Die Anglo-Boereoorlog in kleur, volume II deur Tinus le Roux: ’n resensie

  • 2

Titel: Die Anglo-Boereoorlog in kleur, volume II: Guerrillaoorlog
Skrywer: Tinus le Roux
Uitgewer: Protea Boekhuis
ISBN: 9781485315902

........
Die ou wysheid sê om nie ’n boek op sy omslag te takseer nie. Maar die trefkrag van Tinus le Roux se tweede aflewering van Die Anglo-Boereoorlog in kleur se voorblad weerklink bladsy na bladsy binne-in die boek.
........

Die ou wysheid sê om nie ’n boek op sy omslag te takseer nie. Maar die trefkrag van Tinus le Roux se tweede aflewering van Die Anglo-Boereoorlog in kleur se voorblad weerklink bladsy na bladsy binne-in die boek. Dis ’n boek wat soos ’n glanstydskrif met die duim van agter af deurgeflik wil word. Grepe van guerrillaoorlogvoering, verskroeide plase, konsentrasiekampe en Boerekrygsgevangenes tydens die Anglo-Boereoorlog (oftewel Suid-Afrikaanse Oorlog) (1899–1902) flits mens verby tot een van die volkleur foto’s aandag trek vir ’n dieper en langer ondersoek. Le Roux se noukeurige digitale inkleuring van foto’s wat tot dusver net swart-en-wit of sepia was, is indrukwekkend en die foto’s vra om opnuut van nader bekyk te word. Die dimensies en detail van die foto’s verdiep, terwyl die historiese afstand tussen toe en nou al hoe minder voel.

........
Grepe van guerrillaoorlogvoering, verskroeide plase, konsentrasiekampe en Boerekrygsgevangenes tydens die Anglo-Boereoorlog (oftewel Suid-Afrikaanse Oorlog) (1899–1902) flits mens verby tot een van die volkleur foto’s aandag trek vir ’n dieper en langer ondersoek. Le Roux se noukeurige digitale inkleuring van foto’s wat tot dusver net swart-en-wit of sepia was, is indrukwekkend en die foto’s vra om opnuut van nader bekyk te word. Die dimensies en detail van die foto’s verdiep, terwyl die historiese afstand tussen toe en nou al hoe minder voel.
.........

Met hierdie tweede volume vestig Le Roux homself in die bruisende genre van digitaal ingekleurde historiese foto’s. Hierdie tegniek is nie nuut nie, maar die genre het oor die afgelope paar jaar veral aanlyn groot aanhang ontwikkel. Op die sosialemediaplatform Reddit byvoorbeeld pronk r/Colorizatation, ’n blad toegewy aan die inkleur van swart-en-wit historiese foto’s, met vier miljoen lede, wat dit binne die top 1% van die platform se selfgereguleerde aanlyn gemeenskappe plaas. Le Roux self is aan die stuur van die populêre Facebook-blad Boer War Colourised Photographs waar hy reeds van 2014 sy werke met ’n stewige 44 000 aanhangers deel.

Hoe is dit dan dat die foto’s wat aanlyn beskikbaar is, in boekvorm moet uitkom?

Wel, daar word berig dat die eerste volume van Die Anglo-Boereoorlog in kleur, in 2022 deur Jonathan Ball uitgegee, ’n allemintige 15 000 kopieë verkoop het. Daar is dus geen twyfel oor die gewildheid van die genre nie. Belangriker nog blyk dit dat daar ’n sterk vraag na digitaal ingekleurde foto’s van spesifiek die Suid-Afrikaanse Oorlog is. G’n wonder Protea Boekhuis, met hulle reputasie vir goeie historiese publikasies, het gespring om die tweede volume onder sy vaandel te publiseer nie.

Die Anglo-Boereoorlog in kleur, Volume II: Guerrillaoorlog, 1900–1902 sit die fotoverhaal voort van waar sy voorganger opgehou het. Na die Britse oorname van die Republieke se hoofstede het die fase van konvensionele oorlogvoering, wat in volume I gedek is, tot ’n einde gekom. Die Boeremagte het daarna oorgeskakel na guerrillataktiek om hulle spoed en veldkennis teen die Britse oormag te gebruik. In die eerste album van die boek volg die kameras die Boeremagte soos hulle die nuwe fase van guerrillaoorlogvoering aanpak, waarna die Britse magte op die spoor van die vyand ten toon gestel word. Die Britte het vinnig teruggekap met ’n genadelose verskroeideaardebeleid en die instelling van konsentrasiekampe om die Boeremagte te knak. Dié verliese en verdrukking in al sy gedaantes word in album drie gedek. In album vier kry mens ’n blik op die lewens van Boerekrygsgevangenes wat deur die Britte vasgetrek is. Album vyf wys die vredemakers aan die einde van die konflik, waarna die laaste album ’n kort blik gee op die borrelende nasionalisme in die nadraai van die oorlog. Om enkele hoogtepunte hier uit te sonder doen die leser ’n onguns aan. Elke bladsy trek aandag – van die detail op die foto’s tot die groter verhaal wat visueel voor mens in sy geheel afspeel. Dis elke leser se voorreg om self hierdeur verras te word. Nes die eerste volume, is dit ’n netjies en afgeronde boek. Kenners oor die oorlog is ingespan om Le Roux te begelei met korrekte onderskrifte, en voorafgaande oorsig van die guerrillaoorlog oriënteer die leser volledig.

Een probleem met so ’n boek is dat ons nie ’n gevestigde tradisie of direk vergelykbare boeke in hierdie genre in Suid-Afrika het nie. Dan is daar ook die realiteit dat ’n fotoboek hoofsaaklik bestaan uit foto’s met byskrifte, wat ’n mooi en maklike boek daarstel om op te tel en deur te blaai, maar dit moeilik maak om werklik krities daarmee om te gaan. Maar, blaai ek weer en weer daardeur, kom daar twee kwessies by my op: Is ons hier besig met ’n betroubare genre in die veld van geskiedenis, en wat is die werklike doel van so ’n publikasie?

........
Dan is daar ook die realiteit dat ’n fotoboek hoofsaaklik bestaan uit foto’s met byskrifte, wat ’n mooi en maklike boek daarstel om op te tel en deur te blaai, maar dit moeilik maak om werklik krities daarmee om te gaan. Maar, blaai ek weer en weer daardeur, kom daar twee kwessies by my op: Is ons hier besig met ’n betroubare genre in die veld van geskiedenis, en wat is die werklike doel van so ’n publikasie?
........

*

Die ure se werk om die fynste besonderhede van elke foto noukeurig in te kleur is werklik merkwaardig. En ek wil my verstout om te sê dat dit vir my leke-oog lyk of Le Roux se tegniek met die tweede volume verskerp het. Soos hy in die eerste volume verduidelik, verg dit deeglike navorsing om die kleure van die klere, en skakerings van die landskappe, so na as moontlik te kry aan hoe dit werklik was. Hierdie navorsing, is, soos enige navorsing, nie vanselfsprekend nie, en die tegniek is, soos enige metode, nie neutraal nie. Toepassing van hierdie navorsing kom neer op ’n interpretasie, en nie ’n ware uitbeelding van wat op film vasgevang is nie. ’n Rits besluite is geneem, maar die besluite is nie vir die leser duidelik soos met die ’n tradisionele geskiedenisboek nie. Ons kan bloot net vertrou dat die foto’s so getrou as moontlik gehou is tydens die inkleuring. Want deur digitiaal in te kleur verander mens ’n primêre bron. Mens wonder dan tot watter mate daar aan hierdie bronne getimmer is in die proses. Ons kan maar net vertrou dat daar net ’n laag kleur oorgeplaas is. Maar dan begin twyfel inskop as mens die oorspronklike foto, soos geplaas in ’n resensie van die boek in Rapport, neffens die ingekleurde foto sien. Kyk mens na die horison en die linkerkantste buitemuur van die brandende plaashuis, lyk dit of die foto effens reggeruk is.

Foto (links) uit die boek en die oorspronklike foto (regs). Verduideliking soos in die paragraaf hierbo.

Dit lyk of digitale inkleuring die restourasie van ou foto’s insluit, waar aansienlike veranderinge aan die voorkoms van ’n fotografiese beeld eerder as die inhoud van die beeld aangebring word deur tekens van slytasie of skade te verwyder. Hier word blinde vertroue die inkleurder se enigste bate. En veral omdat hierdie genre ’n relatiewe nuutjie in die Suid-Afrikaanse milieu is, kan lesers maklik so gaande raak oor die nuutgevonde nabyheid aan die verlede dat ons blindelings kan aanneem dat hierdie veranderings neutraal en korrek is. Dit was die geval in 2021 toe die Ierse fotograaf en digitale-inkleuringskunstenaar Matt Loughrey uitgevang is dat hy die gesigsuitdrukkings op ingekleurde foto’s van vermoorde Kambodjaanse bandiete verander het. Daarna is hy verder ontbloot vir sy manipulasie van foto’s van Australiese vrouens wat tussen 1910 en 1930 deur Nieu-Suid-Wallis se polisiedepartement geneem is. Loughrey het sy werk verdedig en ontken dat hy besig is om geskiedenis te vervals, maar sy webwerf en sosialemediakanale is sedertdien gesluit. In reaksie op hierdie kontroversie, en om ’n mate van legitimiteit aan die kunsvorm te bied, het die Britse inkleurkunstenaar Jordan Lloyd die Colorizer’s code of Conduct opgestel wat deur ’n rits inkleurders onderteken is. Dat Le Roux nie hierdie kode onderteken het nie, impliseer natuurlik nie dat hy outomaties buite die lyne inkleur nie. Maar Die Anglo-Boereoorlog in kleur maak staat op die leser se vertroue dat die foto’s net ingekleur, en nie gemanipuleer is nie.

As die leser meer wil weet oor Le Roux se inkleurproses sal hulle moet verwys na die agterkant van die eerste volume, waar hy kortliks daaroor skryf. Hierin verduidelik hy die navorsing wat dit verg om kleure vir landskappe, plantegroei, grond, rotse, berge, uniforms, wapens en militêre toerusting so na aan die werklikheid as moontlik reg te kry. En met die deurblaai van die boek kom hierdie harde werk duidelik na vore. ’n Aspek wat wel onaangespreek bly, is hoe daar met velkleur omgegaan word. Dis natuurlik onmoontlik om werklik vas te stel hoe die skakerings verskil op ’n swart-en-wit foto. Dit gesê, is die wit gesigte in hierdie boek hoofsaaklik dieselfde skakering van leliewit. ’n Historikus van visuele kultuur, Christina Riggs, een van die min akademici wat die digitale inkleuring onder die loep geneem het, bevind dat daar voorkeur aan die witter skakerings in die inkleuringsproses gegee word. Sy meen dat hierdie verwitting van ligte velle ten doel het om kontras met donker velle te verdiep en daarmee vooropgestelde rasseverskille te beklemtoon. Riggs se klem hier is dalk te kras, maar haar punt dat inkleurders nie genoegsaam met die tameletjies van velkleur in hulle proses omgaan nie, is belangrik. Sy wys daarop dat die fotografiese tegnologie en prosesse agter die meeste van die historiese foto’s wat gebruik word, ’n voorkeur vir wit velkleur gehad het, en dat dit ’n invloed op die moderne inkleurproses het. Enkele inkleurders het al in die openbaar hierna verwys. In haar hantering van foto’s van Brasiliaanse slawe beskryf Marina Amaral die uitdaging om swart velle in te kleur wat afgeneem is in ’n foto-opset wat vir wit velle gerat is. Op sy beurt het Lloyd in verband met sy werk oor die Amerikaanse Burgerregtebeweging kommentaar gelewer oor die kompleksiteit van velkleur wanneer dit by digitale inkleuring kom. ’n Besinning oor hierdie kompleksiteite sou lesers van Die Anglo-Boereoorlog in kleur gerusstel dat Le Roux bewus is van die slaggate in dié verband. In die lig hiervan sou die skreiende kontras op ’n foto op bladsy 160 tussen die wit vrou wat op die voorgrond sit en die swart vrou wat skuins in haar skadu is, dalk anders hanteer word.

Hierdie is ’n baie spesifieke punt oor hoe tegniek ou idees oor rasseverskille, soos Riggs uitwys, kan versterk. ’n Meer algemene kwessie in dié verband is hoe die fotosamestelling die ou mite van die konflik as ’n witmansoorlog versterk. Al word daar in ’n enkele byskrif melding gemaak van swart Afrikane wat in konsentrasiekampe aangehou was, word dit nie in die komposisie van die foto’s weerspieël nie. Le Roux verkies om meer bladruimte aan perde as aan swart mense toe te staan.

........
Dit bring my by ’n tweede groot vraag rondom die boek: sy samestelling.
........

Dit bring my by ’n tweede groot vraag rondom die boek: sy samestelling. Foto’s is uit amptelike argiewe, soos dié by die Oorlogmuseum van die Boererepublieke, en persoonlike versamelings uit Suid-Afrika en oorsee verkry. Tussendeur is daar bekende foto’s uit die oorlog, maar dit is meestal nuwe materiaal wat Le Roux gekies en gekeur het vir hierdie volume. In dié opsig bied die boek iets nuut, maar terselfdertyd is daar as ’n voorstelling van die oorlog niks vars aan hierdie voorstelling nie. Om die waarheid te sê bevestig dit juis ’n dominante narratief van ’n witmansoorlog, waarin Boeresmart gesentreer word. Sou Le Roux onomwonde sy invalshoek so gestel het in dié verband, was daar geen probleem nie, maar die leser word nêrens ingelig oor hoe die foto’s gekies is nie. Daar is dus ’n vanselfsprekendheid dat hierdie versameling neutraal en holisties benader is. Die leser, en belangriker, ander navorsers, mis bronverwysings na die foto’s wat gebruik word. Le Roux maak in sy inleiding melding van die persone wat aan hom foto’s toevertrou het, maar anders as geskiedenisboeke is daar geen verwysings, nie eens effense leidrade nie, na waar die spesifieke foto’s opgespoor kan word nie. Hierdie leemtes help nie om vertroue in te boesem nie.

*

In Karel Schoeman se Verliesfontein reis ’n fotograaf, Eddie, en ’n historikus saam na die verlede. Op reis bepeins die historikus dat Eddie se foto’s dit gaan wees wat sy navorsing gaan oorskadu:

Oor hierdie vlak veld het die kommando beweeg, dink hy weer, en kan hulle in die vaalheid sien met die stof wat onder die perde se pote opwaai, dog wat kan die kamera, sonder geheue, verbeelding of gevoel hier vind, ten spyte van al Eddie se tegniese vernuf? ’n Arbitrêre verdeling van die landskap in twee dooie horisontale vlakke, blou lug en vaal aarde, in twee arbitrêre helftes weerskante van die pad: dit is al wat bestendig kan word. Die hitte, die stof, die gloed van hout of metaal teen die hand, die sweet in die oë en stof in die keel, die gefluit van koeëls, koeëls wat kets teen die klippe, en skielike dood, dit kan op geen film of foto vasgelê word nie. Die bloed in die oë, die bloed wat gorrel in die keel. Niemand sal ooit weet nie.

Ons leef in ’n visuele kultuur waar die historikus heel waarskynlik korrek is oor Eddie se foto’s. En hier, met Le Roux se werk, het ons nie net met die fotokuns te make nie, maar met die nuutjie van digitaal ingekleurde foto’s wat beloof om ons nader aan die geskiedenis te bring. En dis tog waar dat die verlede hier amper tasbaar vóél. Maar of dit dit in werklikheid doen, is ’n dieper vraag. Die boek is deur Protea onder “Geskiedenis” gekatalogiseer. Die leemtes wat hier bo uitgewys word, maak dit moeilik om die boek volgens hierdie kategorie te beoordeel. Historici spandeer jare aan deeglike navorsing, wat Le Roux ook hier gedoen het, maar doen dan drie dinge daarmee: Vertel die leser hoe hierdie navorsing gedoen is (metodologie); verduidelik die invalshoek van hulle interpretasie (historiografie); en stel die navorsing so voor dat die leser die bronne self ook kan nagaan met bronverwysings.

........
Historici spandeer jare aan deeglike navorsing, wat Le Roux ook hier gedoen het, maar doen dan drie dinge daarmee: Vertel die leser hoe hierdie navorsing gedoen is (metodologie); verduidelik die invalshoek van hulle interpretasie (historiografie); en stel die navorsing so voor dat die leser die bronne self ook kan nagaan met bronverwysings.
.........

Hiervolgens kom Die Anglo-Boereoorlog in kleur nie die mas op nie. En lesers sal hierop moet let. Die boek wat hulle vashou, is nie ’n kritiese omgang met die verlede nie, maar ’n weerspieëling van dominante narratiewe, maar net in kleur. Daarom slaag dit as ’n verbruikersitem. En hierin lê die ongemaklike waarheid dat daar ’n groot mark is om traumatiese episodes uit die verlede te “geniet”, soos Le Roux sy lesers aanmaan. Wys die populariteit van volume I, en die verwagte sukses van sy opvolger, dat die Suid-Afrikaanse Oorlog nou as verbruikersvriendelik, eerder as traumaties en tragies beskou word?

Lees ook:

Die Anglo-Boereoorlog in kleur deur Tinus le Roux: Foto’s en nuwe waarheid

Pasverskyn: Die Anglo-Boereoorlog in kleur, volume II deur Tinus le Roux

 

  • 2

Kommentaar

  • Ek stem grootliks saam. Die boek dui aan dit fokus op die latere fases van die oorlog, ek sou dan baie meer vroue, kinders en swart mense verwag het. Selfs dalk vroue op die voorblad. Juis.

  • Luan Staphorst

    Die "Colorizer's Code of Conduct" is 'n omstrede, vir party selfs nuttelose, "beleidsdokument." Soos Christina Riggs, 'n leidende visuele historikus, dit stel: "It is vague (‘Don’t be evil’) and unenforceable, with tenets such as agreeing ‘to implicitly acknowledge’ colourised photographs ‘as a derivative work’ (Lloyd 2021)" (Riggs 2025: 59).

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top