|
||||||||||
Inleiding
Die geykte siening van die bondgenootskap tussen die ANC/SAKP en die Sowjetunie is dat dit ’n geleentheidshuwelik was, sonder ideologiese affiniteit. In haar biografie van Oliver Tambo skryf die Marxistiese historikus Luli Callinicos byvoorbeeld dat Tambo altyd sy onafhanklikheid teenoor die Sowjetunie bewaar het. Haar bewysmateriaal kom egter slegs neer op ’n uitspraak van pres. Julius Nyerere van Tanzanië.1 Ook die skrywer Nadine Gordimer en Nelson Mandela se biograaf, Anthony Sampson, skryf: “To compare the black South African Communists with the Moscow apparatchiks has always been misleading.”2 Max du Preez meen dat die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party "nie sommer so gelyk gestel kan word aan die verfoeilikhede van Stalin of die vergrype van opeenvolgende Moskou-regimes nie”.3 En as ’n mens Wladimir Sjoebin kan glo, het die USSR die ANC/SAKP uit suiwer idealistiese en altruïstiese motiewe gesteun, bloot omdat die land sulke fantastiese mense gehad het.4
Eintlik is die verhouding tussen die ANC/SAKP en die Sowjetunie, verbasend genoeg, nog nooit behoorlik nagevors nie. Dié beskouing is, sover bekend, die eerste poging om dit op grond van die ANC/SAKP se eie openbare uitsprake te analiseer. Dit is hoofsaaklik gebaseer op die bondgenootskap se eie publikasies, te wete Sechaba, Mayibuye (ANC), Dawn (MK), The African Communist en Umsebenzi (SAKP).
Wat die SAKP betref, het Jeremy Cronin, een van die party se latere voorste lede, heel eerlik daarop gewys dat dit nie die volle waarheid sou wees om te beweer dat sy party in die apartheidstyd “[was] itself a victim of the gulag, and not the master of the gulag”. Hy het daarop vervolg:
[T]here was also a solidarity and complicity between the ‘communism of the south’ and the ‘communism of the east’ – and that has to be unravelled, confronted honestly, responsibilities must be assumed, lessons learned.5
Dít is waaroor hierdie beskouing gaan.
Die sentrale vraagstuk wat in dié artikel behandel word, is dus tweërlei. Ten eerste: Welke ooreenkomste of verskille was daar tussen die wêreldbeskouing van die Sowjetunie enersyds en die SAKP en ANC andersyds? En tweedens, hoe ver uitmekaar was die standpunte van die twee groepe deur die jare rakende die belangrikste strydpunte in die internasionale politiek?
Die Sowjet-wêreldbeskouing
Tydens die Koue Oorlog het geleerdes onder mekaar gestry oor die vraag wát die Kremlin nou eintlik ten diepste in die formulering van sy buitelandse beleid beweeg: tradisionele magspolitiek met geopolitieke uitgangspunte (iets wat by Westerse lande immers ook swaar weeg), of die Marxisties-Leninistiese ideologie.
Dié vraag is intussen beantwoord deur twee Russiese historici wat ná die uiteenval van die USSR in 1991 uitvoerige navorsing in die Sowjet-argiewe gedoen het. Hulle identifiseer twee faktore, naamlik “traditional messianism and Marxist ideology”. Dit het in die twintigerjare so uitgekristalliseer en so gebly tot die einde van die staat in 1991. Wat die jare van die Koue Oorlog betref, meen hulle ook, is die Sowjet-uitbreidingsdrang bepaal deur “the imperial tradition of Russia, reinforced by Marxist globalism”.6
Dit is alles begin deur Karl Marx en sy vriend, Friedrich Engels. Die kern van hul wêreldbeskouing kan opgesom word in die woord wêreldrevolusie. In die Kommunistiese Manifes het hulle geskryf:
Die arbeiders het geen vaderland nie. Jy kan nie van hulle afneem wat hulle nie het nie ... Die nasionale skeidings en teenstellings van die volke verdwyn steeds meer en meer ... Die heerskappy van die proletariaat sal dit nog meer laat verdwyn ... Namate die uitbuiting van die een individu deur die ander opgehef word, word die uitbuiting van die een nasie deur die ander opgehef. Met die teenstelling van die klasse binne die nasie val die vyandige houding van die nasies teenoor mekaar weg.7
Die manifes is met die bekende leuse afgesluit: “Proletariërs van alle lande, verenig julle!"8
Die revolusionêre potensiaal hiervan is duidelik. Nie alleen het Marx, Engels en Wladimir Lenin ’n einde aan alle oorloë en permanente vriendskap tussen alle mense, nasies en volke beloof nie; die implikasie was dat ook koloniale uitbuiting beëindig sou word – iets wat op verdruktes in die Derde Wêreld, met inbegrip van Suid-Afrika, ’n diepe indruk gemaak het. Dit was die fondament van ’n begrip wat ’n mens dikwels in die Marxistiese literatuur teenkom, soos ook in dié van die ANC/SAKP, te wete proletariese internasionalisme. Later sou die Kubaanse ingryping in Afrika byvoorbeeld op grond hiervan gemotiveer word.9
Lenin het die saak ’n stap verder gevoer met die publikasie van sy pamflet Imperialisme, die hoogste stadium van Kapitalisme in 1917. Daarin het hy die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog verklaar met die stelling dat die kapitalisme daartoe lei dat die groot kapitalistiese moondhede die wêreld onder mekaar verdeel, en dat dié wedywering om handelsroetes, grondstowwe en mag noodwendig op oorlog uitloop.10 Dit het in die Leninistiese woordgebruik bekend gestaan as imperialisme en was die belangrikste bousteen in die Marxisties-Leninistiese ideologie om die internasionale politiek mee te verklaar, een wat later letterlik honderde kere in die ANC/SAKP-literatuur sou voorkom.
Lenin was aanvanklik van mening dat die geslaagde revolusie in Rusland spoedig na die res van die wêreld sou oorspoel, wat egter nie gebeur het nie. Ofskoon hy êrens in die toekoms ’n oorlog tussen sy eie revolusionêre staat en die res van die wêreld verwag het, moes hy hom voorlopig daarby neerlê dat sy eie land die enigste sosialistiese staat sou bly.11 Hy het nietemin in 1920 verordineer dat kommunistiese partye elders in die wêreld 21 voorwaardes moes nakom, insluitend “ysere proletariese internasionalisme”, wat deur Robert Gellately vertolk word as “subordinating themselves completely to Moscow”.12 Lenin is egter dood voor hy sy internasionale politieke teorie verder kon uitwerk.
Josef Stalin, sy opvolger, moes ’n klipharde magstryd voer teen Leon Trotski, een van Lenin se mees prominente luitenante. Trotski wou die revolusie dadelik na die res van die wêreld uitvoer, maar Stalin het wyslik ingesien dat dit beter sou wees om eers die wortels van die kommunistiese stelsel in die Sowjetunie goed te laat inslaan voordat daar verder gekyk word.13 Sy kans sou kom in die laaste maande van die Tweede Wêreldoorlog, toe die Rooi Leër die grootste deel van Sentraal- en Oos-Europa beset het. In die eerste jare daarna het die Sowjets hul wurggreep op die besette lande gekonsolideer en, in die woorde van Winston Churchill, ’n ystergordyn oor die Europese vasteland laat neerdaal.
Stalin het self geen besondere bydrae tot die Marxisties-Leninistiese teorie van internasionale betrekkinge gelewer nie, ofskoon hy sowel voor as ná die Tweede Wêreldoorlog die langtermyn-voorneme gekoester het om die hele Europa tot aan die Atlantiese Oseaan onder Sowjet-heerskappy te bring. Maar sy praktiese buitelandse beleid van ná die oorlog was meer daarop gemik om die militêre heerskappy van die Rooi Leër in Sentraal- en Oos-Europa in politieke heerskappy om te skep.14 Dit het aanleiding gegee tot die langdurige Koue Oorlog, ’n periode waarin die wêreld in twee magsblokke – die Westerse Navo en die kommunistiese Warschau-verdrag – sou uiteenval.
Stalin is in 1953 dood, en die taak om die Sowjet-verowerings van 1945 veilig te stel het op die skouers van Nikita Chroesjtsjof geval. Chroesjtsjof het twee verfynings aan Stalin se na-oorlogse buitelandse beleid aangebring. Die eerste was die gevolg van sowel Amerika as die USSR se verkryging van kernwapens. Dit het die prys van oorlog – totale wedersydse uitwissing – eenvoudig onbetaalbaar hoog gemaak. Vreedsame naasbestaan tussen die kommunistiese en die kapitalistiese blok het daarom Chroesjtsjof se wagwoord geword. Desondanks het die wêreld meer as een keer, veral met die Kubaanse missielkrisis van 1962, op die randjie van ’n kern-afgrond gehuiwer. Ook die Berlynse krisis, toe die Oos-Duitse regime in 1961 met die bou van die berugte Muur begin het om die massale stroom vlugtelinge na Wes-Duitsland stop te sit, het geweldige spanning veroorsaak.15
Die tweede verfyning het in 1960-61 gekom en is vir ons doeleindes van nóg groter belang. Dit het saamgeval met die onafhanklikwordingsproses van die Westerse kolonies, wat sedert die jare vyftig soos ’n golf oor die wêreld gespoel en die aangesig van die internasionale politiek ingrypend verander het. Op aandrang van die KGB het Chroesjtsjof – blykens vertroulike dokumente wat pas ná die val van die Sowjetunie na die Weste gesmokkel is – dus ’n nuwe geheime beleid aanvaar wat die Derde Wêreld van die periferie van die USSR se buitelandse beleid tot in die sentrum daarvan geruk het.16
In ’n geheime toespraak in Moskou in Januarie 1961 het die Sowjet-leier aangekondig dat die Sowjetunie die Weste deur sy ondersteuning van die “heilige” anti-imperialistiese stryd van die Derde Wêreld “op sy knieë” sou dwing. Die dinamiese leier van die KGB, Alexander Sjeljepin, was ekstaties, en hy het Chroesjtsjof se steun gewen vir die nuwe strategie van steun aan nasionale bevrydingsbewegings (soos die ANC). Die eintlike teiken was uiteraard die “hoof-teenstander”, Amerika. Nikolai Leonof, later ’n prominente KGB-amptenaar, het hom herinner:
Basically, of course, we were guided by the idea that the destiny of world confrontation between the United States and the Soviet Union, between Capitalism and Socialism, would be resolved in the Third World. This was the basic premise.17
En Wassili Solodownikof, een van die argitekte van die beleid, het bevestig dat die motief nie soseer materieel was nie, maar ideologies. “We were sure that we were weakening the rich West whose economies were based on colonialism and cheap natural resources.” Die Koue Oorlog, het hy gesê, is geveg op die rûe van Afrikane, Arabiere, Afgane, Viëtnamese en Kambodjane.18
Chroesjtsjof se opvolgers het hierop voortgebou. Volgens die Duitse geleerde Wolfgang Leonhard, self ’n gewese kommunis, was die Sowjet-teorie strykdeur gebou op die teoretiese uitgangspunt dat ’n globale revolusionêre proses aan die gang was wat deur die USSR gesteun, gerig en bestuur moes word. Volgens dié beskouing is die internasionale politiek gekenmerk deur die onkeerbare vervanging van die kapitalisme en die imperialisme deur die sosialisme. Die proses is volgens hom gedryf deur drie kragte, te wete die regerende kommunistiese partye van die Sowjet-blok, die kommunistiese partye in die Westerse wêreld, en die nasionale bevrydingsbewegings in die Derde Wêreld. Uiteindelik, so is (ooreenkomstig Lenin se denke) geglo, sal die onvermydelike krisis in die kapitalistiese wêreld tot die sosialistiese oorwinning lei.19 Die Noorse historikus Odd Arne Westad bevestig dat die minerale rykdomme in Suider-Afrika ook ’n rol gespeel het, hoofsaaklik deur die strewe om die VSA toegang daartoe te ontsê, maar dit was ’n ondergeskikte rol.20
Daarom het Leonid Brezjnjef, Chroesjtsjof se opvolger, gemeen die beginsel van vreedsame naasbestaan tussen die twee magsblokke geld nie vir die Derde Wêreld nie.21 En daarom het die Sowjetunie hom die reg voorbehou om op talle plekke in die Derde Wêreld – Viëtnam, Angola, Ethiopië, ensovoorts – in te gryp. Op ’n internasionale byeenkoms van kommunistiese partye in Moskou in Junie 1969 is verklaar dat vreedsame naasbestaan nie die reg ontken van verdrukte klasse om vir hul bevryding te veg nie. Dit beteken ook nie ’n verswakking van die ideologiese stryd nie; inteendeel, dit bevorder die klassestryd teen die imperialisme. Laasgenoemde het sy inisiatief verloor en kan sy magsposisie nie herwin nie: “The main direction of mankind’s development is determined by the world socialist system ...” Maar, het die kommuniste gemeen, ’n kapitalistiese wêreld wat aan die degenereer is, is op sy gevaarlikste.22
Dis woorde en begrippe wat ons weer sal teëkom.
In die woorde van Anatoli Dobrinin, jare lank Sowjet-ambassadeur in Washington, was die enigste gemeenskaplike faktor in al die verskillende operasies “a simple but primitive idea of international solidarity, which meant doing our duty in the anti-imperialist struggle”. Die kommunistiese oorwinning in Viëtnam in 1975 het die Kremlin verder op dié pad aangemoedig, wat die ingryping in Angola en elders vergemaklik het. Maar, het Dobrinin daaraan toegevoeg, allengs het dit meer geword as blote steun vir die “genuine liberation movements”; dit het ontaard in “interference on an ideological basis in the internal affairs of countries where domestic factions were struggling for power”. Hy het dit ’n soort “ideological bondage” genoem, situasies wat nie werklik die nasionale belang van die USSR gedien het nie.23
Nietemin het die Kubaanse leier Fidel Castro in ’n vertroulike gesprek in 1977 met die Oos-Duitse staatshoof, Erich Honecker, ’n streng ideologiese standpunt ingeneem. Blykens die notule van die gesprek het hy gesê dat die bevrydingstryd in Afrika ’n goeie toekoms het, want die “imperialiste” kan sake nie terugdraai nie:
Die bevrydingstryd is die mees morele ding wat bestaan. As die sosialistiese state die regte standpunte inneem, kan hulle baie invloed verwerf. Hier is waar ons die imperialiste swaar slae kan toedien ... In Afrika kan ons die hele reaksionêre imperialistiese beleid ’n swaar nederlaag besorg. Ons kan Afrika van die invloed van die VSA en die Chinese bevry.24
Dit was ’n bevestiging van die Sowjet-kamp se oortuiging dat die Derde Wêreld (en dit het uiteraard Suid-Afrika ingesluit) die sleutel was om die Weste op sy knieë te dwing.
In die voorwoord van ’n publikasie van die DDR waarin alle openbare uitsprake van die Oos-Duitse regering oor apartheid en Suid-Afrika tot 1977 saamgevoeg is, word geskryf dat die koms van die sosialisme die koloniale stelsel ’n nekslag toegedien het deurdat die algemene krisis van die kapitalisme daardeur na die kolonialisme uitgebrei is. Intussen is die voortbestaan van rassisme en die fascisme ’n uitdrukking van die “imperialistiese verdrukkingsbeleid” wat die “samehang tussen imperialisme, rassisme, apartheid en kolonialisme” bewys. Volgens die boek kan die apartheidsregime op die steun van die kapitalistiese Weste reken omdat hulle die “hoogste winste gemaak het wat veral die internasionale monopolieë uit die leidende Navo-state ten goede gekom het”. Die voorwoord verwys veral na “strategies belangrike grondstowwe, gunstige kapitaalverwerwingsvoorwaardes, goedkoop arbeidskragte en die strategies belangrike posisie van die apartheidsregime aan die suidpunt van Afrika en aan die internasionaal belangrike seeroete van Asië na Europa” as motiewe vir die steun.25
Dit was onder meer teen dié agtergrond dat die Sowjetunie die ANC en die SAKP beskou het.26 In 1995 het genl. Oleg Kaloegin, gewese hoof van die KGB se afdeling Buitelandse Teeninligting, op ’n besoek aan Suid-Afrika gesê die Kremlin het die ANC geteiken “for penetration, subversion and final takeover”. Enigsins sinies het hy bygevoeg: “The ANC was just another liberation movement exploited by the Soviets.”27
Intussen het die USSR hom ook die reg voorbehou om met geweld in te gryp in lande wat gedreig het om die kommunistiese kamp te verlaat. Dit is wat in 1956 met Hongarye gebeur het, en weer in 1968 met Tsjeggo-Slowakye. Leonhard haal die Sowjet-ideoloog Sergei Kowalef aan wat binne enkele weke ná die inval in Tsjeggo-Slowakye (20 Augustus 1968) in Prawda geskryf het dat die verdediging van “sosialistiese prestasies” deel van ’n “gemeenskaplike internasionalistiese plig” is. Alle reg, met inbegrip van die volkereg, is ondergeskik aan die “wette van die klassestryd”.28 Dit was eers einde 1981, toe die Sowjet-leiers besluit het om die gevaar wat die onafhanklike Poolse vakbond Solidariteit vir hul heerskappy in dié land ingehou het, nié met ’n gewelddadige inval te beantwoord nie, dat sake begin verander het. In die jare onmiddellik daarna moes hulle hul heerskappy agter die Ystergordyn handhaaf deur met militêre optrede te dreig, maar dit het geleidelik tot die wêreld deurgedring dat die supermoondheid op die afdraande pad en nie meer tot so iets in staat was nie.29 Ná die bewindsoorname van Michail Gorbatsjof in 1985 het die USSR dit trouens openlik erken, en die reeks opstande van einde 1989 in Sentraal- en Oos-Europa was die regstreekse gevolg daarvan.30
Dít was dan kortliks die basiese denkraamwerk waarbinne die besluitnemers in die Kremlin na die wêreld gekyk het.
Die ANC/SAKP voor ballingskap
Die aanvaarding van die USSR se wêreldbeskouing wat die ANC/SAKP in ballingskap so gekenmerk het, het inderwaarheid reeds lank voor die aanvang van die alliansie se ballingskap in 1960-61 begin. Dat die destydse Kommunistiese Party van Suid-Afrika (KPSA – sy naam is ná die verbod op hom in 1950 verander na Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party, of SAKP) die Sowjetunie reeds sedert die laat twintigerjare onkrities gesteun het, is welbekend en goed gedokumenteer.31 In 1939 het die party byvoorbeeld Josef Stalin se nie-aanvalsverdrag met Nazi-Duitsland – wat op ’n ideologiese bollemakiesie van dodelike vyandskap na bondgenootskap neergekom het – ondersteun. Die oorlog tussen Duitsland, Brittanje en Frankryk is dus voorgestel as ’n kapitalistiese stryd waarmee egte sosialiste niks te make wou hê nie. En toe die twee in 1941 deur die Duitse inval in ’n oorlog betrokke raak, het die KPSA (met leiers soos Bram Fischer aan die voorpunt) net gemaak of die pakt van 1939 nooit plaasgevind het nie.32
Feit is dat die Suid-Afrikaanse kommuniste feitlik alle kritiese vermoë rakende die Sowjetunie geabdikeer het. Daar was waarskynlik verskeie redes voor: Omdat die maatskaplike onreg in Suid-Afrika so groot was; omdat die Afrikaner-nasionalisme sedert die jare dertig uiters onverdraagsaam en verstikkend geword het; omdat die posisie van die kommuniste al hoe moeiliker geword het; en omdat die Sowjetunie die enigste beduidende moondheid was wat, sy dit vanuit die kommunistiese filosofie, hoop op uitkoms gebied het.
Jare later sou Joe Slovo, toe leier van die SAKP wat self die hele onstuimige geskiedenis meegemaak het, dit met die voordeel van agternakennis só verduidelik:
You must remember the Soviet Union was the only worker-state in our eyes for many years, surrounded, vilified, isolated. The whole of the international media was engaged in a campaign of what we considered to be slander, vilification, trying to destroy socialism, both physically and in the West, ideologically. Therefore, there was a defensiveness which led to automatic reflexes not to believe any of the negative things that were said to defend the only sort of oasis of what we consider to be socialism.33
By ’n ander geleentheid het hy erken dat die Suid-Afrikaanse kommuniste se houding oor die internasionale politiek bepaal is deur “blind adherence to the decisions of the Soviet Communist Party”.34 Binne die party was dit volgens Slovo “almost risky and counterproductive” om daaroor te verskil.35
Ander Suid-Afrikaanse kommuniste het dieselfde soort blinde, emosionele lojaliteit teenoor die USSR getoon. Bram Fischer, die gelowige Afrikaner-kommunis, bied goeie navorsingsmateriaal vir dié houding. Reeds in 1932, toe hy nog ’n student in Oxford was, het Fischer die Sowjetunie besoek en gloeiende briewe vol bewondering vir die land se “prestasies” huis toe geskryf. Volgens sy biograaf het hy wel duisende mense by stasies en langs die strate en paaie gesien, maar dit het nooit tot hom deurgedring dat die land presies toe in waarskynlik die ergste hongersnood in sy geskiedenis vasgevang was nie.36 Dit was ’n hongersnood, kunsmatig afgedwing deur Stalin om die landbou te kollektiviseer en wat die lewe van sowat ses miljoen mense (ironies, min of meer dieselfde getal Jode as wat Adolf Hitler vermoor het) in 1932-33 gekos het.37 ’n Paar jaar later het hy Stalin se suiwerings verdedig met die argument dat die aangeklaagdes elkeen ’n verdediging had, dat hulle almal skuld erken het, en dat die res bloot Westerse propaganda was.38
Ondanks groeiende getuienis in die vroeë vyftigerjare oor Stalin se misdade wou Fischer niks daarvan hoor nie. Eers toe hy in 1956 hoor van Nikita Chroesjtsjof se onthullings oor Stalin se misdade, het hy dit aanvaar, maar volgens ’n ooggetuie was daar “genuine shock” op sy gesig te sien. Sy lojaliteit aan die USSR was rotsvas. Nou weet kommuniste wat hulle vorentoe moet vermy, was sy houding. Ook toe die Sowjetunie Hongarye in dieselfde jaar binneval, het hy blindweg aan sy oortuigings vasgehou. Sy redenering was dat hy lojaal móés bly, want as één staat in die kommunistiese kamp val, sou al die ander mettertyd volg. By vriende wat die SAKP om dié rede wou verlaat, het hy gepleit: “You’re misjudging what is going on. There must be a reason for it.”39 Selfs in die tronk wou hy in gesprekke met die Trotskiïs Baruch Hirson niks toegee nie. “Talking to Bram about events in the USSR was an excercise in frustration. He steadfastly closed his ears to any criticism of what happened, past and present, or even future,” het Hirson hom later herinner.40 En Alan Lipman, ’n prominente lid van die SAKP wat later bedank en ’n anargis geword het, het vertel hoe hy deur sy eertydse kamerade sosiaal verwerp en vermy is nadat hy kritiek op die Sowjet-inval in Tsjeggo-Slowakye in 1968 uitgespreek het.41
Veel later sou Joe Slovo erken: “We kept silent for too long after the 1956 Khrushchev revelations.”42
Dié onkritiese steun blyk ook uit openbare geskrifte uit die tyd. Dan Tloome, wat later ’n leidende figuur in die ANC en SAKP sou word, het Stalin vlak voor sy dood as “a man of great intellectual capacity, a profound thinker” en as ’n mens met “the greatest love for human beings” beskryf.43 En met sy afsterwe het Sam Kahn, wat tot 1950 namens swart kiesers in die Volksraad gesit het, gesê: “the Russian earth shook with the sobbing of millions”,44 terwyl Moses Kotane, later leier van die SAKP, in ’n verklaring gepraat het van a “grievous loss”. Kotane se motivering was in die Suid-Afrikaanse konteks wel begryplik, “because it was in his policy of racial equality that we found inspiration”.45
Rusty Bernstein, een van die leidende ideoloë in die party wat effens later die outeur van die ANC se Vryheidsmanifes sou word, het in 1953 ’n ontleding van die toe pas afgelope Koreaanse Oorlog geskryf waarin hy jou werklikwaar beweer het dat die vreedsame Noord-Korea sonder aanleiding deur Amerika en die kapitalistiese Suide aangeval is!46 In ’n ontleding van alle oorloë sedert 1945 het die sosialistiese blad Liberation (onder die redakteurskap van Dan Tloome) in ’n hoofartikel daarop aanspraak gemaak dat die Sowjetunie hom aan geen enkele aggressie skuldig gemaak het nie. Daarteenoor het hy sterk klem gelê op die “aggressive war of the imperialists” teen die “colonial people” in Asië, Afrika en Suid-Amerika.47 Dit is in 1956 opgevolg met ’n analise van die Suez-oorlog tussen Brittanje, Frankryk en Israel enersyds en Egipte andersyds, en van die Sowjet-inval in Hongarye. Eersgenoemde was volgens die analise ’n tipiese kapitalistiese “blatant aggression” van die “English and French imperialists” vir “loot” – “[t]hey want to grab the Suez Canal”. “The British and French ruling classes are serving notice that the territories and resources which they seized by force, they intend to hold by force.” Daarteenoor is die Sowjet-troepe in ooreenstemming met die volkereg in Hongarye. Die ingryping het slegs geskied toe die regering van premier Imre Nagy “unilaterally denounced the Warsaw Treaty and openly called for military aid from the West that Soviet troops again moved into action ... and safeguard the fruits of twelve years socialist reconstruction ... These acts cannot properly be described as ‘aggression’ ...”48
Ná Chroesjtsjof se onthullings in 1956 oor Stalin se misdade het Michael Harmel geskryf oor laasgenoemde se “services of incalculable value to the cause to which he devoted his life”. Maar dit was nodig om die valse beeld van “an infallible miracle-worker” te korrigeer, want dit het geleidelik gelei tot “a position where the democratic procedures laid down in the rules of the Party were neglected ...”49
Dit is waar dat die Chroesjtsjof-onthullings en die inval in Hongarye die gelowiges van stryk gebring het. Maar, skryf Ben Turok, ’n hoogs eiesinnige en onafhanklik denkende kommunis, hulle het spoedig wéér ortodoks geword:
[T]he whole party followed suit in not wanting to see wrongdoing, and it took another 30 years and the total collapse of Eastern Europe before the same crisis of confidence was repeated.50
En in sy eerste uitgawe het die SAKP se intellektuele kwartaalblad, The African Communist, eweneens ontken dat daar so iets soos Sowjet-imperialisme is. Die blad het dit gemotiveer met die hoogs ideologiese stelling dat daar geen kapitalistiese stand in die Sowjetunie is wat van die uitbuiting van kolonies kan profiteer nie. In woorde wat in die lig van die latere geskiedenis enigsins ironies oorkom, het die blad vervolg: “Communists believe in self-determination that all people have the right to govern themselves, in the interest of their own people.”51
Dit het verder gegaan as bloot die ondersteuning van die USSR se internasionale optrede; ook die land se ideologie en stelsel is aangeprys. So het Liberation verskeie artikels geplaas met die strekking dat die kolonialisme (ooreenkomstig Lenin se siening van 1914, wat hier bo behandel is) ’n manifestasie van die hoogste en gevaarlikste fase in die geskiedenis van die kapitalisme – imperialisme – is. Albei wêreldoorloë is aan die wedywering tussen die kapitalistiese moondhede toegeskryf. Apartheid in Suid-Afrika is as verlengstuk van die Westerse kolonialisme, as een van die “last-ditch defenders of Anglo-American domination, running-dogs of imperialism” beskryf.52
Michael Harmel, ook ’n voorste SAKP-ideoloog, het die verbod op Boris Pasternak se roman Dr. Zjiwago (wat met ’n Nobelprys vir letterkunde bekroon is) in die Sowjetunie geesdriftig verdedig,53 terwyl ’n jeugdige Joe Matthews (wat hom later in sy lewe van die kommuniste sou afwend) die Westerse vorm van demokrasie afgewys het omdat dit identies met “colonial slavery” sou wees. “The whole world is marching to socialism and the only argument is how to carry out the re-organisation of society on the basis of socialism,” was sy mening.54
Dít was die kaliber onwrikbare geloof wat algemeen in die SAKP aanwesig was. Maar omdat die leiers van die SAKP in die loop van die jare vyftig ’n steeds belangriker rol in die ANC begin speel het, het die kommuniste se voorkeur vir die kommunistiese wêreld en hul afkeer van die kapitalistiese Weste ook na die ANC begin deursyfer. (Later, ná die verbod op die ANC en die begin van die ballingskap, sou die SAKP se greep op die ANC, aanvanklik slegs ideologies, maar later ook op die magspolitieke terrein, só sterk word dat die ANC prakties die oortuigings en beskouings van die SAKP oorgeneem het.55)
In 1939 het die ANC nog nie om dieselfde vuur met die KPSA gesit nie en in teenstelling met die kommuniste deelname aan die Tweede Wêreldoorlog voorgestaan.56 Maar teen die vyftigerjare het sake verander. In 1954 het die ANC se Nasionale Konferensie ’n resolusie aanvaar om die “ruling clique of America” te veroordeel omdat dié ’n Derde Wêreldoorlog wil laat uitbreek “through the creation of war pacts such as N.A.T.O. and S.E.A.T.O, and the whole plan to rearm German Nazis”.57
Nelson Mandela se toesprake van die vroeë vyftigerjare – ’n tyd waarin hy volgens eie erkenning sterk deur die Marxisme beïnvloed is58 – bevat feitlik geen negatiewe verwysing na die Sowjetunie, China of die kommunistiese wêreld nie, maar wel heelparty skerp aanvalle op die Weste. Voor die ANC-Jeugliga het hy in 1951 losgetrek teen diegene wat bereid is “to go to war in defence of colonialism, imperialism, and their profits”, met die “ruling circles in America” aan die hoof. Hulle is vasbeslote “to perpetuate a permanent atmosphere of crisis and fear in the world”. Die regstreekse vyande van Afrika se mense het hy geïdentifiseer as Brittanje, Spanje, Frankryk, Portugal, Italië en Suid-Afrika. Maar in navolging van die Marxisties-Leninistiese wêreldbeskouing het hy, sonder om name te noem, gewys op “the indirect enemy, the infinitely more dangerous enemy who sustains all those with loans, capital, and arms”.59
In ’n toespraak wat in 1953 namens hom voor die jaarkongres van die Transvaalse ANC voorgelees is (hy was destyds ingeperk en mog nie die geleentheid self bywoon nie), het hy enersyds die ANC se “firm belief” in die beginsels vervat in die VN se Universele Verklaring van Menseregte uitgespreek, maar terselfdertyd het hy “imperialist America and her satellites” daarvan beskuldig dat hulle daarop uit is “to drag the world into the rule of violence and brutal force, into the rule of the napalm, hydrogen and the cobalt bombs where millions of people will be wiped out to satisfy the criminal and greedy appetites of the imperial powers”. Hy het die ANC solidêr verklaar met die “people of Malaya, Vietnam, Indonesia, Tunisia and Tanganyika”, asook met die “the people of Korea and Kenya”, wat volgens sy mening die slagoffers van die Amerikaanse en Westerse aggressie was.60 (Let daarop dat die opstande in Indonesië, Tunisië, Tanganjika en Kenia suiwer nasionalisties was, maar dat dit in Maleia en Viëtnam deur kommuniste gelei is. In Korea het Amerika in die jare 1950-53 ’n inval van die kommunistiese Noord-Korea help afweer.)
In dieselfde jaar het Mandela in ’n toespraak voor die linkse Peace Council uitgevaar teen die “mad lust for markets and profits”, ter wille waarvan die “imperial powers” – d.i. die kapitalistiese lande – nie aarsel “to cut one another’s throats, to break the peace, to drench millions of innocent people in blood and to bring misery and untold suffering to humanity” nie. Duidelik beïnvloed deur Lenin se boek van 1917 oor imperialisme en oorlog waarvan hier bo gewag gemaak is, het Mandela vir Afrika “a major eruption of the worst type” verwag. Dis naamlik in Afrika dat Brittanje, België, Frankryk, Nederland (sic!), Portugal en Spanje hul vernaamste of selfs enigste kolonies het, het hy geskryf. Dis hier waar hulle meedoënloos meeding “for monopoly control of raw materials and markets”. Maar nou begin Amerika hom hier inmeng, en dit “arouse the dissatisfaction of the ruling circles of those countries”. Die stryd tussen Brittanje en Amerika neem daagliks toe, meen Mandela; Amerika is besig om die Britse invloed sienderoë te verminder. Die Europese Navo-lande loop selfs gevaar om hul onafhanklikheid te verloor.61
In dieselfde trant, maar nog meer uitgesproke, het hy in 1958 in ’n artikel geskryf dat nóg die Sowjetunie nóg China (anders as Amerika) aan aggressiewe magsblokke behoort (anders as Navo het hy die kommunistiese Warschau-verdrag blykbaar nie as ’n aggressiewe organisasie beskou nie):
None of the Socialist countries has military bases anywhere in Africa, whereas the USA has built landing fields, ports and other types of strategic bases all over North Africa … Unlike the USA none of the Socialist states has invested capital in any part of Africa for the exploitation of its people. At the United Nations Organisation the Soviet Union, India and several other nations have consistently identified themselves unconditionally with the struggle of the oppressed people for freedom, whereas the USA has very often allied itself with those who stand for the enslavement of others … The communist bogey is an American stunt to distract attention of the people of Africa from the real issue facing them, namely American imperialism.62
Om dieselfde rede het Mandela in die hoogverraadsaak, toe hy gevra is waarom hy Josef Stalin nie aangeval het toe dié se misdade in 1956 deur sy opvolger, Nikita Chroesjtsjof, aan die kaak gestel is, met ’n slimmigheid geantwoord: “It was not our political function. What Stalin did was not against us.”63
Opsommenderwys is dit duidelik dat daar reeds in die vyftigerjare geen verskille tussen die wêreldbeskouing van die Sowjetunie en dié van die Suid-Afrikaanse kommuniste was nie. En tussen die SAKP en die ANC was die verskille flenterdun. Natuurlik is hul anti-Westerse houding onder meer bepaal deur die feit dat die Europese moondhede nou eenmaal groot dele van die Derde Wêreld beset en onderdruk het. Selfs die blad Liberation het met die onafhanklikwording van Ghana in 1957 ’n ekstatiese kommentaarartikel geplaas wat deur enige Afrika-nasionalis onderskryf kon word.64 Mandela se toesprake waaruit hier bo aangehaal is, was ook in groot mate op sy antikolonialistiese gevoelens gebaseer. Maar die oorheersende Marxisties-Leninistiese invloed is te onmiskenbaar om geïgnoreer te word.
Die SAKP se wêreldbeskouing in ballingskap
Ons het hier bo gelet op Lenin se leerstelling dat die kapitalistiese moondhede se onderlinge wedywering om hulpbronne en markte noodwendig op die duur op ’n groot oorlog moet uitloop, dat die kolonialisme ’n noodwendige uitvloeisel van dié wedywering is, en dat ’n uiteindelike sosialistiese oorwinning ’n ewe noodwendige vooruitsig is. In die literatuur van die ANC en SAKP kom soortgelyke oortuigings male sonder tal voor.
Die eerste geleentheid dat die SAKP in ballingskap die kans gekry het om hom behoorlik oor sy wêreldbeskouing uit te druk, was met die aanvaarding van sy program van 1962, The Road to South African Freedom, wat tot met die vervanging daarvan in 1989 die party se sentrale ideologiese rigsnoer was. Daarin is die kommunisme “the dynamic social and political force of our times” genoem waarvoor reeds meer as ’n derde van die mensdom gekies het. Die Marxistiese wêreldbeskouing, oftewel dialektiese materialisme, so word verklaar, “enables us to understand the laws of change”. Kragtens dié wette is die kommunisme die hoogste stadium van menslike ontwikkeling. In navolging van Lenin is die imperialisme beskou as die “highest and last stage” van die kapitalisme, wat terselfdertyd die oorsaak van kolonialisme is, aangesien die koloniale moondhede Afrika, Asië en Latyns-Amerika ter wille van hoër winste onderwerp het. Een van die uitvloeisels van die imperialisme was die uitbuiting van die kolonies en die ontwerp van rasseteorieë, “which culminated in Hitler’s Germany and Verwoerd’s South Africa”.65
Nes Lenin (en Mandela) het die program verklaar dat imperialisme tot oorlog lei “on a scale and of a frightfulness previously unknown in human history”. Die oorlog van 1914-18 was ’n regstreekse uitvloeisel hiervan.66
Die kapitalisme, word met stelligheid verklaar, “is obsolete. It is giving way to the new and higher social order of socialism and communism”, ’n stelsel wat alle probleme sal oplos. Die “great October Socialist Revolution of 1917” het “a new era in human history” ingelui, iets wat miljoene mense regoor die wêreld geïnspireer het. “The colonial system of imperialism is crumbling.” Vrywel die hele Asië en die grootste deel van Afrika het die koloniale juk afgewerp. Maar die stryd is nog nie gewonne nie, want die grootste struikelblok lê in die aggressiewe planne van die internasionale imperialisme. Die imperialisme het nie sy aard verander nie, aldus die program:
Mobilised and organised by the leaders of world reaction, the United States monopoly capitalists, the imperialists are intensifying the armaments race and the cold war, they commit continuous fresh acts of intervention and aggression, attempting to check and reverse the world tide towards national independence and socialism. They threaten the world with nuclear destruction.
Dit is net die krag van die sosialistiese moondhede wat hulle teenhou.67
Intussen is dit egter nie meer die imperialiste wat die inisiatief hou nie, maar die sosialistiese moondhede:
We live in an epoch of struggle between two opposing social systems, an epoch of socialist and national liberation revolutions, of the breakdown of imperialism and the abolition of the colonial system. It is an epoch of more and more peoples to the socialist path and the triumph of socialism and communism on a world-wide scale.
Maar dit sal nie vanself gebeur nie; dit kan slegs plaasvind “through struggles of the masses of the people, headed by the most advanced, resolute and revolutionary class, the working class”. En dit moet alles gebeur onder die leiding van “the highest form of working class organisation”, die Marxisties-Leninistiese party, “the most advanced, conscious and determined section of the class".68
Dit is duidelik dat die SAKP in sy wêreldbeskouing volledig ortodoks was. Trouens, die deel van die program wat ons pas behandel het, kon net sowel in Moskou opgestel gewees het, net soos ’n artikel wat die SAKP-voorbok Yusuf Dadoo in 1978 vir die Marxist Review geskryf en wat die party se fundamentele wêreldbeeld goed weergegee het:
Historical practice has confirmed the Marxist-Leninist appraisal of revolution as "the locomotive of history" in which the socio-political basis of oppression has to be fundamentally altered. It is not only racial and national oppression but also the class character of the given society which determines the very content and depth of the revolution. Any and every revolution is conditioned by the laws and regularities of the class struggle and consequently the real driving forces of revolution are progressive social classes.69
Regdeur die tydperk in ballingskap het SAKP-woordvoerders nooit van dié lyn afgewyk nie. Net soos in die jare vyftig het die SAKP die Sowjetunie onkrities beskou as “the very heartland, fortress and inspiration of the revolution”70. Die moondheid is afgeskilder as ’n paradys, waar daar geen “disadvantaged peoples” is nie, “no slums, no illiterates, no unemployed, no homeless, no soup kitchens”.71 Dit was die moondheid wat die magsewewig verander het “in favour of peace, the colonised, the dispossessed and exploited”.72 Dit was die land waar menseregte nie neerkom op “dole queues, slum stricken housing, rising costs of basic necessities, cuts in education and the health services” nie, maar op “the right to work, rest and recreation, health protection, social maintenance and housing”.73
Daarom kon die SAKP ook verklaar dat “[w]e have never hidden our admiration for the great October Socialist revolution” wat die Sowjetunie geskep het as “one of the vital factors in the massive decolonisation process”,74 en dat dié revolusie “the single greatest event in the modern history of mankind” was.75 Dus kon Moses Mabhida, leier van die SAKP in die tagtigs, met volle oortuiging sê dat die Sowjetunie sedert sy totstandkoming “head and shoulders” uitgestaan het “above all capitalist countries as a champion of the liberation movement”.76 En gevolglik was die USSR in die woorde van Mzwai Piliso (wat berugtheid sou verwerf vir sy rol in die ANC-strafkampe in Angola77) “a shining example for us in the era we live”.78 Trouens, Yusuf Dadoo, een van die bekendste SAKP-leiers, het reguit gesê: “one’s attitude to the Soviet Union is the principal criterion, the touchstone of the sincerity and honesty of every leader of the working-class movement and every democrat.”79 Dus moet kommunistiese partye geen “exaggerated emphasis” op “‘independence’ and ‘sovereignty’” plaas nie.80
Teen dié agtergrond hoef dit niemand te verbaas nie dat die SAKP hom in die jare sewentig teen die sogenaamde Eurokommunisme – ’n poging van sekere Wes-Europese kommunistiese partye om die kommunisme met die liberale veelparty-demokrasie te versoen – uitgespreek het.81
By Leonid Brezjnjef se oorlye in 1982 het die SAKP se Sentrale Komitee hom beskryf as “a foremost protagonist for peace, a fighter for the best interests of humanity”. Daar is eerbiedig verwys na “the fraternal interest and assistance he displayed towards our cause, the honour he showed to our leaders, the guidance we obtained from his speeches, writings and discussions”.82 Die party se intellektuele blad, African Communist, het selfs sy toespraak van 1977 ter herdenking van die Russiese Revolusie 60 jaar tevore volledig geplaas.83
Daarteenoor is die Weste, veral die VSA, Brittanje, Wes-Duitsland en Frankryk, as “imperialist countries” bestempel, “controlled by huge capitalist monopolies” wat slegs hul winste wil vergroot “by dominating other nations”.84 Die hoogtepunt hiervan was in die jare tagtig:
No United States Administration has gone further in its attempts to transform the African continent into an exclusive enclave of American domination than that of Ronald Reagan.85
Begrippe soos vryheid en demokrasie is vir die Weste bloot ’n voorwendsel:
It is the fact that the exploiters of man by man have been expropriated, that there is neither stock exchange, Wall Street nor Bond Street in Moscow, that fills them with alarm.86
Wat dus “blindingly clear” is, is dat Washington se planne vir Suider-Afrika daarop neerkom “to make sure that the rule of Big Capital in South Africa is never endangered”.87
Die SAKP se ortodoksie het dit vir hom, ironies genoeg, soms moeilik gemaak om bande met Westerse anti-apartheidsbewegings te smee. Sietse Bosgra, voorsitter van die Comité Zuidelijk Afrika (COZA) in Nederland, die invloedrykste anti-apartheidsgroep in die land, vertel dat die SAKP eerder bande verkies het met die Anti-Apartheidsbeweging, wat in die dampkring van die Communistische Partij Nederland (CPN) beweeg het. Toe die leiding van COZA tydens ’n besoek aan Luanda by Joe Slovo uitkom, was dit “a kind of a tribunal. In the presence of some twenty ANC cadres we had to answer questions full of distrust.”88
Selfs nog in 1989, toe die stuiptrekkinge van die kommunisme algemeen sigbaar was, het die SAKP in ’n nuwe partyprogram, The Path to Power, verklaar:
The revolutionary struggle in South Africa is part of a world revolutionary process whose main tendency is the transition from capitalism to socialism, from societies based on exploitation to a new world free of exploitation and oppression.
Al oplossing vir die wêreld se probleme is “the deepening and consolidation of the main historical tendency of our epoch – the transition from capitalism to socialism”. ’n Effense toegewing was die erkenning dat die interne teenstrydighede van die kapitalisme nie outomaties tot die stelsel se val lei nie. Die kapitalisme bly “a powerful and dangerous enemy of social progress” wat kan staatmaak op “its still vast economic, political, cultural and military resources”.89
Oor die internasionale politieke houding van die Weste verklaar die program:
Militarism has always been an inherent feature of imperialism. In attempting to reverse the gains of socialism and national liberation, imperialism has entangled the world in a web of aggressive blocs and military bases. It has created hotbeds of tension at the borders of the socialist countries, and in strategic regions of the world. It supports the most reactionary and terrorist regimes.90
Dit is ewenwel duidelik dat daar geen verskil hoegenaamd tussen die wêreldbeskouing van die Sowjetunie en dié van die SAKP was nie. Trouens, uit eie ervaring en op grond van navorsing kon die gewese DDR-diplomaat Hans-Georg Schleicher bevestig dat die Kommunistiese Partye van die USSR en die DDR die organisasies was met die grootste invloed op die wêreldbeskouing van die SAKP.91
Die wêreldbeskouing van die ANC in ballingskap
In die jare van ballingskap het die ANC en sy woordvoerders hulle eweneens gereeld oor die internasionale politiek uitgelaat. Een van die invloedrykste beskouings kom voor in die dokument Strategy and Tactics of the ANC wat op die raadplegende konferensie van 1969 te Morogoro, Tanzanië, aanvaar is en wat amper dieselfde kanonieke status as die Vryheidsmanifes in die ANC gekry het. Die dokument is opgestel deur Joe Slovo en Joe Matthews,92 albei voorste lede van die SAKP, en weerspieël dié party se wêreldbeskouing dus noukeurig.
Dit blyk onmiddellik al uit die inleidende sin:
The struggle of the oppressed people of South Africa is taking place within an international context of transition to the Socialist system, of the breakdown of the colonial system as a result of national liberation and socialist revolutions, and the fight for social and economic progress by the people of the whole world.
Die feit dat die blanke heerskappy steeds bestaan, aldus die dokument, druis in teen dié neiging en is moontlik gemaak deur “the tremendous economic and military power at the disposal of these regimes built with the help of imperialism”93 – tipiese ortodokse Marxisties-Leninistiese taal.
In die politieke verslag wat die ANC se Nasionale Uitvoerende Komitee aan dié konferensie voorgelê het, word die “imperialiste” se internasionale houding beskryf as
[t]he creation of hotbeds all over the world including acts of provocation, direct and indirect military intervention as in Vietnam and South East Asia, the Middle East, Korea, Cuba, West Berlin and Czechoslovakia.94 The establishment of military bases at strategic points and the selection of springboards in all continents from which they launch their acts of aggression and subversion. In the Middle East, Israel acts as catspaw of imperialism ... In Africa fascist South Africa is the main bulwark and fortress of reaction and imperialism. It is of vital economic and strategic value in the whole global strategy of imperialism.95
Bowendien word die Weste daarvan beskuldig dat sy antikommunistiese houding ’n “bogey” is “through which the imperialists try to justify all their reckless and brutal interference”. Dit is slegs “a veil to hide their fiendish plots of plunder, greed, exploitation, aggression and atrocities, which they perpetrate against the peoples of the world”.96
Daarteenoor verwys die verslag na die “pillars of the anti-imperialist movement” as “the Soviet Union, the Socialist States in alliance with the progressive States of Africa, Asia and Latin America, the revolutionary liberation movements in countries which are still under colonial or white minority rule, and the democratic forces in the imperialist countries themselves”. Dié “united anti-imperialist front constitutes a mighty and invincible force for the destruction of the imperialists”. Daarby is die ANC “and the oppressed and exploited peoples of South Africa together with all genuine democrats” ’n “integral part of the anti-imperialist movement of the world. We share with all other anti-imperialist peoples of the world common aims and objectives and common enemies.” Die vordering wat die anti-imperialistiese front tot in dié stadium gemaak het, word onder meer toegeskryf aan “the steadily growing strength of Socialist countries which are selflessly dedicated towards the struggle for the destruction of colonialism”. Die imperialisme en fascisme gebruik Suid-Afrika as "their base and springboard for launching a counter-revolutionary offensive in Africa” en is dus
a direct threat to peace and independence not only in Africa but also in the rest of the world. In this situation, and as an internationalist duty, it is crucial that all progressive forces the world over should realise that they constitute one of the main motive forces in wiping out imperialism and fascism in South Africa.97
In ’n pamflet wat die ANC kort ná die Morogoro-konferensie klandestien in Suid-Afrika versprei het, is eweneens gesê “a new kind of world” het tot stand gekom “in which the existence of the powerful socialist system has altered the balance of forces”.98
Dit is dan ook geen wonder nie dat die ANC heftig weerstand gebied het toe die Joego-Slawiese regering die Beweging vir Onverbonde Lande op sy spitsberaad in 1978 probeer wegstuur het van die idee dat die Sowjetunie die “natuurlike bondgenoot” van die Derde Wêreld is.99
Teen dié agtergrond is die ANC-literatuur in die ballingskap-era deurspek van positiewe verwysings na die Sowjetunie en die Russiese Revolusie van 1917.100 Die “superiority of socialism over capitalism” is entoesiasties besing.101 Ter geleentheid van die 26ste kongres van die Sowjetunie se Kommunistiese Party het die ANC-leiding ’n verklaring uitgereik waarin gesê is al rede waarom die “oppressed peoples of the former colonial world” die juk van kolonialisme kon afwerp, is die “achievements of the Great October Socialist Revolution and inspired Leninist leadership of the Bolshevik Party”. Ná die revolusie van 1917, het die verklaring voortgegaan, “the infant socialist state demonstrated beyond any doubt the superiority of scientific socialism over the anarchy and corruption of monopoly capitalism ...” Na Lenin is verwys as “a brilliant theoretician and far-sighted strategist”.102
Selfs in 1986 is Josef Stalin by geleentheid nog as “a great state and party leader” gesien.103 Vir Alfred Nzo, die sekretaris-generaal van die ANC, was die USSR “the leading revolutionary force of our time”.104 Die egte maatstaf waaraan iemand se strewe na vrede gemeet kon word, was “[t]he defence of the socialist community, primarily the Soviet Union”.105 By sy dood in 1982 is pres. Leonid Brezjnjef van die Sowjetunie deur MK se lyfblad, Dawn, bestempel as “this Titan, a principled revolutionary and fighter for peace, a dedicated continuator of the lofty course of Lenin”.106
Nzo – wat ook lid van die SAKP was – het hom in sy hoedanigheid as sekretaris- generaal van die ANC herhaaldelik oor die internasionale politiek uitgelaat, elke keer besonder ortodoks Marxisties-Leninisties. ’n Toespraak wat hy in 1978 voor ’n Afrika-Arabiese konferensie gehou het, gee ’n goeie idee van hoe die kommunistiese wêreldbeskouing in die ANC oorheers het.
Nzo het gepraat van die “depth of the general crisis of the world imperialist system” wat deur die volgende verskynsels gekenmerk word:
- Further reverses in the face of the continued onslaught of the forces of social and national emancipation in Africa, Asia and Latin America.
- The failure to destroy the world socialist community using force; the failure to weaken it in open economic and ideological struggle; the collapse of the policy aimed at excluding it as a decisive force in world politics.
- The increasing polarisation of forces within the imperialist countries themselves and open clashes between these forces, leading to the emergence of an internal political crisis for imperialism.
- The emergence into the open of the economic and financial crisis within the imperialist countries and the traditional imperialist system.
- The sharpening of the contradictions among the various centres of imperialism and hence division among them and reduction of or a challenge to the hegemonic position of U.S. imperialism, against its wishes.107
In kontras hiermee, het Nzo voortgegaan, het die “evergrowing and political might of the socialist community” die magsewewig fundamenteel “in favour of the forces of peace, democracy, national and social liberation” verander. Maar juis in dié verswakte situasie is die imperialisme gevaarliker as ooit. Dit is die sentrale doel van die imperialistiese moondhede om die “revolutionary and progressive forces” in Afrika en die Midde-Ooste te vernietig.
Those who pursue the policy of anti-Sovietism ... are causing great harm to the anti-imperialist, anti-colonialist and anti-racist struggle in Africa and the Middle-East. The vicious and slanderous attacks upon the Soviet Union, Cuba, the German Democratic Republic and other socialist countries have to be actively combated by the united action of all revolutionary, democratic and peace-loving forces throughout the world.
Hy het die Weste gestriem omdat dié probeer om die ANC te isoleer “from its natural allies, the world socialist system, more in particular from the Soviet Union and Cuba”.108
Op ’n ander keer het hy die “communists in our country and the international communist movement” as die ANC se “true and genuine combat allies” beskryf.109 En die Koue Oorlog, het hy gesê, is die gevolg van “an hysterical and maniacal anti-communism”.110
Maar ook Oliver Tambo, leier van die ANC en geen lid van die SAKP nie, het in sy openbare uitsprake blyke van ’n Marxisties-Leninistiese visie op die internasionale politieke toneel gegee. Naas gloeiende verwysings na die Revolusie van 1917111 het hy na “a powerful world system” verwys waarvan die beginsels “growing acceptance” ervaar namate “man develops from his past to his future”.112 Hy het verwys na die “revolutionary world process” en die “final victory over all forces of imperialism, colonialism, racism, Zionism and exploitation of man by man”.113 Die “sphere of imperialist domination” is aan die taan, mede deur die sosialistiese lande, wat die “mainstay of this world revolutionary process” is. Die “revolutionary transformations” wat in Afrika aanskou kon word, is deel van die stryd teen “the dark forces of imperialist domination over the world and of the exploitation of man by man”.114 Tambo het die vordering van die revolusionêre stryd van die ANC uitdruklik gekoppel aan die “successes and the consistent foreign policy of the socialist community of countries and above all, of the USSR – the stronghold of peace in the world, the selfless friend of all fighting peoples”.115
Enersyds, so het Tambo aan die Amerikaanse minister van buitelandse sake, George Shultz, gesê, het die Sowjetunie “no interests in Southern Africa that are separate and different from those of the rest of humanity”.116 Aan die ander kant is die imperialiste besig met ’n teenoffensief onder die leiding van Ronald Reagan, “driven by the same suicidal urge for world domination as was Adolf Hitler”117 en “the war-mongers within NATO who have brought humanity closer to a nuclear holocaust”.118 In 1985 het hy te Kabwe met verwysing na pres. Ronald Reagan se vyandskap teen die Sowjetunie verklaar: “Hitler, too, believed that Nazi Germany had a destiny to cleanse an afflicted world. He therefore set out to destroy socialism in the Soviet Union, to stamp out all progressive and democratic forces in Europe and to colonise people.”119
En met Leonid Brezjnjef se dood in 1982 het Tambo die oorledene in ’n verklaring onder sy eie naam geprys as ’n “outstanding son of the Soviet people” wat ’n verlies nie net vir die USSR is nie, maar ook vir die ANC. Sy naam sal vir ewig geskryf staan in die annale van die geskiedenis “as a selfless and indomitable fighter for the emancipation from the shackles of imperialism and fascism”. Tambo het skoon liries geraak:
At this hour of grief for the Soviet people, we lower our banners in respectful memory of the late comrade president Brezhnev ... we extend our deeply felt condolences ... his memory and the example he set will live for ever and the cause for which he lived and sacrificed will triumph.120
(Selfs die Sentrale Komitee van die SAKP, uit wie se huldeblyk vroeër aangehaal is, het nie só diep gebuig nie!)
Dít vir ’n man wat deur genl. Dmitri Wolkogonof, iemand wat Brezjnjef goed geken het, vernietigend beskryf is as “a man of one dimension, with the psychology of a middle-ranking Party functionary, vain, wary and conventional”, ’n man gekenmerk deur “intellectual mediocrity”.121
Daarteenoor is die politieke stelsel in Amerika beskryf as
a rotten, decaying system … which needs to be destroyed so that a cleaner and better system might arise from its ruins ... We have full confidence that the time will come when the American people will rise up as an army and destroy this rotten system which regiments and oppresses them.122
Die VSA-“vryheid” is dié van “the brute armed with the bomb, the bullet and napalm”.123 Brittanje vertoon “the thrashings of a decadent and dying society”.124 Daar is te kenne gegee dat die kommunistiese stelsel van menseregte beter as die liberale een is,125 en verwys na “the warlords of the aggressive NATO alliance”126 en Amerika se “inhuman policies and practice”.127
In sy politieke verslag aan die tweede raadplegende konferensie, wat in 1985 te Kabwe, Zambië, gehou is, het die ANC se Nasionale Uitvoerende Komitee eweneens die breë beleid van die Weste beskryf as pogings “to reverse the results of the Second World War [met ander woorde, die Sowjet-oorwinning oor Nazi-Duitsland] and to stop the process of democratic transformation of our planet [die opmars van die kommunisme]”.128
Slegs by hoë uitsondering het die ANC ’n standpunt ingeneem wat afgewyk het van dié van die Kremlin – en dan was hy nog Roomser as die Pous. In 1974 het die beweging se propagandablad Sechaba byvoorbeeld gesê hy vind dit moeilik “to support the theory of peaceful coexistence among states of different social systems, whilst at the same time they are fighting life and death struggles for freedom and independence”.129
Uit dit alles is dit duidelik dat daar hoogstens effense nuanseverskille was tussen die wêreldbeskouing van die ANC en dié van die SAKP – wat op sy beurt identies was met dié van die Kremlin. Soos Farid Esack later erken het:
The East could do no wrong – from the crushing of Poland’s Solidarity to the invasion of Afghanistan. When unpleasant truths surfaced, we turned the other way.130
In die tweede deel van dié artikel word na spesifieke brandpunte in die wêreldpolitiek gekyk.
Eindnotas
*Leopold Scholtz is Media24 se korrespondent in Brussel en buitengewone professor in geskiedenis aan die Universiteit Stellenbosch. Ingrid Scholtz is vryskut-dosent verbonde aan die Departement Joernalistiek aan die Universiteit Stellenbosch.
1 Luli Callinicos: Oliver Tambo. Beyond the Engeli Mountains Kaapstad, David Phillip, 2004), pp. 297-8.
2 Nadine Gordimer en Anthony Sampson: “President Mbeki’s career” (New York Review of Books, 16.11.2000).
3 Max du Preez: “Fischer het meer as Naudé gedoen” (Die Burger, 27.10.2004).
4 Kyk Vladimir Shubin: ANC. A View from Moscow (Bellville, Mayibuye, 1998).
5 Jeremy Cronin: “Memory and history after ideology – shared past, opposing memories” (op 3.8.2005 van die internet afgelaai van die adres www.fl.ulaval.ca/celat/histoire.memoire/cape1/cronin.htm, maar by die skrywe hiervan het die adres nie meer bestaan nie).
6 Vladislav Zubok en Constantine Pleshakov: Inside the Kremlin’s Cold War. From Stalin to Khrushchev (Cambridge, Harvard University Press, 1996), pp. 4 en 6.
7 Karl Marx en Friedrich Engels: Die Kommunistiese Manifes (in Nederlands vertaal, Amsterdam, Pegasus, 1971), pp. 62-3.
8 Ibid., p. 81.
9 Vgl. Piero Gleijeses: Conflicting Missions. Havana, Washington, Pretoria (Alberton, Galago, 2003), pp. 374-81.
10 Vgl. Joseph L. Nogee en Robert H. Donaldson: Soviet Foreign Policy since World War II (New York, Pergamon, 1988), p. 18.
11 Richard Pipes: Communism. A brief History (Londen, Weidenfeld & Nicolson, 2001), p. 94.
12 Robert Gellately: Lenin, Stalin and Hitler. The Age of Social Catastrophe (Londen, Jonathan Cape, 2007), p. 85.
13 Dmitri Volkogonov: Stalin. Triumph and Tragedy (Londen, Weidenfeld & Nicolson, 1991), pp. 133-44.
14 Vgl. Werner Maser: Der Wortbruch. Hitler, Stalin und der Zweite Weltkrieg (München, Wilhelm Heyne, 1994), pp. 35-7; Constantine Pleshakov: Stalin’s Folly. The Secret History of the German Invasion of Russia, June 1941 (Londen, Weidenfeld & Nicolson, 2005), pp. 43-4; Zubok en Pleshakov: Inside the Kremlin’s Cold War, pp. 16-17 en 47-50; John Lewis Gaddis: The Cold War (Londen, Allen Lane, 2005), pp. 10-14.
15 Vgl. Sheldon Stern: The Week the World stood still. Inside the Secret Cuban Missile Crisis (Stanford, Stanford University Press, 2004); Frederick Taylor: The Berlin Wall. A World Divided, 1961-1989 (Londen, HarperCollins, 2007).
16 Christopher Andrew en Vasili Mitrokhin: The Mitrokhin Archive, II. The KGB and the World (Londen, Allen Lane, 2005), p. 9. Vgl. ook Odd Arne Westad: The Global Cold War (Cambridge, Cambridge University Press, 2007), p. 214; Robert Service: Comrades. Communism: A World History (Londen, Macmillan, 2007), p. 319.
17 Ibid., pp. 9-10. Ook die Skandinawiese historikus Odd Arne Westad bevestig op grond van oorspronklike dokumente dat die KGB die argitek van die Derdewêreldstrategie van die Kremlin was. Vgl. Odd Arne Westad: “Moscow and the Angolan crisis, 1974-1976: A new pattern of intervention” (Cold War International History Project Bulletin 8/9, Winter 1996, p 22. Wladimir Sjoebin ontken weliswaar (maar sonder om dit te staaf) dat die Sowjetunie sy betrekkinge met die Derde Wêreld as deel van die Koue Oorlog beskou het. Kyk Vladimir Shubin: ANC. A View from Moscow, p. 401.
18 David Pryce-Jones: The War that Never Was. The Fall of the Soviet Empire 1985-1991 (Londen, Weidenfeld & Nicolson, 1995), p. 116.
19 Leonhard: The Kremlin and the West, pp. 77 en 80.
20 Odd Arne Westad: “Moscow and the Angolan crisis, 1974-1976: A new pattern of intervention” (Cold War International History Project Bulletin 8/9, Winter 1996, pp. 21-22).
21 Gaddis: The Cold War, p. 187.
22 Richard Crockatt: The Fifty Years War. The United States and the Soviet Union in World Politics, 1941-1991 (Londen, Routledge, 1994), p. 223.
23 Anatoly Dobrynin: In Confidence. Moscow’s Amabassador to America’s Six Cold War Presidents (1962-1986) (New York, Random House, 1995), pp. 404-5.
24 Notule van vergadering, gepubliseer in Cold War International History Project Bulletin 8/9, Winter 1996, p. 19.
25 DDR-Komitee für die Kampfdekade gegen Rassismus und Rassendiskriminierung: Gegen Rassismus, Apartheid und Kolonialismus. Dokumente der DDR 1949-1977 (Berlyn, Staatsverlag der Deutschen Demokratischen Republik, 1978), pp. 44-6 en 54-8.
26 In 1959 het ’n boek deur Joeri Joedin van die Afrika-Instituut van die Sowjet-Akademie vir Wetenskappe in Moskou verskyn waarin die SAKP aangeprys is as die fondament van “progressiewe en demokratiese kragte in Suid-Afrika in die stryd teen imperialisme”. Vgl. Keith Somerville: Southern Africa and the Soviet Union. From Communist International to Commonwealth of Independent Studies (Londen, Macmillan, 1993), p. 202.
27 Chris Steyn: “Apartheid ‘a boon’ to Russia” (The Argus, 22.9.1995). In 2002 het Wladimir Sjoebin, die Sowjet-amptenaar verantwoordelik vir skakeling met die ANC/SAKP, in ’n onderhoud met prof. Padraig O’Malley ontken dat die USSR hoegenaamd enige strategiese belange in Suider-Afrika had (www.omalley.co.za). Dié standpunt kan in die lig van die oorweldigende getuienis tot die teendeel geïgnoreer word.
28 Leonhard: The Kremlin and the West, p. 109.
29 Gaddis: The Cold War, p. 235.
30 Henry Kissinger: Diplomacy (New York, Simin & Schuster, 1994), p. 794.
31 Vgl. bv. Simon Adams: Comrade Minister. The South African Communist Party and the Transition from Apartheid to Democracy (Huntington, Nova Science, 2001), p. 29.
32 Vgl. ibid.; Stephen Clingman: Bram Fischer. Afrikaner Revolutionary (Kaapstad, David Philip, 1998), p. 150; Brian Bunting: Moses Kotane, pp. 104-13.
33 Onderhoud met Ameen Akhalwaya (www.sacp.org.za/people/slovo/manifesto.html).
34 Joe Slovo: “Beyond the stereotype: The SACP in the past, present and future” (www.sacp.org.za/main.php?include=docs/history/stereotypeJS.html). Vgl. ook Glenn Frankel: Rivonia’s Children. Three Families and the Price of Freedom in South Africa (London, Weidenfeld & Nicolson, 1999), p. 304.
35 Heribert Adam: “Europe and South African Socialism: Engaging Joe Slovo” (Idasa Occasional Papers, nr. 29), p. 3.
36 Clingman: Bram Fischer, pp. 80-86.
37 Nicolas Werth: “Een Staat tegen zijn Volk”, in Stéphane Courtois (red.): Zwartboek van het Communisme, pp. 278-9.
38 Clingman: Bram Fischer, p. 150.
39 Ibid., p. 213; Glenn Frankel: Rivonia’s Children. Three Families and the Price of Freedom in South Africa (Londen, Weidenfeld & Nicolson, 1999), p. 86.
40 Martin Meredith: Fischer’s Choice. A Life of Bram Fischer (Johannesburg, Jonathan Ball, 2002), p. 152.
41 Alan Lipman: “The anti-liberation movements” (Zabalaza, Des, 2006, p. 6).
42 Joe Slovo: “Has socialism failed?” (The African Communist, 121/1990, pp. 25-51).
43 Dan Tloome: “Stalin and the National Question” (Liberation, April 1953, p. 23). Tloome het hom in dié tyd ook uiters lowend oor die China van Mao Zedong uitgelaat. Vgl. Dan Tloome: “How China solves the national question” (Liberation, Desember 1955, pp. 7-10).
44 Clingman: Bram Fischer, p. 212.
45 Brian Bunting: Moses Kotane (Bellville, Mayibuye, 1998), p. 200.
46 Lionel [Rusty] Bernstein: “The war that failed” (Liberation, Aug. 1953, pp. 9-12).
47 Hoofartikel: “War – against whom?” (Liberation, Junie 1954, pp. 1-4).
48 Hoofartikel: “The international scene” (Liberation, Nov. 1956, pp. 1-9).
49 Michael Harmel: “Collective leadership in the Soviet Union” (New Age, 5.5.1956), soos gepubliseer in South African Communist Party: South African Communists Speak. Documents from the History of the South African Communist Party 1915-1980 (Londen, Inkululeko, 1981), p. 244.
50 Ben Turok: Nothing but the Truth. Behind the ANC’s Struggle Politics (Johannesburg, Jonathan Ball, 2003), p. 50. Vgl. ook “The socialist ideal remains intact, says Turok” (Work in Progress, Okt./Nov. 1991, p. 31). Ronnie Kasrils bevestig dit. Kyk sy Armed and Dangerous. From Undercover Struggle to Freedom (Bellville, Mayibuye, 2003), p. 37.
51 Hoofartikel: “The new Africa – capitalist or socialist?” (African Communist, 1/1959, p. 2).
52 Hoofartikel: “The last days of empire” (Liberation Sept. 1955, pp. 2-7). Vgl. ook Economist (pseud.): “The capitalist crisis and South Africa” (Liberation Aug. 1956, pp. 4-9).
53 Michael Harmel: “Much ado about Pasternak” (Liberation, Des. 1958, pp. 8-11).
54 Joe Matthews: “‘Africanism’ under the microscope” (Liberation, Julie 1959, p. 10). Vgl. ook Matthews: “The Sixth Pan-African Conference” (Liberation, Okt. 1958, pp. 9-13), en Ruth First: “Building, building, building” (Liberation, Junie 1954, pp. 12-14).
55 Kyk Leopold en Ingrid Scholtz: “Die oorsprong en ontwikkeling van die SA Kommunistiese Party se tweefase-revolusie”, twee dele (Tydskrif vir Geesteswetenskappe 30/3 en 30/4, September en Desember 2004).
56 Thomas Karis en Gwendolen M. Carter (reds.): From Protest to Challenge. A Documentary History of African Politics in South Africa 1882-1964. Volume 2: Hope and Challenge 1935-1952 (Stanford, Hoover Institution Press, 1972), pp. 162-6 (toespraak van dr. A.B. Xuma, 23.2.1941).
57 “Resolutions of 43rd National Conference, 16-19.12.1954”, (www.anc.org.za/ancdocs/history/conf/resol43.html).
58 Nelson Mandela: Long Walk to Freedom. The Autobiography of Nelson Mandela (Londen, Abacus, 1994), p. 138.
59 Nelson Mandela: “Presidential Address at the Annual Conference of the African National Congress Youth League” (www.anc.org.za/ancdocs/history/mandela/1950s/sp5112.html).
60 Nelson Mandela: “No easy walk to freedom. Presidential address by Nelson R. Mandela to the ANC (Transvaal) Congress” (www.anc.org.za/ancdocs/speeches/1950s/sp530921.html).
61 Mandela: “Africa and World Peace” (Liberation, Sept. 1953), pp. 7-9.
62 Mandela: “A New Menace in Africa” (Liberation, Maart 1958, p. 26).
63 Sampson: Mandela, p. 137.
64 Hoofartikel: “Sunshine and shadow” (Liberation, April 1957, p. 1).
65 “The Road to South African Freedom”, in South African Communist Party: South African Communists Speak, pp. 286-7.
66 Ibid., p. 288.
67 Ibid., pp. 289-91.
68 Ibid., pp. 291-2.
69 Yusuf Dadoo: “South Africa: Revolution on an upgrade” (World Marxist Review, Julie 1978, www.sacp.org.za/main.php?include=docs/history/dadoo-24.html).
70 “S.A.C.P. Contribution” (The African Communist, 33/1968, p. 71).
71 “Editorial notes” (The African Communist, 94/1983, pp. 9-10, verslag van ’n toespraak van Moses Mabhida in Oos-Berlyn, April 1983).
72 Moses Mabhida: “Marx belongs to everyone” (The African Communist, 95/1983, p. 23). Vgl. ook Yusuf Dadoo: “60th birthday of the SACP” (Mayibuye, Julie 1981, p. 3).
73 M.A.R. (pseud.): “Rights and duties under socialism” (The African Communist, 91/1982, pp. 99-100).
74 “A united people will defeat the enemy” (The African Communist, 96/1984, p. 57).
75 “Message delivered by a member of the Central Committee of the South African Communist Party to the First Congress of the MPLA in Luanda in December 1977”, in South African Communist Party: South African Communists Speak, p. 435.
76 “Our fighting alliance” (onderhoud met Moses Mabhida, Mayibuye, Maart 1981, p. 2). Vgl. ook Moses Mabhida: “Youth must study and learn from history” (The African Communist, 92/1983, p. 83).
77 Stephen Ellis en Tsepo Sechaba (pseud.): Comrades Against Apartheid. The ANC and the South African Communist Party in Exile (Londen, James Currey, 1992), p. 132.
78 “ANC the alternative power” (onderhoud met Mzwai Piliso, Mayibuye, Maart 1983, p. 4).
79 Yusuf M. Dadoo: “Tribute to Dimitrov” (The African Communist, 50/1972), p. 62.
80 Terence Africanus (pseud. vir Jack Simons): “Comintern” (The African Communist, 36/1969, p. 80).
81 Scott Thomas: The Diplomacy of Liberation. The Foreign relations of the ANC since 1960 (Londen, I.B. Tauris, 1995), p. 177.
82 “Death of Leonid Brezhnev” (The African Communist, 92/1983, pp. 5-6).
83 Ibid., pp. 8-10.
84 “Freedom can be won. A Call to the South African People” (The African Communist, 43/1970, pp. 21-50.).
85 T. Sifunasonke: “U.S. Eagle over Africa. Reagan’s foreign policy threatens our independence” (The African Communist, 99/1984, p. 31.
86 Brian Bunting: “Warmongers who talk of peace – United States Strategy in Southern Africa” (Sechaba, April 1985, p. 6).
87 “What Reagan and Botha want” (Umsebenzi, 2/1985, p. 15).
88 Sietse Bosgra: “Contribution of Sietse Bosgra, Netherlands Institute for Southern Africa” (www.anc.org.za/ancdocs/history/aam/conference/sbosgra.html).
89 SAKP: “The Path to Power. Programme of the South African Communist Party as adopted at the Seventh Congress, 1989” (www.sacp.org.za/main.php?include=docs/history/1989/power1989.html).
90 Ibid.
91 Hans-Georg Schleicher: Südafrikas neue Elite. Die Prägung der ANC-Führung durch das Exil (Hamburg, Institut für Afrika-Kunde, 2004), p. 270.
92 Ellis en Sechaba (pseud.): Comrades against Apartheid, p. 58; Nhlanhla Ndebele en Noor Nieftagodien: “The Morogoro conference: A moment of self-reflection”, in Bernard Magubane (red.): The Road to Democracy in South Africa, I , 1960-1970 (Kaapstad, South African Democracy Education Trust, 2004), p. 591.
93 Die hele document is te vinde by www.anc.org.za/ancdocs/history/stratact.html. ’n Verkorte weergawe verskyn ook in Thomas Karis en Gail Gerhart: From Protest to Challenge, V (Pretoria, Unisa, 1997), pp. 387-93.
94 Let dus daarop dat die ANC by implikasie die Weste se beskerming van Wes-Berlyn in 1949 en weer in 1961, asook die Weste se veroordeling van die Sowjet-inval in Tsjeggo-Slowakye in 1968, veroordeel.
95 “Extracts from the Political Report of the National Executive Committee to the Consultative Conference of the African National Congress” (http://www.anc.org.za/ancdocs/history/or/or69-1.html).
96 Ibid.
97 Ibid.
98 Aangehaal in Michael Radu: “The African National Congress: Cadres and Credo” (Problems of Communism, vol. XXXVI, Julie-Aug. 1987, p. 73).
99 Scott Thomas: The Diplomacy of Liberation, pp. 99-101.
100 Vgl. bv. “Capitalism and colour bars” (Mayibuye, 30.4.1975, pp. 6-8); “Obituary of Moses Kotane” (Mayibuye, 15.6.1978, pp. 4); Hoofartikel: “Enemy manoeuvres” (Sechaba, Jan. 1979, p. 1); Lerato Morena: “Political and organizational tasks” (Dawn, 3/1982, p. 27); Arnold Selby: “Finish the job – smash fascism in South Africa” (Sechaba, Junie 1985, pp. 27-30); “Umkhonto we Sizwe – born of the people” (Sechaba, Maart 1987, p. 18).
101 Nyawusa (pseud.): “12th Youth and students festival in Moscow” (Sechaba, Okt. 1985, pp. 18-19).
102 UK-biblioteek, BC 1981 (P9.2), ANC: “Statement of the African National Congress of South Africa on the occasion of the 26th Congress of the Communist Party of the Soviet Union”, ongedateer.
103 Mafosi Shombela: “Our armed offensive. Military strategy in South Africa” (Sechaba, Maart 1986, p. 13.)
104 Alfred Nzo: “Mota our example” (Sechaba, Nov, 1979, pp. 15-18).
105 Steve Dliwayo: “Our commitment to peace” (Dawn, 11/1980, p. 10).
106 “Brezhnev – a great revolutionary and fighter for peace” (Dawn, 6/1982, p. 40).
107 Alfred Nzo: “African/Arab unity” (Sechaba, Jan. 1979, pp. 2-6).
108 Ibid. Vgl. ook Alfred Nzo: “Address to members of Umkhonto we Sizwe” (Dawn, 9/1979, p. 8), asook hoofartikel: “The motive behind anti-communism” (Mayibuye, Junie 1980, pp. 1-2), waar die rede vir die apartheidsregering se teenkanting teen die kommunisme toegeskryf word aan die strewe “to separate us from our natural allies, the socialist countries”. Vgl. verder hoofartikel: “The motive behind anti-communism” (Mayibuye, Junie 1980, pp. 1-2).
109 Alfred Nzo: “Mota our example” (Sechaba, Nov. 1979, p. 16). Vgl. Ook “ANC-CPSU talks” (Sechaba, Feb. 1975, p. 14).
110 Toespraak van Nzo by 65ste herdenking van die bestaan van die SAKP (www.sacp.org.za/docs/history/65years.htm/).
111 Vgl. bv. nuwejaarsboodskap van Tambo, 8.1.1972 (www.anc.org.za/ancdocs/history/jan8-72.html); toespraak by Karl Marx-Universiteit, Leipzig, 11.11.1987 (www.anc.org.za/ancdocs/history/or/or87-21.html); toespraak voor KPSU, Moskou, 4-5.11.1987 (www.anc.org.za/ancdocs/history/or/or87-20.html).
112 Nuwejaarsboodskap, 8.1.1982 (www.anc.org.za/ancdocs/history/or/or82-1.html).
113 “All roads led to Berlin” (Sechaba, Jan. 1981, p. 29).
114 Nuwejaarsboodskap, 8.1.1982, (www.anc.org.za/ancdocs/history/or/or82-1.html).
115 “Anti-imperialist solidarity” (Sechaba, Sept. 1979, p. 26).
116 Francis Meli: “President O.R. Tambo – political profile on the occasion of his 70th birthday” (Sechaba, Okt. 1987, p. 6).
117 Tambo: “Statement to the OAU Liberation Committee, Arusha, 10.2.1983” (www.anc.org.za/ancdocs/history/or/or83-3.html). In sy politieke verslag aan die raadplegende konferensie van Kabwe in 1985 het die ANC se NUK Amerika se buitelandse beleid eweneens gelyk gestel met Hitler se strewe om die Sowjetunie te vernietig. Vgl. “The eyes of our people are focussed upon this conference,” IV (Sechaba, Januarie 1986, p. 3).
118 Nuwejaarsboodskap, 8.1.1984 (www.anc.org.za/ancdocs/history/or/or84-1.html).
119 "Political report of the National Executive Committee to the National Consultative Conference of the African National Congress”, Junie 1985 (www.anc.org.za/ancdocs/history/or/or85-5.html).
120 “Pres. Brezhnev – ANC statement” (Mayibuye, Nov. 1982, p. 3).
121 Dimitri Volkogonov: The Rise and Fall of the Soviet Empire. Political Leaders from Lenin to Gorbachev (Londen, HarperCollins, 1998), pp. 264-5.
122 Hoofartikel: “A rotten system” (Mayibuye, 8.11.1968, pp. 1-2). Vgl. ook hoofartikel: “A decaying society” (Mayibuye, 10.6.1968, pp. 1-2).
123 “The United States and South Africa” (Mayibuye, 20.1.1968, p. 1).
124 “The year in perspective” (Mayibuye, 22.12.1967, p. 4).
125 Hoofartikel: “The human rights bogey” (Mayibuye, 31/7/1978, pp. 1-2). ’n Dekade later het die African Communist (114/1988, pp. 89-91) ’n toespraak van Fidel Castro aangehaal wat presies dieselfde punt maak.
126 “Straight talk: A matter of urgency for Africa” (Dawn, 10/1981, p. 28).
127 Mzala (pseud. vir Jabulani Nxumalo): “Can the imperialists abort our revolution?” (Sechaba, Julie 1987, p. 7). Vgl. ook “The penetration of South Africa by US imperialism” (Sechaba, Aug. 1973, pp. 17-19).
128 “The eyes of our people are focussed upon this conference”, I (Sechaba, Okt. 1985, p. 3).
129 “Peaceful coexistence, national liberation, and national independence” (Sechaba, April 1974, p. 10). Vgl. ook Schleicher: Südafrikas neue Elite, p. 270.
130 Farid Esack: “Glasnost and the Mass Democratic Movement” (referaat by Universiteit van Natal, 4.2.1990, by http://uk.geocities.com/faridesack/feglasnost.html).

