Danger in the dark weer op die planke

  • 0

Tashreeq de Villiers in Danger in the Dark (Foto: Jesse Kramer)

David Kramer se Danger in the dark, ’n verwerking van die gewilde musiekblyspel Poison, wat hy en Taliep Petersen in die 1990’s geskryf het en wat toe deur Renaye Kramer vervaardig is, is tans vir ’n kort seisoen by die Baxter-teater. Die stuk het destyds staande ovasies ontvang in Suid-Afrika, Maleisië en Londen en het in 2004 ’n tweede speelvak gehad, met Bobby Heany as regisseur.

Die Baxter se uitvoerende hoof en artistieke direkteur, Lara Foot, het Kramer genooi om die musiekblyspel aan te pas en weer op die planke te bring, aangesien die situasie op die Kaapse Vlakte oor die afgelope paar jaar vererger het en die bendegeweld jaarliks honderde mense se lewens eis. Die vertoning is deur die Stad Kaapstad moontlik gemaak.

Die verwerkte musiekblyspel word vertel uit die oogpunt van Pamela, ’n jong maatskaplike werker op die Kaapse Vlakte, terwyl sy haar tesis skryf oor dwelmmisbruik op die Vlakte. Dit speel in 1995 af. Nie alleen raak sy verlief op en word geraak deur die bendegeweld nie, haar skoolvriendin Juanita word deur haar man en dwelmbaas mishandel. Die storie is effe aangepas, maar baie van die oorspronklike liedjies is behou.

Mens kan nie anders as om ongemaklik te voel as die Wes-Kaapse premier in die ry voor jou sit en daar troepe op die Kaapse Vlakte help om wet en orde te handhaaf nie. Hierdie stuk is nou nog meer tersaaklik as 20 jaar gelede toe dit vir die eerste maal opgevoer is. Dis nie net vermaak nie; dis realiteit en jy kan die moedeloosheid van die karakters aanvoel as hulle sê dat hulle vergete is; dat demokrasie nie hul situasie verbeter het nie; dat die samelewing hulle nie raaksien nie.

Bendgeweld, dwelmhandel en die haglike omstandighede waarin gemeenskappe wat hierin vasgevang is, versmoor, word op simpatieke wyse in die blyspel geïllustreer. Dit wys net weer dat verslawing en bendes elkeen se broer, seun, kind kan verswelg en vir duisende jongmense die enigste manier van ’n “uitweg” is. Dat dit egter vals hoop bied, is oënskynlik net vir die buitestander sigbaar.

Die ensemble word gelei deur Alexis Petersen (Langarm, Calling us home) as Pamela, Rushney Ferguson (District Six – Kanala!, Langarm) as Juanita, Loukmaan Adams (District Six – The Musical, Aunty Merle, The Musical) as Michael, Elton Landrew (Kat and the Kings, Langarm) as Poison, Eldon van der Merwe (Arendsvlei, Fiela se kind) as Chicco, Tashreeq de Villiers (Aunty Merle, The Musical, Satin to Sequins) as Lucky, Edith Plaatjies (King Kong, Orpheus in Africa) as Mrs Joseph en Chad Baai (Spring awakening, Fame – The Musical) as Shawn.

Die koor bestaan uit Luke Buys, Loreto Cabrera, Lewellyn Afrika, Luke de Kock, Anzio September, Lubabalo Pupu, Rori York Bingham, Nadine Suliaman, Alex Rodkin, Chamonay Anthony, Mekaila Mathys, Crystal Finck, Gabriela Dirkse en Tanzley Jooste.

Alexis Petersen lewer ’n ongelooflike vertoning. Haar pragtige stem wat soms vol melankolie is, maak dat jou hart ineen krimp vir die onwenbare situasie. Elton Landrew se vertolking as die slinkse Poison laat jou nekhare regop staan.

Die sang, dans en musiek is uitstekend saamgevleg en bring die boodskap baie duidelik tuis. Die Kaapse Vlakte is onder ons neuse; mense versmoor daar, maar neffens dié haglikheid gaan die lewe vir ander Kapenaars voort.

Elton Landrew and Alexis Petersen met ensemble in Danger in the Dark (Foto: Jesse Kramer)

Danger in the dark
Met onder meer: Alexis Petersen, Rushney Ferguson, Loukmaan Adams, Elton Landrew, Eldon van der Merwe, Tashreeq de Villiers, Edith Plaatjies, Luke Buys, Loreto Cabrera, Lewellyn Afrika, Luke de Kock, Anzio September, Lubabalo Pupu, Rori York Bingham, Nadine Suliaman, Alex Rodkin, Chamonay Anthony, Mekaila Mathys, Crystal Finck, Gabriela Dirkse en Tanzley Jooste.
Deur: David Kramer en Taliep Petersen
Regie: David Kramer en Grant van Ster
Musikante op die verhoog: Grandall Vlotman, Shaun Francke, Jason Ward, Yvan Potts en Kurt Randall
Stelontwerp: Patrick Curtis
Choreografie: Shaun Oelf en Grant van Ster
Kostuumontwerp: Widaad Albertus 

Danger in the dark is tot 2 November in die Baxter-teater in Kaapstad te sien. Geen onder 12's. 
Kaartjies is aanlyn by Webtickets by 086 111 0005 of www.webtickets.co.za, of Pick n Pay-takke beskikbaar.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top