Die Arch – ’n persoonlike huldeblyk

  • 0

Tutu het ure elke dag ure aan gebed gewy. (Foto: Celeste Reynolds)

Desmond Mpilo Tutu was alom bekend as die Arch, maar in die meer intieme binnekring het hy bekend gestaan as Father. Vir my en soveel ander was hy ’n ware vaderfiguur en rolmodel.

Sy onwrikbare toewyding tot die bevordering van vrede en gelyke regte, nie net vir Suid-Afrika nie maar wêreldwyd, sal my altyd bybly.

Sy hart en gees vir omgee was onmeetbaar groot. Dié wat wel die voorreg gehad het om hom persoonlik te ontmoet, om deel te kon wees van sy teenwoordigheid, sal die besondere gevoel vir altyd onthou.

Een en twintig jaar gelede was ek verwagtend toe die Desmond Tutu Legendary Award aan my toegeken is. Hy het sy hand op my maag gesit.

By die ontvangs van my D

By die ontvangs van my D was hy daar en het hy my hand gesoen.

Vier maande later het die Arch my hand kom vashou met die afsterwe van my geliefde seun Adam. In my donkerste uur was hy daar vir my.

Ons paaie

Gedurende 1986 het ek die Arch as studenteaktivis by UWK ontmoet.

1986, Tutu saam met Ansoc, UWK

Ek was deel van die Anglikaanse Studentevereniging (Ansoc). Van meet af was daar ’n besondere band wat ons gebind het: Beide van ons het as kinders polio opgedoen.

In 2016 het ’n besonderse eer my te beurt geval. Die Arch wou rustiger word en hy het my gevra om hom as voorsitter van die Desmond & Leah Tutu Stigting op te volg. Hy was lief vir kinders. Die stigting het dit moontlik gemaak om jeuguitreikprogramme te loods om jongmense te bemagtig, maar het veral gefokus op programme vir die bemagtiging van persone met gestremdhede.

Die Arch en mama Leah by die Artscape Humanity Festival

Die Arch en mama Leah was ook die stemme agter die totstandkoming van die Artscape Humanity Festival, wat in 2021 reeds ’n 15de bestaansjaar gevier het.

Die mens

Aartsbiskop Desmond Mpilo Tutu is op 7 Oktober 1931 in Klerksdorp gebore en is Sondag 26 Desember 2021 in die ouderdom van 90 jaar oorlede.

Die Arch was kort in gestalte, maar as ’n teenwoordigheid was hy groter as groot, met ’n skerp neus en ’n besonder fyn humorsin.

Hy wou aanvanklik medies studeer, maar het nie oor die nodige fondse beskik nie en het toe besluit om ’n onderwyser te word. ’n Paar jaar later het hy egter besluit om as priester opgelei te word. Maar alhoewel hy nie deel van die onderwyssektor geword het nie, het hy een van die grootste onderwysers van die wêreld geword, verskeie tale gepraat, en was hy diep belese oor die uitdagings en vraagstukke van ons daaglikse lewe.

As kind het hy polio opgedoen wat sy hande aangetas het en gevolglik moes hy met sy linkerhand leer skryf. Daarna het hy tuberkulose opgedoen en dit oorleef. Hy het tong-in-die-kies ook gesê dat hy selfs apartheid oorleef het, al is hy as die Nasionale Party se nommer 1-vyand uitgekryt. Herhaaldelik het hy sy lewe op die spel geplaas in ’n baie onstabiele tydperk in Suid-Afrika se geskiedenis.

Vir meer as twee dekades het hy ook ‘n stryd teen prostaatkanker gevoer.

Nalatenskap

Praat ’n mens oor nalatenskap, is dit byna ondenkbaar dat een persoon soveel vermag het, soveel erkenning ontvang het en soveel moontlike kwessies van die mensdom aangespreek het en met tye vurig ondersteun het.

Tutu was nie blind vir ander se foute en tekortkominge nie en het dit met tugtiging uitgewys, maar sy fokus was op versoening en die strewe na vrede. Die Arch se verslag oor die WVK bevat talle aanbevelings wat nooit uitgevoer is nie. Dalk is dit tyd dat ons sy denke implementeer.

Welbelese, ingelig en op hoogte van alles om hom, het hy ure elke dag aan gebed gewy.

Hy het soveel gegee in terme van sy tyd, sy wysheid, sy gebede, en sy vrede, maar hy was ook lief daarvoor om mense met blomme te bederf en ruikers te stuur vir verjaarsdae en politieke aanstellings. Ek het verstom gestaan oor hierdie voorbeeld van iemand wat net aanhou gee.

Hy het nooit nee gesê vir enige versoek vir ’n voorwoord of ’n foto of om ’n organisasie of saak met goeie rede te ondersteun en te bevorder nie.

Ons in Suid-Afrika kan nie waarlik die impak van die Arch verstaan nie, want ons ken hom hoofsaaklik weens sy politieke leierskap, maar hy was ook daadwerklik betrokke by die inisiatiewe en bewussynsveldtogte rakende MIV/Vigs, polio en TB.

Die Tygerberg Kinderhospitaaltrust vier Tutu se 90ste verjaarsdag

Tutu was ook die beskermheer van die Tygerberg Kinderhospitaaltrust, waarvan ek tans ’n trustee is.

Die Arch het deur die loop van sy lewe verskeie wêreldleiers, geestelike leiers, koninklikes, sportsterre, sangers, kunstenaars en soveel ander ontmoet. Hy het elke liewe persoon met dieselfde respek, hartlikheid, gemoedelikheid, humor en vredeliewendheid hanteer, ongeag hulle titel, prestasies of sukses. Almal is as gelykes behandel.

The book of joy het die Arch saam met die Dalai Lama geskryf.

Die Arch het altesaam meer as 780 toekennings en eerbewyse gedurende sy leeftyd ontvang, waarvan meer as 144 eredoktorsgrade en 107 medaljes was. Die erkennings kom van letterlik die ganse wêreld.

Hy het nooit werklik afgetree nie, maar het wel, herhaaldelik, in die openbaar aangekondig dat hy gaan aftree. Tog was hy maar tot onlangs ’n kampvegter vir die stryd teen die koronavirus en het hy ook sy stem in die munisipale verkiesing uitgebring.

Deur al die jare was ’n stem vir die stemloses in die gaygemeenskap.

Gaan besoek ’n mens die Nobelplein by die V&A Waterfront, sien mens daar bronsbeelde van die vier Nobelpryswenners van Suid-Afrika: Oliver Tambo, Desmond Tutu, FW de Klerk en Nelson Mandela. Die Arch was tot Kersdag die enigste oorlewende van hulle. Die lewende monument is in vlees nie meer nie.

Sy stem vir rede en deernis is weg. Ons as Afrikaanssprekende gemeenskap moet nou saamstaan en sy nalatenskap eer.

Siklus

Oor die lewe en dood het Tutu die volgende gesê: “You get born, you live your life and then you die, the circle of life.”

Mense is almal gelyk; niemand is onsterflik nie.

Ons kan net dankbaar wees dat Suid-Afrika die voorreg van Desmond Tutu as seëning ontvang het.

Die grondslag is gelê vir ’n demokratiese Suid-Afrika. Elkeen van ons kan sy nalatenskap laat voortleef deur elke dag met aandag te luister, meer van mekaar te leer, respek vir verskillende tale en kulture te betoon, die minste te wees, eerlik en opreg te leef en aan ons ego geen bestaansreg te gee nie.

Tutu se omgee en betrokkenheid by sosio-ekonomiese vraagstukke, ook die strewe na gelyke regte, was die kern van sy bestaan, die daadwerklike uitleef van ubuntu.

Hy het die wenstreep bereik

“Ek het die goeie wedloop afgelê; ek het die wenstreep bereik; ek het gelowig enduit volgehou. Nou wag die oorwinnaarskroon vir my, die lewe by God.” 2 Tim 4:7 (OAV)

Arch, jou voetspore is diep. Dat ons jou verloor het, laat ’n groot leemte en ons harte ongelooflik seer, maar ons gun jou die rus by jou Hemelse Vader.

 

  • Alle foto’s verskaf
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top