sou boonop, aldus die hogere giftonge, alleen nuttig wees “om die eenvoudigste dinge mee te noem”.
Presies hoe verlig dit die “spotters” laat vertoon het en tot welke mate die spottery vir hulle van nut kon wees, is moeilik bepaalbaar, soveel jare later.
Die opstel is in Desember 1952 geskryf en is in Van Wyk Louw se Versamelde Prosa 1 (Tafelberg, 1986) opgeneem. Teen die tyd dat dit gepen is, het by die agt dekades verloop sedert die “stigtingsdatum” van Afrikaans, geboortedatum van die Genootskap van Regte Afrikaners: 14 Augustus 1875. Ook was dit toe reeds drie dekades nadat Afrikaans in 1925 ’n amptelike taal van die destydse Unie van Suid-Afrika geword het. ’n Mens sou hoop dat die vroeëre opvatting van ’n sekere groep hoofregters, koerantskrywers en hooggeleerdes, sowel as hulle volgelinge, ongetwyfeld verander het.
Die taal sou tog nie ’n amptelike taal kon word – en dit aanhou bly wees selfs nadat die politieke gety ’n demokratiese koers ingeslaan het – met ’n woordeskat van ’n paar honderd woorde en die onvermoë om komplekse dinge “mee te noem” nie. Nou word daar reeds planne deur die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) en ander taalrolspelers beraam om drie jaar van nou af (in 2025) die eeufeesviering van Afrikaans as ’n amptelike taal te gedenk.
Dit is ’n geleentheid om na uit te sien, spesifiek in die aangesig van wat dikwels as ’n doelgerigte aanslag op die taal uit bepaalde ANC-regeringsgeledere voorkom. Nadat die minister van sport, kuns en kultuur se onlangse bevlieging dat die ATM ’n naamsverandering moet ondergaan, teen die hek geduik het, is daar steeds ’n ander, groter truuk, naamlik dat die ATM uiteindelik met ander instellings sal saamsmelt onder die vaandel van ’n “taal- en biblioteke-vlagskip[projek]”.
Tot dan, soos hulle in die Kaap sê, “kap ôs an”: beur vorentoe, bou voort, hou koers.
Die afguns wat ’n mens jeens Afrikaans bespeur, het immers te doen met die werk wat oor generasies heen gedoen is om die taal te bou, versterk, vernaam te maak in die geselskap van ander, vroeër ontwikkelde tale die wêreld oor. Geen ander inheemse, Afrika-taal kan vandag kers vashou by Afrikaans nie – en om die taal van sy inheemse status te wil beroof oor Nederlands deel van sy oorsprong is, spreek tog van oningeligtheid of afguns. Of – en dalk is dit die waarskynlikste rede – politieke opportunisme.
Die spotters van vervloë dae is nou linksgesinde, polities korrekte en gedienstige hoofregters, koerantskywers en hooggeleerdes. Maar hulle kan nie, soos die spotters in Van Wyk Louw se opstel, die taal beskinder op grond van sy veronderstelde “armoede” nie; inteendeel, dit is nou dalk eerder die “rykdom” van die taal wat maak dat daar negatief daarna verwys word.
Ons het natuurlik steeds onder ons diegene wat die taal deur blatante rassisme, agterlikheid, onbeleefdheid ’n slegte naam gee. Dit is egter ’n minderheid. Die meerderheid sprekers van die taal wil dit ’n vriendelike taal maak, ’n handevat-taal, ’n toekomsgerigte taal; en wat beter as die bewyse, bekers en borde tot oorlopens toe vol daarvan in elke vakgebied – wetenskaplik, kultureel en andersins – oor hoe Afrikaans sy eie woordeskat ontwikkel het. Ook nie slegs op dié gebiede nie, maar spesifiek ook wat die omskakeling van kundigheid en kennis in monetêre voordeel betref – sy dit betaaltelevisie, aanlyn ekonomie, tegnologiese vooruitvoerdery en welke ander nuwe geleentheid ’n verskyning maak.
En wie sing nie saam nie as Bok van Blerk, wat gewildheid verwerf het met sy treffer “De la Rey”, nou wegtrek met sy nuutste treffer: “En ons skree / Wys my jou ...” nie. Jy hoef nie van die lirieke te hou nie en dit sal nie verbaas as daar ’n seksistiese streep daarin bespeur word nie, maar dit skyn nie wit of bruin aanhangers te veel te skeel nie.
Terwyl die klanke van Afrikaans se vooruitgang oor die afgelope byna honderd jaar sedert dit amptelike status verwerf het, egter oor die eter gehoor kan word, in flieks gesien word, in boeke gelees word, en weergalm in stedelike en landelike gebiede, binne residensiële paleise en krotbuurtpondokke, hang daar, byna onhoorbaar uitgedoof, die agtergrondsang en -musiek oor die ekonomie van Afrikaans.
Dit is ’n tema wat normaalweg amper oombliklik tot ongemak lei, omdat dit vir sommige (onnodiglik) as vingerwysend voorkom, maar dit sal nie verdwyn totdat ons dit behoorlik gehanteer het nie. Die vraag is of ál Afrikaans se sprekers – en veral dan die meerderheid bruin sprekers – voordeel uit die ekonomiese krag van die taal trek?
Of bly hulle staan, soos koddige mensekapitaal, in die sopkombuisrye van die taal, wagtend, hoed in die hand, gebukkend, op rantsoene wat in plastiekbakkies en -bekers aan hulle opgedis word, net genoeg om die honger tot die volgende etensuur te stil?
Die taal, waarvan daar lank nie meer op sy “armoede” gewys kan word nie, is moreel verplig om sy rykdom voldoende en volhoubaar te deel. Wat het julle, het Jesus sy dissipels in Matteus gevra, wat hulle kan eet? Wat het ek, moet Afrikaanssprekendes hulself gedurig afvra, wat ons taalgenote kan nuttig?
Lees ook:
Is alles oraait byrie hys?: ’n Onderhoud met die stigter van Vannie Kaap


Kommentaar
Ek het Afrikaans grootgeword. En ook daarmee oud geword. Ek vind dit erg ontstellend dat ons steeds na al die jare so negatief skryf en dink oor ons taal.
Afrikaans is nie net die taal van die sogenaamde onderdrukkers nie. Die ontwikkelingsgeskiedenis van Afrikaans weerspreek dit. Miljoene mense van verskillende bevolkingsgroepe praat Afrikaans. Ek het nie ’n probleem om na Engels oor te slaan as iemand nie die taal kan of wil praat nie. Dit laat my beter voel as hulle [na Engels oorslaan].
En in elk geval kan ek dalk ook nie eers hulle taal praat nie.
Afrikaans as taal gaan nie verdwyn nie; veral nie as so baie van ons aanhou om dit te praat en gebruik nie.
Ek is nie skaam vir my taal nie. En ek is ook trots daarop dat ek perfekte Engels kan praat, lees en skryf.
Dit is ’n taal wat uit verskeie ander tale ontwikkel het, wat deur mense hier aangebring is nes deur die oorspronklike setlaars.
My taal is nie dié van ’n bedelaar nie.
Lewend, veerkragtig, dienlik!