Commendatio vir die 2026-UJ-prys vir vertaling: Aan Wium van Zyl vir sy vertaling Die ongelukkige en treurige verhaal van die skip De Gouden Buys, 1693

  • 0

Klik op die video, of volg hierdie skakel na YouTube.

Dames en here

Dit word vandag bykans kanoniek aanvaar dat vertaling nie gewoon ’n tekstuele of selfs bloot ’n talige bedrywigheid is nie. Vertaling is bykans per definisie ’n gesprek tussen kulture – in die breedste moontlike sin van daardie gelade en belaste woord. Ons almal weet dat “taal” nie sonder meer gelyk is aan “kultuur” nie; ons weet eweneens dat geen kultuur ook sonder taal bestaan nie. Meer as 200 jaar gelede skryf Friedrich Schleiermacher reeds dat die vertaler een van twee oriëntasies kan hê: Hy kan of die leser na die outeur se wêreld neem, of hy kan die outeur na die leser se wêreld bring.

Soms is daardie wêrelde egter nie so duidelik onderskeibaar of afsonderlik nie. Die lewe speel immers uit in kontaksones, in grys gebiede en in derde spasies. Self vind ek dat die beste vertalers, gevolglik, dié is wat konstant daardie munt opskiet om beide kante van hierdie situering ewe veel kans te gee om te blyk. ’n Vertaling is soos ’n satellietfoto wat in reliëf die vorms en eienskappe van ’n terrein na vore bring wat nie noodwendig van grondvlak sigbaar is nie. En ’n vertaling, as imagologiese blik op ’n ander, laat ons ook opnuut kyk na onsself.

So is dit dan ook met die heerlike vertaling van Wium van Zyl, getiteld Die ongelukkige en treurige verhaal van die skip die Gouden Buys, oorspronklik gepubliseer in 1695 en hier in Afrikaans aangebied. Die bronteks is ’n fassinerende multimodale mini-argief van ’n grootliks onbekende skeepsramp hier aan Suid-Afrika se Weskus. Hierdie verhaal is oorspronklik aan ’n Nederlandse uitgewer oorvertel deur die enkele oorlewende skeepsvaarders uit ’n oorspronklike bemanning van by die 200 siele. Die teks waarmee Van Zyl werk, is ’n aangevulde eerste druk van hierdie vertelling, waarby daar ook woordverklarings, prente en ander aanvullings gevoeg is deur die navorsers Marieke van Gessel en Andrea Kieskamp.

Die teks is reeds in Suid-Afrika uitgegee, die laaste keer in 1968, maar in ’n vorm wat vir die hedendaagse Afrikaanse leser moeilik toeganklik is. Wat ons dus hier aantref, is ’n liefdeswerk, soos soveel vertalings in ons konteks is, en wat weer eens die belang van toekennings soos hierdie een en hul gepaardgaande sigbaarmaking van die vertaler en van vertaling des te belangriker maak. Die vertaler hier het nie bloot die boek vertaal nie; hy was ook die persoon wat gevoel het dit is in die eerste plek ’n teks wat vertaling en blootstelling verdien.

Die simplistiese vraag sou wees, maar waarom ’n Nederlandse teks in Afrikaans vertaal op hierdie punt in ons lewens? Doen Afrikaans nie juis bewus afstand van sy Europese wortels nie; en het die Afrikaanse leser werklik so ’n teks nodig? Kan hulle nie maar net die ding in die oorspronklike Nederlands lees as hulle dan nou wil nie?

Hier kom ons dan op die terrein van die relevansie van vertalings. ’n Vertaling gaan oor veel meer as die oordrag van semantiese inhoud. Dis ’n geleentheid om die etnosentriese geweld onderliggend aan Engels, soos Venuti dit noem, te probeer uitdaag deur iets van buite oor te bring in ’n Afrikaans wat dit ontsluit vir ’n nuwe Afrikaanse lesersgehoor. Dis ’n geleentheid om ’n miskende, of minstens onbekende, geskiedenis te belig – in die verhaal kom die twee oorlewendes van die ramp in kontak met die eerste inwoners van wat ons vandag as die Weskus ken, en word hulle deur dié mense versorg en gehelp. Hierdie positiewe uitbeelding was heel onverwags in 17de-eeuse Europa, waar die bewoners van die Kaap deel uitgemaak het van, en ek haal aan, “’n donker kontinent, bevolk deur vreemdsoortige wesens”. Baie van die uitbeeldings van inheemse Afrikane is immers gemaak deur mense wat nooit self die Khoikhoi gesien het nie. Hulle is byvoorbeeld beskryf as kannibale, hoewel niemand dit ooit self waargeneem het nie, en hulle is karikatuuragtig geteken deur mense wat op hulle beurt ook van sketse en vertellinge af gewerk het.

In Vijselaar en Silleman se ervaring merk hulle, en ek haal weer aan, “voortdurend hoe ongegrond die angs is en hoe vriendelik en gasvry hulle deur die Khoikhoi benader” is.

Van Zyl slaag op indrukwekkende wyse daarin om tussen chronologies wyd uiteenlopende kontekste se Nederlands te navigeer en die 17de-eeuse taal so aan te bied dat dit ook in die Afrikaans ouwêrelds klink, terwyl die hedendaagse vertelteks deur die samestellers van die bronteks in ’n moderner idioom oorgedra word. Die vertaling ontsluit ’n skatkis skeepsterme, wat getuig van die vertaler se diep en deeglike navorsing – navorsing wat selfs aangevul is deur ’n reis onder leiding van ontslape historikus Dan Sleigh na die plek waar die skip oor die 300 jaar gelede gestrand het. Dit alles bevestig die kaliber vertaler wat hy is.

Die vertaling versinnebeeld die sorg en deeglikheid waarmee die beste vertalings omgaan met belangrike tekste, gee vir die leser ’n blik op ’n fassinerende stukkie van ons land se altyd komplekse en hibridiese geskiedenis en herbevestig hoe nodig ons vertalings deur regte mense het en sal aanhou hê.

Wium van Zyl en Bonisiwe Zungu, Hoof Skool vir Tale, UJ

  • Foto’s en video verskaf deur UJ
Lees ook:

Nuut by Hemel en See: Die ongelukkige en treurige verhaal van die skip die Gouden Buys, 1693

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top