Deon Meiring is sedert 2006 aktief in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf as die rock groep Glaskas se hoofsanger, kitaarspeler en liedjieskrywer. In 2009 stig hy Dans Dans Lisa saam met Bouwer Bosch. Hy het in 2013 ’n solo-projek, Die Slaapkamersessies, aangepak waar hy vir tien weke lank elke week ’n liedjie geskryf en op YouTube gedeel het. Vir sy debuut solo-EP, Die Slaapkamersessies, is vyf van hierdie liedjies gekies en in ’n ateljee vervaardig en opgeneem. In 2018 het Deon elke maand ’n liedjie geskryf en dit aan die einde van die maand in ’n YouTube-video vir sy projek, Maandeinde, bekendgestel. Sy jongste enkelsnit en musiekvideo, Ek weet net nie, is einde 2018 bekendgestel.
Twee van Deon se gedigte is opgeneem in die 2016 bundel Sterkykers, uitgegee deur LAPA Uitgewers en saamgestel deur Jaco Jacobs.