David O Russell se Amsterdam is ’n metafoor vir wat hier in Suid-Afrika aan die gang is

  • 1

Netflix gaan David O Russell se Amsterdam aan die einde van Augustus verwyder, so dis die moeite én die sit werd om hierdie baie vreemde, maar interessante film te sien voor dit verdwyn.

Waarom?

  • Amsterdam vier die ongelooflike werk van die 396ste Infanterieregiment, beter bekend as die Harlem Hellfighters, gedurende die Eerste Wêreldoorlog.
  • Dit is ’n waarskuwing teen fascisme wat wêreldwyd, ook hier in Suid-Afrika, weer lelike dinge doen.
  • Die manier waarop geldmagnate hul mag misbruik om fascisme te bevorder is deel van hierdie vreemde film se onderbou.
  • Amsterdam is ook ’n viering van doodgewone mense se vermoë om teen die geldmagnate op te staan.
Losweg gebaseer op die waarheid

Het julle geweet dat een van die mees bekroonde Amerikaanse regimente gedurende die Eerste Wêreldoorlog in Franse uniform geveg het? Jip. Gaan lees ’n bietjie oor die Harlem Hellfighters. Hierdie ouens was swart en die wit Amerikaners wou hulle nie in Amerikaanse uniform sien nie.

Drake, die rapper en musiekskepper, was die vervaardiger van Amsterdam. Ek kan verstaan waarom hy geld in hierdie film ingepomp het.

Die ander baie belangrike historiese “feite” waarop hierdie film gebaseer is, is die getuienis van generaal-majoor Smedley Butler voor die McCormack-Dickstein-komitee van die Amerikaanse Kongres in 1934.

Butler het beweer dat hy gevra is om oorlogveterane op te sweep om Roosevelt se regering omver te gooi. Die idee agter hierdie komplot, wat skynbaar deur magnate van Wall Street uitgedink en gefinansier is, was om ’n “sterk leier” aan te stel sodat verkiesings nie nodig sal wees nie.

Butler se getuienis is destyds in twyfel getrek, maar onthou julle Elon Musk se Hitler-saluut tydens die viering van Trump se oorwinning oor Harris?

Kyk Amsterdam.

Groot name

Ek het reeds Drake se naam genoem. Hy was die hoofvervaardiger.

David Russell het die draaiboek geskryf. Hy was ook die regisseur.

Christian Bale, Margot Robbie en John David Washington speel die drie hoofkarakters.

Taylor Swift speel ’n baie klein, maar uiters belangrik rol. Jy’t reg gelees: Taylor Swift.

Chris Rock is ook daar.

Ana Taylor-Joy speel ’n groot rol.

Daar is ook sterre soos Zoe Saldaña, Rami Malek, Mike Myers en Robert De Niro om te noem. En baie ander.

Kyk gerus. Drake se geld het name gekoop.

Nie maklik nie

Ten spyte van al die groot name het Amsterdam nie geslaag nie. Dis te selfbewus vir ’n groot gehoor. Elkeen van die tonele is vervaardig om soos ’n sitkom maksimum humor te haal uit elke moontlike faset van wat ’n mens sien.

’n Goeie vriend het die film as “manies” bestempel.

Vir die oog wat verstaan, is dit vrek snaaks. Ek het my verkneukel. Maar die gemiddelde gehoor, wat nie wil kyk na ’n film wat met sigself spot nie, kon nie ’n houvas kry op dié een nie.

Metafories vir die hier en nou

Amsterdam is ’n fassinerende uitbeelding van rassisme, gierigheid, ontluikende fascisme en die gevaar van mag.

Hier in Suid-Afrika is daar talle witmensorganisasies wat op subtiele maniere ook probeer om alternatiewe vorme van regering voor te hou. In Suid-Afrika is daar selfs mense wat Donald Trump steun, of diegene wat dink Wladimir Poetin is ’n oulike ou. Dieselfde mense is egter verbaas wanneer ander kiesers weer fasciste soos Julius Malema en Jacob Zuma verkies. (Die teenoorgestelde is natuurlik ewe waar!)

Nou ja.

Amsterdam is in 2021 gemaak, aan die einde van Trump se eerste bewind. Dit is in 2022 vrygestel. Dit was ’n flop. Ek kan verstaan waarom. Dalk was al die geld van Drake en sy maats net te lekker om mee te speel. Ironies, nie waar nie?

Maar ek dink steeds Amsterdam is die moeite werd om te sien.

Onthou dat Netflix dit einde Augustus gaan onttrek. Doen moeite!

’n Laaste opmerking

Die fliek moet nie met Ian McEwan se roman Amsterdam, waarvoor hy die Booker-prys gekry het, verwar word nie. Al ooreenkoms is dat die hoofkarakters ’n vreemde pakt sluit met mekaar. Ek vermoed dit is nie om dowe neute ingebou nie. Vir die ingeligte kyker aktiveer dit dadelik waarskuwingsligte.

Naskrif:

Hierdie nuusfilm word herskep in Amsterdam.

  • 1

Kommentaar

  • Cornelius Henn

    Beste Izak,

    ​Dankie vir die resensie. Ek het dit geniet. Jy beskryf Amsterdam as ’n metafoor vir wat in Suid-Afrika aan die gang is, en jy raak die gierigheid, fascisme en magsmisbruik goed aan.

    ​Die film het my egter ook aan iets anders laat dink: wat gebeur wanneer 'n gemeenskap se instellings en ankers verbrokkel en daar net ’n groot leemte oorbly?

    ​Amsterdam is in die storie daardie lekker, tydelike toevlug waar die drie karakters ná die oorlog probeer om hul eie reëls te skep en hul trauma ’n bietjie weg te drink. Dit voel vry en romanties… totdat jy sien hoe vinnig daardie ruimte deur geld en mag oorgeneem word sodra die euforie verlam in selfbehae omval.

    ​Dis dalk ’n hoender-of-eier-storie: Maak ’n onbewaakte maatskaplike vakuum die deur oop vir fasciste, óf is fasciste net die tipe wat altyd die hardste hardloop om so ’n oop deur te gryp?

    ​Ek dink die leemte en verval skep die geleentheid, en fasciste is eerste deur die deur.

    ​Iets soortgelyks het ná die val van die Sowjetunie gebeur. Toe die ou orde en die staatsateïsme oornag verdwyn, was daar skielik ’n massiewe vakuum. In daardie ruimte het allerhande figure opgeduik, van kleurvolle kultleiers soos Marina Mamonova (Maria Devi Khristos) en haar Wit Broederskap, tot sterker manne soos Poetin. Hy het vir baie Russe ’n mate van orde en stabiliteit teruggebring ná die chaos van die 90’s. Terselfdertyd is sy stelsel duidelik outoritêr. Om hom net “fascis” te noem is dikwels te maklik; dit maak die spesifieke vorm van mag wat hy gebou het net moeiliker om te verstaan.

    ​Die patroon bly altyd dieselfde wanneer maatskaplike en geestelike ankers verdwyn: die leemte word spoedig deur mag gevul. En daardie mag is selde goed, veral nie vir gewone, brose strukture soos die gesin nie.

    ​Springmielies-groete,
    ​Cornelius

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top