In die gees van vanjaar se feestema, Tuiste, vier die Suidoosterfees se dansprogram in samewerking met Figure of 8 Dansteater en Dance for All van 29 April tot 3 Mei die verhoog as ’n veilige hawe in die hart van die Moederstad.

Soos die legendariese choreograaf Gregory Maqoma opmerk, is dans meer as net beweging; dit is die “storie van waar ’n mens vandaan kom”. Deur elke vertoning word gehore uitgenooi om hul eie sin van behoort en tuiskoms in die ritme van ons gedeelde verhale te vind. Ses uiteenlopende danswerke bring stories van identiteit, gemeenskap en veerkragtigheid deur die lens van choreografie na die verhoog.

Foto: Graham Fielies
Alice in the Cape Flats neem jou op ’n reis van selfontdekking waar Alice fantastiese karakters ontmoet – van Double D en die Mad Hatter tot Queenie – wat elk ’n waarheid onthul. Verwag avontuur, humor, heerlike Gayle en musiek in ’n magiese wêreld. Hierdie oorspronklike werk meng musiek, fopdos, dans en visuele storiekuns om queer-identiteit en die veerkragtigheid van die Kaapse gemeenskap te vier.

Fpto: Gys Loubser
Dance Synergy V, die fees se jaarlikse spogproduksie, is terug vir ’n vyfde uitgawe! Op die hakke van Internasionale Dansdag kom die Kaap se voorste dansers bymekaar vir ’n asemrowende viering van beweging en ritme – saam met gaskunstenaar Auntie Bettie. Van kontemporêre dans en ballet tot Indiese dans en jazz, demonstreer hierdie vertoning die uiteenlopende style wat ons byeenbring. Propvol uitsonderlike talent en onvergeetlike oomblikke.

Gat deur die Garage Dance Ensemble is ’n aangrypende opvoering wat in die Kasteel van Goeie Hoop aangebied word. Op ’n verweerde bakkie vertrek die groep op ’n emosionele reis deur beweging en teks wat die siel van ’n gemeenskap wat veg om te oorleef, ontbloot. Met treffende innovasie weef hulle ’n ritueel van klank, beweging, aarde en water wat die siklusse van skepping, vernietiging, geboorte en dood naspoor. ’n Diep resonerende besinning oor herinnering en veerkragtigheid. Velede jaar het dit die Woordtrofee vir Beste dansgedrewe produksie by die Toyota Stellenbosch Woordfees ontvang.

Foto: Gys Loubser
In The Bollywood Times bring Kaapstad se bekroonde dansgeselskap Taare ’n splinternuwe dans-extravaganza propvol kleur en energie wat die gehoor wegvoer in ’n fees van Bollywood-vermaak waar musiek, kostuums en dans saamsmelt. Met Taare se dinamiese dansers en gaskunstenaars uit verskillende genres ontvou die vertoning in ’n warrelwind van visualiteit en meevoerende ritmes. Hierdie produksie vier hoe kulturele tradisies ’n tuiste van trots en identiteit skep.

Foto: Gys Loubser
Figure of 8 Dansteater bied The Reservation aan. Kom sit gerus – aandete word bedien. Hierdie gewaagde, meesleurende dansteaterwerk nooi jou in ’n restaurant waar sosiale gewoontes en menslike verhoudings onder die soeklig kom. Vreemdelinge ontmoet, geliefdes kry stry en families vind mekaar. Kelners glip met balletagtige presisie tussen alles deur, beïnvloeders soek die perfekte kameraflits, en disse glinster onder ligte wat meer onthul as wat op die spyskaart staan.

Wonde, die tweede werk van die Garage Dance Ensemble, is ’n kragtige dansvertelling wat die verpletterende werklikheid ondersoek van kinders wat spoorloos verdwyn as gevolg van mensehandel, mishandeling of moord. Met aangrypende choreografie waarsku die produksie ons om waaksaam te wees en ons kwesbaarstes te beskerm. Dit bevestig elke kind se reg om sonder vrees groot te word.
Daar is weer gratis dansklasse, aangebied in samewerking met Figure of 8 Dansteater, wat feesgangers in staat stel om by vooraanstaande dansers en choreograwe te leer in ’n reeks energieke, toeganklike en inspirerende klasse. Van Amapiano met Ashlynn Erasmus tot Vogue Fem met Berlin LaCap, kommersiële dans met Rudi Smit en kontemporêre dans met Yarisha – elke klas bied ’n geleentheid om nuwe bewegingstale te leer en deel te word van die dansfeesviering. Klasse is gratis, maar moet vooraf bespreek word deur Webtickets.
Daaglikse opwipvertonings word op die Piazza voor die Kunstekaap aangebied waar SboNdaba Dance, Figure of 8, Dance for All en paaldanskunstenaars optree, gratis vir die publiek.
Laastens sal ’n dansgesprek in die Netwerk24-feeskafee met gerespekteerde rolspelers uit die danssektor ondersoek hoe die liggaam stories van identiteit, egtheid en weerstand vertel.
Volledige besonderhede oor tye, plekke en besprekings is in die feesprogram, wat op suidoosterfees.com beskikbaar is, en kaartjies kan deur Webtickets bespreek word.

Die dansprogram van die Suidoosterfees word aangebied in samewerking met Figure of 8 Dansteater en Dance for All. Die hoofborge van die Suidoosterfees is die Wes-Kaapse regering en die provinsie se Departement van Kultuursake en Sport, Stad Kaapstad, Netwerk24, Die Burger, NATi, kykNET, die ATKV, Kunstekaap en dotsure.co.za. Smile FM is die fees se amptelike radiostasie.

