De Waal Venter (1942–2022)

  • 0
Foto: De Waal Venter, Facebook

Sêgoed van De Waal Venter

“Wanneer ’n mens terugkyk, kan jy jou verwonder oor hoe die wêreldbeeld van jong digters en skrywers só drasties kon verander het oor die jare. Party van daardie jongmense, nou ouer mense, is nog steeds driftig aan die skep. Die samelewing mag verander, maar ons drang om te skep is onvernietigbaar eie aan ons.”

Oor Afrikaans: “Die taal wat ons praat, is ’n rats taal. Hy flikker wakker in die reklamewêreld met splinternuwe skitterwoorde. Tikvee-aksie, veërs en fyngeur, vloeiroom en voet in die hoek. Hy bokspring met jou gedagtes wanneer jy in ’n dinkskrum beland en in ’n kits jou koffie met ’n sawwe lyf kan drink. Ons taal nael soos ’n Springbok oor die koerantbladsye en pronk met ’n banier soos ‘So ja’ ná ’n referendum. Ons taal sing van waterblommetjies en kinders van die wind, lag soos abjater en maak Campari so Afrikaans soos Casspirs. Afrikaans is soos ’n koedoe wat bo-oor jou spring net soos jy dink jy gaan hom doodry. Pop is nie meer ’n lappop nie, maar pure musiek en ’n Kerkorrel raps jou met nuwe note en listige lirieke. Ons taal laat hom nie holrug ry nie. Skaars dink jy hy raak nou moeg, dan vlieg hy half onder jou weg en kom terug met ’n splinternuwe woord. Afrikaans is ’n Springbokvleuel en saam met hom glip jy sommer speelkant om, te rats om ingeboks te word.” (Die Burger, 22 Mei 1992)

Oor kopieskryf en kopieskrywers: “’n Kopieskrywer het ’n besondere vaardigheid nodig om Engels in Afrikaans te herskep. ’n Goeie Afrikaanse kopieskrywer sorg dat hy nie in die slaggate trap om slordig van Engels in Afrikaans te vertaal nie, en kan die onsigbare siekte van ’n Engelse idioom vermy wanneer ’n Engelse teks in Afrikaans omgesit moet word.” (Beeld, 18 Maart 1994)

Oor wetenskapfiksie en die feit dat daar op ’n stadium so min in Afrikaans geskryf is: “Daar is soveel subgenres in wetenskapsfiksie wat sosiale kommentaar lewer, byvoorbeeld gay wetenskapsfiksie. Wf was waarskynlik ’n slagoffer van die gedagterigting dat daar ’n skeidslyn tussen ‘hoë’ en ‘populêre’ literatuur moet wees, en mense het gedink wetenskapsfiksie is pulp fiction. Wetenskapsfiksie leen hom egter tot die uitdruk van idees wat ander soorte letterkunde nie kan doen nie. Omdat dit ’n werklikheidsbenadering behou, maar tog buigsaam is, het dit soveel groter moontlikhede.” (Beeld, 27 September 1994)

“Bonsai is ook ’n kuns. Daar word gesê dat dit die enigste kuns is wat met lewende organismes werk.” (Uit: In die klein woud)

Hoe sal hy sci-fi definieer? “Dit handel oor ’n fiktiewe werklikheid waar die skrywer gebruik maak van ’n logiese vertelstyl. Jy skep ’n fiktiewe werklikheid wat vreemder is as die ’normale’ werklikheid deur die gebeure in die toekoms of op ’n ander planeet te laat afspeel. ’n Mens moet science fiction onderskei van fantasie. Fantasie is nie geloofwaardig nie. Terwyl science fiction wel is. Dit kan gebeur. Al is dit ook in die toekoms. Ons leef nou in baie vorige skrywers se toekoms. Met sci-fimoet jy jou verbeelding baie inspan om jou in te dink hoe die toekoms gaan lyk. Dis nie maklik nie. Sci-fi is ’n soort eksperiment met die werklikheid. Alle mense het ’n behoefte om die werklikheid te verken. Al is dit ook ’n ander werklikheid as wat hulle ken.” (Beeld, 27 September 1994)

Skryf hy spesifiek vir tieners wanneer hy besig is met ’n boek? “Ek dink nooit aan ’n bepaalde ouderdomgroep nie. Ek wil net ’n storie skryf wat ek self wil lees. Ek skryf vir almal wat hou van dié soort verhale. Maar ek skryf ook werk wat spesifiek op volwassenes gerig is. Onder meer romans, kortverhale en gedigte.” (Beeld, 27 September 1994)

Hoe skep hy sy verhale? “Ek gebruik my kennis en verbeelding. Ek lees alles oor die wetenskap, tegnologie, virtual reality en verwante onderwerpe wat ek in die hande kan kry. Ek het ’n sterk belangstelling in rekenaars en wat hulle alles kan doen. ’n Skrywer gebruik sy verbeelding. Hy leer vaardighede om sy verbeelding optimaal te stimuleer en te benut. Ek het nog altyd belang gestel in dié (sci-fi) genre en dis vir my baie aantreklik om die grense van die bekende te oorskry. Dit lyk nie asof ons die sterre sal kan bereik nie, maar deur jou verstand en jou verbeelding te gebruik, kan jy dit wel doen. Jy kan vreemde wesens en mense in die verre toekoms ontmoet.” (Beeld, 27 September 1994)

Oor kopieskryf: “Dit is een van die opwindendste ervaringe van Afrikaanse kopieskrywer wees: jy is besig om aktief verder te bou aan die planeet se modernste en mees byderwetse taal. Daar is letterlik geen ander ontwikkelde taal in die wêreld wat jonger as Afrikaans is nie. En in die meeste opsigte is Afrikaans nie net op gelyke voet met ander tale nie, maar in ’n paar opsigte ’n treetjie of wat voor. Waar gaan jy nog ’n taal kry met die varsheid en loslittigheid van Afrikaans? Miskien sal dit van nou af nie meer so vanselfsprekend wees dat ’n produk sonder meer in Afrikaans geadverteer word nie. Daarom raak dit al hoe belangriker dat, wanneer Afrikaanse reklame geskryf word, dit van die heel hoogste gehalte is. Elke woord tel. En elke woord kos geld.” 

“Ek dink sommige gedigte is onvertaalbaar of moeilik vertaalbaar omdat daar woordspelings voorkom, maar as die gedig so geskryf is dat die gedig nie vertaal kan word nie, is die gedig miskien obskuur, of die gedig se tegniek is so swak dat dit onvertaalbaar is. Dis die enigste redes waarom ek dink ’n gedig nie vertaal kan word nie.” (Netwerk24, 1 Augustus 2019)

“Daar bestaan ’n spektrum van vertaling. Aan die een kant is daar ’n baie direkte vertaling, soos in ’n hof of met ’n toespraak. Daar is ook sulke gevalle in die letterkunde. Aan die ander kant is daar gevalle waar iets so vry vertaal word dat dit eintlik nie meer as ’n vertaling beskou kan word nie, maar as ’n herskrywing van die gedig. Nou êrens in hierdie spektrum beweeg verskeie vertalers. Ek plaas myself 25% in daardie ruimte.” (Netwerk24, 1 Augustus 2019)

“Ek weet nie wat poësie is nie. Die persoon wat vir jou sê hy gaan vir jou presies sê wat poësie is, lieg vir jou. Ons almal soek die antwoord. Poësie hou jou altyd aan die wonder.” (Netwerk24,12 Junie 2015)

Gebore en getoë

De Waal Venter is op 7 Mei 1942 in Pretoria gebore, die oudste kind van Frans en Lucy (gebore De Waal) Venter. Hy is Philippus Arnoldus De Waal Venter gedoop en het twee jonger broers, Georg en Francois. De Waal het sy geliefde oupa De Waal se van as voornaam gekry en daarom het hy later besluit om De Waal as sy skrywersnaam aan te neem. Sy ma was as kind sy grootste inspirasie.

In ’n biografiese skets aan NALN het hy meer vertel oor sy jeugjare: “My pa was in daardie jare ’n jong polisie-offisier en is baie keer verplaas. Ek was dus gedurende laerskoolloopbaan in ses verskillende laerskole. Ek het begin in Mayfair-Wes, en ná ’n toer deur nog vyf skole aan die Witwatersrand slaag ek standerd vyf (graad sewe) aan die Laerskool Theo Wassenaar in Robertsham, in die suide van Johannesburg.”

Hy was ’n kranige rugbyspeler op laerskool, asook ’n goeie stoeier, en het ook op akademiese gebied uitgeblink. In sy finale jaar op laerskool is hy as die skool se mees verdienstelike leerling aangewys.

Hy het sy hoërskoolloopbaan in 1955 aan Monument Hoërskool in Krugersdorp begin. In 1956 is hy na die koshuis, omdat sy ouers weer eens verplaas is. Die grondslag van sy latere skrywersloopbaan is hier gelê en sy eerste openbare sukses wat hy op skryfgebied behaal het, was ’n wenopstel in ’n plaaslike wedstryd.

Op hoërskool het hy aan atletiek deelgeneem en het aanvanklik goed gevaar in die middelafstande. Hy was ook lid van die skool se leerlingraad.

De Waal het in 1959 aan Monument Hoërskool gematrikuleer.

Verdere studie en werk

Na skool is De Waal na die Universiteit van Pretoria, waar hy hom as mediese student ingeskryf het. Hy het gedigte begin skryf en van sy gedigte is in Tydskrif vir Letterkunde, destyds onder die redakteurskap van Abel Coetzee, gepubliseer. 

Hy was egter nie so suksesvol met sy mediese studie nie en het hom in 1963 by die staatsdiens as klerk aangesluit nadat hy sy studies opgeskop het.

Die Staatsprys vir poësie is in 1963 aan hom toegeken vir sy eerste bundel, Kiem. Die Staatsprys was ’n letterkundige prys wat deur die destydse Departement van Onderwys, Kuns en Wetenskap toegeken is. Die staatspresident van daardie jare, CR (Blackie) Swart, het die prys persoonlik aan die wenner oorhandig.

Hy het sy studie later aan die Universiteit van Pretoria voortgesit, sowel as aan Unisa. Frans, Duits, Afrikaans-Nederlands, Engels en wysbegeerte was van sy vakke, maar behalwe dat hy sommige van sy vakke afgeskryf het, was hy weer eens nie suksesvol met sy studies nie.

In 1965 word hy aangestel as assistentredakteur van SARP, destyds die amptelike blad van die Suid-Afrikaanse Polisie. Sy ouers het intussen na Pretoria teruggekeer en hy het by hulle gaan bly. In 1968 aanvaar De Waal ’n betrekking in Johannesburg as reklameskrywer en verhuis hy na die Goudstad. Die jaar daarna word hy aangestel as omroeper-regisseur by die Afrikaanse Diens van die SAUK, waar hy tot 1970 werk en toe besluit om hom weer by die reklamewêreld aan te sluit. Daar het hy vir die res van sy loopbaan gewerk – met goeie gevolg, want in 1990 het hy die ATKV-reklameprys gewen. In 2000 het hy uitgetree as skeppende direkteur en onafhanklik begin werk.

De Waal is op 11 Januarie 1969 met Erla Louw, ’n arbeidsterapeut, getroud en hulle het vier kinders (twee dogters en twee seuns) en vyf kleinkinders. Hulle het jare in Noordheuwel in Krugersdorp gewoon totdat hulle in 2021 na Muizenberg naby Kaapstad getrek het.

In 1966 is De Waal saam met Jeanne Goosen en Menno Stenvert die “breins” agter die publikasie van die literêre tydskrif WURM. Skrywers soos DPM Botes, Phil du Plessis, Casper Schmidt, Marié Blomerus en Wopko Jensma was gereelde bydraers tot WURM. Die tydskrif het ook later ’n eksklusiewe onderhoud met NP Van Wyk Louw gepubliseer oor literêre groeperinge in Afrikaans.

Oor die ontstaan van WURM het De Waal op sy webwerf geskryf: “Die eerste uitgawe van WURM is gedateer Junie 1966 en dit het 50 sent gekos. Intekengeld was R2,50 vir ses uitgawes. Ek was die redakteur en het twee adviseurs gehad: Phil du Plessis en ‘Gewone man’.

“Ek was destyds ’n joernalis. Phil du Plessis was besig om sy mediese studies af te rond en Gewone man was ’n jong akademikus wat ’n staatsdienspos gehad het. Gewone man het dit nodig gevind om ’n skuilnaam te gebruik aangesien sy skerp kritiek op gevestigde akademiese en politieke belange hom aan sensuur en selfs ’n mate van vervolging blootgestel het.

“Die doel van WURM was om aan digters en skrywers, letterkundiges en kritici, belangstellendes en leke die geleentheid te bied om onbeswaard hulle mening te lug oor sake rakende die literêre lewe. Elkeen het natuurlik sy eie skryfstyl, sy eie manier van stelling, sommige word verontwaardig, selfs venynig, ander skryf gedigte of verhale, ander raak vervul met ’n gloed van bewondering vir ’n gelewerde prestasie.

WURM was ’n onafhanklike blad. Niemand het dit gesubsidieer nie, niemand het ’n wakende oog daaroor gehou nie, behalwe die redaksie van WURM. En die redaksie van WURM raadpleeg hulle eie gewete oor wat gesê word in die blad. Is dit nie ’n suiwerder maatstaf om mee te meet as die maatstawwe waarmee so dikwels gemeet word nie?

“Een van die redaksielede van WURM word gedwing om ’n skuilnaam te gebruik. Dit op sigself is alreeds ’n kritiek teen ’n groep mense. Glo my, ‘Gewone man’ is nie vry om tot die redaksie van ’n letterkundige blad toe te tree nie.

“In daardie jare het jongmense in die Afrikaanssprekende wit gemeenskap ’n bevoorregte posisie geniet in die volle bloeitydperk van die Nasionale Party regering. Apartheid het hulle bevoordeel en daar was heelwat kanse en geleenthede wat die politieke opset hulle gebied het. Tog het baie van hierdie jongmense begin agterkom dat daar ’n slang in die gras was. Die voorspoed en blink toekoms wat daar vir hulle gewag het, was vir groot dele van die bevolking nie beskore nie. Hierdie jongmense het begin dink en begin skryf – tastend na iets wat hulle nie goed kon verstaan nie. Daar het ’n wurm geknaag aan die wit gemeenskap se wortels.

“Die jongmense wat in WURM hulle werk gepubliseer het, was op soek na ’n vae bedreiging wat hulle nie kon verwoord nie. Maar hulle het instinktief geweet dat hulle gemeenskap en hulle kultuur nie gesond was nie.” 

’n Volledige artikel deur Philip John oor WURM is op LitNet beskikbaar. Die titel is “Die tydskrif Wurm (1966–1970) en die Afrikaanse literatuurgeskiedskrywing”.

In 1966 het De Waal lirieke geskryf wat sy jong vriendin, Erla Louw, getoonset het. Sy en haar vriendin Annemarie Dawson het dit opgeneem en ’n vinielplaat met die titel Die Doedies sing doemmelliedjies is in 1967 vrygestel. De Waal en Erla is in 1969 getroud.

De Waal het ook lirieke geskryf, gebaseer op bekende musiekstukke soos “Recuerdos de la Alhambra” van Francisco Tarrega. In Afrikaans het dit “O my vaal Karoo” geword. Dit is ook deur die Doedies opgeneem. Hierdie lirieke en komposisies het ’n nuwe wending aan Afrikaanse ligte musiek help gee.

In die twaalf jaar tussen Kiem se verskyning en die publikasie van De Waal se tweede bundel, Pols, in 1977, is Klawer in 1966 gepubliseer, waarin gedigte van De Waal saam met dié van Menno Stenvert en DPM Botes verskyn het.

In sy resensie oor Pols het Abraham de Vries (Beeld, 19 Desember 1977) dit oor maakwerk en die kuns om iets te maak sonder dat dit soos maakwerk lyk. “Oefening baar nie dié kuns nie, want geoefende en oefenende maakwerkers is daar genoeg. Miskien,” skryf De Vries, “het dit tog maar iets te doen met die sáámleef met dit waarmee jy besig is. Pols van De Waal Venter gee my die eerste kennismaking, en daarná, die indruk van hierdie soort saamleefgedigte.”

Volgens De Vries is die gedigte in Pols nie verbysterend gróót nie, “maar daar is selfs in die swakstes ’n soort deeglikheid wat nou nie juis by dié maakwerk ooit gekry word nie. (…) Dit is ’n ongelyke bundel, maar die indruk van maakwerk wat in soveel nuwe bundels só vervelig kan raak, is hier afwesig. Vir iemand wat daarvan hou om te soek na hoe ’n bundel inmekaarsit – want Pols sit wel héél netjies inmekaar – lyk dié bundel vir my na ’n mooi geskenk.”

Die bundel is in drie afdelings verdeel, skryf Tim Huisamen in Oggendblad (23 Februarie 1978). Afdeling een handel oor die verhouding man: vrou, swangerskap, die prenatale lewe en geboorte; die tweede afdeling probeer die “sonde” waarin ons ontvang is, omskryf; en afdeling drie se sleutelbegrip is, volgens Tim Huisamen, “bewussyn” en “bewuswording”.

“Met die drie afdelings wil Venter dus die volgende aan ons vertel: (1) van die mens as paringsorganisme; (2) van sy verhouding met homself en sy eie boosheid; en (3) dit relativeer in ’n uitgroei in die syn, die kultuur en die geskiedenis in. Hy wil as ’t ware die vinger op die polsslag van ons konsepsie, geboorte, bestaan en ons historisiteit hou. (…)

“Die eerste twee afdelings doen aan as pseudo-intellektuele pretensie wat gou vervelig en niksseggend word. Afdeling drie is egter ’n uitsondering. Oor die algemeen is die gedigte in dié afdeling langer en is daar ’n fyner aanvoeling vir versritme en -klank, asook ’n groter afwisseling van toon. Die digter bereik hier inderdaad ’n komplekse en gevoelige siening en ’n paar van hierdie gedigte hoef nie agteruit te staan vir gedigte van enige van die jonger digters van daardie tyd nie. (…)

“Die eerste twee afdelings se twee-en-dertig gedigte is myns insiens meestal nog slegs skerwe idees met ’n voorlopige aanduiding van versifikasie; dit het nog nie poësie geword nie. En tog bewys die laaste afdeling dat Venter die potensiaal van ’n gawe digter besit.”

Johann Johl (Volksblad, 24 Desember 1977) sluit sy resensie van Pols as volg af: “Pols se enkele beter gedigte weeg net nie op teen die mindere meerderheid nie. Minder gedwongenheid, ’n vreesloser benutting van die tema as dit dan moet en die tema daarom vra, meer komplekse verse en groter verstegniese aandag is enkele aspekte waaraan Venter dalk aandag kan gee in ’n volgende werk.”

De Waal toon reeds vroeg in sy skrywersloopbaan dat hy ’n veelsydige skrywer is. In 1977 skryf hy die draaiboek vir die vollengte-speelfilm ’n Plekkie in die son. Dit is gebaseer op Ena Murray se roman en die regisseur was William C Faure.

Sedert 1969 skryf De Waal verskeie verhale en vervolgverhale vir die Afrikaanse radiodiens. Sy jongste vervolgverhaal vir die radio is getiteld Die blombroers en is in 2009 tot 2010 oor RSG uitgesaai. Sy verhoogdrama In lewende lywe is opgeneem in die bundel Drie ... twee ... een wat deur PJ du Toit saamgestel is en in 1989 deur Academica uitgegee is.

’n Hoorspel, Stof, is in 1975 uitgesaai en in 1976 het die SAUK dit ingeskryf vir die Prix d’Italia-prys. Dit is later ook in België uitgesaai en opgeneem in Hoorspelkeur wat in 1983 deur Tafelberg uitgegee is. Dit is ook in Engels, Nederlands en Frans vertaal.

In 1984 is sy hoorspel Die werklike Buys Buys die wenner van die Suid-Afrikaanse Akademie se SAUK-prys vir Afrikaanse hoorspele. In sy motivering vir dié bekroning het Roelf Jacobs, destyds hoof van die Afrikaanse radiodiens, gesê (Transvaler, 24 September 1985): “Die hoorspel as kunsvorm is so eie aan die radioman as die Curriebeker aan Loftus Versfeld.”

Jacobs het verwys na die besondere vereistes wat ’n radiohoorspel stel: dit moet die luisteraar boei, geloofwaardig aandoen en die estetiese en intellektuele prikkel, en aan hierdie vereistes voldoen Die werklike Buys Buys. “Die storie-element word geslaagd en op uitsonderlike wyse hanteer en op tegniese gebied stel dit besondere eise om luisteraars met die begrippe werklikheid en illusie besig te hou.

“De Waal Venter het met hierdie poging van hom ’n nuwe standaard gestel in die hoorspelgenre wat navolgenswaardig is, en aan die beoefenaars van dié kuns ’n goeie voorbeeld stel.”

De Waal het in sy aanvaardingstoespraak ’n beroep gedoen dat radiohoorspele meer aandag op beide akademiese én skrywersvlak moet kry en genoem dat daar op skrywersbyeenkomste nie oor die radio gepraat word nie. 

Stof en Die werklike Buys Buys is ook in die 1980’s met Idem-pryse bekroon. Wat dan? is in 1988 met die Idem-prys vir radiodrama bekroon.In November 1990 is ’n aktuele radiohoorspel van De Waal onder spelleiding van Paul Eilers in die program Radioteater oor Radio Suid-Afrika uitgesaai. Dié hoorspel, met die titel Thipa (wat “mes” beteken), was in ’n paar opsigte ongewoon. Dit was waarskynlik die eerste keer dat Radio Suid-Afrika ’n hoorspel opvoer en uitsaai waarin swart spelers Afrikaans praat. In Thipa word ook ’n tema ontwikkel wat heelwat vir ons tyd te sê het, naamlik die konfrontasie tussen swart en wit en die ontginning van die houdinge, vooroordele en wanopvattinge, asook die empatie, wat daar tussen rasse bestaan. Die mes word ’n belangrike simbool in die stuk. Venter het dit as volg aan Paul Boekkooi (Beeld, 26 November 1990) verduidelik: “Eers is dit vir die jong seuns ’n begeerlike speelding en iets wat vir hulle ’n verband lê tussen hul kinderwêreld en die grootmenswêreld van verfynde tegnologie en al die ingewikkeldhede van die moderne samelewing. Later word dit ’n simbool van heelwat meer. Twee seuns, Etienne en Tanzi, het kontak verloor en ontmoet mekaar toevallig jare later weer in ’n hyser wat vassteek en hulle dwing om saam ’n plan te bedink om uit hul dilemma te kom. Nou kom die thipa weer ter sprake. Geweld, broedermoord, rassehaat, politieke omwentelinge en ouerliefde kan alles terug verwys word na die mes-simbool.”Volgens die skrywer word die kleinste rol in Thipa – dié van die oupa – uiteindelik ’n belangrike en bindende figuur in die drama. “Hy is die guru, die filosoof, die sjaman, die voorvaderlike gees wat die twee seuns met sy wysheid lei.”

Hoewel voluit eietyds, dra Thipa simbole en metafore wat universeel is, soos die onderlinge verhouding tussen mens en mens, ouer en kind, en tussen die mens en die natuur. Venter self sou eers die aand van die eerste uitsending die volle effek wat Thipa as radiohoorspel het, voluit kon evalueer. Hy vertel egter hy het gehoor dat dit wat die manlike swart speler met Afrikaans vermag, net ’n swarte sou kon doen, naamlik om die klemme in sy taalgebruik eg te laat klink. “Deur die filter van iemand anders se taal, leer ’n mens ook sy kultuur ken,” het De Waal Venter in dié verband opgemerk.

Die tydskrif van die Suid-Afrikaanse Lugdiens, Die vlieënde Springbok, het in 1984 ’n wedstryd vir reisskrywers uitgeskryf. De Waal het die eerste prys in die Afrikaanse afdeling gewen en daarmee saam twee Goudklas-vliegkaartjies na Europa. Die titel van die stuk is “Klein klippie ver gooi” en beskryf ’n reis van Johannesburg na Kaapstad en van daar na Laingsburg. Ander gepubliseerde reissketse is “Die ongemerkte olifant” in De Kat van September 1985, en “Guerna” en “Waar mens by jouself verbyloop” in Die vlieënde Springbok van onderskeidelik Desember 1985 en Januarie 1986.

De Waal se eerste kinderboek, Louwtjie help soek, is in 1984 by Human & Rousseau uitgegee en in 1985 publiseer dieselfde uitgewers ook Hoeveel tone het ’n bobbejaan?.

De Waal het ’n wye belangstellingsveld gehad en dit kan gesien word in die vele genres wat sy skryfwerk weerspieël. Behalwe sy poësie en radiowerk skryf hy ook kinder- en jeugboeke, asook kortverhale. Sy belangstelling in die natuur en wetenskap kan ook gesien word in sy jeugverhale, soos Mieg se kort en lang middag (1992).

Sy eerste twee jeugboeke, Die vyf-millimeter avontuur en Vyffff, is wetenskapfiksie vir tieners waarin sy liefde vir die wetenskap duidelik na vore kom.

Vyffff vertel die verhaal van Waldemar die Beskeie en sy vier vriende wat die geheimsinnige Kliënte aanvat nadat Lor, voorsitter van Sdon, ontvoer is. Gedurende hierdie soektog blits hulle deur die planete van die Melkwegstelsel totdat hulle die Kliënte opspoor.

In Beeld van 13 Januarie 1988 was Danie Stotz se mening dat dit duidelik blyk dat Venter dit geniet het om die karakters te skets, en hoewel ’n mens aan die begin sukkel is om kop te hou, lees die boek maklik sodra jy agter die kap van die byl gekom het.

“Dit is nie net ’n ruimte-fantasie nie, maar in ’n sekere mate ’n parodie op die moderne samelewing. Vyffff is ’n lekkerlees-boek vir tieners waarin hulle hul verbeelding vrye teuels kan gee. Venter beskik oor siob’horr (‘Sonder om daarna te strewe, doen almal om hom graag wat hy wil hê’) – sy boek word enduit gelees.”

Emma Kirchener (Die Republikein, 14 Julie 1989) skryf dat Vyffff baie geniet sal word deur lesers tussen 11 en 14 jaar. Aan avontuur in ’n storieboek vir tieners ontbreek dit nie in Vyffff nie: “Die speurtog lei hulle deur vele gevare en laat die leser met vreemde wesens en wêrelde kennis maak. Wat veral opval en wat hierdie werk beslis anders maak, is die kreatiewe vermoë van die skrywer om hierdie wêreld ook deur die taal self gestalte te gee.”

Mieg se kort en lang middag word in 1992 deur Queillerie uitgegee. Mieg is ’n tienerseun wie se ma oorlede is. Hy werk smiddae in ’n supermark om ekstra geld te verdien. Só leer hy vir Eva ken en dra vir haar haar pakkies huis toe. In haar huis is ’n spesiale deur wat met ’n ronde teken gemerk is. Hierdie deur lei na verskillende wêrelde.

“En hierin,” skryf Dawie Steenberg (Volksblad, 1 Februarie 1993), “speel fantasie die deurslaggewende rol. As die leser nie die fantasie kan meemaak nie, sal hy van hierdie ‘tydmasjien’ (hier voorgestel in deure) van die verhaal afval en nie die seelandskap van Evie, die primitiewe geboorte in die berge meemaak en ná ’n besoek aan die Lunane by die plek Armstrong naby die Mare Tranquillitatis saam met Vita tydens ’n tydlose middag, leer dat jy nooit iemand verloor vir wie jy lief is nie.

“Dit is die steunpunt waarom die verhaal draai: die fantasie, gebruik soos in die romans van André Letoit, met die effek van die oorstap van een ruimte na ’n ander – na etlike tydruimtes! Vir die tradisionele jeugboekleser mag hierdie versnellings een te veel wees. Maar wie sê hoe is die tienerleser ingestel wat op televisie binne sekondes vele plekke en gebeure met ’n flits van die kameralens of ’n knip van die afstandbeheer belewe? (…)

“In Mieg se kort en lang middag word die tipiese vreemdheid in Venter se kortverhale besonder funksioneel in soverre dit, in samehang met die episodiese karakter daarvan, bydra tot ’n novelle wat vir meer as die gewone getal lesers uiters leesbaar is – ’n besliste aanduiding van hierdie deurwinterde skrywer se steeds ontwikkelende vernuf en vaardigheid.”

Mieg se kort en lang middag is later aan skole voorgeskryf, en Tom Gouws (Insig, November 1992) was van mening dat dit weer ’n leeskultuur onder kinders kan vestig. “Dis ’n boek wat die leser se aandag sal hou, onderhoudend genoeg geskryf vir die blote storiejagters, maar ook met ontwykendheid waarna ernstiger lesers soek. Dit is ’n boek wat [op skool] net so goed in die wetenskapperiode as in die Afrikaans-periode gebruik sal kan word. Baie eietydse denkrigtings word aangesny: daar is ’n duidelike groen-bewussyn, en veral ook ’n aanvoelbare holistiese ingesteldheid. Vir my die mooiste en die belangrikste in die teks is dat Mieg leer om sy sensitiwiteit tot sy eie voordeel, maar ook veral tot die voordeel van ander, te gebruik. Geen tiener behoort die heerlikhede van Mieg misgun te word nie.”

George Weideman het Mieg se kort en lang middag in Die Burger van 1 September 1992 bespreek en hiermee afgesluit: “Stilisties is die roman eweneens interessant, want die taalkodes wissel van ’n natuurlike vissermansafrikaans en kommunikasie byna sonder woorde na ‘rekenaartaal’. (…)

“Die strukturele opset is interessant. Die roman bestaan, ooreenkomstig die drome of fantasieë, uit drie dele: besoeke aan ’n vissersgemeenskap, ’n primitiewe oer-Afrika en die maan. Venter slaag goed daarin om werklikheid en fantasie in mekaar te laat vloei, in ooreenstemming met die Frijof Capra-motto (‘Ruimte toon in wisselende mate ’n ronding, en tyd vloei teen verskillende tempo’s in verskillende dele van die heelal’). Terselfdertyd skep dit die moontlikheid dat dit wat die sestienjarige seun mis (byvoorbeeld sy moeder), juis in hierdie ander dimensies aangevul word deur die sentrale rol wat vrouefigure speel.

Mieg se kort en lang middag is ’n interessante jeugverhaal wat ’n wye leserskring verdien omdat dit ook dinkavonture bied.”

Met Swaartekrag een komma een (Human & Rousseau, 1994) het De Waal sy suksesvolle resep van wetenskapfiksie vir die jeug voortgesit. Vir Barrie Hough (Insig, November 1994) is vindingrykheid ’n voorvereiste vir goeie wetenskapfiksie en dít is beslis een van die belangrikste eienskappe van Swaartekrag een komma een.

“Hier belewe drie jeugdiges van die aarde, Pit, sy suster Aloha en hul vriend Ovvie, ’n opwindende en vreemde ruimtereis in die toekoms waarin hul met buiteruimtelike wesens in aanraking kom. Ondanks waarskuwings dat daar vreemde voorwerpe naby Pluto is, waag Pit dit buite die wentelbaan waar hulle veronderstel is om te bly. Hulle word deur die Taumi, ’n ras buiteruimtelike wesens wat meer oor die aarde en sy bewoners wil weet, ontvoer. Sonder dat die drie tieners dit weet, word hulle onderwerp aan ’n toets wat van groot belang is vir die ganse bevolking van die aarde.

“De Waal Venter vertel met Swaartekrag een komma een ’n opwindende avontuurverhaal met ’n merkwaardige spanningslyn wat strek van begin tot einde,” skryf Barrie Hough. “Sy buiteruimtelike wesens, hulle verwysingsraamwerk en hulle wêreld is besonder oorspronklik en interessant. Maar hierdie jeugverhaal is ook ’n positiewe en soms humoristiese verhaal wat denke, deelname en verbeelding van jong lesers vereis. Hulle sal ook geprikkel word om oor die ekologie te besin. Die kommunikasie en verhoudings wat ontstaan tussen die tieners en die Taumi is geloofwaardig, sodat ’n mens kan identifiseer met die jeugdige karakters, al is die wêreld wat geskep word, een van fantasie.”

In 1995 verskyn In die klein woud by Queillerie en verweef De Waal weer van sy stokperdjies en belangstellings, soos bonsai, in die teks. 

Leentjie Theron (Beeld, 19 Februarie 1996) skryf dat De Waal dit in In die klein woud weer reggekry het om ’n verhaal te skep wat daarin slaag om die leser op ’n fassinerende wyse te boei en ook nie sy lesers se intelligensie te onderskat nie.

“Die verhaal werk vindingryk met taal, en humor word op so ’n manier betrek dat die leser telkens gedeeltes sal wil oorlees – sommer vir die blote lekkerte daarvan.”

Die boek bestaan eintlik uit twee verhale. Theron skryf verder: “Die eerste is dié van Spies en Jeannie en hulle ontdekking van hulleself en die manier waarop mens kan liefhê. Dié verhaalgegewe word teen die agtergrond van die skoollewe, ’n bonsai-woud en Spies se sportlewe geskets.

“Die tweede verhaal vertel van ’n Middeleeuse werklikheid. Dit is die storie van Puntius en Gwennie. Die gegewe word dan as ’t ware sprokie. Dié werkswyse is vreemd. Immers het ons hier met ’n jeugverhaal te doen. Hier is sprake van groot kontraste en fantasiegegewe en ’n mens wonder of die teikenmark dié werkswyse gaan koop? In die sprokiegegewe word die man as ’n ridder geteken. ’n Argetipe dus wat konsentreer op die sterker kant van die man, maar wat dan tog magteloos is teen die magiese kragte van die feëkoningin en homself op die koop toe kragteloos laat maak deur die brose lint van ’n jong vrou.

“Enige verhaal wat met twee verhaalvlakke werk, moet een of ander bindingsmiddel bevat. In dié verhaal is dit die bonsai-woud van oom Arend. Dit is oom Arend se begrip van bome en ou tye wat die tweede wêreld aktiveer en die twee jong mense elk op sy eie manier in die Middeleeuse wêreld laat inkom sodat Spies daar Puntius word en Jeannie Gwennie. Spies en Jeannie vind die bonsai-woud van hulle geliefde oom Arend ’n plek waar ’n mens jouself kan terugvind. Dit is hier en ook dan in die woud van verbeelding van Puntius en Gwennie, wat die natuurgegewe gebruik word om verskeie lesse te leer. Nie een van hierdie lesse gaan ongesiens verby die leser nie, maar natuurlik kom Venter juis as gevolg van die gebruik van die sprokiegegewe hiermee weg!

“Hierdie verhaal is egter nie slegs een van lesse nie. Nee, hier is ook ’n lekker stewige liefdesverhaal aan die orde. ’n Liefdesverhaal wat my verras het. Hier het ons nie met die gewone tienerliefdesverhaal te doen nie. Hier is ’n baie besliste verskil. Die gegewe van die liefdesverhaal wil nie voorop staan nie, maar deur die taalgebruik in die teks word dit telkens geweldig geaktiveer. Die taal in die teks gee ’n soort sterkte daaraan.”

Theron maak ook melding van die omslagontwerp deur Peter van Straten wat die atmosfeer van die teks so goed verbeeld en dan ook nog wonderlik mooi is.

Marina le Roux het In die klein woud vir luisteraars na Skrywers en boeke oor RSG (31 Augustus 1995) geresenseer. In die inleiding het sy die agtergrond van die begrip intertekstualiteit uiteengesit en toe voortgegaan: “Swak voorbeelde van intertekstualiteit is hinderlik kunsmatig en opvallend gemanipuleerd. Maar wanneer intertekstualiteit deur De Waal Venter in die jongste jeugboek, In die klein woud, toegepas word, word die basisteks ten goede verdig en verryk.

“Venter se primêre, grond- of basisteks is bedrieglik eenvoudig: Die hoofkarakter, Spies, goeie voetbalspeler, maar ook bedrewe kunstenaar, is verlief op Jeannie-met-die-swart-haartjies. (Resoneer hier ’n musikale interteks?). Die blonde lentekoningin, die verleidelike Elsine, kom tussenbeide. Ten slotte word die probleme opgelos met behulp van die wyse mentor, oom Arend, wat lewenswaarhede illustreer deur middel van die eeue oue bonsaikuns. Die klein woud van die titel figureer pertinent: 21 witstinkhout-miniatuurboompies, van die olmfamilie.

“Die klein woud is ook die simbool van die onbewuste, van onderdrukte drange en terselfdertyd die magiese deurgange na die sekondêre of interteks: die Arthuriaanse legende van die liefdesdriehoek tussen koning Arthur, sy beeldskone koningin Guinever en die verbode liefde tussen Guinever en Launcelot, die koning se dapperste ridder en vertroueling. [Die spelling van die karakters se name is juis volgens die resensie.]

“Telkens wanneer Spies die toneel van die klein woud skets, word die byderwetse karakters van die hede met ’n tydsprong verplaas in die verlede van die Middeleeue. Dan word Spies - en die tiperende onomastiek val op – die ridder Puntius, oftewel Launcelot, wat Jeannie, nou die adellike jongvrou Guinever, se liefde wil wen. Elsine vertolk die rol van die skone verleidster, Elaine. (…)

“Venter het die interteks besonder vernuftig verweef met die basisteks. Die resultaat is ’n immer wisselende, veelvlakkige mosaïek wat soos ’n kaleidoskoop telkens van patroon verwissel. Hierdie onvaspenbaarheid van die teks verhef dit in ’n hoë mate bo stereotipering en kategorisering. Van argetipes soos die dapper held, die beeldskone prinses, bose verleidster of wyse towenaar, is hier geen sprake nie. Venter se karakters is veelfasettig en subtiel genuanseerd in ’n gebalanseerde ewewig van goed en kwaad.

“Spanning word van meet af aan opgebou in die parallellisering tussen opwindende sportgebeure en Middeleeuse toernooie. Venter dupliseer egter nie bloot twee verhaalstringe nie. Hy gaan so kreatief met teks en interteks te werk dat onverwagte insigte telkens die leser verras. (…)

“Dit strek Venter tot eer dat hy nooit verstrik raak in literêre truuks nie. In die klein woud is en bly in die eerste instansie ’n goeie, leesbare onderhoudende liefdesverhaal. Geen leser hoef ’n kenner van die Middeleeuse riddertradisies, van ‘courtly love’ of die Arthuriaanse letterkunde te wees om die boek te geniet nie. (…)

“Met In die klein woud bevestig De Waal Venter in ’n hoë mate die beloftes van sy vorige jeugboek, Mieg se kort en lang middag. Daar kan met optimisme uitgesien word na sy volgende werk.”

Venter het aan Stephanie Nieuwoudt (Beeld, 27 September 1994) meer oor In die klein woud vertel: “Volgens die definisie van sci-fi is dit nie werklik sci-fi nie. Hoewel die boek tog oor twee werklikhede handel. Die verhaal speel in die hede af. Maar daar is ’n parallelle werklikheid wat in die Middeleeue plaasvind. Metafore word gebruik wat mekaar aanvul. Daar is byvoorbeeld ’n hedendaagse rugbywedstryd wat in die Middeleeuse werklikheid weerspieël word as ’n beleg van ’n kasteel. In die reële werklikheid is die klein woud ’n Bonsai-woud terwyl dit in die Middeleeuse werklikheid ’n regte woud met magiese eienskappe is. Deur die eeue bly sekere konsepte altyd vir die mens van waarde. Die vorme van die konsepte wissel net van eeu tot eeu. Die liefde tussen man en vrou kry byvoorbeeld op verskillende maniere uiting, maar bly in wese dieselfde.”

So tussen die publikasie van sy jeugboeke is De Waal se eerste kortverhaalbundel, Oop toe, in 1990 deur HAUM-Literêr uitgegee. “My tweede literêre geboorte” het De Waal die verskyning van hierdie bundel kortverhale genoem. In ’n onderhoud met Petra Pieterse (De Kat, Maart 1991) het hy vertel: “Ek voel weer negentien en ek begin weer voor. Oop toe is een van die heel belangrikste gebeurtenisse in my lewe. My verlore dekades was die gevolg van ’n vroeë digterskap wat nie tot sy volle reg gekom het nie. aan my gedigte nie. 

“Ek was papnat agter die ore in die begin, ’n mediese student met hoegenaamd geen kennis van letterkunde nie, laat staan nog van literêre konvensies. In my hardkoppigheid, en met ’n bekroning agter die blad wat my stomme eiewaan ook nie minder gemaak het nie, het ek nie besef hoe belangrik dit is om van en by ander te gaan leer nie. So het ek my eenvoudig as digter uitgeskakel. En pleks dat ek toe maar aan my prosa gaan werk, het ek myself dekades lank as ’n mislukte digter beskou.”

Rita Gilfillan (Transvaler, 11 Maart 1991) het dit as ’n vreugdevolle herbetreding van die literêre toneel beskryf. “Oop toe is oop vir talle verskillende realiserings,” het sy geskryf, “en ’n wye verskeidenheid lesers sal plesier daaraan hê. Die liefhebber van wetenskapfiksie sal ewe veel daarin vind as die psigoanalis, terwyl die groot aantal sterk verhale van die sestien stuks in die bundel in hul verskeidenheid uiteindelik saamgebind word deur die erotiek. En dit is iets wat nog nooit op hierdie speelse en vernuftige manier in Afrikaans onderneem is nie.”

“In hierdie bundel is die tema van die liggaamlike en die erotiese ’n stimulus vir die fantasie,” volgens Louis Venter (Insig, Maart 1991). “Die vertellings is meevoerend, of dit die leser na die grotbestaan van die primitiewe mens verplaas of na die dans in ’n moderne parkeergarage. Soms word die fantasie-effekte bereik met die beskrywing van angs- en vervullingsdrome, maar soms is dit die gewone werklikheid wat met ’n handomkeer magies-realisties word.

“Die bundel dra ’n psigoanalitiese lading en daar is ’n verhouding tussen die literatuur en die psigiatrie. Hierdie verhouding word in die teks self deur ’n goedgekose verwysing na die werk van Jung verwoord: ‘Jung het gemeen dat die literatuur en die psigiatrie saam die dubbele spieël van die siel vorm. Die psigiatrie verklaar die siel wetenskaplik en die literatuur gee mens ’n direkte uitsig daarop asof jy dit van ’n katedraalkoepel sit en bekyk.”

“Die dubbelheid waarvan daar in hierdie sitaat ter sprake is,” het Venter voorts geskryf, “is miskien die sleutel om die bundeltitel te interpreteer. Oop toe stel natuurlik ’n opposisie aan die orde, wat verskillend ingevul kan word: vrou-man, fantasie-wetenskap, sag-hard, droom-werklikheid. Dit kan ook dui op ’n proses van vulling of voeging, waar dit wat oop was, vervulling of voltooidheid bereik deurdat dit in opposisie opgaan. Maar die teenstelling kan ook maar net skyn wees: oop en toe kan aspekte van een en dieselfde wese wees, die geïntegreerde persoonlikheid wat die vroulike én die manlike omvat.

“Alhoewel die teorieë waarop die verhale in Oop toe gegrond is, so oud soos die berge voel, is die fantasie tog vars en nuut. Met hierdie bundel lewer De Waal Venter ’n bydrae tot die klein klompie beduidende erotiese verhale in Afrikaans,” aldus Louis Venter.

Gunther Pakendorf (Die Burger, 16 April 1991) het egter gevoel dat die skrywer nie mooi die middeweg kon vind tussen ’n ietwat verbeeldinglose banaliteit en ’n dieper filosofiese inslag nie.

De Waal het verder aan Pieterse vertel dat die sestien kortverhale almal, afsonderlik en gesamentlik, oor die verhouding tussen man en vrou handel. “Oor die animus en anima, en die meganismes wat dit vir die geslagte moontlik maak om denke en ervarings te deel.

“Die temas, soos dié van selfontdekking en vervulling, is vir my van wesenlike belang, want ek skryf (soos dit al gestel is) om die werklikheid aan myself te verduidelik.

Oor hierdie werklikheid het hy so uitgebrei: “Dink aan die beeld van die bewegende pendule en die baan wat hy maak. As denkende wese bevind ek my altyd in daardie baan. Ek kan nooit presies bepaal waar ek is nie: alles beweeg om my. ’n Mens se begrip bepaal die omvang van die werklikheid, maar nooit die punt waar jy jou bevind nie.”

De Waal het verder aan Pieterse gesê dat die bundel heelwat droomwerklikhede en fantasie bevat. “Fantasie is onsekerheid uit ’n ander hoek gesien, en wat my interesseer, is juis onsekerhede ofte wel moontlikhede. Daarom stel ek belang in SF en in fantasie en in die jongste literêre teorie wat saam met Heisenberg die konsep van absolutes verwerp.”

Die bundel is opgedra aan “Juffrou Blinkoë” en Petra Pieterse (De Kat, Maart 1991) wou by hom weet wie dié juffrou is. “Juffrou Blinkoë is nie vir my ’n eenvoudige saak nie. Die opdrag is wel so speels en oënskynlik naïef aangebied nes die verhaal ‘Juffrou Blinkoë’, maar dit spieël in op meer. ’n Werklik bestaande Juffrou wat my in haar wysheid aangemoedig het om kreatief te wees. Die verteenwoordiging van die anima-idee, wat jy in al my verhale aantref. En, sê maar, fasette van alle vroue wat ek geken het.”

In 1994 is ’n vereniging vir Afrikaanse kopieskrywers, die Kopieskrywersforum, in Johannesburg gestig. De Waal, wat op daardie stadium by die reklame-agentskap BLGK gewerk het, was die eerste voorsitter van hierdie vereniging. “Ons het Kopieskrywersforum gestig omdat ons meen ’n vereniging kan baie help om die vakkundigheid van sy lede op ’n hele reeks maniere te bevorder,” het De Waal aan Elfra Erasmus (Volksblad, 26 Maart 1994) vertel. “Dit kan dien as ’n spreekbuis vir Afrikaanse kopieskrywers en ook as ’n instrument om met ander organisasies en instansies te skakel. Kopieskrywersforum sal hom ook besig hou met die opleiding van mense wat dit nodig mag hê.” 

In die forum se grondwet lui die woordomskrywing vir Afrikaans só: “‘Afrikaans’ en ‘Afrikaanse’ verwys na die taal wat verskeie etniese en kultuurgroeperinge in Suid-Afrika in al sy verskeidenheid en vorme gebruik.'' Venter het gesê die gedagte was geensins om ’n “wit elite-groep tot stand te bring wat hom besig hou met standaard-Afrikaans” nie. “Ons lê groot nadruk daarop dat dit ’n oop organisasie is wat te doen het met Afrikaanse reklame in ál sy vorme. Ons doel is nie om ’n sekere vorm van die taal bo ’n ander te bevorder nie. Ons gebruik Afrikaans as medium om met verbruikers te kommunikeer en wil dié medium in al sy verskeidenheid benut.” 

Die Kopieskrywersforum het later met die ATKV saamgewerk om die “Pendoring”-toekennings vir voortreflike Afrikaanse reklame tot stand te bring. De Waal het die naam “Pendoring” voorgestel ter ere van sy vriend Ampie van Straten se toneelstuk Pendoring Edms Bpk. De Waal het aanvanklik in die keurkomitee van die toekennings gedien.

In 1997 is De Waal aangestel as redakteur van die tydskrif Leeftyd. Die tydskrif, wat deur Public Eye uitgegee is, het op daardie stadium al sowat ’n jaar lank bestaan en was gemik op die leser van 35 en ouer wat op soek is na geestelike en liggaamlike gesondheid. Die eerste uitgawe onder Venter se leiding het einde Julie 1997 verskyn.

De Waal het gestrewe na vernuwing en verbetering van inhoud en voorkoms nadat hy die pos van redakteur van Leeftyd oorgeneem het. Onder sy leiding het Leeftyd se sirkulasie ná tien maande reeds ’n toename getoon.

“Suid-Afrikaners is vandag vasgevang in ’n rommelrige lewe. Om in dié omgewing kop te hou, is die hele tydskrif gerig op lewensverryking en welstand,” het De Waal gesê. “Om Leeftyd ook ’n sterker oorspronklike Afrikaanse inhoud te gee, is daar heelwat inhoudelike veranderings aangebring wat dit van sy Engelstalige stalmaat, Quality Life, onderskei. Daar is byvoorbeeld Jeanette Ferreira se boekepeiling wat die gewone leser deur ’n unieke benadering betrek, ’n essay en ’n profielartikel wat spesifiek tot die Afrikaanse leser gespreek het.”

Elana Meyer, die marathonatleet, was in die April/Mei 1998-uitgawe op die voorgrond in die profielartikel. “Ons lesers is baie meer geïnteresseerd in hoëprofiel-presteerders as in modelle,” het Venter aan Beeld van 7 Mei 1998 gesê. 

In 2010 is De Waal se nuwe digbundel, Entangling states of mind, by Lulu.com gepubliseer. Deur hierdie maatskappy kan die skrywer self sy boeke uitgee en “print on demand” (POD). Dit beteken dat as ’n mens die bladuitleg en omslag van die boek self kan doen en as jy die publikasieproses op die internet kan baasraak, kan die boek heeltemal gratis uitgegee word. ’n Persentasie van die verkope gaan na Lulu, maar dit is baie minder as wat die tradisionele uitgewers normaalweg neem. ’ n Gedrukte sagtebandeksemplaar, sowel as ’n aanlyn kopie is beskikbaar.

Die volgende inligting is vanaf http://dewaalventer.bookslive.co.za/blog/2010/12/09/launch-of-poetry-volume verkry: “The book is divided into three sections: Hacking the human mind, Grasping my pencil with my toes, and Rhyming hunger with the right to live. In Hacking the human mind the poems explore the myriad ways the human mind processes reality. The reader is invited to approach the world in its many manifestations from unusual and fresh directions. The poetry twists and turns and never ends in a way that could easily be predicted at the beginning. The second section Grasping my pencil with my toes, contains poems that explore reality and being much like the poems in the first section, but they all have a humorous core. Humour is employed as yet another way of attacking the hard shell of reality and penetrating into deeper meaning. The third section Rhyming hunger with the right to live, explores our threatened ecological systems and the beings that inhabit our environment. The fist poem Releasing the rock, is set outside the main body of the book as it is a type of keynote poem. This is where the concept of the poeson is discovered and described. The poeson is a concept that De Waal Venter has developed and which he employs when writing poetry. It can be described as a methodological tool in the poet’s arsenal.”

Hy het ook ’n jeugroman in Engels, The Great Stir Trial, by Lulu.com gepubliseer. Verder skryf hy gereeld poësie in Engels en Afrikaans en plaas dit op sy blog, Poetry en poësie. Hy vertaal ook poësie uit verskillende Europese tale.

De Waal het later ook begin met ’n projek om die Nobelpryswenner Tomas Tranströmer se gedigte uit Sweeds in Afrikaans te vertaal. Hulle kan op LitNet en Versindaba gelees word.. Tranströmer bied die leser ’n besonderse leeservaring en alhoewel sy gedigte hoofsaaklik in Swede gebaseer is, voel hulle verstommend eg Afrikaans. De Waal was van plan om later ’n bundel van die gedigte uit te gee.

In 2017, 40 jaar ná die publikasie van sy vorige digbundel, Pols, publiseer Naledi Venter se volgende digbundel onder die titel oop sirkel.

In Die Burger (12 November 2017) en op Woorde wat weeg skryf Joan Hambidge dat Venter se verse aansluit by die losser gestruktureerde verse van die 1960’s en 1970’s: “Hierdie soort vers werk assosiatief en wentel rondom opsetlik disparate én teenstrydige beelde. (…)

“Vir my gevoel is sy verse in ’n ander toonaard geskryf as die sterker gestruktureerde verse van Johann de Lange of byvoorbeeld Johann Lodewyk Marais of Martjie Bosman.

“Hier is opwindende idees – veral oor die wetenskap en die gedig wat op sigself inbuig – in die bundel te bespeur, maar selde is daar vuurwerke in ’n gedig. Dikwels is dit net verkapte prosa, omdat die digter ’n slim idee wil oordra, soos ‘Droom muskiete van elektriese skape?’ (bl 73).

“’Poësie is die ware taal van die ongetemde gemoed,’ meen die digter (bl 108). Hierin probeer hy bepaal wát die ware gedig bepaal, al dan nie. Maar selfs hier in die getob oor die kunsvorm, bly dit net stelling. Dieselfde geld ‘Poësie as ’n organisme’ op bl 103, waar ons die lewenskrag mis van die gedig.”

Bernard Odendaal is die resensent van oop sirkel op Versindaba (26 September 2017). Hy skryf: “In oop sirkel kom hy vorendag met ’n versameling gedigte wat sterker in die Afrikaanse literêre geheue behoort voort te leef as sy vroeëre KiemPols en Klawer (laasgenoemde met DPM Botes en Menno Stenvert as mede-outeurs).

“Die buitebladontwerp van die jongste bundel, wat ook as voorplatontwerp dien, suggereer iets soos ’n stellêre gravitasiekolk. Assosiasies wat dáármee saamhang, en op die verse in oop sirkel betrekking blyk te hê, is die gebeurlikheid dat (oënskynlike of veronderstelde) teenstellings soos ondergang en ontstaan, identiteit en nivellering, werklikheid en onvoorstelbaarheid kan ineenskuif, tesame kan bestaan – al is dit momenteel. Redelikheid, emosionaliteit en sintuiglikheid as fasette van, uiteindelik, dieselfde menslike belewing; wetenskap, filosofie en kunsbeoefening – dié instrumente of vermoëns word uitgebeeld as ewe openbarend van die wonderlike en dikwels onvoorspelbare bestaansdimensies wat vanuit die alledaagse te beleef is. Die belangrikste voorwaardes blyk ’n beskoulike en belewingsoopgesteldheid, en ’n wil tot (self-)ontdekking te wees. (…)

”’n Soort strewe na onbevangenheid van blikhoek, na afgekoelde werklikheid- en lewensbetrokkenheid, na ’n half-naïewe perspektief op wat is of sou kon wees; veronderstellings waartydens niks beslis hoef te word nie, en humorvolheid dus gemaklik te pas kom – dít alles spreek vir my uit hierdie boeiende bundel. Waarskynlik vandaar dat van die aandringende sosiopolitieke kwessies van die vorige en huidige Suid-Afrikaanse bestelle feitlik geen spoor in die bundel te vinde is nie. En dat veral die benutting van verwysingsgoed en beeldspraakmateriaal uit die natuurwetenskaplike veld, in die besonder wat die fisika betref, so funksioneel aandoen.

“Retories gesproke, is derhalwe weinig van die affekwendinge te bemerk; is die dikwels aantreklike beeldspraak ten spyt, ’n sekere ondergestileerdheid en ’n losser versstruktuur dominant. Nie verniet nie sluit die bundel met die vermelde prosagedigte. Selfs ’n strofe waarin die spreker dit het oor sekere vaste versvorme (slotstrofe van ‘Die gedig as ’n trop skape’), stu op losse verstrant voort. (…)

“Soms versand van die verse ietwat in ’n enkelgelaagdheid van betekenisstrekking; is daar gedigte wat myns insiens nogal teleurstellend afloop (‘Kragtige swak krag’, ‘Klanke en stem’, ‘Ek glo dit is nodig’, ‘Aantekeningboek van ’n digter’, enkele van die prosagedigte). Daarby is heelparty tekortkomings aan te stip wat teksredigering betref. Dit is alles ’n jammerte. Tog ondergrawe dit nie die waardering wat ek vir dié laat-digwerk van De Waal Venter het, alte ernstig nie.”

De Waal was nog altyd geïnteresseerd in die vertaling van gedigte en hy het al in 2010 begin om Pablo Neruda se gedigte te vertaal, het hy aan AJ Opperman (Netwerk24, 1 Augustus 2019) vertel. In 2019 publiseer Naledi Vandag is boordensvol, vertalings van Neruda se gedigte. En vir hierdie bundel is De Waal Venter in 2020 vereer met die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se prys vir vertaalwerk.

“As jong man het ek Uys (Krige) se vertalings van Pablo Neruda gelees. Uys het ook Federico Lorca, ’n Spaanse digter, vertaal. Dit was baie jare gelede, maar dit het lank geneem voordat ek besluit het om Neruda te probeer vertaal.

“Ek het nog gedigte wat nie in Vandag is boordensvol verskyn nie, maar ’n opvolg sal nog ’n rukkie neem. Ek hoop daar is nog ’n paar vrugbare skryfjare oor.”

In ’n artikel op Versindaba, “Die vertaler as lewerik”, het De Waal ’n bietjie meer uitgebrei oor vertaalwerk in Afrikaans en ’n vergelyking getref tussen vertalings wat gedurende verskillende tydperke gemaak is.

Hy het geskryf: “Vertaling van goeie letterkundige werke uit ander tale in jou eie taal laat jou verder en wyer sien, verbreed jou visie en begrip van die ontsaglike kultuur wat die mens oor duisende jare opgebou het. Digters dig dikwels oor die vermoë om te vlieg, om die wêreld vanuit die hoogte te sien. Dalk is dit ’n voortsetting van die drang wat ons verre voorouers gehad het om hulle bolywe op te lig om oor die lang gras te kan kyk en wat uiteindelik daartoe gelei het dat ons vandag regop loop.

“Maar vertalings is nogal geneig om taamlik vinnig te verouder. Elke nuwe geslag behoort eintlik hulle eie vertalings te maak van gewaardeerde digters. (…)

“Dit is merkwaardig hoe ’n taal oor ’n paar dekades kan verander. Sekere woorde wat op ’n bepaalde tyd algemeen gebruik word, raak in onbruik en klink dan vir latere sprekers outyds en lomp. Nuwe woorde kom in gebruik en ander woorde verander van betekenis en word in nuwe verbande ingespan. Ek sien gister ’n koerantopskrif raak wat beweer ’n sekere persoon is bereid om te sing. Nadere ondersoek bring toe aan die lig dat dit niks met musiek te doen het nie, maar alles met ’n misdaad.”

Venter het toe voortgegaan om Uys Krige se vertalings van enkele van Baudelaire se gedigte in Vir die luit en die kitaar (1950) wat in die 1930’s gedoen is, met mekaar te vergelyk: “Dit is merkwaardig hoe vreemd die Afrikaans uit die dertigerjare vir ’n hedendaagse leser kan voorkom. Woorde soos sterfling, ieder digters, swyend-stom, toebeskoor, klaarte ensovoorts verwag mens nouliks in ’n moderne gedig, om nie eers te praat van gesprekstaal nie. (…)

“Mens besef met die lees van hierdie gedig (“La beauté” / “Die skoonheid) dat Afrikaans oor die afgelope tagtig tot negentig jaar nogal baie verander het. Soos die meeste tale is Afrikaans voortdurend aan die groei en ontwikkel en besig om te verander.”

In Vrouekeur van 15 Februarie 2020 skryf Willie Burger as volg oor De Waal Venter se vertalings van Neruda se gedigte: “In vertalings gaan altyd iets verlore en sommige van die gedigte klink nie so oortuigend in Afrikaans nie omdat die Spaanse wêreld soveel van ons wêreld verskil.

“Nietemin is De Waal Venter se Vandag is boordensvol ’n wonderlike manier om iets van daardie vreemde wêreld oop te maak en toegang tot hierdie invloedryke digter se werk te bied.”

De Waal se volgende bundel (en wat later ook blyk sy laaste te wees), Vrugbeginsel, verskyn in 2021 by Naledi en die uitgewers beskryf die bundel as volg: “Die titel verwys na ’n tipiese vrugbeginsel van ’n plant. Die vrugbeginsel sit in die hart van die blom en daaruit ontwikkel die vrug wat uiteindelik ryp word en weer saad voortbring. ’n Gedig kan die begin van ’n vrug vir die leser wees – ’n vrug van verbeelding, van ’n beter soort verstaan van die wêreld om jou.” (Versindaba)

Op Woorde wat weeg skryf Joan Hambidge: “Vrugbeginsel is die titel van sy jongste bundel. Ovarium is die geleerde, wetenskaplike naam. Die leser hoor ook die beginsel van vrug. Die soeke na essensie. In die hart van die blom wat ryp word en saad voortbring. Iets wat dus groei en uitwaaier in meervoudigheid. Die leser, soos die agterplat beduie, se leesproses is só ’n komplekse een.

“Die vorige bundel se titel oop sirkel (2017) vra vir ’n voltooiing deur die leser.

“In Vrugbeginsel kan veral die invloed van Paz gesien word. Die stilte, die sagte prosesse wat ongestoord voortgaan, word hier ondersoek. Hierdie dialektiese proses tussen Venter se vertalings van Paz en Neruda én die jongste bundel is vir hierdie leser besonder relevant. (...)

“Dit is veral die invloed van Octavio Paz, die Meksikaanse digter, wat sterk inspeel op hierdie digter se besinnings. Die oënskynlike, die onbenullige, die toevallige word saamgesnoer in gedigte. Paz word beskryf as surrealisties en eksistensialisties. (...)

“Daar is baie dinkwerk in hierdie gedigte en die leser wat al die verwysings opvolg, word ryklik beloon. Net soos met die lees van sy Neruda-vertalings.”

In sy resensie van Vrugbeginsel op LitNet skryf Daniel Hugo dat Venter al sedert die publikasie van sy eerste bundel, Kiem, onderskat word en nie deur die “literatore en kanoniseerders” na waarde geskat word nie.

Hugo gaan voort: “Ek betrek met opset Venter se debuut by hierdie resensie van sy jongste bundel. Nie net die titel, Vrugbeginsel, is ’n eggo van dié van sy eersteling nie, maar die kunswerk op die omslag is eweneens deur die digter self gemaak. Dit stel die deursnit van ’n vrugbeginsel voor. Kiemsel en vrugbeginsel is inderwaarheid sinonieme.”

En hy sluit sy resensie af met: “Vrugbeginsel is tematies ’n ryk bundel wat ook stilisties boei weens die balans wat geskep word tussen spreektaligheid en beeldende verdigting. ’n Tipiese voorbeeld van dié jukstaponering van style vind mens in die slotstrofes van ‘Planeet van die ape’:

Meer en meer
lyk die groot ape
en voormense
na mekaar.

Die jare in hulle miljoenetalle
krul stadig om
en blaai terug in die tyd
soos ’n verwaarloosde boek in die son.

“De Waal Venter se digbundels was te dikwels verwaarloosde boeke in die verskroeiende son van die literatuurkritiek. Lees hom; hy het veel te bied.”

Louise Viljoen van Jeffreysbaai het Vrugbeginsel vir Versindaba bespreek: “Vrugbeginsel, Venter se mees onlangse digbundel, beslaan 104 bladsye en is opgedeel in vier afdelings. Die agterbladteks lui: ‘Die gedigte ondersoek die mens se plek in die heelal en in die geskiedenis in die eerste afdeling. Verder besin die gedigte merendeels oor die wonderlike ontdekkings en begrippe van die moderne wetenskap, asook meer persoonlike, liriese gedigte en ’n skeut subtiele humor skemer deur. Die vierde afdeling is ’n reeks gedigte waarin die digter gesprekke voer met sy persoonlike muse, wat hy Yanni Euterpe noem. Die titel van die bundel is ontleen aan die idee dat ‘’n gedig die begin van ’n vrug vir die leser kan wees – ’n vrug van verbeelding, van nuwe begrippe, van ’n beter soort verstaan van die wêreld om jou’.”

Nadat Viljoen die bundel gelees het, kom sy tot die volgende slotsom: “Om ’n gedig te verstaan is om iets van die ewigheid te wil-wil begin begryp. Met die lees en herlees van die bundel kon ek nie help om te wonder wat ander lesers daarvan sou maak nie, of ek dalk iets miskyk of misinterpreteer … Daarmee sê ek nie dat ek die bundel negatief ervaar het nie – daar is lieflike verse wat my beïndruk het en wat ek graag weer sal lees.

“Ek dink wel dat die bundel beslis kon doen met die geoefende oë van ’n strenger keurder, asook ’n manuskripontwikkelaar en ervare teksversorger. Teks wat behoorlik geslyp en afgerond is, dra baie daartoe by dat ’n skrywer beskerm word teen negatiewe menings van lesers. Die bundel sou ook baat kon vind by ’n sterker en deurlopende sentrale tema en stemming; dit sou moontlik verhoed het dat die gedigte van wisselende gehalte is.

“Hierdie leeservaring het my onrustig gelaat. Vrugbeginsel het my laat kopkrap, dink en wonder. En as dít Venter se doelwit was, het hy daarin geslaag.”

Op LitNet het Venter hom as volg uitgelaat oor boekresensies en die skryf van sulke resensies – na aanleiding van ’n artikel “Hoe om ’n boekresensie te skryf” deur Kerneels Breytenbach op LitNet (23 November 2017): “Skrywers en lesers verwag van resensieskrywers om goeie werk te lewer. Vir baie lesers is die resensie die plek waar jy die besluit neem om die boek te lees of nie. As die resensie dus omslagtig, oninteressant of onnodig negatief is, wys die resensieskrywer baie lesers weg. Natuurlik bedoel ek nie dat die resensie klakkeloos moet aanprys en oorgeesdriftig ophemel nie. So ’n benadering is betekenisloos.

“Ek wil, bo en behalwe al die stellings wat Kerneels Breytenbach maak, een aspek beklemtoon. Skrywers en lesers vereis van ’n resensieskrywer dat hy of sy die teks in diepte moet ontgin. Dit is nie goed genoeg om byvoorbeeld net sekere verse in ’n bundel te lees en oor ander heen te skeer nie. Enige literêre werk van betekenis ontgin nuwe grond en die resensieskrywer behoort daardie nuwe terrein deeglik te verken voordat die resensie geskryf word.

“Indien ’n resensieskrywer self skrywer of digter is, word die taak moeiliker. As skrywer het jy sekere baie sterk vooropgesette idees oor hoe geskryf moet word. Wanneer jy ’n resensie skryf moet jy die vermoë hê om jou eie benadering en werkwyse opsy te skuif en te probeer verstaan wat die skrywer van die geresenseerde werk gedoen het en wat die benadering was. Nie alle resensente het daardie vermoë nie.” (LitNet, 27 November 2017)

Op 20 Maart 2022 is De Waal Venter na ’n kort siekbed in Muizenberg in die Kaapse Skiereiland aan leukemie oorlede. Hy en sy vrou, Erla, het nege maande voor sy afsterwe na Muizenberg getrek. Hy word oorleef deur Erla, vier kinders en vyf kleinkinders. Tot kort voor sy dood was hy besig om aan ’n bundel vertalings van Octavio Paz te werk. Die bundel sal hopelik later in 2022 gepubliseer word.

Huldeblyke:

  • Louw Venter, sy seun en ’n akteur: “My pa was ’n reus. Hy het woorde liefgehad op ’n manier wat wêrelde kon oopmaak vir andere. Hy was ’n man van uiterse integriteit, menslikheid, humor en intelligensie. Die wêreld is ongetwyfeld ryker vir sy bydrae en armer ná die verlies. Hy was die verpersoonliking van liefde en het vir ons almal gewys wat dit beteken om voluit te lewe. De Waal Venter is dood. Lank lewe De Waal Venter.” (Netwerk24, 22 Maart 2022)
  • Joan Hambidge: “Venter se vertaling van Neruda se verse het hom as ’n belangrike vertaler van die Suid-Amerikaanse digkuns gevestig. Die stylgrepe van Octavio Paz vind die leser terug by Venter: die hier en nou en ’n aweregse blik op die werklikheid met ’n besinning oor die wiskunde, wetenskap, biologie. Daar is baie dinkwerk in hierdie gedigte en die leser wat al die verwysings opvolg, word ryklik beloon. Net soos met die lees van die Neruda-vertalings, het hy ons letterkunde verryk met sy vertalings.” (Netwerk24, 22 Maart 2022)
  • Ian Raper, uitgewer en biograaf: “Wallie het een keer per maand in sy huis digters en hul verse ontvang. Ook andere, soos Louis van Rensburg met musiek. Soms het ons dit by UJ (voorheen die RAU) of die Wynmakers in die stad gehou. Hy was altyd geesdriftig en aanmoedigend, ook waar ons teen staatsensuur standpunt ingeneem het. De Waal het baie fyn gelet op taalnuanses; ook as reklameskrywer. Sommer op die trapfiets van Florida af Sandton toe gery om te gaan werk. ’n Passievolle vertaler. Hy was hoogs belese en vindingryk. Pittig en kernagtig soos sy verse, met titels soos Kiem en Pols. Niks verkramp nie.” (Netwerk24, 22 Maart 2022)
  • Daniel Hugo: “De Waal Venter het as digter ’n bietjie verdwyn. En toe het hy in die laaste tien jaar ’n comeback gemaak en ’n mens was baie bewus van hom. Daar is min digters wat dit regkry. Hy het teruggekom uit die vergetelheid en hy het op ’n hoogtepunt afgesluit.

“As jy nou teruggaan na Kiem uit die 1960’s, was hy ook betrokke by die tydskrif Wurm (hy was een van die stigterslede en redakteur daarvan). En dit was eintlik ’n avant-garde-groep in die Afrikaanse letterkunde, wat in ’n groot mate deur die literatuur-geskiedskrywers geïgnoreer is. Dit is ’n hele groep noordelike digters, onder wie ’n hele klompie mediese studente, wat saamgekom het en daai tydskrif gestig het en eintlik ’n groot invloed op letterkunde in die noorde gehad het. Daar bestaan nog steeds ’n onderskeid. Hulle was belangrik omdat hulle nuwe dinge beproef het. Soos die kontak wat hulle gemaak het met die Vlaamse avant-garde-digters van daardie tyd. De Waal was eintlik destyds op die voorpunt van die ontwikkeling van die Afrikaanse letterkunde.” (Netwerk24, 22 Maart 2022)

  • Johan Coetzee, stigter van Naledi Uitgewers: “Venter het my die Vrydag voor sy dood gebel. Hy het gesê hier gaan ons, voluit. Dit was met die vertalings van Paz se verse. Hy was nooit ’n ou wat geloop en praat het oor sy eie goed nie. So beskeie. Hy was eerstens ’n mens en dan ’n digter. Dit was vir my ’n mooi eienskap van iemand om jou op jou naam te noem. Dis wat hy gedoen het. Wat ’n nederige, sagte mens. Hy was effektief in alles wat hy gedoen het. Hy was baie dankbaar oor die vertaalprys van die Akademie. Hy was vol moed. En nou’s dit só. Dis hoe die lewe is. Hy is hoog geag, en nou is hy weg. Dis net ’n hartseer storie.” (Netwerk24, 22 Maart 2022)
  • Charl-Pierre Naudé: “Die Afrikaanse letterkunde het hom oopgemaak vir Romaanse letterkunde. Afrikaans is al oop daarvoor sedert Uys Krige (se vertalings). Maar ek het baie gehou van die feit dat De Waal Venter dit verder gevoer het met sy vertalings van Tranströmet, wat ’n sogenaamde post-surrealis was. Nie baie mense gebruik daardie term nie. Hy is werklik aktueel en ’n groot verteenwoordiger van waar daardie soort verbeelding is. De Waal het dit vertaal en dit was belangrik dat dit gebeur het. Daai tipe verbeelding is in Afrikaans nog steeds aan die marge.

“Daar is soveel klem op die gemeenskapsbelewenis van letterkunde in Afrikaans. De Waal het met sy vertalings – en miskien ook met die manier waarop daai vertalings sy eie poësie beïnvloed het – die Afrikaanse letterkunde herinner aan sy breër oogmerke. (…)

“Hy was vir my ’n verfynde man. Beskaweling. Geraasverminderaar. Penmeester. Dis die drie woorde wat ek teenoor sy seun gebruik het om hom te beskryf.” (Netwerk24, 22 Maart 2022)

Publikasies

Publikasie

Kiem

Publikasiedatum

1965

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Nasionale Boekhandel

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Staatsprys vir Poësie

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Pols

Publikasiedatum

1977

ISBN

0624009882 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Louwtjie help soek

Publikasiedatum

1984

ISBN

0798117176 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Die vyf-millimeter avontuur

Publikasiedatum

  • 1984
  • 1990

ISBN

  • 0798117257 (hb) 
  • 0798127708 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Jeugfiksie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Hoeveel tone het ’n bobbejaan?

Publikasiedatum

1985

ISBN

0798118962 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kindertoneelstuk

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Vyffff

Publikasiedatum

1985

ISBN

0624026884 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Jeugfiksie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Oop toe

Publikasiedatum

1990

ISBN

0798630906 (sb)

Uitgewer

HAUM-Literêr

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Mieg se kort en lang middag

Publikasiedatum

1992

ISBN

1874901031 (sb)

Uitgewer

Somerset-Wes: Queillerie

Literêre vorm

Jeugfiksie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die weghollers van Teev

Publikasiedatum

1994

ISBN

0702132993 (sb)

Uitgewer

Kenwyn: Juta

Literêre vorm

Kinderboeke (Ekonopret-reeks)

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Swaartekrag een komma een

Publikasiedatum

1994

ISBN

0798129271 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Jeugfiksie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

In die klein woud

Publikasiedatum

1995

ISBN

1874901295 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Queillerie

Literêre vorm

Jeugfiksie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Entangling states of mind

Publikasiedatum

2010

ISBN

(sb)

Uitgewer

Lulu.com

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

oop sirkel

Publikasiedatum

2017

ISBN

9780928316735 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Naledi

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Vrugbeginsel

Publikasiedatum

2021

ISBN

9781928530855 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Naledi

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

De Waal Venter as vertaler:

Artikels oor De Waal Venter beskikbaar op die internet:

Artikels en gedigte deur De Waal Venter beskikbaar op die internet:

Nog gedigte is beskikbaar by http://dewaalventer.bookslive.co.za/blog, en sy oeuvre word uiteengesit by http://dewaalventer.wordpress.com.

De Waal Venter se ATKV|LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik op 2012-03-14 gepubliseer en is nou volledig bygewerk.

Die opsteller vra om verskoning dat van die skakels nie tans kan oopmaak nie, maar Media24 se koerantargief is op die oomblik nie toeganklik nie. 

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top