Die Anglo-Boereoorlog in kleur deur Tinus le Roux: Foto’s en nuwe waarheid

  • 0

Die Anglo-Boereoorlog in kleur
Tinus le Roux

Uitgewer: Jonathan Ball
ISBN: 9781776191772

..........
Op bladsy 68 van Tinus le Roux se meesleurende boek pronk ’n jongman, elegant, lyflik, en met net ’n trekkie om sy mond kyk hy jou diep, reguit in die oë. Dis daardie soort kyk wat jou in jou spore laat vassteek. Hy anker jou. Met sy hoed, das, onderbaadjie en blink horlosieketting kon hy van ’n modeverhoog af gestap het. Maar die bandolier en splinternuwe Mauser vertel ’n ander storie. Hy is van ’n eeu of meer gelede, maar die figuur op die blad gee jou ’n emosionele en intellektuele rilling: ’n spook wat in die hede aandag opeis.
............

Wetenskaplikes wat in die 19de eeu die eerste foto’s gemaak het, het waarskynlik die resultate met ’n alchemistiese vreugde gade geslaan.

Wat sou die Fransman Joseph Niépce in 1826 gedink het van die beeld wat hy op die bitumenlaag in sy camera obscura vasgevang het? Die prent, “Die uitsig van die venster” van die tweede verdieping van sy gesinswoning in Le Gras, word meesal as die eerste foto beskou. Was die beeld ’n misterieuse fantoom of die werklike toneel voor hom of bloot ’n afbeelding van daardie toneel – wat uiteraard binne sekondes alreeds verander het na hy die knoppie gedruk het?

Hierdie vrae is sedert daardie wetenskaplik avontuurlike jare steeds vrae wat filosowe en kunsmense besig hou. Essensieel gaan dit om tyd. ’n Foto vang ’n presiese oomblik vas. Alles daarna en vooraf is anders of verander. Wat is die waarheid?

.............

Dan is daar natuurlik die moontlikheid om daardie beeld te manipuleer. In die ou donkerkamer kon knap fotograwe baie dinge beter laat voorkom, duideliker, meer dramaties. In die moderne rekenaartegnologie kan selfs die mees gesofistikeerde valsnuusbeelding gemaak word. Ironies genoeg beklemtoon sosiale media soos Instagram die oomblik, die spoed van die foto se tydsduur.

Reeds in die jare sewentig het die bekende Amerikaanse kommentator Susan Sontag in haar unieke reeks essays oor fotografie gewys op hoe belangrik daardie oomblik vir die leeftyd van die prent is. Die foto, het sy geskryf, maak in die beeldewêreld aanspraak om ons almal te oorleef.

In Tinus le Roux se boek het hulle nie net oorleef nie, maar opgestaan. Le Roux se boek opper opnuut daardie vraag oor die foto se waarheid. Deur gesofistikeerde, voortreflik nagevorste kleurtegnologie het Le Roux die ou letterlik en figuurlik verbleikte foto’s ’n polsslag gegee. In sekere opsigte is dit inderdaad nuwe foto’s, nuwe waarheid.

Daardie opstanding van die Boereoorlog-spoke herinner ons nie net dinamies aan ’n ander tyd, ’n geskiedenis met ander kwellinge en politiek, nie (die bygaande teks is netjies en helder), maar uiteindelik aan tragedie, aan sterfte, verganklikheid, aan wat optimisties was en verbygaan. Ons wis nie of daardie mooi kêrel, so selfversekerd, baie langer sy jong lewe gelei het nie. Maar hier is hy.

Le Roux karteer die aanvang van die Anglo-Boereoorlog met ’n verbasende reeks foto’s (die hoe en waarom kan ’n baie lang opstel wees) – sommige bekend en ander nie, en met sy toegewyde inkleurwerk word omgewing en karakters rolspelers in die hier en nou.

Dis ’n merkwaardige ervaring om jou oë oor hierdie beelde te gooi. Hy onthul die menslike. Deur die presiesheid van die inkleurwerk, van die delikate skakering, die tonale lig en donker, sien ons detail raak wat elke figuur ’n persoonlikheid maak – ’n lewende wese in omstandighede en omgewings wat nie net historiese dekor is nie.

In 2018 het die Australiese rolprentmaker Peter Jackson ingekleurde film uit dokumentêre knipsels van die Eerste Wêreldoorlog saamgestel en dit met wonderlike sensitiwiteit They shall not grow old genoem. Hy het verduidelik: “I wanted to reach through the fog of time and pull these men into the modern world, so they can regain their humanity once more …”

In ’n essay oor oorlogfotografie skryf die kommentator John Berger dekades gelede hoe die foto as bewys instaan vir die toestand van die menslike (“human condition” in die filosofiese sin). “It accuses nobody and everybody” (Photographs of agony, 1972 ).

Tinus le Roux se kuns en vlyt (wat anders is opstanding?) met hierdie boek (alle eer ook aan Jonathan Ball) bring met elektriese helderheid ons weer voor ons menslikheid en waarheid te staan.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.

Top