Debute maak skoonskip by kykNET-Rapport-pryse vir 2019

  • 0

Al vier wentitels van vanjaar se kykNET-Rapport-boekpryse, wat die Jan Rabie-Rapportprys insluit, is debute – ’n veer in die hoed vir die skrywers én tekenend van die lewenskragtigheid van die Afrikaanse letterkunde.

Die wenners van die boekpryse, asook die kykNET-Rapportpryse vir Afrikaanse resensies, is op Saterdag 14 September 2019 in Stellenbosch bekend gemaak.

Die kykNET-Rapport-boekpryse is vanjaar toegeken aan die volgende skrywers:

  • Fiksie: Die Dao van Daan van der Walt deur Lodewyk G du Plessis (Tafelberg)
  • Niefiksie: Jeremy vannie Elsies deur Jeremy Vearey (Tafelberg)
  • Film: Kinnes deur Chase Rhys (Kwela)

Die beoordelaars beskryf die reeds veelbekroonde Die Dao van Daan van der Walt deur Lodewyk G du Plessis (skuilnaam van oudregter Andries Buys) as ’n bedevaart  vir leesvermoeides, ’n  lewenswerk wat wysheid waaraan ’n leeftyd versamel is, adem; ’n boek wat met die mooiste Afrikaanse sinne denkbaar walgooi teen verlies en verganklikheid; een wat die komplekse verhoudings wat ons ondermaanse staning so kosbaar (en kostelik) maak, huldig. Die ander benoemdes in hierdie kategorie was Charl-Pierre Naudé met Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey en Ingrid Winterbach met Die troebel tyd.

Die niefiksiewenner, Jeremy Vearey se Jeremy vannie Elsies, het die beoordelaars getref as ’n belangrike boek vir ons tyd, een wat hulle as lesers tot dieper en selfs nuwe insigte gebring het. Dit is ’n vars en kosbare bydrae tot die Afrikaanse letterkunde se oorverteltradisie uit ’n omgewing wat hopeloos te lank afgeskeep is. Ook op die kortlys met Jeremy vannie Elsies was Ingrid Jonker: ’n Biografie deur Petrovna Metelerkamp en Bloedbande deur Wilhelm Verwoerd.

Kinnes, waarmee Chase Rhys vanjaar die filmprys wen, het die beoordelaars gaande gehad met sy vars aanslag, literêre meriete, en relevante en ontroerende eietydse storie geskryf in lewendige Afrikaapse dialoog. Die filmiese beelde wat dit oproep, doem glashelder in die leser se verbeelding op – “net soes in ’n movie”, een soos die uitstekende Portugees-Braziliaanse film City of God.  Die ander titels op die kortlys was Prooi deur Deon Meyer en Stormkind deur Riana Scheepers.

Charl-Pierre Naudé wen die Jan Rabie-Rapportprys vir ’n debuut of tweede prosawerk in Afrikaans met Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey. Volgens die beoordelaars is Naudé se roman benewens magies realistiese satire, kwasi-speurverhaal en vernuftige metafiksie ook ’n boek wat die leser gaandeweg oortuig dat die idee van een kenbare werklikheid verregaande is – veral in ’n land waar soveel mense as ’t ware in parallelle werklikhede rakelings aan mekaar verbyleef.

Die sameroeper van die kykNET-Rapport-boekpryse, Hettie Scholtz, sê: “In die beoordelingsproses vir vanjaar se kykNET-Rapportpryse moes die beoordelaars rekening hou met verrassende tekens van vernuwing, verruiming en innovering. Hulle het gevind dat vanjaar se oes Afrikaanse boeke in die geheel ’n antwoord probeer bied op die vraag: Hoekom lees ons? Ons doen dit uiteraard om te ontsnap van die alledaagse, sin te probeer maak van die lewe, dit beter te verstaan.

“Die dramaturg Mike van Graan se woorde oor skrywerskap is in herinnering geroep by die beoordeling: ‘Ons skryf almal ons eie stories; ons is nie sommer slagoffers van die noodlot nie, en nog minder is ons die nuttige dwase van die geskiedenis. Ons kies elkeen hoe ons wil lewe, wie of wat ons wil dien in ons gemeenskappe, ons land, en selfs in die wyer wêreld. En wanneer ons dit wil doen, bied ek die gereedskap van die skrywer aan: Die vermoë om jouself in die skoene van ander te plaas; intellektuele nougesetheid – dus die moed om moeilike en ongemaklike vrae te vra. Daarby ook verbeelding – dus die vryheid om die onmoontlike te droom.’  

“Daardie gereedskap het al die skrywers op vanjaar se kortlyste tot in die vesels verfyn en aangebied met eerlikheid, deernis én humor. Om uiteindelik wenners te kies was nie maklik nie, en om te wen geen gelukskoot nie.”

Die kykNET-Rapportpryse vir boekresensent van die jaar is toegeken aan:

Die beoordelaarspanele van die onderskeie pryse was: kykNET-Rapport-fiksieprys: Louise Viljoen, Gerrit Schoonhoven, Darryl David en Thys Human; kykNET-Rapport-niefiksieprys: Andries Bezuidenhout, Valda Jansen, Herman Wasserman, Herman Binge; kykNET-Rapport-filmprys: Tina Kruger, Herman Binge, Gerrit Schoonhoven; kykNET-Rapport-boekresensentpryse: Bibi Slippers, Bibi Burger en Jomarié Botha; Jan Rabie-Rapportprys: Steward van Wyk, Alida Potgieter en Danie Marais.

Die seremoniemeesters vir die aand was Suzaan Keyter van kykNET en Waldimar Pelser van Rapport.

Inligting oor deelname aan die pryse vir 2020 word binnekort bekend gemaak.

Navrae oor die kykNET-Rapport Boekpryse (fikse, niefiksie en film) kan gerig word aan Hettie Scholtz by 084 583 0272 of scholtz5@mweb.co.za

Vir meer inligting oor die pryse vir Boekresensent van die Jaar en die Jan Rabie-Rapport-prys, kontak Anita van Zyl by 083 709 6677 of anita@vanzylpr.co.za

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top