Curro Create bied trots aan: From Broadway to Bird Street / Van Broadway na Birdstraat

  • 0

Die atmosfeer is gespanne. Twee mans, vasbeslote om te moor, sirkel om mekaar, wag asemloos vir die oomblik om toe te slaan. Hulle oë is op mekaar vasgenael, soos roofvoëls wat dophou vir die geringste teken van vrees of swakheid. Die sirkel word al kleiner, meer kloustrofobies – die kol van ’n teiken. Hulle haal ’n laaste keer diep asem, en dan, 5-6-7-8!, die Fosse-geïnspireerde choreografie begin met ’n perkussiedeuntjie terwyl hulle mekaar tot onderwerping dans. ’n Sopraan se stem vul die ouditorium terwyl die twee mans mekaar die dansstryd aansê.

Ah, musiekblyspele!

Waar anders sal ’n mens ’n politieke debat hê wat skielik in ’n rap-stryd verander? Waar anders sing ’n mens ’n pragtige ballade voor jy jou laaste asem uitblaas? Waar anders word ’n geweerskoot deur ’n tromslag vervang, kan ’n singende plant uit die buitenste ruimte jou hart steel of kan jy die menseregtebeweging (en ’n goeie dosis geslagspolitiek) saamvat met goeie, ouderwetse ruk-en-rol?

Die antwoorde op die bogenoemde is (in die volgorde van die vrae): HamiltonLes MisérablesChicagoLittle Shop of Horrors en Hairspray.

Dit is maar net ’n paar van die vertonings wat deel vorm van From Broadway to Bird Street/Van Broadway na Birdstraat, ’n wonderlike nuwe produksie van die bekroonde teatermakerspan, Hennie van Greunen en Pedro Kruger, saam met musikale regisseur, Melissa van der Spuy.

’n Geselskap van 27 sal hulle pad tot in jou hart sing en dans in hierdie viering van ons gunstelingmusiekblyspele. Wat hierdie vertoning anders maak as enige ander Broadway-geïnspireerde vertoning wat jy al ooit gesien het, is dat die liedjies almal in konteks geplaas word en dat die kunstenaars volledige kostuums en grimering sal dra, afgerond met  verstommende choreografie en wonderlike klank en beligting om vir jou werklik ’n vlugtige blik te gee van wat jy dalk in een van die weelderige Broadway-teaters sal sien.

Die geselskap sluit 22 van Curro Create se sterre in – dit is jong kunstenaars wat gekies is uit 360 landwye oudisies by Curro-skole wie se talent jou sal verstom. Vyf van Suid-Afrika se gunstelingsangers is gevra om by die rolverdeling aan te sluit om hierdie jong teaterkunstenaars te mentor. Timothy Moloi se wêredklasstem is voor ’n wêreldwye gehoor aangehoor tydens die opening van die FIFA Wêreldbeker in 2010. Hy het al vir Nelson Mandela en Oprah Winfrey gesing en het al saam met elke groot simfonieorkes in die land gewerk.

Corlea Botha se stem verstom en verbaas altyd. Sy is ’n veelsydige sangeres wat werklik enigiets kan sing, van pop tot klassiek tot country. Sy reis deur die land en het al onder groot toejuiging in New York gesing.

Lynelle Kenned is ’n veelsydige kreatiewe persoon: ’n ongelooflike sangeres wat net so tuis is op die musiekteaterverhoog, die dramaverhoog en as seremoniemeester of televisieaanbieder. Haar uitbeelding van Maria in West Side Story steek steeds vas vanweë die emosionele egtheid daarvan en haar ongelooflike stem.

Alhoewel die publiek Germandt Geldenhuys leer ken het as Louis Koster in Binnelanders, is sy hoendervelmooi stem die eerste keer tentoongestel in die internasionale trefferfliek Kanarie. Hy het al in baie musiekblyspele gespeel, van Sister Act tot Sweeney Todd en onlangs ook in Janice Honeyman se pantomime Jack and the Beanstalk.

André Terblanché is ’n akteur, musikant en sanger wie se hartstogwekkende stem al vergelyk is met dié van Josh Groban. Hy is ewe tuis in pop, jazz, swing en musiekblyspele en het al onder andere gespeel in Joseph and the Amazing Technicolor Dreamcoat. Hy het pas teruggekeer van Israel waar hy die titelrol in die musiekblyspel Daniel gespeel het.

Voeg hierby die verstommende talent van die 22 Curro Create-sterre en From Broadway to Bird Street/Van Broadway na Birdstraat beloof om ’n onvergeetlike ervaring te wees.

Die produksie open by die Toyota US Woordfees en daar is slegs drie vertonings:

Bespreek nou by Computicket.

 

Kom kyk by die Toyota US Woordfees na  From Broadway to Bird Street / Van Broadway na Birdstraat: 7 - 8 Maart

Samestelling en regie: Hennie van Greunen en Pedro Kruger
Musikale regisseur: Melissa van der Spuy
Choreografie: Trudy Fredericks en Lee Piedt
Kostuums: Rouvé Hattingh
Grimering en hare: Mari Conradie
Tegniese bestuurder en beligtingsontwerp: Kobus Rossouw
Klank: Marcel Bezuidenhout
Verhoogbestuurder: Namhla Kalipa

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top