Clover Aardklop 2015: Teaterresensie van My boetie se boetie se boetie se baba

  • 0

boetieseboetieseboetie

Ray en Michael Cooney

Vertaal en verwerk deur Frans Swart

Met Cobus Venter, Cindy Swanepoel, Botha Enslin, Francois van Rensburg, Marga van Rooy, Duncan Johnston, Ana van Achterbergh, Dirk Vermeulen en Phillru van Achterbergh

‘n Lefras-produksie

Dié klug word vir jou deeglik opgevoer! So baie gebeur; daar’s soveel verrassende bewegings. Alles met sterk stemgebruik en eersteklas energie aangebied.

Die stel is netjies en afgerond. Dit bied oorgenoeg ruimte vir al die manewales. Een muurlig het begin flikker. Beteken dit dat dit boonop spook in die Koekemoer-woning? Al die stukke kadawers in die rondte laat ‘n mens jou sulke dinge verbeel. Maar, nee, die verhoogbestuur het seker al intussen ondersoek ingestel.

Dit gaan hier om ‘n baie belangrike dag in die lewe van Tom (Cobus Venter) en sy Linda (Cindy Swanepoel). Hulle maak hulle gereed vir die besoek van ‘n ervare maatskaplike werker (Marga van Rooy). As alles goed verloop, sal hulle ‘n baba kan aanneem. Dis ‘n wonderlike vooruitsig.

Deel van die voorbereiding is om Tom se twee jonger boeties tog uit die pad uit te kry. Veral Linda raas met hulle. Gawe ouens; hulle bedoel alles goed. Tog is Dick (Botha Enslin) en Harry (Francois van Rensburg) op hulle manier lekker skandemakers. Een smokkel onder meer sigarette in Zimbabwe; die ander het lankal uitgevind wat jy alles met ‘n hospitaal se kadawers kan aanvang. (Hulle twee is goed met stemnabootsings.)

Deur Dick se toedoen beland twee onwettige immigrante (Ana van Achterbergh en Dirk Vermeulen) ook juis nóú in die huis. Phillru van Achterbergh is ‘n netjies uitgevatte boewerige ou, genaamd Boris. Hy help die twee voortvlugtiges met geld, maar dan moet hy noodgedwonge in ‘n swart sak “verdwyn”.

Boris kom eers teen die einde op die verhoog. Ook Marga van Rooy verskyn eers laterig. Dit is ‘n belangrike wending in die intrige. Hier is sy nou, so professioneel as wat sy maar kan wees. Tom-hulle moet erg te kere gaan om steeds ‘n greintjie geloofwaardigheid as goeie, stabiele ouers te toon.

Dis vir ons ouer teatergangers so aangenaam om Marga van Rooy weer ‘n keer op die verhoog te ervaar. ‘n Mens het soveel herinnerings aan haar werk oor die jare heen. Hier glimlag ‘n mens oor haar strengheid én ook haar simpatieke stemklanke toe iemand “afgesterf het”.

Intussen kan nog iemand werklik nie wegbly van dié huis nie. Duncan Johnson as die polisieman sien in die straat en hier in die huis eenvoudig die vreemdste dinge. Geweldig verdag.

Cobus Venter is die speler wat die intrige sterk laat voortstu. Hy is die spreekwoordelike “een wat die opvoering dra”. Ek en ander het gewonder hoekom hy en Cindy Swanepoel so uitsonderlik hard praat terwyl die ander normaler, maar absoluut hoorbaar praat. Dra hulle klankversterkers? Of onderskat ek hulle? Die term “oorspeel” het ook in gesprekke opgeduik. Ek verdedig sulke sterk spel gewoonlik. Dit gaan om kontras. Hoe saai sal ‘n opvoering nie wees as almal rustig ingetoë onderspeel nie? Die “oordrewe” spel lig die stiller spel juis uit.

In hierdie opvoering speel almal in die klugstyl sonder om geforseerd snaaks te wil wees. Die humor kom nie net oor met lyftaal nie, maar ook met spraaktone en met spitsvondighede. Partykeer word baie vinnig gepraat, sodat jy wil-wil kla dat jy nie alles kan hoor en verstaan nie. Maar dan besluit jy jy hoef nie elke afsonderlike woord uit te maak nie, want regisseur Swart laat die speler in ‘n spraakbeurt opbou na die belangrikste stelling.

As Enslin en ander met Ana van Achterbergh en Dirk Vermeulen as die buitelanders moet kommunikeer met gebare en enkele woorde, ontstaan ook van die snaaksste situasies.

Swart se vertaling is so goed dat jy nie dink aan die Engelse agtergrond waaruit dit kom nie. Dis ook baie komies om toespelings op die Suider-Afrikaanse hede en verlede te hoor. Om net een voorbeeld te noem: die toneel waarin verwys word na president Robert Mugabe se struikeling op ‘n verhoog. Dit word ook voorgestel.

Aanvaar gerus ‘n uitnodiging aan na hierdie woelige toneelstuk.

 

My boetie se boetie se boetie se baba is op die oomblik by Clover Aardklop te sien.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top