Debuutproduksies ryg talle Kanna-benoemings in

  • 0

Debuutproduksies het vanjaar die voortou geneem met benoemings vir die KKNK se Kannas vir 2017.

Reza de Wet se Asem en Tertius Kapp se Liewer is elk ses keer benoem. Liewer is ’n aanspraakmaker in die kategorieë beste teateraanbieding, debuutwerk, nuutgeskrewe teks (Kapp) en regie (Jaco Bouwer). Anna-Mart van der Merwe en Tarryn Wyngaard is ook onderskeidelik benoem as beste aktrise vir hul spel in Liewer. Asem is benoem vir beste teateraanbieding, debuutwerk en regie (Marthinus Basson), met Antoinette Kellermann as beste aktrise Edwin van der Walt en Tinarie van Wyk Loots onderskeidelik as beste manlike en vroulike byspeler.

Asem (Antoinette Kellerman en Tinarie van Wyk Loots)

Asem (Edwin van der Walt)

Kort op hul hakke is skrywerregisseur Neil Coppen se Buite Land en Retief Scholtz se Dop, wat elk in vyf kategorieë benoem is. Buiten vir beste teateraanbieding en debuutwerk kom Buite Land ook in aanmerking vir nuutgeskrewe teks (Coppen) en beste manlike en vroulike byspeler (onderskeidelik Kopano Maroga en Elize Cawood). Dop is benoem vir beste teateraanbieding, nuutgeskrewe teks (Scholtz), regie (Sylvaine Strike), akteur (André Odendaal) en manlike byspeler (Wilhelm van der Walt).

Buite Land (Jacques Bessenger en Kopano Maroga)

Twee debuutkomedies, die vertaalde Die koninkryk van die diere en Klara Maas se hart is gebreek, ensomeer: Die vloeistof-trilogie, het duidelik die lagspiere behoorlik gekielie deur elk erken te word met vier benoemings, insluitend beste debuutwerk. (Wessel Pretorius se “kort” Klara Maas het  verlede jaar as Uitkampteaterstuk ’n Kanna as debuutwerk gewen.) Basson het met Die koninkryk van die diere sy slag as komedieregisseur gewys, terwyl Dawid Minnaar en Joanie Combrink vir hul onderskeie rolle as die maraboe en die muskeljaatkat as manlike en vroulike byspeler benoem is. Klara Maas het ook vir Pretorius ’n benoeming vir beste nuutgeskrewe teks én akteur en vir David Viviers as beste manlike byspeler in die sak gebring.

Die koninkryk van die diere

Minnaar en Pretorius het ook benoemings vir beste akteur ontvang in onderskeidelik Monsieur Ibrahim en die blomme van die Koran en Die ontelbare 48. Gideon Lombard ding ook mee in dié kategorie vir sy spel in die debuutproduksie Die reuk van appels.

Nog ’n sterk aanspraakmaker vir die Kannas is skrywerregisseur Lara Foot se Karoo Moose, wat reeds in 2007 by Aardklop gedebuteer het en nou vir die eerste keer op Oudtshoorn te sien was. Dit kom in aanmerking vir beste teateraanbieding, regie (Foot) en aktrise Chuma Sopotela.

Pa maak vir my ’n vlieër pa en Piekniek by Mpande, née Dingaan het elk een benoeming ontvang in die kategorie vir beste vroulike byspeler vir onderskeidelik Sandra Prinsloo en Nicole Holm.

Die benoemings vir die Kanna vir beste musiekproduksie is almal van uiteenlopende musiekgenres. Die aanspraakmakers is Loki Rothman en Albert Frost – Die akoestiese kitaar, Grethe van der Merwe – Allegorie, Rymklets van Oos tot Wes en Zolani Mahola – Rok en rol.

Onder die kunsuitskieters is Filmverse 2 (verskeie animasieprente onder leiding van Diek Grobler as artistieke regisseur), Broeigrond: Fertile Ground for Golden Regrets van Ronél de Jager en Lucia Boer as kurator vir The Dirty Penny Paradigm (gemengde media met verskeie kunstenaars).

Drie nuwe Kanna-pryse word ook vanjaar ingestel: vir die beste kinderteater-aanbieding, beste Uitkampteater-aanbieding en beste nuutgeskrewe teks.

’n Kanna vir die beste nuutgeskrewe teks word ingestel as gevolg van die opwindende aanbod van nuwe, oorspronklike tekste by vanjaar se fees. Die benoemdes is Buite Land (Coppen), Dop (Scholtz), Klara Maas (Pretorius) en Liewer (Kapp).

Klara Maas se hart is gebreek (Wessel Pretorius en David Viviers)

Klara Maas se hart is gebreek (Wessel Pretorius en David Viviers)

Die opwinding rondom Uitkampteater, wat verlede jaar vir die eerste keer by die KKNK aangebied is, het oorgespoel na kinderteater. Die paneel (wat uit kinders van verskeie ouderdomme bestaan het) het drie Uitkampteater-stukke Cindershoeler, In die woud en Kattekwaad, benoem.

Onder Uitkampteater is dit Ir(ras)sioneel, Sandra se laaste show en The Swan Song wat die paneel beïndruk het.

Jong talent was volop met vyf benoemings vir beste opkomende kunstenaar: Igna Botha (Sandra se laaste show: teks en spel); Jason Jacobs (Kalahari Swaan: teks, regie en ontwerp), Des-Lee McKenzie [Ir(ras)sioneel: teks en spel], Buhle Ngaba (The Swan Song: teks en spel) en Tarryn Wyngaard (Liewer: spel).

Liewer (Anna-Mart van der Merwe, Tarryn Wyngaard en Brendon Daniels)

Liewer (Brendon Daniels en Anna-Mart van der Merwe)

Volgens Marelí Stolp, sameroeper van die Kannapaneel, getuig die lys benoemdes vanjaar op ’n besonder sterk toneelaanbod, wat vir die paneel ’n moeilike, maar “aangename” uitdaging gebied het. Uitstaande ontwerp het ook opgeval: Basson vir Die koninkryk van die diere, Foot vir Karoo Moose, Bouwer vir Liewer en Wolf Britz vir Piekniek by Mpande, née Dingaan. Stolp het ook namens die paneel Danie Marais en Haidee Muller se ATKV-Kampvuurprogramme as uitsonderlike bydraes tot die fees uitgelig.

Die lede van die Kannapaneel was Stolp, Retha Bornmann, Diane de Beer, Aidan Erasmus, Rafiek Mammom, Angelo Mockie, Laetitia Pople, Marguerite Robinson, Tracey Saunders en Malan Steyn, met Meghan Konnie, Isabel Mascher, Leah Mascher, Tamlyn Prins, Zak Steyn en Ayden Winster die lede van die kinderpaneel.

Die wenners van die Kannas word op Maandag, 15 Mei by ’n spesiale geleentheid in Kaapstad aangekondig.

Volledige lys van benoemdes is:

 Beste teateraanbieding: Asem, Buite Land, Dop, Karoo Moose en Liewer

  • Beste akteur: Gideon Lombard (Die reuk van appels), Dawid Minnaar (Monsieur Ibrahim en die blomme van die Koran), André Odendaal (Dop) en Wessel Pretorius (Die ontelbare 48 én Klara Maas se hart is gebreek, ensomeer: Die vloeistof-trilogie)
  • Beste aktrise: Antoinette Kellermann (Asem), Chuma Sopotela (Karoo Moose), Anna-Mart van der Merwe (Liewer) en Tarryn Wyngaard (Liewer)
  • Beste manlike byspeler: Dawid Minnaar (Die koninkryk van die diere), Kopano Maroga (Buite Land), Edwin van der Walt (Asem), Wilhelm van der Walt (Dop) en David Viviers (Klara Maas se hart is gebreek, ensomeer: Die vloeistof-trilogie)
  • Beste vroulike byspeler: Elize Cawood (Buite Land), Joanie Combrink (Die koninkryk van die diere), Nicole Holm (Piekniek by Mpande, née Dingaan), Sandra Prinsloo (Pa maak vir my ’n vlieër pa) en Tinarie van Wyk Loots (Asem)
  • Beste musiekproduksie: Grethe van der Merwe – Allegorie, Loki Rothman en Albert Frost – Die akoestiese kitaar, Rymklets van Oos tot Wes en Zolani Mahola – Rok en rol
  • Beste regie: Marthinus Basson (Asem én Die koninkryk van die diere), Jaco Bouwer (Liewer), Lara Foot (Karoo Moose) en Sylvaine Strike (Dop)
  • Beste debuutwerk: Asem, Buite Land, Die koninkryk van die diere, Klara Maas se hart is gebreek, ensomeer: Die vloeistof-trilogie en Liewer
  • Beste opkomende kunstenaar: Igna Botha (Sandra se laaste show: teks en spel), Jason Jacobs (Kalahari Swaan: regie, teks en ontwerp), Des-Lee McKenzie (Ir(ras)sioneel: teks en spel), Buhle Ngaba (The Swan Song: teks en spel) en Tarryn Wyngaard (Liewer: spel)
  • Beste visuele kuns: Broeigrond: Fertile Ground for Golden Regrets (Ronél de Jager), Filmverse 2 (artistieke regisseur, Diek Grobler) en The Dirty Penny Paradigm (kurator, Lucia Boer)
  • Beste nuutgeskrewe teks: Neil Coppen (Buite Land), Tertius Kapp (Liewer), Wessel Pretorius (Klara Maas se hart is gebreek, ensomeer: Die vloeistof-trilogie) en Retief Scholtz (Dop)
  • Beste Uitkampteater-aanbieding: Ir(ras)ioneel, Sandra se laaste show en The Swan Song
  • Beste kinderteater-aanbieding: Cindershoeler, In die woud en Kattekwaad

Foto's: verskaf

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top