Dan Patlansky skud Londen se Borderline

  • 0

Dan Patlansky het in Desember verlede jaar in Londen opgetree. Stephen Fourie,'n fotojoernalis van Kaapstad wat tans in Londen werk, was daar.

Robert Johnson, een van die mees prominente bluessangers en -kitaarspelers van alle tye, het sy siel aan die duiwel verkoop. In ruil daarvoor het die duiwel sy kitaar ingestel en hom ‘n stem gegee om mee te sing. Die legende gaan verder as dit; die inwoners van Rosedale, Mississippi sweer dit het gebeur naby hulle op die kruispad tussen Highway 1 en 8.

Ek het met my eie oë gesien hoe Dan daardie Saterdagmiddag sy Fender Strat instem met die gebruiklike klanktoets voor ‘n optrede. Daar was geen duiwel nie. Máár: om presies 20h30 dieselfde aand was die duiwel behoorlik los. Dan Patlansky se blues-rock-trio, met Dan (kitaar en stem), Clint Falconer (baskitaar) en Andy Maritz (tromme en tweede stem) het behoorlik die Londen Borderline se fondasies geskud. 

 

Dan het ‘n draai in die Verenigde Koninkryk kom maak vir ‘n optrede by Planet Rockstock Festival, en ook ‘n eenmalige optrede by die Borderline, om sy opkomende album, Intro-Vertigo (geskeduleer vir April 2016) aan te kondig. Pas terug van ‘n Europese toer met Joe Satriani, en die Borderline is moeiteloos uitverkoop.

Londen en die Verenigde Koninkryk bied ‘n tweede tuiste vir Dan. Dit is baie goeie nuus vir hom. Planet Rock, die grootste klassieke-rock-radiostasie in Brittanje, speel gereeld van sy liedjies en dit gee vir hom ‘n breër ondersteunersbasis.

Met die openingsklanke van “Bring the world to its knees” kon mens sien die gehoor steier effens. Dit word gevolg deur die swaar “Run” van die opkomende album. Dis rou, hard en in-jou-gesig blues-rock, genoeg om die stopsels in jou kiestande te laat ratel. Patlansky neem egter sy gehoor deur verskeie buie sonder om te ver van sy blueswortels beweeg. Daar’s die opwindende “Fetch your spade”, die pragtige “Madison Lane” en die briljante groove van “Backbite”.

Voordat Dan die verhoog verlaat, ruk hy sy kitaarband af en vernietig byna sy Fender in ‘n poging om met die mees gekompliseerde tegnieke elke druppel klank uit sy kitaar te wurg. Die gehoor staar oopmond in ontsag.

Wat hou die toekoms vir Patlansky in? Hopelik internasionale sukses. Hy’s ‘n ongelooflik begaafde musikant en kitaarspeler. Dalk die beste wat Suid-Afrika tot dusver opgelewer het. En miskien, nes met Robert Johnson, staan die duiwel iewers op ‘n kruispad en wink vir Dan – dis die vloek van die kitaar ...

Setlys: Drone; Bring the world to its knees; Run; Hold on; Stop the messing; Taking chances; Your war; Fetch your spade; Madison Lane; Backbite; My chana; Luca (encore); Daddy’s old gun (encore)

Teks en foto’s: Stephen Fourie

 

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top