Die A tot Z van Omikron

  • 7

Foto: https://pixabay.com/illustrations/omicron-virus-corona-coronavirus-6833018/

.......

2022 herinner aan die eerste maande van 2020 – buiten dat die wetenskap veel meer oor COVID-19 as destyds weet. Die meeste van ons sal waarskynlik Omikron opdoen, en daar is wel feite oor onder meer entstowwe waarvan jy kennis moet neem.

..........

2022 herinner aan die eerste maande van 2020 – buiten dat die wetenskap veel meer oor COVID-19 as destyds weet. Die meeste van ons sal waarskynlik Omikron opdoen, en daar is wel feite oor onder meer entstowwe waarvan jy kennis moet neem.

Die ernstige akute respiratoriese sindroom-koronavirus tipe 2 (SARS-CoV-2) gaan nié uitsterf nie. Dit sal endemies word. Dit is hier om te bly, dis deel van ons lewe, en reeds deel van die geskiedenis.

Omikron is hoogs aansteeklik en die syfers tans bars regoor die wêreld tans uit sy nate. Mense wat twee entstowwe ontvang het, en dan ’n skraagdosis, se kanse om in die intensiewesorgeenheid te beland of te sterf is steeds minder, veel minder, as by mense wat nie gevaksineer is nie.

........

Omikron is hoogs aansteeklik en die syfers tans bars regoor die wêreld tans uit sy nate. Mense wat twee entstowwe ontvang het, en dan ’n skraagdosis, se kanse om in die intensiewesorgeenheid te beland of te sterf is steeds minder, veel minder, as by mense wat nie gevaksineer is nie.

........

Dit punt is nie óf jy die virus gaan opdoen nie, maar hoe erg, en dit is al vir maande die boodskap. Dié feite is duidelik uit onder meer data van Duitsland en Brittanje.

Amerika, Brittanje en Europa steier tans onder die gevalle, en al is Omikron nie so ernstig soos die vorige variante nie, veroorsaak die enorme skaal dat hospitale oorsee vol raak. In Suid-Afrika is ons uit die vierde golf.

Dit is eerstens ’n kwessie van proporsies. Daar is soveel duisende mense wat die virus opdoen dat daar alom meer siek mense sal wees.  Dit verhoog die kanse dat meer mense vir maande lank met lang COVID-19 se gestremdheid sal moet leef.

Wie veral aan die kortste ent gaan trek, is diegene wat nie gevaksineer is nie.

’n Deense studie van die Universiteit van Kopenhagen en die Deense Staatseruminstituut het ook einde verlede jaar gewys wat gebeur in 12 000 huishoudings met Omikron. Mense wat nie gevaksineer is nie, se kanse voorheen om met Delta geïnfekteer te word, is twee keer meer as diegene wat wel ten volle gevaksineer is. Met Omikron is dit min of meer dieselfde, maar daar is ’n verskil.

Die data wys duidelik dat entstowwe ernstige siekte en die dood keer. En ’n skraagdosis halveer die kanse van infeksie. Dié studie wys dat om gevaksineer te wees jou kanse verlaag om ander mense aan te steek, vir beide variante. ’n Persoon wat nie gevaksineer is nie, sal 41% meer waarskynlik ’n ander persoon aansteek as wat ’n gevaksineerde sal doen.

(Skraagdosisse is reeds in Suid-Afrika beskikbaar. Dit werk so: Jy kan die derde Pfizerdosis ontvang vanaf ses maande ná die tweede een. Indien jy Johnson & Johnson ontvang het en 18 jaar of ouer is, kan jy ’n skraagdosis ontvang as jou eerste dosis minstens twee maande voor 24 Oktober toegedien was. Indien dit daarna was, moet daar twee maande verloop het. Kinders van 12 tot 17 jaar kan ook nou hulle tweede Pfizerdosis kry.)

Suid-Afrika het ook uiteindelik nou data beskikbaar gestel met ’n onderskeid tussen diegene wat entstowwe ontvang het en dié wat dit nie ontvang het nie. Maar dit word redelik weggesteek  op die amptelike Suid-Afrikaanse koronavirusblad onder “latest vaccine statistics”. Dit verskyn op die 16de bladsy en dui net die mense in die hospitaal aan wat gevaksineer is vs dié wat nie gevaksineer is nie, en maak ook onderskeid tussen die ouderdomme

Daar is duidelik ’n reuseverskil. Uiteraard, hoe ouer ’n mens is, hoe swakker is jou immuniteit – vir die groep bó 60 is daar meer gevaksineerdes in die hospitaal, máár in die groep is die ongevaksineerdes in die hospitaal steeds twee keer meer. Daarom is die skraagdosis vir dié groep so belangrik.

.......

Daar is duidelik ’n reuseverskil. Uiteraard, hoe ouer ’n mens is, hoe swakker is jou immuniteit – vir die groep bó 60 is daar meer gevaksineerdes in die hospitaal, máár in die groep is die ongevaksineerdes in die hospitaal steeds twee keer meer. Daarom is die skraagdosis vir dié groep so belangrik.

........

Kyk ’n mens na die kinders, is daar net ongevaksineerdes in die hospitaal. Jongmense van 18 tot 34 jaar wys ook: Meer as 1 300 is opgeneem wat nie gevaksineer is nie, teenoor 150. Die volgende groep, van 35 jaar tot 49: 1 174 teenoor 347. En dan 50 tot 59 jaar: 704 teenoor 265.

Die boodskap hier is dat almal wat 50 jaar en ouer is, gevaksineer moet word om hulself te beskerm. ’n Persentasiekoers van bo 90% in Suid-Afrika in dié groep sal aansienlike verligting bring.

Die koste van mense wat in die hospitaal beland omdat hulle nie gevaksineer is nie, is ’n onnodige en voorkombare onkoste. In die openbare sektor kan ’n hospitaalbed in ’n gewone saal R3 700 per dag kos, en in die privaatsektor R5 200. Maar beland jy in die intensiewesorgeenheid is die koste per dag R20 000 teenoor soveel as R37 000 per dag (sonder die dokters se rekenings).

Wat die syfers nie wys is nie, is hoeveel mense wat nie gevaksineer is nie, sterf, teenoor dié wat ten volle gevaksineerd is. Sulke syfers behoort gedeel te word. Die regering en ander kan dit as kragtige boodskap gebruik sodat mense hulle gesondheid van waarde kan ag.

Ná twee jaar se intense geneeskunde, tienduisende artikels in portuurgeëvalueerde tydskrifte en wêreldwye kliniese navorsing deur voorste navorsers is onsinnighede van mense wat aan anti-entstofsentimente klou, eintlik nie meer relevant nie.  Indien mense nou nog nie begryp hoe die entstowwe werk nie, wíl hulle nie begryp nie. Uiteindelik sal dit ’n tragiese deel van geskiedenis word waaroor baie nog besin sal word in die jare wat kom.

Omdat Omikron so blitsig versprei en daar tot ’n mate immuniteitsontsnapping was, beteken dit nie hoop moet versaak word nie. Glad nie – die wetenskap pas homself die hele tyd aan en ons sal nuwe entstowwe sien wat verfyn word.

Buiten teenliggaampies wat wel met verloop van tyd minder effektief raak, het ons T-selle wat deur vaksinasie gestimuleer word. Dié is meer veerkragtig en doen verskeie immuniteitstake, soos om selle wat met ’n virus geïnfekteer word, te verwoes. Dit bou ook ’n langdurige immuniteitsgeheue op.

.........

Daar word wyd vertel dat Omikron nie “so ernstig” is nie. Dit mag dalk in die meeste gevalle so wees. Maar moet dit nie onderskat nie – daar is steeds mense wat daarvan sterf – dit is nie net ’n verkoue nie. Die goeie nuus is dat voorlopige studies wys dat Omikron minder skade aan die longe as die vorige variante aanrig.

..........

Daar word wyd vertel dat Omikron nie “so ernstig” is nie. Dit mag dalk in die meeste gevalle so wees. Maar moet dit nie onderskat nie – daar is steeds mense wat daarvan sterf – dit is nie net ’n verkoue nie. Die goeie nuus is dat voorlopige studies wys dat Omikron minder skade aan die longe as die vorige variante aanrig.

Einde verlede jaar het die eerste COVID-19-spesifieke medikasie noodgoedkeuring deur die Amerikaanse Food and Drug Administration gekry. Dit is nie ’n plaasvervanger vir ’n entstof nie en is bedoel vir mense van 12 jaar en ouer. Die middel, Paxlovid (nirmatrelvi en ritonavir, laasgenoemde ’n MIV-middel), meng in met die virus se vermoë om te repliseer in en verminder die hospitalisasiekoers met 90%. Die word deur Pfizer vervaardig.

Die ander middel, molnupiravir, vervaardig deur MSD (bekend as Merck in die VSA), verminder hospitalisasie met sowat 30%. ’n Vinnige evaluasie (rapid review) van dié middel is deur die Departement van Gesondheid onderneem en gebruik daarvan hier is in Desember afgekeur. Dit beteken egter nie dat dit nie dalk later hersien kan word nie.

Beide middels is komplekse antivirale middels wat binne die eerste dae nadat jy simptome ontwikkel het, vir vyf dae lank geneem moet word. Molnupiravir kan net vir mense bo 18 jaar gegee word en ook nie vir swanger vroue nie.

Paxlovid kan nie vir mense met nier- of lewerprobleme gegee word nie, en beide kan dalk met ander chroniese medikasie inmeng. Sou dit teen internasionale pryse hier beskikbaar gestel word, sal een kursus jou tussen R11 000 en R12 000 uit die sak jaag, tensy ’n generiese produk beskikbaar word.

Dit is dus nie so maklik as om ’n pil te sluk nie. Maar tog sal mense dit eerder doen, of ’n middel wat nié kliniese voordele vir COVID-19 inhou nie, drink, soos ivermektien, wat ook lewerskade kan aanrig, eerder as om ingeënt word.

........

Dit is dus nie so maklik as om ’n pil te sluk nie. Maar tog sal mense dit eerder doen, of ’n middel wat nié kliniese voordele vir COVID-19 inhou nie, drink, soos ivermektien, wat ook lewerskade kan aanrig, eerder as om ingeënt word.

.........

Verstommend.

Vir ’n middel om in Suid-Afrika beskikbaar te wees, moet die vervaardiger aansoek doen om registrasie en lisensiëring by die Suid-Afrikaanse Regulatoriese Owerheid vir Gesondheidsprodukte (Sahpra). Tot dusver het dit nog nie hier gebeur met dié antivirale middels nie.

Indien dit blyk dat die entstowwe nie meer genoeg beskerming bied teen ernstige siekte en die dood nie, is die volgende stap om dit aan te pas teen Omikron en toekomstige variante. Dit is veel makliker en vinniger om te doen as om van nuuts af te begin. Van die groot maatskappye is reeds besig met navorsing hieroor.

Ons is stadig besig om immuniteit op te bou. Maar die natuurlike immuniteit het in dié land teen geweldige koste gekom – 290 000 mense is dood. Dit is die syfer van ons oortollige sterftes weens COVID-19, soos nagevors deur die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad.

Dit is te veel, veral dié wat dood is nadat entstowwe beskikbaar geraak het. Daardie kans wat gewaag is, se prys was te hoog om te betaal. Dit sal deel wees van ons pynlike geskiedenis van die virus se storie.

Lees ook:

COVID-19: Die jongste | The latest

 

  • 7

Kommentaar

  • Baie dakie, Elsabé vir ’n uitstekende artikel, geskryf in hoogs verstaanbare taal; sinvol, logies, insiggewend.

    Ek het jou wetenskap-artikels op Netwerk24 só gemis nadat dit gestaak is ...

    En sowaar, hier loop ek jou, tot my groot vreugde, op LitNet weer raak.

  • Baie dankie, weer eens, Elsabé, vir ’n baie sinvolle artikel. Jy doen duidelik deeglike navorsing oor jou onderwerpe en dra dit dan in verstaanbare taal aan ons oor. En so help jy ons om "by te bly."

  • Annora Eksteen

    "Skraagdosis" is ’n lekker woord: kort en bondig. Ek sal myne in Maart gaan kry. Inderdaad akkuraat en duidelike skrywe. Dankie.

  • Van die os op die jas.
    Jy het vir my klas gegee in 1982.
    Afrikaans, U.P.
    Jou pa Louis en my oom Frik (van Niekerk) was vriende.
    Tannie Moedi (Reyneke) is onlangs oorlede.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top