’n Persoonlike mededeling deur Francois Verster, aan die hand van ’n vraelys wat hy in 2016 aan Fred Mouton gestuur het.
In 1999 besoek ek Heerengracht 40, die huidige Media24-gebou, om ’n onderhoud met Fred Mouton te voer. My oorlede vader het my van kleins af vertel dat Fred ’n neef van hom is – ouma Truida was ’n Mouton – en Pa was ’n groot bewonderaar van Fred se werk. Toe ek die man met die wonderlike talent vir pikturale humor uiteindelik ontmoet, was ek so oorstelp dat ek hom “Meneer” en “u” noem, al sê hy “Nee man, ek is Fred.” Ek kon darem sien hy was geamuseerd, en later het dinge so ontdooi dat ons drie uur later steeds lekker gesels het.
Ironies: Ek het eintlik oor TO Honiball (1905–1990), sy voorganger, gaan praat, as deel van my navorsing oor Honiball vir ’n doktorale verhandeling (2003, Stellenbosch), nie oor Fred se werk as sodanig nie. Fred het in die vroeë sewentigs, op dr. Piet Cillié se versoek, by Honiball gaan leer om politieke spotprente te teken. Hulle het so saam gewerk tot 1976, toe Fred by Honiball oorgeneem het. Honiball is in 1990 aan kanker oorlede, en vandag, op 4 Mei 2022, is Fred ook daaraan dood.
Vir Honiball het ek nooit ontmoet nie, maar dit was my voorreg om vir Fred uiteindelik goed te leer ken – of so goed as wat ’n mens so ’n ingetoë mens kán leer ken. Hoewel ek verskeie artikels oor Die Burger se spotprenttekenaars geskryf het (ook ’n boek wat op LitNet bespreek is, nl Die groot drie, Penguin 2016), het ons vriendskap begin groei nadat ek in 2007 by Naspers aangesluit het as maatskappy-argivaris. So kry ek hom eenkeer voor die hoofingang, waar hy doodstil staan en na verbygangers kyk. Toe hy my sien, kry hy skielik lewe en begin gesels. En net so skielik draai hy om en stap weg, maar sê darem so oor sy skouer: “Dis die soort gesig wat ek soek.”
Klaarblyklik het hy iemand gesien wat as “model” vir ’n spotprent kon dien. Interessant, het ek gedink, want ek het gelees dat Die Burger se eerste spotprenttekenaar, DC Boonzaier (1865–1950), glo agter bekende mense soos parlementariërs aangeloop het om hulle te bestudeer voordat hy karikature van hulle geteken het.
Nietemin, ’n mens sou boekdele oor die koddighede en werkswyses van kunstenaars kon skryf, maar my doel met hierdie artikel is om as ’n huldeblyk aan Frederick Jacobus Mouton (gebore te Constantia op 27 Augustus 1947) dalk minder-bekende inligting oor hom bekend te maak.
Daar is al in talle artikels geskryf dat hy sy indiensopleiding by Honiball ontvang het nadat hy as bladuitlegkunstenaar by Die Burger begin werk het. Hulle het elkeen ’n paar spotprente oor die 1972-tussenverkiesing op Oudtshoorn geteken en in die middel-’70’s het Fred by Honiball oorgeneem.
Fred se werk het toe al in tydskrifte en koerante van Nasionale Pers verskyn. Hy sou ook talle boeke illustreer, soos sy twee voorgangers ook gedoen het. Dit sou egter net Honiball wees wat strokiesreekse (Oom Kaspaas, Jakkals en Wolf, Adoons-hulle, en ander) geskep het. Boonzaier het dit as gemors bestempel en Fred het aan my gesê sulke stories neem te veel tyd om uit te dink.
Op my vraag of Fred eerder boeke sou illustreer as politieke spotprente teken, was sy antwoord dat hy nie ’n politieke dier is nie – van die drie genoemde kunstenaars was inderdaad net Boonzaier sterk polities ingestel. Nogtans was Fred ’n uiters begaafde en doeltreffende politieke kommentator.
Wat my betref, was Fred se vroeëre werk meer snydend satiries, terwyl hy ná 1994 meer gedempte prente geteken het – die oom en tannie met die spitsneushond en boepenskat in hulle sitkamer of tuin, daardie tipe (hoogs gedetailleerde) uitbeeldings waaroor veral die ouer lesers gek was. Hulle was altyd beïndruk met hoe skerp Fred se waarnemingsvermoë was – jy kan maar sê hy was in daardie opsig die Dana Snyman van Afrikaanse tekenkuns.
Hans Fransen, kunskenner van Pinelands, het hom ook tydens die bekendstelling van Fred se bundel Heilige koeie en ander onheilighede (Tafelberg 2001) die Rembrandt van Suid-Afrikaanse spotprenttekenaars genoem.
Fred het gesê hy het daarvan gehou het om saam met redakteurs te werk (behalwe twee, wat na sy mening geen aanvoeling vir spotprente gehad het nie, maar hy het nie name genoem nie – Fred was nuuskierig oor mense, maar nie ’n skinderbek nie), maar dat die bekkige aanmerkings van die muis (wat ongeveer in die tyd van sy oudste seun Fritz se geboorte verskyn het) eintlik sy vernaamste bydrae tot die teks was.
In die tyd van Bun Booyens as redakteur het ek gevra om een van die soggens-elfuur-sessies by te woon waartydens Fred en lede van die redaksie oor sy volgende spotprent besluit het. Fred het aan die punt van die tafel gesit en “doodle”, terwyl Bun met twee idees begin speel het. Toe sê iemand, na aanleiding van ’n berig in daardie dag se koerant: “Wat van iets soos ’n man wat na ’n fris uitsmyter kyk en sê: ’Dis die man wat ons nodig het by die parlement’?” Iets in dier voege. Die volgende dag was daar inderdaad ’n tekening van so ’n toneel in Die Burger. Hy het soms van sy eie idees in spotprente bygewerk, maar dit was nie altyd aanvaar nie.
Sommige redakteurs, soos Cillié, was meer oorheersend in hulle besluite oor die tekeninge. En dan was dit juis hy wat gesê het dat die politieke spotprent van die dag meer mense beïnvloed het as die redaksionele hoofberig. Dit was waarskynlik waar, hoewel die doeltreffendheid van hierdie prente hoër was in die tyd van Boonzaier, toe gebrekkige geletterdheid meer algemeen voorgekom het. Selfs iemand wat sou sukkel om die ingewikkelde politieke menings in berigte te volg, kon onmiddellik begryp wat ’n spotprent uitbeeld. Dis juis die onmiddellikheid van spotprente wat dit so effektief maak, en Fred het gesê dat dit vir hom die moeilikste was om mense te teken, want hulle moet onmiddellik herkenbaar wees.
...........
Selfs iemand wat sou sukkel om die ingewikkelde politieke menings in berigte te volg, kon onmiddellik begryp wat ’n spotprent uitbeeld. Dis juis die onmiddellikheid van spotprente wat dit so effektief maak, en Fred het gesê dat dit vir hom die moeilikste was om mense te teken, want hulle moet onmiddellik herkenbaar wees.
.............
Fred het altyd in ’n hoek in ’n klein kamertjie gewerk, met sy tekentafel en klein kwassies, ink, water en ’n paar inkpenne, en Tipp-Ex.
Volgens hom was dit al waarmee hy oor die afgelope halfeeu gewerk het. Hy het nog tot kort voor sy dood elke dag geteken, want dit was vir hom lekker. Eers het hy meer realisties tekeninge geteken, soos vir kortverhale in tydskrifte, maar later meer “humortekenwerk”, soos hy dit genoem het. Hy het beslis meer van sosiale sportprente as van politieke werk gehou. Boekillustrasies was vir hom lekker, en makliker, aangesien hy gevoel het dat dit nie so lank neem nie.
Fred het aan my gesê dat hy nie met ander spotprenttekenaars sosiaal verkeer nie, maar soms ’n spotprent gesien het en gewens het hy kon ’n e-pos stuur om sy bewondering uit te spreek, maar hy het nooit ’n rekenaar besit nie (en eers teen die einde van sy lewe ’n selfoon gehad). Dit het sy vrou, Annemarie, geamuseer dat hy dit later geniet het om WhatsApps te stuur. Ek het soms baie laat in die nag ’n grappie van Fred ontvang. En dit was juis nadat ek gemerk het dat sy WhatsApps opgehou het dat ek besef het hoe siek hy was.
Spotprenttekenaars soos Dr Jack en Andy was vir hom uitstaande, en van die ouer garde ook Jackson; en Zapiro is “in ’n klas van sy eie”, het hy gesê. Hy sê Zapiro het voor in een van sy [Fred] se boeke “with admiration” geskryf, maar hy wat Fred is, “sou dit eerder van Zapiro wou sê”. Van die oorsese tekenaars was McNelly en Carl Giles (die beroemde Britse tekenaar) vir hom uitstekend, “asook Oliphant, ook ’n lefty soos ek”, het Fred aan my geskryf (met die hand). Hy het erken dat Giles hom beïnvloed het, maar dat ’n mens jou eie styl moet ontwikkel. Ek het inderdaad Giles se invloed bemerk, en dis waarom ek Fred daaroor gevra het. Honiball het ook van Giles gehou, want ek het van Giles se tekenbundels in Essie Honiball se huis gesien en sy het beaam dat hy dit geniet het, maar Honiball se styl was baie anders – meer die sogenaamde “slapstick”-styl van die strokieskunstenaars van die VSA, waar hy in die 1920’s gewerk het. Tog het Honiball hom aanvanklik wel beïndruk en beïnvloed. Fred het ook baie van Len Lindeque se werk gehou en eens gevoel dat hy “ver agter” Len se standaard was, maar Len is betreklik jonk oorlede.
Op my vraag of Fred sy styl met tyd doelbewus verander het, het hy geantwoord dat dit meer met die verkrygbaarheid van sekere tekenmateriaal te doen gehad het. Oor sy invloed op lesers het hy gesê hy weet nie hoeveel hy hulle beïnvloed nie, maar dat dit hom “tevrede sal laat voel indien hy met sy tekenpen ’n effense duikie in ’n politieke sondaar se bakwerk kon krap”.
Fred meen dat sy werksomstandighede sedert sy tyd in Keeromstraat 30 (Die Burger se eerste gebou) “zero verander het, maar dat sekere heilige koeie darem verdwyn het”. Die politici van die na-1994 era het ook minder voorskriftelik geword, want in die NP-regeringstyd sou redakteurs vroegoggende bel om oor berigte en prente te kla. Een redakteur het hom ook gevra om “sagter te werk met sekere mense se voorkoms”.
Wat het Fred graag geteken? Motors. Hy was lief vir meganiese voorwerpe, en het ook etlike motors in sy lewe besit. So het ek eenkeer aan my buurman gesê om uit te kyk as Fred met sy Lexus by my huis aankom, want dis vir my so ’n mooi motor, toe kom Fred met ’n ander motor. Op my vraag het hy geantwoord: “O nee, ek het hom lankal verkoop, ek het seker al baie meer as 50 motors in my lewe gehad.” Hy het ook daarvan gehou om mense te teken, indien hulle nie “perfekte gesigte” gehad het nie. Hy het dit ook verpes om stadsgeboue met reguit lyne te teken – “Gee my ’n krom en skeef gebou.”
Oor sy tegniek sê hy dat hy al gevoel het dat hy dalk ’n prent andersom moes geteken het, en maak dus ook foute, aldus hom, maar hy visualiseer ’n toneel eers, en dan posisioneer hy die objekte daarin. Dit op sigself is vir my, wat ook al illustrasie- en spotprentwerk aangedurf het, een van Fred se beste vaardighede: om te weet waar en hoe hy elke persoon, dier of voorwerp gaan plaas en uit water hoek – skuins bo, van onder af, ens.
...........
Het dit ooit gebeur dat hy nie ’n prent voor die spertyd kon voltooi nie? “Nooit, daar’s altyd genoeg tyd ... ek werk redelik vinnig, maar nooit onverskillig vinnig nie.” Geen wonder Fred kon vir soveel jaar sy werk met soveel gemak en sekerheid behou nie – benewens sy onmiskenbare talent was hy ook die perfekte professionele werker.
.............
Het dit ooit gebeur dat hy nie ’n prent voor die spertyd kon voltooi nie? “Nooit, daar’s altyd genoeg tyd ... ek werk redelik vinnig, maar nooit onverskillig vinnig nie.” Geen wonder Fred kon vir soveel jaar sy werk met soveel gemak en sekerheid behou nie – benewens sy onmiskenbare talent was hy ook die perfekte professionele werker.
Volgens hom kan jy ’n goeie tekenaar uitken aan hoe hy/sy voue in klere teken, asook voete en hande. En hoekom is daar so min vroue is wat spotprente teken? “Vader weet, vroue is tog net so vaardig, het ook humor, neem ook goed waar ...” En ja, hy gebruik ook graag simboliek in sy werk, sê hy, so ’n prent het selde woorde in spraakborrels nodig. Fred het al tydens sy studentejare (Kaapstadse Tegniese Kollege) spotprente geteken, want dit het hom “altyd geprikkel”. Die feit dat hy daar elke dag moes teken, het hom gehelp om sy vaardighede vinnig te ontwikkel.
Fred het gesê hy het baie respek vir Van Zyl Slabbert gehad, maar soos met Madiba, was dit sy werk om ook met hom die spot te dryf. Ek het hom gevra wat hy sou sê as iemand hom as “’n apparaat van apartheid” uitskel, en sy antwoord was: “Ek was sekerlik deel van die reklame en het nie gedink dis verkeerd nie – almal om jou was so oortuigend in hulle siening en het as ’n span saamgewerk.” Dit was inderdaad ’n ander wêreld destyds ... en soos Honiball, het hy gevoel dat hy moes doen wat sy werkgewer vereis. Boonzaier het in sy dagboeke geskryf dat hy dit gehaat het om vir koerante te werk as hy nie met hulle politieke siening saamstem nie, en Die Burger was die eerste koerant waar hy tuis gevoel het. Fred het gevoel dat Die Burger vandag baie meer “gebalanseerd” is as in die vorige bedeling. Hy sê ook hy het “in sy eie wêreldjie geleef, gevoel dat hy deur ’n onoorwinlike ondersteuningskrag omarm is”.
Ek vra daarop: “Dink jy koerante – soos met die Charlie Hebdo-insident oor Mohammed – gaan soms te ver?” “Ja,” sê hy toe. “Ek sal nie met gelowe spot nie ... daar is altyd ’n ’te’ in alles.”
Sou hy ooit graag vir ’n ander koerant wou werk? het ek gevra. “Wel, Beeld het my in die vroeë sewentigs gevra, maar ek is bly ek het gebly.” Ek kan byvoeg dat derduisende Kapenaars ook daaroor bly was!
Ek het hom gevra hoe hy voel dat sy loopbaan stadigaan einde se kant toe staan, en hy het geantwoord: “Dit staan eintlik vinnig einde se kant toe ... is op die stadium onseker wanneer om te gaan.” (Dit was in 2016.)
Sou hy, soos Zapiro, graag vryskut wou werk? “Nee, ek’s happy soos dit is.”
Wel, ons is dankbaar dat Fred tot byna reg aan die einde gelukkig was. Hy het immers soveel plesier aan soveel mense verskaf. Nou sal dit baie stil in die Moutons se huis in Boston wees. Net Annemarie en haar katte bly agter. Ons bid hulle sterkte toe in hierdie droewige tyd, en betreur ook die geweldige leemte wat Fred in ons lewens laat. Soos een van my ou skoolmaats op Facebook geskryf het: “Deel van mens se lag en verwysingsveld is nou weg.”
’n Era is verby. Punt.
Lees ook:
Kommentaar
Dit is 'n mooi huldeblyk. Fred Mouton was 'n geniale spotprentkunstenaar en argivaris van tydgenootlike emosies.
Daar is niemand anders wat so ‘n kundige, menslike en waardige huldeblyk sou kon skryf oor die laaste van die groot drie nie.
Baie dankie Andre. Ek het juis die vermelde vraelyk aan Fred gegee met die oog op "Die Groot Drie" (Penguin, 2016), maar hy kon dit nie betyds aan my terugbesorg nie. En nou vorm dit deel van sy huldeblyk.
Ek het so pas verneem dat daar 'n byeenkoms vanaf 11:00 tot 19:00 by Fred en Annemarie se huis is op Sondag 15 Mei.
Mooi woordprent as paslike huldeblyk aan die prentjiesman ... Dankie, Francois Verster!
RIV, Fred Mouton ...