Dawid Kahts is ’n gesoute musikant wat al onder verskeie verhoogname uiteenlopende musiek vrygestel het – onder meer sy jongste alter ego, Daaf Vapor. Hy beantwoord ’n paar vrae.
Goeiedag, Dawid. Wat skud?
Al wat deesdae skud, is die bure se generator.
Jou nuwe album, Northam Lights, is onlangs uitgereik. Lekker, geluk! Die album staan op ’n baie stewige 14 snitte, met klanke wat strek van reggae tot synth-pop tot classic rock, en liriektemas oor alles van voorstedelike verlatenheid tot klasse-ongelykheid en korrupsie. Hoe sou jy die album beskryf vir iemand wat vra: “Hey, Daaf, waaroor gaan jou nuwe album?” En as daardie selfde anonieme persoon sou vra hoe dit verskil van die vorige musiek wat jy uitgereik het, of watter nuwe dinge jy probeer het, wat sou jou antwoord wees?
Alles wat ek doen, is seker maar net variations on a theme by The Beatles. Ek kan wel sê dat Northam Lights seker die mees uiteenlopende projek is wat ek tot op hede aangepak het. As ek dit konsepsueel kortliks moet opsom, sal ek sê dat dit basies gaan oor die lewe en die dualisme wat daarmee gepaard gaan. Die meeste van my vorige musiek, wat ek onder die naam Thys Nywerheid uitgebring het, was redelik satiries van aard, maar hierdie album is meer kompleks in sy blik op die lewe.
Daar is oomblikke van waansin, en toe weer insig. Samesyn en eensaamheid. Hartseer, verlies en toe weer vreugde. Soms gebeur dit alles in dieselfde song. In sommige tunes lewer ek sosiale kommentaar en ander is weer baie persoonlik. Daar is definitief iets vir almal op die album.
Ek voel nou eintlik sleg oor daai vraag, want hoe meer ek na die album luister, hoe meer besef ek hoe uiteenlopend dit is. Soms voel dit asof elkeen van die snitte van ’n verskillende album of selfs kunstenaar kan kom. (“Captain Dave” is ’n goeie voorbeeld, met die rap en intense female sang wat ’n mens onkant vang.) Dit laat die vraag ontstaan: Hoe gaan jy te werk met die skep van die liedere? Voel jy net op ’n dag ’n nuwe klank-inspirasie en klap dit met gepaste lirieke, of is dit andersom? Hoe ervaar jy in die algemeen die skryfproses? Is dit ’n deurlopende uitdaging, of het jy nou al ’n metode of formule wat vir jou werk?
Om musiek te skryf bly maar ’n baie ingewikkelde proses en daar is nie eintlik ’n formule om dit mee te doen nie. Wat ek wel kan sê, is dat mens altyd vanuit ’n plek van eerlikheid moet vertrek en alle verwaandheid opsy moet sit.
Soms vat dit 10 jaar om iets te skryf en ander kere skryf die song homself letterlik in vyf minute. Lirieke versus melodie is baie keer ’n hoender/eier-situasie. Soms kom ’n lekker riff na my toe as ek kitaar speel en ander kere dink ek aan ’n lekker lyrical hook terwyl ek bestuur. Soms gebeur alles saam.
Ek vind as jy al hierdie gefragmenteerde idees opneem/neerskryf en ’n argief begin, is daar nooit ’n tekort aan materiaal nie. As jy ’n lekker melodie het, maar jy kry nie die regte woorde nie, raadpleeg jy net die argief en steel by jouself. Dit kan interessante uitvloeisels tot gevolg hê. Soms werk dit byvoorbeeld om opgeruimde musiek en donker lirieke teenoor mekaar af te speel. Dis ’n wonderlike manier om die dualisme en kompleksiteit van menswees te illustreer. Dit is immers die geheim agter die sukses van countrymusiek!
Jy is ’n uiters prolific musikant ... Soos gemeld, is Northam Lights pas uitgereik en soos ek dit verstaan is daar nog ’n nuwe album in 2020 op pad. Dan moet ons nog praat oor Thys Nywerheid, wat drie albums uitgereik het. Dit is/was ’n heerlike satiriese/komediese projek. Is daar nog ’n toekoms vir Thys Nywerheid!? Ek hoop so. In elk geval, hoe hou jy die energie en motivering op die hoogste vlakke om aan te hou musiek maak? Wie is jou medewerkers met al die projekte, of beskou jy dit meestal as Dawid Kahts se uiteenlopende uitlaatkleppe?
Ek het aanvanklik hierdie jaar aan ’n Afrikaanse Daaf Vapor EP begin werk, maar dit lyk of die ding nou begin kleintjies kry, so ek sal maar kyk hoe dit uitdraai. Ek sal bitter graag nog Thys Nywerheid-tunes wil maak, maar ten spyte van die feit dat idees volop is, is tyd helaas nie.
Ek beskou die opname van musiek en die uitvoering daarvan as twee verskillende produkte. Dit is amper soos film versus teater. In die studio doen ek maar meestal van die produksie en instrumentering self, en as dit by gigs kom, is dit obviously lekker om ’n band te hê.
Met Thys Nywerheid het ek altyd saam met James Sharpe (aka Die Draaitafel Jafel) gewerk. Hy is ’n briljante turntable-speler/DJ. Met die Daaf Vapor-projek speel ek saam met ’n rhythm section (Simon Kruger op bass en Gifford Peché op tromme) en die band begin nou lekker tight word. ’n Mens speel nie noodwendig die musiek live presies soos wat dit op die album klink nie, anders kan jy net sowel ’n backtrack gebruik en is daar geen kreatiewe meriete daarin nie.
Dit is altyd opwindend as ander musikante hulle eie unieke stempels op die songs afdruk. Dis ook bevredigend om te sien hoe die live versions van die songs evolve oor tyd en somtyds sit jy met ’n heel ander beast as wat op die original release was.
Gepraat van Thys Nywerheid – dit was natuurlik ’n Afrikaanse projek. Het jy ’n doelbewuste besluit geneem om oor te slaan na Engelse musiek met Daaf Vapor, of is dit twee kante van dieselfde munt wat in die lug opgeskiet is en nou bloot tol en tol? Vind jy dit makliker om in Afrikaans of Engels te skryf? Wat is vir jou die grootste verskille tussen die Engelse en Afrikaanse musiek wat jy maak, en wat dink jy as musikant kan of wil jy bereik tussen die twee tale, gegewe die unieke aard van die twee industrieë (as mens dit kan skei)?
Ek sal nie sê ek het een oggend wakker geword met die gedagte “Afrikaans is nie meer so groot nie – now I is can like to write English music” nie, maar ek wou bietjie wegbeweeg van die in-your-face satire en dit het toevallig in Engels uitgekom.
Vir my is Afrikaanse en Engelse lirieke maar soos twee verskillende musiekinstrumente. Beide het hulle eie unieke timbre, maar tog is die eindresultaat dieselfde. Die taal is net ’n voertuig om die boodskap oor te dra. Vir my is dit om’t ewe om in Afrikaans of Engels te skryf. Die grootste verskil tussen die Afrikaanse en Engelse musiekindustrieë is dat die Afrikaanse een baie meer van ’n niche-industrie is. Veral op die alternatiewe spektrum waarin ek meestal beweeg.
Tegnies gesproke is dit makliker om oorspronklik te wees in Afrikaans. Jy vat net ’n bestaande Engelse genre, soos byvoorbeeld progressive Norwegian speed metal, en vertaal dit dan het jy ’n nuwe musiekbeweging: “progressiewe Nigel-spoedmetaal”! In teorie het mens egter ’n baie groter target market met Engelse musiek, maar dit is byna onmoontlik om vooraf te bepaal by presies hoeveel mense jou musiek gaan aanklank vind.
Ek vind dit bitter moeilik om aan musiek te dink as ’n verbruikersmiddel. Almal weet dat die kwaliteit en oorspronklikheid van musiek nie noodwendig ooreenstem met die gewildheid daarvan nie.
Kyk, selfs met Thys Nywerheid se meer tong-in-die-kies-aanslag was dit baie duidelik dat jy ernstig is oor gehaltemusiek en veral instrumentering. Dit is ook die geval met die Daaf Vapor-musiek wat uitgereik is. Wat is jou geskiedenis met musiek en veral kitaar wat opleiding en/of inspirasie betref? Hoe hard moet jy werk om ’n spesifieke riff, inleiding, coda of wat ook al op ’n punt te kry waar hy perfek is, of is jy nou al so geolie dat dit net natuurlik kom? Enige kunstenaar het seker maar oomblikke van selfkastyding ... Waar sal jy nog wil verbeter of werk aan jou craft?
Ek maak nou al vir amper 30 jaar musiek en vind dit steeds uitdagend. Ek is konstant besig om myself uit te daag wat betref my kreatiwiteit en tegniese vaardighede. As jy nie dit doen nie, gaan jy stagneer en oor 10 jaar is jy net ’n cover band van jouself.
Ek het ’n bietjie klassieke en jazz-kitaarlesse en basiese teorielesse geneem en vandaar myself geleer. Mens hou werklik nooit op leer nie. Dis ’n proses wat die heeltyd aanhou. Baie keer in die studio fokus ek eers op die klimaks of chorus van die song en werk daaraan totdat die groove lekker sit. Vandaar brei ek dan na alle kante toe uit.
Elke song is maar ’n projek op sy eie. Ek het oor die jare geleer dat die proses van eliminasie baie belangrik is in die skep van musiek. Dit is soos ’n beeldhouer wat ’n blok marmer vat en die ding stukkend moer tot net ’n pragtige standbeeld oorbly.
Dit is iets wat ek baie waardeer in moderne musiek – daar is ’n sterk beklemtoning van “less is more”. Ek is nooit 100% tevrede met die eindresultaat van my musiek nie. Dit hang baie af van die feedback van ander mense wat objektief is teenoor my musiek, want hulle is tog die mense wat daarna moet luister. As ek moes besluit wanneer iets gereed is om te release, sou ek seker nooit enigiets vrygestel het nie.
Hierdie vraag vloei uit die vorige een. Jy plaas dikwels video’s op sosiale media van kitaar-covers wat jy van bekende liedere doen ... En hel, jy ken duidelik jou storie(s). Waarom plaas jy hierdie video’s? Is dit nuwe uitdagings wat jy aan jouself stel, of sommer net ’n bietjie pret, of is daar ’n bemarkingselement by betrokke? Eintlik net: Watter genot put jy daaruit? Verkies jy die akoestiese of elektriese covers, en hoekom?
Dankie man! Ek is bly jy hou daarvan. As noodsaaklikheid die moeder van uitvinding is, dan is verveeldheid die vader. Ek het meestal hierdie video'tjies begin maak as gevolg van load shedding. Boom! Daar kak die krag en wat maak ons nou vir die volgende twee ure? Iets soos load shedding gee jou ’n gulde geleentheid om bietjie jou ninja skills op die kitaar te polish. Natuurlik verkies ek die akoestiese kitaar – want elektrisiteit.
Ek hou baie van die akoestiese kitaar. Daar is ’n naakte eerlikheid in die instrument, want jy kan nie jou sloppy tegnieke verskuil agter overdrive/distortion en effekte nie. Dis net jy, ’n houtboks en ses snare. Beautiful.
Wat sou jy beskryf as die hoogtepunte in jou musiekloopbaan tot dusver? Dit geld vir enigiets, van ’n magiese oomblik in die studio, ’n vreemde oomblik op stage of ’n selfs vreemder oomblik backstage ... En in dieselfde asem: Is daar laagtepunte of oomblikke wat jy eerder anders sou wou hanteer indien jy kon?
Elke song wat klaar gemix en gemaster is, en elke persoon wat daarna luister, daarop dans en daardeur aangeraak is, is ’n hoogtepunt. Die res maak regtig nie saak nie.
Wat hou die nabye en verre toekoms vir Dawid Kahts en/of vir Daaf Vapor in?
Ek sal maar net aanhou musiek vervaardig, video’s maak en gig. Die res sal na vanself gebeur.
Wat is die sin van die dood?
Om die lewe te waardeer.