Deon Meiring eet ’n Bennie Griesel – en gesels musiek

  • 0

Deon Meiring is een van slegs agt woordmense wat vanjaar bekroon is met een van die Cordis Trust se Beiteltjies. Izak de Vries het hom by De Vrije Burger ontmoet om ’n Bennie Griesel te eet en om meer te hoor oor sy musiek, veral sy nuwe album, Grensbewoner.

Deon, kom ons begin met gelukwensinge. ’n Beiteltjie van die Cordis Trust is nie te versmaai nie.

Baie dankie, ek’s baie opgewonde daaroor. Ek ervaar dit as ’n mooi bemoediging en ’n manier om te sê my werk is nog nie verby nie, maar die werk wat reeds gedoen is word raakgesien. Baie ander woordkunstenaars na wie ek opkyk het ook al Beiteltjies ontvang (hierdie jaar en voorheen). Dis ’n voorreg om in hulle geselskap te wees.

Goed, ons het baie opsetlik ’n Bennie Griesel kom eet. Met ’n hap hamburger en my tong in my kies, wat is die grootste verskil tussen Deon Meyer en Deon Meiring?

Op die oomblik lyk dit vir my asof die verskil al hoe kleiner word. Gewoonlik sou ek mense wat ons verwar, reghelp deur te sê ek is die Deon wat sing. Deon Meyer sing egter nou ook (en goed!) saam met Lize Beekman op haar nuutste album. Ek dink ’n ander verskil is dat ek soms van sy fan mail kry, maar ek weet nie of hy van myne kry nie.

Die Bennie Griesel

Jy is ’n musiekmaker, maar ook ’n woordbeitelaar. My geliefde is mal oor Grensbewoner. Sy sê dis “vars en oorspronklik”. Hoe skakel woorde en note in jou lewe? Wat kom eerste?

Sê vir jou geliefde ek waardeer dit! Wanneer ek liedjies skryf, probeer ek veral deesdae om ewe veel aandag aan die lirieke en die musiek te gee. Toe ek op skool begin liedjies skryf het, was dit definitief ’n manier vir my om my liefde vir woorde uit te leef. Op daardie manier kom woorde op ’n manier eerste. In die praktyk kan dit wel enige kant om gebeur vir my. Soms sal die musiek eerste kom, maar dan sal ek steeds my bes doen om uit te vind wat dit is wat ek wil sê.

Dit is ’n baie ou weergawe van die titelsnit. Die nuwe weergawe, en die album, is op Apple Music, Spotify en ander musiekplatforms te koop.

Ons eet nou by De Vrije Burger, wat natuurlik ’n woordspeling is op die vryburgers van ouds wat die landsgrense moes gaan bewoon. Jou album Grensbewoner is ’n baie stiller, akoestiese klank as byvoorbeeld Die slaapkamersessies. Die sagter aanslag was al teenwoordig in Hier by ons. Hoekom? Dit is, terloops, baie mooi!

Dankie! Dis weer eens te make met die verhouding tussen woorde en musiek. My eerste omswerwinge as liedjieskrywer was saam met my rock band, Glaskas. In ’n band is die musiek dikwels soos ’n rivier wat afkom en dan staan sekere woorde uit soos opdrifsels langs die oewer. Dis baie lekker, maar ek het ook al vir lank die behoefte aan meer gestroopte musiek wat meer ruimte gee vir die lirieke. Die uitdaging is dan dat elke eenvoudige stukkie musiek én die woorde meer onder die vergrootglas is. Met beide Grensbewoner en Hier by ons het ek vir myself toestemming gegee om dit te doen. Dit het veral gehelp dat ek vrede gemaak het daarmee dat alles nie absoluut vlekkeloos hoef te wees nie. Dis noukeurig opgeneem, maar nie blinkgepoets nie. Grense is mos dikwels goed vir kreatiwiteit ook. Met Grensbewoner het ek ook in gedagte gehou dat dit saam met Koos Kombuis se musiek in die reeks Kompleks gebruik gaan word. Sy musiek word gewoonlik ongeveins opgeneem en ek wou iets doen wat daarby sou pas.

Die sjef, Bertus Basson, se motto is eenvoud en gehalte. Werk dit so in jou musiek ook?

Daar vat jy dit nou saam. Die ironie daarvan is dat die eenvoud my dikwels ontwyk en dan moet ek eers op ’n lang soektog gaan om dit te kry. Of om oortollige brokkies af te skud.

Daardie tjello in “Bicycle sonder ’n slot” is ongelooflik. Ek het al baie weergawes van daardie lied gehoor, maar dié een is sonder twyfel die mooiste. Hoe het dit gebeur?

Ek’s regtig bly dat dit vir jou mooi is. Dis mos maar altyd ’n bietjie riskant om iets nuuts met ’n tydlose liedjie te doen. Dit was alles danksy Kompleks. Louis Pretorius het in die skryf van die teks gewerk met die idee van die hoofkarakter, Sean, wat onder andere tjello speel. Braam du Toit (wat ook die musiek gedoen het vir ander reekse uit Louis Pretorius en Albert Snyman se verbeeldings, soos Fynskrif) het toe die tjelloverwerking gedoen en hy was ook die musikale regisseur terwyl ons dit opgeneem het. Ek dink hy’t dit reggekry om iets mooi te doen, maar steeds die oorspronklike liedjie se eerlikheid te behou.

En Koos Kombuis? Het jy hom gebel en gesê: “Dude, ek soek backing vocals?”

Ek wens ek was so dapper. Ek het al voorheen opgetree in dieselfde line-up as Koos. Daai aand het ek liewer draaie om hom geloop, want ek het nie geweet of ek koel en kalm sou bly voor my held nie. Johan Viljoen, wat ook die vervaardiger is van Grensbewoner, was daar as my pianis en hy en Koos het blykbaar land en sand gesels langs die verhoog. Louis Pretorius het hierdie bal aan die rol gekry en ek is hom ewig dankbaar daarvoor. Koos het my intussen al genooi om die liedjie saam met hom op die verhoog ook te doen. So op die ou einde was dit eendag hy wat laat weet het: “Dude, ek soek backing vocals.” Dis een van die lekkerste goed wat ek al in my loopbaan gedoen het.

Nou na die titelsnit, “Grensbewoner”. Dit gaan oor iemand wat vasgevang is “tussen die hemel en die doodgewone”. Wat ’n wonderlike reël. Is dit wat kunstenaarskap vir jou beteken?

Dis beslis waar ek my dikwels as kunstenaar bevind, maar ook as mens in die algemeen. Wat kuns betref, dink ek kunstenaars help dikwels om die oorgange en onseker dele van die lewe te verwoord. As dit nie verwoord kán word nie kan goeie kuns mens steeds op ’n manier begelei. ’n Goeie liedjie of kunswerk het die vermoë om dit wat ’n oomblik gelede nog alledaags was, onverwags te omskep in iets buitengewoon.

Dan die byna kinderlike verwondering oor ’n plek tussen “gister en die geheime wat voorlê”. Dis mooi, al is dit ’n grensgebied waar die spreker nie tuis kan voel nie? Onskuld en kinderlike heiligheid kom ook voor in “Hoe ek regtig lyk”.

Ek moet gereeld daardie hunkering na die verlede in myself uitdaag. Tog help dit my ook om die goeie daarvan raak te sien. Daardie kinderlike verwondering is byvoorbeeld iets wat vir my belangrik is. Dit help my om meer verbeeldingryk te wees. Dis juis iets wat nodig is om sin te maak uit grense. Die verbeelding om te kan kyk na dit wat moontlik is, al is dit nog nie die noodwendige werklikheid nie.

Die dualisme kom ook voor in “Lyntjies T-hemp” waar die spreker vra: “Wie wil ek wees, sal jy my help om te onthou?”

Ja, dis vir my nog een van daardie vreemde grensgebiede. Vir my is dit iets wat ek feitlik daagliks moet vra. As ek kan onthou om dit te vra. Die ooglopende idee van getrouheid aan jouself is dalk om te bly wie jy is. Dis wel ook getrou om te vra hoe om te verander – wie jy moet of wil word.

Het mense al aangebied om te help skryf op die lyntjies op jou T-hemp?

Nog nie, maar ek hou van die voorstel! Ek nooi hiermee mense uit om met penne by my optredes op te daag vir daardie doel.

Deon het ook ’n strepieshemp gedra by die Tuin van Digters

Van die T-hemp na die vel. In “Hoe ek regtig lyk” is die vel ’n onsigbare kleed, maar dit is ook tyd om daaruit te vervel “om te sien hoe ek regtig lyk”. Dit is so anders as die gesprekke oor vel en velkleur wat ons gewoonlik in die letterkunde raakloop.

Ek dink dis dalk anders omdat dit nie aanvanklik by my opgekom het as iets oor velkleur as sulks nie. Dit was eers net my manier om te erken dat soveel dele van myself eintlik vir myself versteek is. Onbewustelik én doelbewus. Natuurlik kan mens nie sommer oor vel praat sonder om op ’n manier bewus te word van velkleur ook nie. In hierdie opsig doen die beeld sélf toe ook dit wat dit beskryf. Dit laat my besef dat daar soms reg onder my oppervlak teenstrydighede en moontlikhede is wat ek in die gesig moet staar.

In die letterkunde praat ons daarvan dat kuns ons moet help om anders te kyk na die alledaagse. Ek vermoed jou lirieke ondersoek nogal daardie moontlikheid?

Ja, dis my gunstelingbeskrywing van digkuns ook. Iets wat ons gewone woordeskat op een of ander manier uitsonderlik maak. Op ’n manier is al wat ons tot ons beskikking het die alledaagse. Ek het al baie liedjies probeer skryf met sogenaamde groot woorde. Dis egter die plat-op-die-aarde-liedjies wat uiteindelik vir langer by my bly en dieper met my praat.

Jy het nou die dag die program geopen by die Tuin van Digters. Jy is ook ’n digter wat opgeneem is in die onlangse uitgawe van Ons Klyntji. Gaan ons by jou ook ’n boek gedigte sien, soos wat ander sangers onlangs gemaak het?

Dit klink vir my baie lekker, maar dis nie noodwendig iets waaraan ek op die oomblik doelbewus werk nie. As liedjieskrywer hou ek van die verband en die verskille tussen digkuns en lirieke. Dit maak dit vir my lekker om deesdae ook meer gedigte te skryf of ten minste te probeer skryf.

Oor die afgelope paar jaar het jy gereeld opgetree as ’n mentor vir ATKV-Crescendo. Hoekom doen jy dit?

Ek is nogal leergierig en hou ook daarvan om dit wat ek leer met ander te deel (en dan weer opnuut te leer). Ek weet ook uit my eie lewe hoe belangrik dit is om bloot jouself toe te laat om te skep. ’n Baie groot deel van wat ek doen by ATKV-Crescendo voel eintlik maar net asof ek vir nuwe liedjieskrywers sê: “Ja, sê iets, skryf iets. Deel dit met ons en met die wêreld.” Daar is soveel musiekstyle en uitdrukkings van Afrikaans wat nog ontgin kan word. Ek dink baie daarvan het te doen daarmee dat liedjieskrywers moet agterkom hulle mag maar anders klink as dit wat reeds daar buite is. ATKV-Crescendo is nogal ’n plek wat mense daarmee help.

Die danser in hierdie video, Malindi Burden, was ook al deel van ATKV-Crescendo.

Wie was vir jou ’n mentor toe jy jou loopbaan begin het?

Jan Blohm was destyds ’n mentor. Hy’t ons baie gehelp om ons eerste Glaskas-album die lig te laat sien en ons het heelwat saam met hom getoer, ook toe ons net begin het. Dit was wonderlik, want ek het daai tyd geweldig baie Jimi Hendrix en Bob Dylan geluister. Skielik was daar hierdie ou op die toneel wat kan kitaarspeel soos Hendrix én hy skryf verbeeldingryke lirieke in Afrikaans. Toe kruis ons paaie sowaar.

Jy is deesdae ’n inwoner van Wellington. Hoe ervaar jy dit?

Dis baie opwindend. Ek dink mens kan nogal aanvoel dat skrywers soos Adam Small en Breyten Breytenbach wortels in die dorp het, veral as jy so ’n bietjie op die uitkyk is daarvoor. Wellington het baie kreatiewe mense. Al is dit nie ’n stad nie, sorg die Breytenbach-sentrum en die Bôrdienghuis-teater dat daar heelwat besonderse kuns is om te beleef. Boonop is daar baie gasvrye en vriendelike mense ook. Uit die aard van die saak reis ek gereeld vir optredes, maar Wellington is vir my ’n goeie plek om tuis te kom én om my kreatiwiteit te prikkel.

En wat dink jy van die hamburger?

De Vrije Burger het my laat wonder of daar ook free burgers betrokke gaan wees. Dit sou seker nie finansieel volhoubaar wees nie, maar nietemin is hier gratis roomys* wat baie lekker is. Ek is nie ’n speurder nie, maar as ek moes raai sou ek sê dis die mosterdpiekel wat maak dat Bennie Griessel gereeld hier inval. Dis waarvoor ek gaan terugkom.

(*By die skryf van die onderhoud is daar ’n gratis draairoomys verskaf aan burgerkopers; ons het vir ons eie burgers betaal.)

Deon het met sy wiele opgedaag, want, sê hy, dan hoef hy nie naby te parkeer nie.

Iets oor die burger

Bennie Griesel eet graag in De Vrije Burger. Daarom het sjef Bertus Basson besluit om ’n Bennie Griesel op sy spyskaart te sit.

De Vrije Burger is op die Simonsplein, Pleinstraat 61. Hulle is Dinsdae tot Sondae oop van 12:00 tot 20:00.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top