Daar is ’n byt in die lug van die Cyril Lente

  • 4

Cyril as Messias: dis die nuwe narratief wat oral weerklink.

Kritiek teen Cyril word nie geduld nie. Gee vir Cyril kans, verandering vat tyd, sê hulle. Moenie negatief wees nie, kyk hoeveel het hy al vermag in ’n kort tyd, brom hulle. Hy’t ons van Zuma gered, moenie krap nie, pleit hulle. Dit begin al meer die gevoel kry van ’n kind, bang vir die donker, wat fluit om sy dapperheid te wys.

Moenie die noot so hoog insit nie, is my antwoord. ’n Boom sal geken word aan sy vrugte, haal ek aan.

En wat is die vrug van die sg Cyril Lente?

Eerstens het Zuma getjaila, wat ons almal kan saamstem ’n goeie ding is.

Tweedens is die kabinet geskommel, maar dit voel of die dice nie altyd lekker geval het daar nie.

Aan die positiewe kant: Gordhan, Pandor en Nene is terug in die saal. Amptenare in Buitelandse Sake is uit hul velle om Sisulu terug te kry. Sommige van die Zuma vrot appels is verwyder. Die opposisie se sterkste verkiesingsboodskap is geneutraliseer.

Aan die negatiewe kant: die aanstellings het twee dinge baie duidelik laat blyk. In die eerste plek is Cyril nie die onafhanklike Messias waarop soveel burgers hoop nie. Hoekom anders sit Bathabile Dlamini nog soos ’n neet? Sou sy nog soos ’n neet sit as sy nie die leier van die ANCVL was nie?

In die tweede plek dui die plasing van lede op ’n minagting, of ten minste ’n blindheid, vir die behoeftes van armes.

Bathabile Dlamini het Sassa in ’n krisis gedompel en rustig agteroor gesit terwyl die krisis net al groter en groter word. Sy moes weggeneem word uit Maatskaplike Ontwikkeling, daaroor is daar geen twyfel nie. Maar met ’n krisis op die horison moes ’n Mr/Ms Fixit ingestuur gewees het, iemand wat besluite kan neem en deurvoer, iemand wat onder druk kan werk en wat die werkers kan inspireer om hulle alles te gee om die uitbetalings te maak werk. Alle beskikbare berigte dui daarop dat die Social Security Agency nie gereed is om op 1 April, ’n maand van nou, betalings oor te neem nie. CPS het aangedui hulle stel nie belang om na 31 Maart voort te gaan met hulle onwettige kontrak nie. Wat beteken dit? Waarskynlike krisis by alle betaalpunte waar mense in kontant betaal word. Op 1 April 2018. Minder as ’n maand van nou. En die minister wat in beseringstyd ingestuur word, Susan Shabangu, kon nie hond haaraf maak in haar rol as minister in die Presidensie: Vroue, kinders en mense met gestremdhede nie. Boonop moet sy saamwerk met die nuwe minister verantwoordelik vir beplanning, monitering en evaluasie, ene Nkosazana Dlamini-Zuma, wat die leier is van die interministeriële taakmag wat die oorgang moet hanteer. En Dlamini-Zuma is self nie juis bekend vir haar dringendheidsin nie. Dis ’n kombinasie wat dui op ’n waarskynlike geween en gekners van tande op 1 April.

Angie Motshekga bly aan in Basiese Onderwys. In stede daarvan om die gehalte van onderwys te verbeter, wil sy slaagsyfers selfs verder verlaag om die statistieke beter te laat lyk. Navorsing het bewys dat ons kinders funksioneel ongeletterd is, soos wat ek in ’n vorige rubriek geskryf het. Dit terwyl opvoeding bewese is as die beste manier om aan armoede te ontsnap.

Derdens is die nuwe begroting gemengde nuus. Goed, Cyril kan nie regtig daarvoor blameer word nie, maar die prioriteit dui weer eens daarop dat armes nie regtig in ag geneem is nie. BTW word opgeskuif. Dit is armes wat die swaarste getref gaan word. En wat persoonlike belasting betref, is die kategorieë met die hoogste inkomste nie getref deur ’n toename in belasting nie.

Vierdens is die onteiening-van-grond-sonder-vergoeding-kwessie weer stewig op die voorgrond, wat vrugbare teelaarde vir paniek aan die een kant en vals hoop aan die ander kant is. Die staat het in die afgelope aantal jare sedert 1994 nie behoorlik daarin geslaag om grond wat reeds in staatsbesit is, in privaatbesit oor te dra nie. Indien hulle ernstig is om die Grondwet te verander, privaatgrond te onteien en aan ander oor te dra, hoe gaan dit vinniger geskied? En as hulle nie ernstig is daaroor nie, is dit net weer ’n siniese taktiek om armes te mislei.

Die nuwe president het nie die volle steun van die NUK en sy party agter hom nie. Dit word al hoe duideliker. Beteken dit egter dat die land steeds gebuk moet gaan onder onbevoegde en selfs korrupte leiers terwyl Cyril met sy eie binnelandse weergawe van quiet diplomacy besig is?

Natuurlik nie.

Die Cyril Lente begin al meer soos die Cyril Herfs voel. Daar’s ’n byt in die lug.

  • 4

Kommentaar

  • Gustaf Claassens

    Die man is meer gesofistikeerd en "presentable" soos mense graag na hom wil verwys ... goed vir buitelandse beleggers en daarom dan ook die ekonomie, word gesê.
    Maar dan sê hy dinge wat nêrens in 'n gesonde demokrasie gesê word nie. Onteiening van grond sonder vergoeding 'n goeie voorbeeld waar hy homself, die land en die mense in die voet skiet.
    Dis hopeloos te vroeg om 'n mening te waag maar vir die oomblik waai hy saam met die wind ... heeltemal reg Bettina.

  • 'n Nuwe besem vee skoon, maar ek dink tog dat daar 'n positiwiteit in die lug is, wat ons almal weer hoop gee! Die grondkwessie gaan beslis groot drama veroorsaak, maar die President is 'n SAKEMAN ... hy wil sy eie "legacy" bou. Kyk oor 'n jaar ...

  • Sy grond-onteieningstelling gaan groot probleme bring. Die Zulu-koning het klaar oorlog genoem as aan sy trust grond gevat word. Dit kan rasse-oorlog beteken veral noudat Swaziland ook hulle grond eis. Amerika praat van sanksies teen die ANC en EFF inbring.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top