
Schoeman Smit in Devil song. Foto: Canned Rice
Die Tuiskomssentrum op die hoek van Buitenkant- en Caledonstraat in Distrik Ses het nou sy vlerke nog verder gesprei en die aangrensende voormalige Fugard-teater ook betrek. Dis nou oop as teater, ouditorium en onthaallokaal en beskikbaar vir huur, en bedags is ’n koffiewinkel weer in die foyer oop. Die pragtige ou gotiese styl-kerk wat in 2010 as Fugard-teater geopen het, het weer lewe.
Om weer oudergewoonte ons motor te parkeer met die aanlokkende ligte voor die historiese ou gebou waar ons vir soveel jaar van die land se beste produksies gaan kyk het, was ’n emosionele een. Dit was ’n ware tuiskoms – hoewel op ’n ander manier as waarvoor die historiese sentrum in Distrik Ses haar arms oopgooi vir dié wat destyds weens apartheid verplaas is.
Covid het ons almal op ’n manier verplaas, van mekaar vervreem en die kunste van sy tuistes ontneem.
’n Splinternuwe Suid-Afrikaanse kabaret Devil song is tans daar op die planke met sy première in die Avalon-ouditorium. Die kabaret is geïnspireer deur die Tony-bekroonde Audra McDonald se liedjiesiklusse The Seven Deadly Sins, en bevat kort beskrywings, liedjies en voordragte oor die sewe doodsondes: hoogmoed, gierigheid, gramskap, afguns, wellus, gulsigheid en luiheid. Dit word aangebied deur Dal Segno-teater.
Die kabaret is ’n samekoms van ’n span teatermakers. Dis saamgestel en geregisseer deur David Fick; Schoeman Smit is op die verhoog met sy voordrag en sang, met drie swart kratte waaruit hy allerhande kostuums en rekwisiete haal en hy word deur Ian Bothma op die klavier begelei. Ian behartig ook die musikale regie. Die stelontwerp is sewe swart deurrame waardeur Schoeman – soms met aarseling en vrees – stap as deel van sy optrede.
Die kort vinjette is deur David Fick, Pieter Jacobs en Joanna Weinberg geskryf en sluit ook ’n skaars vertaling van Eitemal se “to be or not to be” in.
Beligtingsontwerp is deur Tara Notcutt, ’n Fleur du Cap-teaterpryswenner; die stel- en kostuumontwerp deur Widaad Albertus, wat vir ’n Fleur du Cap-teatertoekenning genomineer is.
Schoeman Smit is twee maal vir ’n Naledi-toekenning genomineer en het onder meer al in musiekblyspele soos Sweeney Todd, Rock of Ages, Into the Woods, The Producers, Sinbad the Sailor en Evita gespeel. Sy optredes in klassieke operawerke sluit Mozart se Requiem, Un Giorno di Regno, Carmen en Il Caro Sassone in. Hy was ook al in verskeie kinderteaterproduksies.
- Ander vertonings wat binne die volgende paar weke by die Tuiskomssentrum opgevoer word, is Peter & the Wolf op 1 April en Cruise, die bekroonde Olivier-toekenning-benoemde toneelstuk deur Jack Holden met Daniel Geddes in die hoofrol, van 12–30 April. (Kaartjies by Quicket en voorskou hier: https://youtu.be/5GRp0yQGHag.)
Devil Song
Met: Schoeman Smit
Geïnspireer deur: Audra McDonald se sangsiklus The Seven Deadly Sins
Geskryf deur: David Fick, Pieter Jacobs, Joanna Weinberg
Saamgestel en regie: David Fick
Musikant op die verhoog en musikale regisseur: Ian Bothma
Beligting: Tara Notcutt
Kostuum- en stelontwerp: Widaad Albertus
Avalon-ouditorium, Tuiskomssentrum, h/v Buitenkant- en Caledonstraat, Kaapstad tot 5 April.
Kaartjies via Webtickets: https://www.webtickets.co.za/v2/Event.aspx?itemid=1525056371

