Daggaseminaar: forensiese en regsimplikasies van die dekriminalisering van die besit en kweek van dagga

  • 5

“As jy wil weet of omkyktwak wettig is of nie, wonder by jouself of jy voor jou ma sal dagga rook,” is die meme wat rondgaan op sosiale media nadat die Konstitusionele Hof onlangs die vroeëre uitspraak deur die Kaapse Hooggeregshof dat die kweek en gebruik van dagga vir privaatgebruik onwettig is, ongrondwetlik verklaar het. Hoewel die wet nog oor die volgende twee jaar geïmplementeer moet word, is dit reeds toelaatbaar om dagga privaat te kweek en in jou privaatheid te gebruik.

Dit klink fantasties in die ideale wêreld waar daar soveel klem op mense se regte geplaas word, maar wat is die implikasies daarvan in die praktyk uit ’n forensiese en wetstoepassingsoogpunt?

Hoewel dagga potensiële medisinale waarde mag hê, en hoewel negatiewe effekte deur kroniese daggagebruik, veral in jonger mense, goed nagevors en onbetwisbaar is, het hierdie nie-akademiese artikel nie ten doel om die goed of sleg van daggagebruik te ondersoek nie. Ook nie die reg en verkeerd daarvan nie. Dit staan enige persoon seker vry om te maak soos hy smaak, solank hy net nie ander skade aandoen nie. Maar wat is die potensiaal vir skade aan ander en is Suid-Afrika reg hiervoor? Dit is ván die vrae wat opduik.

Eers ’n bietjie agtergrond, en hoewel losweg, is dit belangrike agtergrond wat ter sprake kom in punte wat later bespreek word.

Dagga, wat onder baie vindingryke name in Suid-Afrika bekend staan, is afkomstig van die Cannabis sativa-plant en word reeds eeue lank medisinaal en vir ontspanning gebruik. Hoewel wetgewing wêreldwyd toenemend aan’t verander is, word dit wêreldwyd allerweë beskou as die mees gebruikte onwettige dwelmmiddel. Delta 9-tetrahidrokannabinol (∆9-THC), die hoofbestanddeel van dagga, voldoen gemaklik aan die vereistes van ’n dwelmmiddel, deurdat dit die sentrale senustelsel (SSS) aantas en daardeur gemoedsveranderinge teweegbring. Euforie, ontspanning, vertraagde persepsie van tyd en verhoogde sensoriese persepsies, paniekaanvalle, psigose, hallusinasies en depressie van die SSS is van die klassieke effekte van die gebruik van dagga. Dit is ook verslawend en gewoontevormend.

In Suid-Afrika groei dagga hoofsaaklik in KwaZulu-Natal, die Suid-Kaap, die Drakensberggebied en Swaziland. Soos met enige plant is daar variasies en subtipes van die daggaplant. Die konsentrasie van kannabinoïede hang af die geografiese gebied en omstandighede waarin die plant gekweek word, die ouderdom van die plant, die plant se genetika, en die proses ná stroping. ∆9-THC kom hoofsaaklik in die blomme, blare en harse van die plant voor, maar daar is twee tipes daggaplante: een met hoë en een met lae ∆9-THC-konsentrasies.

Daar is sowat 490 chemiese en natuurlike stowwe in dagga, waarvan sowat 60 kannabinoïede genoem word. Tydens die rook van dagga word by die 2 000 stowwe vervaardig. ∆9-THC is die hoof psigoaktiewe bestanddeel van dagga, gevolg deur 8-THC en kannibinol (CBN) en (tetrahidro)kannabivarol. Niepsigoaktiewe kannabinoïede met ander biologiese aktiwiteite sluit kannibidiol (CBD), kannabisiklol en kannabichromeen in.

Afkomstig van die daggaplant is hasjisj, die gedroogde harsmateriaal, wat gewoonlik gerook of gekou word. Die ∆9-THC-konsentrasie daarvan is tipies 6–10%. Hasjisjolie is ’n gekonsentreerde ekstrak van die hasjisj van die blomme en sy ∆9-THC-konsentrasie is tipies 20–60%. Wat mense allerweë as “dagga” ken en daar buite gerook word, is marijuana, komende van die blare en blomme, en die ∆9-THC-konsentrasie daarvan is tipies 1–6%, maar genetiese manipulering en kruiskweking kan die konsentrasie daarvan tot 20% verhoog. Sinsimella is afkomstig van die blomme van die vroulike plant en het ’n ∆9-THC-konsentrasie van 5–15%. Hennep is die stam van die plant en word gebruik vir die vervaardiging van papier, tou en garing, en bevat nie noemenswaardige THC nie. ’n Tipiese daggazol bevat 5–20 mg THC.

Farmakologiese en toksikologiese effekte van die gebruik van dagga sluit in die verrooiing van oë en die verlaging van intraokulêre druk, droogheid in die mond, sensasie van warm of koud op die vel, verhoogde hartklop en verslapping van spiere.

Die orale inneming van “skoon” dagga is nie baie effektief nie. Dit moet eers via die maag en hepatiese stelsel gaan voordat die THC in die bloedstroom beland. Die biobeskikbaarheid (’n term wat verwys na die effektiwiteit van opname) is maar sowat 6% en dit kan van 30 minute tot 2 uur neem voor die effekte begin inskop. Die THC in die plasma bereik ’n hoogtepunt tussen 1 en 3 uur en die tydsduur van effekte kan ure duur, selfs langer as die rook daarvan. (Dagga wat in byvoorbeeld koekies vermeng word, is meer effektief as wanneer dagga skoon geëet word, want die bestanddele in die koekies help met die absorbering van die THC. Daar is nog ’n belangrike verskil hier teenoor die rook van dagga, waarby ons later kom.) THC word selde binneaars ingeneem, maar sou dit gedoen word, is die effekte baie dieselfde as wanneer dit gerook word. Wanneer dagga gerook word, word die THC vinnig in die longe opgeneem en gaan onmiddellik na die hart en word opgepomp na die brein. Dit systap dus die maag en hepatiese stelsels. Om hierdie rede skop die effekte baie vinniger in as wanneer dit oraal ingeneem word. Uiteraard, wanneer ’n zol gerook word, word nie ál die rook ingeasem nie. Pirolise (die vernietiging van stowwe deur hitte) verlaag ook die biobeskikbaarheid, maar nietemin kan die biobeskikbaarheid van rook as roete van administrasie tot 18% wees. Die inskop van effekte vind plaas binne enkele minute, met die THC in die plasma wat tussen 3 en 8 minute sy hoogtepunt bereik, en die effekte kan tussen 3 en 6 uur duur.

Die bloedkonsentrasie van THC val dramaties ná sowat een uur, en volg ’n biferiese log-liniêre afnamekurwe. Met aanvanklike inname is daar ’n skielike opname in hoëperfusie-weefsels, soos die brein, en meer langdurige opname in laeperfusie-weefsel. THC is lipofilies, dit wil sê dit is lief vir vetweefsel, en terwyl die konsentrasies in die bloed stelselmatig daal, word klein hoeveelhede THC deur vetweefsel opgeneem. Terminale eliminasie (die halfleeftyd, die tyd wat dit neem vir ’n dwelm om uit te skei) van THC is tussen 3 en 13 dae. Wanneer daar nie aktief gerook word nie, kan THC weer uit die vet in die bloed vrygestel word, om finaal uitgeskei te word.

By die rook daarvan vind aanvanklike metabolisme in die longe plaas, maar soos die THC in die bloed vrygestel word, word die ∆9-THC wanneer dit die lewer bereik, in die lewer in meer as 35 metaboliete afgebreek. Sekere metaboliete is meer aktief as ander. ∆9-THC as die “parent drug” bly oor vir uitskeiding, maar van die metaboliete kan veel langer in die stelsel bly as ∆9-THC. Dwelmtoetse soek gewoonlik vir metaboliete, wat langer in die urine bly en dus oor ’n langer tyd ’n aanduiding kan gee van die dwelmmiddel wat ingeneem is. (Die rede waarom die eet van daggakoekies normaalweg ’n meer intense en langer “high” gee, is dat wanneer jy dagga oraal inneem, die THC vinniger by die lewer uitkom waar dit in onder meer in die 11-OH-THC-metaboliet afgebreek word, wat drie maal meer potent is as ∆9-THC. Dit word dan in die bloedstroom opgeneem en gaan na die brein. Omdat daar ’n stadiger vrystelling in die bloed is via die maag en lewer, duur effekte langer, en tesame met die meer potente 11-OH-THC wat in die bloed beland, is daar dus ’n verhoogde en langer effek teenoor die rook daarvan.)

Sowat 70% van die THC word deur feses (40%) en urine (30%) uitgeskei rondom 72 ure ná inname.

Verwagte totale eliminasie van THC in niegewoontegebruikers kan 3 tot 4 dae wees en 3 tot 13 dae in gewoontegebruikers, en dan is daar ook wisselende uitskeidingstye vir die metaboliete. THC-COOH kan tot ’n maand neem om uit te skei.

Hoewel daar geen bewyse is vir farmakokinetiese verdraagsaamheid as gevolg van langdurige gebruik nie (soos wat met alkohol en verskeie ander dwelms wel die geval is), gebruik die gewoontegebruiker van dagga die dwelm “slimmer” as die naïewe gebruiker. Die gewoontegebruiker weet onder meer hoe dikwels en hoe diep om die rook in te trek, dit wil sê, hoe om homself te “pace”. Dit is hoekom ’n gewoontegebruiker en ’n naïewe gebruiker wat presies dieselfde zol in terme van samestelling en konsentrasie rook, se subjektiewe effekte sal verskil, al sou ons al die ander veranderlikes vir eers opsy sit. (Losweg verwys “subjektiewe effekte” na hoe aangetas jy voorkom deur bewegings en reaksies.)

In studies word subjektiewe effekte gewoonlik op ’n punteskaal gemeet deur ’n sekere konsentrasie THC aan die subjekte te administreer wat dan sekere take moet verrig, en om dan te kyk wat die subjektiewe effekte is teenoor die daling van die konsentrasie oor tyd. Daar is bevind dat daar nie noodwendig ’n korrelasie is tussen die konsentrasie op enige gegewe tyd en die subjektiewe effekte nie. Waar mens normaalweg sou verwag dat subjektiewe effekte daal soos wat die konsentrasie daal, kan antikloksgewyse histerese plaasvind waar, hoewel die konsentrasie begin daal, die subjektiewe effekte nog vir ure min of meer konstant bly voordat dit begin normaliseer. Dit kan om ’n kombinasie van redes plaasvind, maar gebeur normaalweg meer dikwels in gewoontegebruikers.

As mens aanvaar, soos ons kan, dat dagga ’n dwelmmiddel is wat ’n chemiese uitwerking op die SSS het, is dit te begrype dat die inname daarvan bestuursvermoë kan beïnvloed. Studies het trouens bewys dat reaksietye beïnvloed word, dat dit lei tot verdeelde aandag en vertraagde hand-oog-koördinasie, en dat fyn-motoriese funksies aangetas word. Oor die algemeen bestuur mense onder die invloed van dagga abnormaal stadiger (waar die teenoorgestelde waar is vir alkohol). Hoewel ons in Suid-Afrika heel gemoedelik blyk te wees oor daggagebruik, wanneer dit by bestuur kom, sou die eenvoudige vraag straks wees of jy jou kinders sal laat vervoer deur iemand wat ’n paar daggazolle gerook het. Of sou jy in ’n vliegtuig klim as jy weet die loods het ’n zol onder die blad?

Nou, kom ons kom by die kruks van die saak.

Kom ons kyk eerstens na kernpunte in die uitspraak. Dit word tans allerweë beskou as dat kernkonsepte tans bloot swak en onvoldoende omskryf is. Wat presies beteken “privaatgebruik”? Anders as Beechies, dat dit nie gemaak is om te deel nie? Moet jy alleen wees? Wat beteken “in jou privaatheid kweek en gebruik”? Kan jy dit in jou tuin plant? Wie het almal toegang tot jou tuin? Kan jy dit in jou kar rook? Indien wel, waar mag die kar staan? Mag jy dit in jou kar vervoer as dit wel “privaat” is? Mag jy dit in jou kantoor by die werk, wat jy ook dalk as jou privaatspasie mag beskou, besit, kweek of rook? Mag jy dit in jou koshuiskamer plant en rook? Mag jy ’n daggapartytjie hou in die privaatheid van jou huis? Dit moet “weg van kinders gedoen word”. Hoe ver weg is “weg”? Waar in jou huis of erf gaan jy dit rook dat jou kinders nie daardie onmiskenbare reuk ruik nie? Die wet laat jou toe om ’n “klein hoeveelheid” te kweek en gebruik. Hoeveel is ’n “klein hoeveelheid”? Een plant, tien plante? Waar gaan jy die saad koop, want jy mag dagga steeds nie koop of verkoop nie, en dit sluit sade in?

Mens kry die idee dat die wet, goed soos dit dalk bedoel mag wees, so ’n bietjie is soos om half swanger te wees. Dis nie hier nie maar ook nie daar nie. In isolasie en in die perfekte wêreld waar van mense verwag word om getrou by die wet te hou, waar hulle mooi in hul huis sit en dagga rook, is dit goed en wel, maar die probleem kom dat dit kan oorspoel na buite die huis. Die Rastafariërs wat so edel baklei het vir hierdie “privaatgebruik”, verkoop ook maar dagga – het nog altyd. Punt is, dit gaan nie by privaat- en tuisgebruik bly nie.

Ironies genoeg: dit is welbekend dat die meeste moorde en geweld wat gepleeg word, plaasvind tussen mense wat mekaar ken, nadat hulle te veel gedrink of dwelms ingeneem het, en dan begin baklei en mekaar aanrand of vermoor. Dit gebeur juis in ons huise, in ons “privaatspasies”. Ons huise is duidelik nie so ’n veilige hawe nie. Inteendeel. Die polisie het minder beheer oor wat in ons huise aangaan as in openbare spasies.

Die gewilde argument is natuurlik dat alkohol veel erger probleem veroorsaak, en dit mag dalk so wees, maar as verwysingspunt kan alkohol-wetgewing en -wetstoepassing ons moontlik meer konteks gee oor die probleme wat nou voorsien kan word. Die idee is glad nie om drankgebruik tot nadeel van dagga te vergoeilik nie, maar daar is ’n paar bewese verskille as dit by hierdie kwessie kom.

As ons kyk na die agtergrond soos vroeër behandel, dan is daar een ding wat soos ’n paal bo water staan: die onvoorspelbaarheid van dagga. Uit ’n wetstoepassingsoogpunt is daar is hope veranderlikes wat hierdie dekriminalisering van dagga vir privaatgebruik steeds problematies maak.

Kom ons kyk na hierdie voorbeeld: Iemand drink hom pap in sy eie huis. Dis goed so. Hy pla niemand nie. Maar wie sê hy bly daar? In menige geval klim hy in sy kar en ry rond. Nou raak dit ’n probleem. Maar: ons het toetsingsmetodes en wette wat voorsiening hiervoor maak, en hoewel dit nie noodwendig aldag ewe goed toegepas word nie, kan ons dit hanteer. As die man afgetrek word, kan hy in die pypie blaas en as die resultaat aandui dat hy onder die invloed bestuur, kan sy bloed vir verdere toetsing getrek word. As ’n persoon afgetrek word en hy blaas negatief, dan kan hy die pad vat sonder dat die bloed teen groot koste verder getoets moet word. Maar wat doen ons in die geval van iemand wat moontlik onder die invloed van dagga bestuur?

In die Suid-Afrikaanse konteks lê die groot verskil tussen alkohol- en daggagebruik in die feit dat as jy byvoorbeeld ’n bier drink, weet jy wat die konsentrasie alkohol daarin is – byvoorbeeld 5%. Volgens wet staan dit op die houer. As jy wil weet watter bestanddele in die bier is, bo en behalwe wat op die houer staan, kan jy dit uitvind. Dit mag hier en daar privaat gebrou word, maar grotendeels word alkoholprodukte in Suid-Afrika onder regulasie vervaardig. Een bier mag dalk in smaak verskil van ’n ander as gevolg van verbouingsmetodes, maar een bier is min of meer ’n ander bier. Dieselfde geld vir ander drankprodukte. Ons weet wyn het ’n alkoholkonsentrasie van 12–15%. Jy weet wat jy kry en jy weet uit ondervinding wat dit aan jou doen. Daar is natuurlik veranderlikes wat die opname en effekte van alkohol beïnvloed, soos die grootte van die persoon, of jy geëet het, wat jy geëet het, gemoedstoestand, en dies meer, maar dit is nie asof jy een dag twee glase wyn drink en dit doen niks aan jou nie, maar dit slaan jou die volgende dag uit. Ook weet die gemiddelde mens dat twee eenhede alkohol (ongeveer twee biere of twee glase wyn) jou op limiet gaan plaas.

Maar as ons kyk na dagga: jy weet nie wat jy kry nie. Jy weet nie hoeveel jy kan rook voordat jy onbevoeg is om te bestuur nie. Soos vroeër genoem is, hang die THC-konsentrasie af van waar die plant gekweek is, die genetika daarvan, ander chemiese stowwe daarin (van byvoorbeeld spuitstowwe), en dan ook van waarmee dit gemeng word – selfs die papier waarin die zol gedraai word kan chemiese stowwe bevat wat die effekte kan beïnvloed. Verder hang die effekte af van die persoon wat dit rook. Naïewe rokers kan subjektiewe effekte vinniger en heel anders ervaar as gewoontegebruikers. Dan hang dit af van hoe die THC in die liggaam opgeneem is. Is dit oraal ingeneem of gerook? Want dit gaan ook bepaal hoe lank die effekte duur en ook hoe lank na inname dit in jou stelsel vir opsporing bly. Dit kan ook gebeur dat THC wat uit die vet vrygestel word, in jou urine opduik ’n hele tyd nadat jy laas ’n zol gerook het. Wat as jy afgetrek word en positief toets maar jy weet jy het so lank as ’n week gelede laas gerook?

Tydens die eerste toksikologiesimposium wat verlede jaar by die Universiteit Kaapstad gehou is, het Marilyn Huestis, ’n wêreldleier in navorsing oor kannabinoïede van die Universiteit van Maryland, die gehoor vertel hoe die owerhede in die VSA haar gereeld vra: “Give us a number.” Vir alkohol hét ons ’n syfer (’n standaard). As gevolg van die regulasie van alkoholprodukte en die meer voorspelbare uitwerking daarvan weet ons dat 0,05 g / 100 ml,’n standaard is wat regverdig en prakties toepas kan word. Afgesien daarvan dat ons nog nie ’n standaard het nie, het ons boonop doodeenvoudig nie tans die toetsingsmetodes om die bestuur onder die invloed van dagga te reguleer nie. Daar is natuurlik kits-urinetoetse, maar dink jou die praktiese implikasies daarvan in as jy afgetrek word en urine moet gee, veral vir dames. Daar sal toilette moet wees waar monsters geneem kan word. Daar is ook speekseltoetse, maar resultate kan ’n hele paar minute neem om te ontwikkel en opsporingstye is ook betreklik kort, en is daarom ook nie prakties werkbaar nie. Ook sal nóg urine- nóg speekseltoetse aandui hoevéél THC in jou bloed is – dit dui maar bloot aan óf jy dit in jou bloed het of nie. ’n Blaastoets vir alkohol, hoewel net ’n voorlopige toets, gee ’n redelik goeie aanduiding van die bloedvlak en of verdere toetsing of aksie nodig is. Omdat alkohol ’n taamlik voorspelbare uitskeidingstempo van ongeveer 0,015 g / 100 ml per uur het, kan ’n terugwerking van ’n lesing selfs ’n bietjie geskiedenis oor die gebruik daarvan verskaf. Alkohol skei teen sowat een eenheid per uur uit en in sy geheel nadat dit deur die lewer afgebreek en gemetaboliseer is. As jy byvoorbeeld die vorige aand erg onder die prop was, kan jy skoon toets die volgende oggend. Met dagga is dit nie die geval nie, want sy metaboliete bly langer aan in jou stelsel.

Waarop hierdie toedrag van sake afstuur, is ’n toename in onwettige arrestasies. As jy afgetrek word en jy word gevra om in die pypie te blaas, en jy weier, wat jou reg is, kan jy gearresteer word. As jou bloed dan negatief toets vir alkohol, kan jy die polisie vir onwettige arrestasie dagvaar. Die probleem met dagga kom daarin dat baie onus nou op die polisie sal val om subjektiewe evaluasies te maak. Iemand word afgetrek vir roekelose besuur, maar ruik nie na drank nie; nou word dagga vermoed, maar wat nou? Waarmee toets jy? En wat is die standaard? Vanweë al die veranderlikes betrokke by dagga, beteken een zol vir een persoon een iets, maar iets anders vir iemand anders. As die gereelde roker byvoorbeeld een zol gerook het, is hy dalk nog reg om te bestuur, waar die naïewe roker na een zol dalk nie reg mag wees nie. Maar as beide dieselfde kaliber zol gerook het, hoekom mag net die een nie bestuur nie, en wie gaan daardie lyn trek, en waar gaan dit getrek word?

Die ander gewilde argument is natuurlik dat dit so wonderlik gaan in byvoorbeeld Nederland waar dagga alledaags is. En dat sulke wetgewing eintlik gebruik verlaag. Mens moet maar appels met appels vergelyk en versigtig wees om lande koud met mekaar te vergelyk. Afgesien daarvan dat ons totaal ’n ander gebruiks- en misdaadkultuur in Suid-Afrika het, is die groot verskil dat jy daar weet wat jy kry. Jy sal in alle waarskynlikheid ’n skoner daggazol in veel meer gereguleerde omstandighede rook, en in sulke lande is daar effektiewe openbare vervoerstelsels, wat ons bloot nie in Suid-Afrika het nie. Hier hop ons mos graag in die kar onder die invloed as jy by die huis moet kom, “want hoe anders kom jy daar?”. Die aantal misdade wat ons daagliks in Suid-Afrika moet hanteer, is ook onvergelykbaar met ander lande, waar baie minder misdade deur baie meer effektiewe stelsels hanteer word. Wat misdaad betref, het ons nie net genoeg hooi op ons vurk nie, die hooi val behoorlik daarvan af. Kan ons hierdie ekstra las op ons reeds krakende stelsels hanteer?

Arrestasies vir die besit van dagga sal natuurlik nou afneem, wat op sy beurt sal veroorsaak dat die omloop van dagga verhoog word. Diegene wat reeds dagga gekweek en gebruik het, sal sekerlik voortgaan daarmee, maar nuwe kwekers en gebruikers sal op die toneel kom, wat gaan oorspoel na ons paaie, en aangesien toetse nie deur die forensiese-wetenskap-laboratoriums (wat net met besit en handel werk) hanteer sal word nie, gaan die toetsing val op die Departement van Gesondheid se laboratoriums, byvoorbeeld die Forensiese Chemiese Laboratorium in Woodstock. Hierdie laboratoriums, wat groot gebiede se monsters moet hanteer, kan tans skaars byhou met alkoholmonsters. Ons weet hoe lank dit kan neem vir bloeduitslae om by die hof te kom, indien dit nie iewers langs die pad wegraak of bloot nie getoets is as gevolg van die oorlade stelsels nie.

Mens moet natuurlik nie uit die oog verloor dat daggagebruik ook dikwels ’n rol in ander kriminele aktiwiteite speel nie. Dagga op sy eie, waar dit verantwoordelik gebruik word, is een ding, maar dit word toenemend gemeng met heroïne en ander dwelms (om onder meer nyaope te maak). Dan word dit natuurlik dikwels saam met alkohol gebruik. Die fynste variasies in kombinasies kan groot en onvoorspelbare verskille in effekte hê. Mens kan dalk redeneer dat hierdie harde gebruikers in elk geval dagga sou bekom, ongeag wat die wet sê, maar ons moet dalk bekommerd wees oor die nuwe gebruikers en die desensitering rondom die gebruik daarvan wat hierdeur geskep gaan word in ’n tyd waarin ons stelsels net nie reg is om misbruik te hanteer nie.

Die enigste manier waarop hierdie tipe veronderstelde mensereg kan werk sodat die skade aan ander sover moontlik beperk word, is as dit sinvol gereguleer word. As dit dan nou moet, moet dagga soos sigarette vervaardig en verkoop word wat mooi duidelik aandui wat alles daarin is, byvoorbeeld wat die konsentrasie THC is, en dies meer. Op grond daarvan kan daar dan ’n redelike standaard en wette in ooreenstemming daarmee vasgestel word wat dan soos alkoholwetgewing afgedwing kan word.

Van sigarette gepraat, die nuwe vergunning doen nogal vreemd aan in ’n land waar jy skynbaar binnekort omtrent tjoekie toe kan gaan as jy voor jou tuinman of huishulp rook.

  • Thomas Mollett voltooi aan die einde van die jaar sy meestersgraad in biomediese forensiese wetenskap aan die Universiteit Kaapstad. Hierdie nie-akademiese artikel is in sy privaat hoedanigheid geskryf en enige menings daarin is nie noodwendig dié van die universiteit of enige departement of afdeling daarvan nie.

Dagga gewettig: hoe raak dit skole?

  • 5

Kommentaar

  • Christelle Wessels

    In die werksplek, watter maatreëls kan werkgewers nou toepas om te voorkom dat hul personeel nie onder die invloed van dagga is wanneer hul kom werk nie? Want nou kan die persoon mos bloot sê dat hy dit verlede naweek by die huis gerook het?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top