Darling Collection word dARTling

  • 1

Jan Grolleman het in 2016 studente van die Fontys Hogeschool voor de Kunsten, uit Tilburg in Nederland, na Suid-Afrika gebring om die studente te help konseptualiseer aan nuwe idees.

Jan Grolleman

Hy wou sy studente uitdaag om buite hulle gemaksone kuns te skep. The Darling Collection is gestig waartydens agt studente elkeen met vyf plaaslike inwoners van Darling moes saamwerk om stories te vertel en kuns te maak. ’n Voorwerp van die plaaslike inwoner is gekies en kuns is daaromheen gemaak.

Laura Jonker

In 2017 was Jan terug met nog studente, en dieselfde modus operandi is gevolg. Een van die 2016-studente, Laura Jonker, het egter weer na Darling gekom om die kern te vorm van Dartling (ook geskryf dARTling), ’n projek wat gemik is op die bemagtiging van Darling se inwoners.

Nou, in 2018, was Jan en Laura weer in Darling met ’n aantal studente, maar dié keer was Laura hier as programdirekteur. Sy was vir tien weke lank in Darling en het voortgebou op die werk wat sy in 2017 begin het. Klik hier vir ’n onderhoud tussen Jan Grolleman en Naomi Meyer om meer hieroor te verduidelik. 

Jan en Laura deel ’n visie: nou moet Darling se inwoners oorneem. Jan wil graag dat die Darling Collection, wat van buite gedryf is, moet vervaag, maar dat Dartling, wat vanuit Darling gedryf word, moet voortgaan om kuns te vervaardig. Jan Grolleman en die studente van Fontys sou steeds graag wou help, maar van nou af moet Darling se inwoners die projek dryf.

Heelwat meer tyd is vanjaar spandeer aan die oplei van jongmense om vaardighede aan te leer wat hulle later sou kon gebruik, maar die samewerking tussen die Nederlandse studente en die inwoners van Darling is nie agterweë gelaat nie.

Die jongmense het dansopleiding ontvang, maar het ook aan die Nederlandse studente van die plaaslike danse geleer.

Verskeie skilderye en tekeninge is uitgestal.

Een van die treffendste installasies is geskep deur Lennart Paul Creutzburg. Hy het foto’s versamel van mense in Darling wat oorlede is. Onder aan elke foto het hy ’n kerspit vasgemaak en die pitte is aan die brand gesteek. Die vlam is geblus na gelang van hoe lank die persoon geleef het. Iemand wat oud geword het, se pit is gou geblus om lank te bly – hulle het ’n vol lewe gehad. Onder talle ander foto’s van bloedjong mense het die pit egter ’n hele ruk gebrand en slegs ’n kort stukkie het onder die foto’s bly hang.

Ander objekte het tot humor gelei, soos hierdie kombers wat tot ’n skreeusnaakse oorvertelling van die Rooi Kappie-verhaal gelei het.

Daar is deurgaans omsigtig omgegaan met Darling se stories. Hierdie dans deur Lizzy Bastiaansen beeld verganklikheid uit na aanleiding van ’n persoon wat haar huis in ’n brand verloor het.

Juliet Zoeten het weer saamgewerk met ’n plaaslike inwoner wat in die Oosterse gevegskunste belangstel, elke kata het ’n dansbeweging ontlok.

Darling het talentvolle musikante en die Nederlandse studente het moeite gedoen om die talent te koester en ten toon te stel. Hier voer die Austin Engelbrecht Orkes “Ingle” op. Van links na regs is Verdi Alaart, Marius Vlotman, Austin Engelbrecht, Jayden Julies en Mudi Makumbe.

Die plaaslike inwoners se musiektalent is deeglik ingespan en hulle het dikwels die verhoog gedeel met studente uit Nederland. ’n CD is ook opgeneem en aan die inwoners van Darling beskikbaar gestel. ’n Kopie kan bestel word by collection@voorkamerfest-darling.co.za.

Die wyse waarop studente die plaaslike inwoners se verhale koester, is ook te sien in die wyse waarop Lennart Creutzburg ’n reël uit ’n gedig geneem het en twee cameras obscura vir die plaaslike inwoners gebou het. In hierdie video vertel hy hoe fyn hy die fisika van lig, wat die agterkant van die boks tref, in verband gebring het met die onbekende baba wat die gedig laat gebeur het.

Dit was nog eens ’n besonderse geleentheid om die fees in Darling by te woon. Die volgende fees gaan interessant wees, want die idee van die Darling Collection was samewerking tussen Europeërs en mense van Afrika wat baie wysheid in pag het. Die idee agter Dartling is om die kennis van die Europese studente en die talent op eie bodem te laat werk.

Mag hierdie drome waar word.


 

Lees Laura se drome hier: https://tdc2018.wordpress.com/2017/04/18/dartling-why

Lees Jan Grolleman se drome hier: https://tdc2018.wordpress.com/2018/03/27/from-the-darling-collection-to-dartling

Klik hier vir meer video’s wat deur die studente gemaak is: https://tdc2018.wordpress.com/videos

Lees ook:

https://www.litnet.co.za/the-darling-collection-an-interview-about-a-unique-festival/

  • 1

Kommentaar

  • Dit was vir my 'n wonderlike ervaring. Kan nie glo dat talent so verborge kan wees nie. Wel gedaan Laura en jou span. Julle het werklik mense laat uitstyg.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top