“Afrikaans se verhaal is ’n verhaal van menseregte. In plaas van ’n geïsoleerde eiland van ’n Afrikaner-volkstaal, is dit ’n taal wat deur ’n meerderheid bruin mense gepraat word – is dit ’n taal wat oor kultuurgrense in ons land gepraat word. ’n Diverse taal, veel groter as die verengde volksbeheptheid van die vorige eeu. Dit is die taal van menseregte, van gelykheid, van gelyke waardigheid.”

Danny Titus (Foto: ATKV)
Aan die woord is Danny Titus, wat pas ná 12 jaar by die ATKV die tuig op 63 neerlê. As direkteur van kultuur was hy verantwoordelik vir die organisasie se takke, die taalportefeulje, onderwys en kultuurprojekte.
“COVID-19 het my laat oefen vir aftrede,” sê Danny. “Weg van die kantoor.”
Voordat Danny by die ATKV ingestap het, moes hy mooi oor die saak dink. In daardie stadium was hy visedekaan by Unisa se Kollege vir Regsgeleerdheid, en het hy waargeneem as hoof by Justisie se Opleidingskollege. “Om vanuit ’n regsloopbaan te skuif na die Afrikaanse taal en kultuur het nogal heelwat geverg. Maar as ek terugdink, was dit elke tree die moeite werd,” sê hy. “Om ’n verskil te kon maak in mense se lewens en ook in ’n organisasie soos dié, was beslis ’n genoeё.”
Danny en sy vrou het nagte lank oor sy betrokkenheid by die ATKV geworstel. In daardie stadium het die organisasie swaar gedra aan die persepsie dat dit hoofsaaklik wit belange op die hart dra. Skerp politieke vrae is gestel: Verkoop hy nie sy siel aan ’n “regse organisasie” nie?
Hy het geweet hy kon ’n enorme verskil maak om die ATKV te help transformeer en persepsies te verander. “Die keuse was om buite te staan of in te kom. Die saak vir inkom was veel sterker as buite staan. Die ATKV was integer, opreg en beslis nie kosmeties nie. My aanstelling op die hoogste bestuursvlakke en daaropvolgende aanstellings was sigbare bewys daarvan.”
Die aanvaarding deur die ATKV se 70 000 lede was vir Danny ’n verdere aanmoediging. “Lekker handevat en die hartlikheid van wit, bruin en swart. Onder die hardheid en wreedheid van apartheid lê daar ’n sagtheid, ’n Christelikheid van medemenslikheid en samesyn wat ons oop grense met Moslems, Hindoes en ander gelowe vergemaklik het.”
Vandag is die ATKV volledig geïntegreer en ’n toonbeeld van hoe daar op diversiteit voortgebou word. “Die ATKV het ’n personeel wat behoorlik getransformeer is. Ons takke op grondvlak lyk heeltemal anders as toe ek daar begin het. Ons algemene jaarvergadering het goed verbruin met takke uit Soweto wat gegroei het.” En niks word geforseer nie, vertel Danny, alles gebeur organies. “Daar is natuurlik voortdurend ruimte vir verbetering en die proses bly dinamies.”
Vir Danny is die samevoeging van dié elemente ’n gedugte kombinasie vir die ATKV: “die akademie; menseregte, taal en kultuur; en die inheemse mense van Suid-Afrika.” Vandag word die bydrae van die Khoisanmense tot Afrikaans erken, en Afrikaans staan wêreldwyd sterker en veiliger as tydens die isolasietydperk van die verlede.
Integrasie strek wyer en dieper as die kultuurprojekte waarby die organisasie betrokke is. Op grondvlak sien mens dit in die samesyn by die ATKV se vakansieoorde landwyd. “Daar waar Suid-Afrikaners mekaar in die swembad ontmoet en in hulle tente en karavane saam vakansie hou,” sê Danny.
Vóór die ATKV het Danny se loopbaan interessante draaie geloop. Nadat hy ’n doktorsgraad in menseregte aan die Universiteit van Leiden verwerf het, het hy by verskillende instansies bydraes gelewer. Om op verskillende stoele te sit was nog altyd deel van die Danny-pakket. Terwyl hy sy ATKV-hoed gedra het, was hy deeltyds betrokke by die Verenigde Nasies in Genève, en ook by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie. “Die ATKV het bietjie gebrom, veral wanneer ek in die media oor menseregtekwessies gepraat het. Ek het my weinig daaraan gesteur en was oortuig van die sterk saak vir menseregte, taal en kultuur.”
Om die onderskeie taalgemeenskappe in Afrikaans saam te snoer, is bepaald nie maklik nie. Mense se geneigdheid om op mekaar se verskille te fokus hoef nie noodwendig verdeeldheid te bring nie; dis eerder ’n vertrekpunt na samehorigheid. “Ek dink ons moet aanvaar dat ons dieselfde taal praat, maar dat ons nie skaam hoef te wees vir dit wat ons verdeel nie,” sê Danny.
Afrikaans is vir té lank gesien as ’n witmanstaal, en wit mense het hulleself té lank as Europeёrs beskou. “Daar was selfs Europeans Only en Non-Europeans Only-bordjies,” verduidelik hy. “Vandag is almal ewe skielik van Afrika.

Danny Titus tree ná 12 jaar by die ATKV uit. (Foto: ATKV)
“Hierdie goed moet deurgewerk word. Ons moet ons verskille erken en daarvandaan na die dinge werk wat ons bymekaar kan bring.” En van dinge wat ons gemeen het, is daar genoeg: “Sport, humor, virusse.”
Ander inheemse tale steek by die ATKV kers op oor hoe daar suksesvol na kultuur omgesien kan word. “Ons is al genader om die Ndebele-taal en -kultuur te ondersteun.” Uiteraard moet daar versigtig tussen taalgroepe getrap word. “Mens wil nie paternalisties of kolonialisties voorkom nie. Maar gesprekke met verskillende kulture is nog oop op die ATKV se agenda.”
Volgens Danny besef drukgroepe wat agiteer vir die behoud van Afrikaans op velerlei vlakke nie aldag hoe ander inheemse taalgroepe hulle sien nie. “Ons moet daaraan dink om ander groepe te oortuig van Afrikaans se integriteit en bona fides. Mense val te maklik vas in die stereotipes van die taal. African landgenote staan verras om te hoor van 612 000 swart mense wat in die 2011-sensusopname gesê het Afrikaans is hulle moedertaal, of dat bruin mense in 1976 hul stryd teen apartheid in Afrikaans gevoer het.
“Universiteite behoort hul navorsingsagendas oor Afrikaans aan te pas deur sterker te fokus op die Khoi en die ontstaan van Afrikaans,” sê hy.
Wat moedertaalonderrig betref, laat hy hom ook nie onbetuig nie. “Ek is ’n produk van moedertaal-Afrikaans. Maar die meerderheid miljoene Suid-Afrikaners het nie die voorreg van moedertaalonderrig gehad nie. Dan moet ek maar sluk. Waar dit kan, sal ek dit egter graag aanbeveel.”
Mense wat gespanne raak oor die taalgesprek moet eenvoudig harder probeer. Té dikwels word die gesprek belemmer deur selfsugtige agendas. “Dis verbasend hoe maklik eie agendas hierby inkruip. Ons kan nie eie Afrikaanse agendas hierby toelaat nie. Dis so oneerlik.”
Verskeie ATKV-projekte demonstreer hoe kultuuraktiwiteite met sensitiwiteit binne Suid-Afrika se meertalige opset uitgebou word. “Die rieldans is van die beste voorbeelde waar ’n kultuur weggeval het en die ATKV dit kon opwek en ondersteun. Ek was nie direk betrokke nie, maar kon dit vanuit my kantoor ondersteun.”

Danny soos die publiek hom ken: saam met ’n jong ATKV-presteerder. (Foto: ATKV)
En nou gaan Danny hom toelê op die dinge wat hom naaste aan die hart lê, spesifiek die DAK-Netwerk, waaroor hy nie uitgepraat kan raak nie. “DAK staan vir Doman-Nomoa, Autshumao en Krotoa. Hulle was prominente Khoi-figure in die tyd van Jan van Riebeeck.”
Danny se missie is om die balans te help herstel ná die koloniale aanslag op die geskiedenis. “As jy in ag neem dat hoofman Autshumao beter bekend is as Herrie die Strandloper, dan sien jy hoe ons geskiedenis verdraai is.”
Vir dié ambisieuse taak is Danny die regte man. Hy het homself al oor en oor bewys. En daarvoor het hy al vele akkolades ontvang, soos vroeër vanjaar toe Worcester, sy geboorteplek, hom met die vryheid van die dorp vereer het. Nou is Danny deel van die uitgelese galery swaargewigte wat uit dié bodem spruit: JM Coetzee, David Kramer, Diana Ferrus, Cecyl Esau …
Maar terwyl Danny sy vere vir DAK skik, kom trek iemand kort-kort sy aandag af. Juis onlangs het ’n uitspraak deur Leopold Scholtz hom warm onder die kraag gelaat. “Verlede maand kom Leopold Scholtz en verwys in Die Burger van 9 April 2020 na dr Allan Boesak en prof Russel Botman as ‘wilde ideoloё’ – in dieselfde asem as Eugène Terre’Blanche. Wat ’n belediging en ’n verdraaiing van ons onlangse geskiedenis. Soveel om reg te stel!”


Kommentaar
Die opskrif is seker tegnies korrek, maar vir my klink dit of Danny pad gee, asof hy genoeg gehad het (kyk ook die laaste paragraaf oor ’n opmerking van Leopold Scholtz). Dit is seker nie oorspronklik nie, maar “Danny lê die tuig neer” sou dalk nie verwarring veroorsaak het nie.
Baie dankie vir jou reuse bydrae tot die uitbou van kommunikasie en samewerking tussen ons taalgenote.
As oud Spoorweg-man was dit daar waar ek kennis gemaak het met die ATKV en was, indien ek nie verkeerd is nie,’n kultuurorganisasie binne die eers SA S&H wat later SA Vervoerdienste geword het. Dit blyk dat hierdie stuk geskiedenis verlore geraak het. Ek was self lid vir ongeveer 36 jaar.
Danny bewys telkens dat Afrikaans nie aan een sektor van ons land behoort nie en dat dit nie ’n diskriminerende taal is nie. Hiermee stem ek saam want Afrikaans is ’n objek wat deur ’n subjek (die mens) gebruik word. Dit hang af van mens se houdings en gesindhede hoe hulle Afrikaans gebruik.
Dankie Danny vir jou enorme bydra! Dit het nie ogesiens verby gegaan nie. Ek is altyd net so jammer noudat ons jou die nodigste hê is julle manne aan het aftree of van die groot geeste is nie meer met ons nie. Ons moes totsiens sê aan Richard “Oom Dickie” van der Ross, Jakes Gerwel en Adam Small om maar ’n paar te noem. Ek noem jou juis in dieselfde asem want jy’s is daar bo MET HULLE! Dankie vir jou bydrae sodat ons, Anthony Wilson Produksies, Teater in die Opvoeding (TIO) – Skoleprogramme na van ons senior sekondêre skole toe kon neem en opvoer. Dit was veral met “Krismis van Map Jacobs” Adam Small se ander groot drama – die eerste Bruin drama ooit vir matrieks voorgeskryf – waar ek vir jou BAIE DANKIE wil sê. Dankie dat ons deur jou van hulp vir die graad 12’s kon wees in voorbereiding vir hulle finale eksames. DANKIE DANNY! Kyk ons was destyds gesê dat “Kanna hy kô hystoe” die grootse drama ooit in Afrikaans geskryf was te volwasse vir graad 12. Ons het natuurlik nie saam gestem nie want weet ons dan nou nie dat as jou drama vir graad 12 voorgeskryf word is dit die mees lonende en winsgewende mark want moet daar dan nie vir ELKE STUDENT ’N EKSEMPLAAR gekoop word nie? As wenner van die ATKV prys vir “Die Beste Televisie Drama Regisseur” vir “Onder Engele wil ek jou ’n fantastiese uittrede toe te wens en ek hoop jy gaan die DAK Netwerk ’n groot sukses maak. Godspeed my friend!
Danny is maar steeds verskriklik gevoelig wanneer dit hom pas. Sekerlik kan Scholtz ’n mening lug as Danny aan mekaar die rassekaart en kleur in elke gesprek bring. Hou op kla en kerm en doen die werk.
Die reaksie hier en elders op die artikel wys weereens dat baie mense steeds nie die verloop van die geskiedenis verstaan of wil aanvaar nie. Kleur, diskriminasie, onreg is en was nog altyd deel van die ontwikkelling van Afrikaans. Om nou vir Dr. Titus te wil kasty oor sy menings is om 'n mens se toondoofheid vir die land en sy geskiedenis ten toon te stel. Afrikaans was nog nooit 'n "wit" taal nie; dis bloot as sodanig opgeëis deur destydse organisasies soos die GRA, juis om die grootste groep moedertaalsprekers uit te sluit op grond van hulle kleur en posisie in die samelewing. Danny Titus het homself oor jare bewys as bekwame stryder teen onreg op verskeie terreine. Pleks dat mense sy uitgereikte hand vat en die pad met hom saamloop, is daar steeds die soeke na 'n (misplaaste) klip om hom mee te gooi.
Hy het eerste klippe hier gegooi om 'n saak te opper wat buite die bestek van sy vertrek val. As hy 'n mening op die verkeerde tyd deel moet hy ook aanvaar dat hy hom oop maak vir 'n hoogvat! Almal moet dus eerder versigtig wees met die mond en die tong en seker maak dat tong-in'die'kies mondhoue aandag sal trek
Dankie Cobus! Jy vat dit so raak. Sommige sal maar altyd aangaan asof hulle nog steeds die groot stok onderhande het waarmee hulle ons gereeld gekasty het. Dit is waarom Afrikaaans swaarkry! Ek vertrou Danny SONDER WEERGA!
Dankie Cobus Bester, ons mense sukkel maar om die geskiedenis van die land sedert oom Jan se koms te verstaan.